’n Huldeblyk aan Marilyn Martin

  • 1

Foto van Marilyn Martin: https://www.litnet.co.za/author/marilyn-martin/; foto van agtergrondprent: 8926, https://pixabay.com/illustrations/texture-abstract-structure-colorful-1909992/

Toe die boewe van die AWB een Januarie-oggend in 1992 die Lieberman-lokaal van die Suid-Afrikaans Nasionale Kunsmuseum instorm en met hamers die jong keramiek-kunstenaar Gael Neke se omstrede werk Eugène Terre’Blanche and his two sidekicks in stukke slaan, het sy nie in haar kantoor skuiling gesoek nie, maar die kêrels trompop gekonfronteer.

Onthou, dit was ’n era van politieke spanning. Maar Marilyn Martin was vreesloos, ongenaakbaar. En dié insident – die skuldiges sou later boet – kan staan vir haar standvastigheid, maar ook vir die sosiale, kultureel-politieke visie wat sy twee jaar vantevore as direkteur na dié statige kunsmuseum gebring het.

...........
Marilyn Martin was vreesloos, ongenaakbaar. En dié insident – die skuldiges sou later boet – kan staan vir haar standvastigheid, maar ook vir die sosiale, kultureel-politieke visie wat sy twee jaar vantevore as direkteur na dié statige kunsmuseum gebring het.
............

Kuns wat reaksie uitlok was maar een van haar leitmotiewe oor die 11 jaar wat sy die pos beklee het. (Na die totstandkoming van die nuwe Iziko-vlagskipstelsel van Kaapstadse museums in 2001 het sy hoof van die Iziko-kunsversamelings geword. Sy het in 2008 afgetree. Sy het voortgegaan om te skryf.)

Suid-Afrika se kunsgeskiedenis sal Marilyn Martin huldig vir ’n merkwaardige, selfs revolusionêre, loopbaan wat die bestaande kuns-kulturele hegemonie op sy kop gedraai het. Sy had die persoonlikheid (stylvol en innemend), die kennis (akademies priemend en ondersoekend) en die onverskrokke deursettingsvermoë om politici, ou wit manne, opposisie en toegewyde burokrate te hanteer.

Haar loopbaan daar het parallel geloop met die ontwaking en bewuswording van Suid-Afrika se ryk en opwindende skat van swart kuns en die herwaardering van ’n erfenis wat voorheen afgeskeep is en deur die heersende kulturele ortodoksie misken is. Sy was die kulturele maalkolk terwyl dramatiese politieke verandering plaasgevind het.

Toe die Franse haar in 2002 tot offisier in die gesogte Nasionale Orde van die Erelegioen toegelaat het, was dit erkenning vir haar bydrae tot die wêreldwye bekendstelling van Suid-Afrikaanse kuns in sy wydste verteenwoordiging. Nie dat sy ooit die roem gesoek het nie. Sy was ’n vrou met ’n doel.

Terwyl kanker haar die afgelope maande geknaag het, was haar doel om die eerste monografie van die aktivis-kunstenaar Kevin Atkinson af te rond. Dit verskyn eersdaags as belangrike kunsdokument.

Sy was bekend vir haar skryfwerk en navorsing deur historiese nuuskierigheid.

............
Suid-Afrika se kunsgeskiedenis sal Marilyn Martin huldig vir ’n merkwaardige, selfs revolusionêre, loopbaan wat die bestaande kuns-kulturele hegemonie op sy kop gedraai het. Sy had die persoonlikheid (stylvol en innemend), die kennis (akademies priemend en ondersoekend) en die onverskrokke deursettingsvermoë om politici, ou wit manne, opposisie en toegewyde burokrate te hanteer.
............

In 2019 het sy die merkwaardige geskiedenis van die Suid-Afrikaans Nasionale Kunsmuseum (SANK) die lig laat sien. Between dreams and realities is, soos die titel aandui, ’n presiese, maar ook gelade vertelling van die geskiedenis van die land se voorste kunsmuseum sedert 1871. Ook die afloop van die museum-vlagskipprojek, Iziko, waarin sy aanvanklik ’n vername rol gespeel het, en die negatiewe effek daarvan op die oorspronklike museum, het sy onomwonde vertel.

Hierdie geskiedenis van die Iziko SANK was ook tipies Martin: deeglik nagevors, akkuraat en met priemende kommentaar. Between dreams and realities is ook merkwaardig leesbaar. Haar skryfwerk was nie hoogdrawende akademiese verhandelinge nie en die talle essays wat sy oor die jare vir tentoonstelling en verslae geskryf het, was so direk soos haar op-die-man-af-manier van kommunikasie.

Sy was met haar dood ook besig om vir die Hermanus FynArts-kunsfees ’n groeptentoonstelling saam te stel om dié se tiende bestaansjaar te vier. Haar ondersteuning aan kunsprojekte soos dié het oor die dekades nooit gewankel nie. (Die tentoonstelling gaan as huldeblyk voort.)

Sy het deeglikheid van almal verwag, en dit het, met diplomasie, by mense en personeel rondom haar weerklank gevind. Die kurators van die kunsmuseum was hoogs gemotiveerd, die skoonmakers deel van die groot gesin, die haweloses langs die gebou mense aan wie sy kos aangedra het. Wat reg was, was vir haar reg. En sy was hardekop daaroor. Ons kon lekker stry.

.........
Sy het deeglikheid van almal verwag, en dit het, met diplomasie, by mense en personeel rondom haar weerklank gevind. Die kurators van die kunsmuseum was hoogs gemotiveerd, die skoonmakers deel van die groot gesin, die haweloses langs die gebou mense aan wie sy kos aangedra het. Wat reg was, was vir haar reg. En sy was hardekop daaroor. Ons kon lekker stry.
...........

Vroeg in haar SANK-loopbaan was daar ’n ophef toe sy die borgskap van die destydse Kaapstadse Triennale opgesê het omdat sy geglo het dié wou inmeng in die keuringsproses. Die SANK-raad het vasgesit. Sy het nie bes gegee nie.

Sedert haar dae as argitek-lektor in Johannesburg het sy navorsing gedoen en geskryf oor die gebruik van die sogenaamde broekiekant-versiering in plaaslike Victoriaanse huise en geboue. Dié werk is nooit afgehandel nie, maar intussen het sy wyd geskryf aan alles van akademiese kunsopstelle, omvattende katalogusse, resensies tot, en nie die minste nie, proteswoorde oor kulturele en kunskwessies wat na haar mening verkeerd was.

Erfenis en bewaring, herwaardering van die verlede, oop oë oor tendense – dit was alles deel van haar wêreldvisie. In Johannesburg was sy deel van die bakleiers om die Art Deco Colosseum te bewaar. In Kaapstad het sy die panele van die gesloopte Adelphi-teater in Seepunt vir die museum bekom.

Kunswerke wat jare gelede om onbekende of politieke redes uit die versameling verkoop of weggemaak is, het sy opgespoor en weer aangekoop. Sy het kunstenaars soos die hermetiese Ernest Mancoba, Henry Jordaan, Amos Letsoalo en Gerard Sekoto soos helde by die galery en in ons gedagtes ontvang. Sy het die Vriende van die SANK se versameling direk in die vaste versameling opgeneem omdat sy geglo het daar is nie rangorde onder goeie kunstenaars nie.

Avonturier-kunstenaars soos André Botha, Tracey Rose en Peet Pienaar het haar nie afgeskrik nie. Maar immer was haar oog op die waarde en die egtheid van hul kunstenaarskap binne die veranderende Suid-Afrika.

In die wêreld van die kunste is ego, kleinsieligheid, status en deesdae veral geld toenemend die bakens wat erkenning aandui. Klassieke kundigheid en filosofies-gedrewe kuratorskap is aan die taan. Marilyn Martin was die eerlike kunsbewonderaar, die avontuurlustige raaksiener, die ontvanklike bestuurder.

Ironies sluit die Iziko SA Nasionale Kunsmuseum nou, ten tye van haar dood, vir vier maande om “woke”-redes wat nie heeltemal duidelik is nie. Ironies genoeg het die Iziko-vlagskipprojek, wat sy met soveel geesdrif help begin het, homself in sy eie burokratiese web vasgespin.

Marilyn Martin se bydrae sal iewers in die toekoms na behore waardeer word. Intussen vier ons ’n merkwaardige kunspersoonlikheid wat daardie landskap dramaties verander het.

Lees ook:

The removal of art at UCT: Marilyn Martin's response

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top