Hermanus was en is baie dinge vir my.
Daar was die familiestrandhuis met menige goeie herinnering aan die tyd tussen 1962 en 2008 toe ons dit besit het. Daar was ook ’n paar hartseer tye, veral ten opsigte van my ma en haar psigiese agteruitgang.
In beter tye het sy en my pa dikwels naweke van die Strand af oorgery. Hy het altyd naby Elgin by ’n padstal vir hulle heerlike "pies" gekoop. Die eerste ding wat hulle by hul aankoms gedoen het, was om die "pies" te eet.
My ma was ook lief vir familieportrette. By die deur in haar slaapkamer het so ’n foto gehang. Van die hele familie, behalwe die laaste vier kleinkinders wat nog sou kom. Die jongste op die foto was my oudste broer se jongste seun, toe nog ’n baba, geklee in ’n pakkie met swart ringe reg rondom. My ma het dikwels met groot liefde gesê: "Hy is my wurmpie."
Later, toe my jongste seun reeds vier jaar oud was, het my ma ook vir hom die "wurmpie" gewys. Dit het daartoe gelei dat hy male sonder tal my ma se hand gevat het, haar na die foto toe gevat en na die wurmpie gewys het, sonder om ’n woord te sê.
Kersfees 1996 ruk almal weer op na Hermanus toe, die welkomes en die onwelkomes, na ’n huis met net een toilet. Kersdag gaan my ma nie kerk toe nie, sy bly in die bed. Teen twaalfuur die dag kan tant Ems, een van die aangetroudes, dit nie meer vat nie. Sy wikkel my ma uit die bed, trek haar ’n jas aan en haak by haar in op pad na die sitkamer. Net toe hulle by die foto met die wurmpie verbygaan, sê my ma: "Ag liewe Heretjie tog, help my!"
My ma het in die sitkamer gesit dwarsdeur die ete en toe stilweg weer na haar bed ontvlug. Tan Ems het toe nie omgegee nie; sy was besig met skottelgoed was.
Vir nege jaar was my ma nie haarself nie. Sy was in ’n versorgingsoord. Op ’n keer toe ek haar besoek het, het sy gesê: "Ek moes nooit kinders gehad het nie." Ek het baie hartseer geword en uitgeloop sonder om te groet.
In Desember 2000 besluit my broer om my ma Hermanus toe te bring. My vrou maak kos, maar my broer en sy Maleise vrou bring garnale wat goed warm gekrui is, saam. My broer tel my ma uit die kar uit terwyl ek die kateterhouer vashou. Hy plaas haar in ’n sagte stoel. Ek het my ma nog nooit so maer gesien nie, die gesig lank en puntig, die neus skerp en dun. Sy praat glad nie.
Ons eet en my broer gee vir haar van die minder gekruide garnale aan. Sy eet daarvan, maar vra sy wil eerder van die erg gekruide garnale hê, want dit lyk lekkerder. Daar lê sy toe weg aan die warm garnale.
Hierdie ervaring het humor in ’n hartseer dag gebring.
My ma sou nooit weer Hermanus besoek nie.
Lees ook:



Kommentaar
Hartseer en mooi!