Herinnering aan Naas Steenkamp

  • 0

Naas Steenkamp by die André P Brink-gedenkuur by die US Woordfees, 2015
Foto: Naomi Bruwer

Naas was ’n veelsydige mens, tuis in die veld en in die stad. Plante, diere en gesteentes … oor alles het hy gelees, sielkunde en filosofie, die letterkunde, ook sport en politiek. En indringend na klassieke musiek geluister.

Hy kom uit die bekende agtergrond van verarmde Afrikaanse mense wat die tog na die grootstad moes aanpak om daar Engels te leer en ’n bestaansheenkome te vind.

Sy taalvermoëns het veel verder gestrek as ’n keurige Afrikaans en ’n elegante Engels, hy was ook vlot in Frans, Italiaans en Duits. Sy eerste kennismaking met Italiaans was al vroeg deur ’n speelmaat, later in gesprekke met Italiaanse mynwerkers. Voortgesette toewyding aan die leer van grammatikareëls loop in 1968 uit op sy vertaling in Afrikaans van Ignazio Silone se invloedryke en veelvertaalde weerstandsroman, Fontamara. (APB 1968)

Tesame met sy taalaanleg het ’n vaardigheid in onderhandeling hom ideaal geskik gemaak vir ’n loopbaan in die diplomatieke diens. Dis dan ook waar hy begin het. Sy eerste (en enigste) pos was in Londen. Die persoonlike hoogtepunte van die Londense verblyf gee hy weer in sy versameling sketse en vertellings Op ’n galop na Buckingham-paleis wat in 2011 verskyn.

Ons eerste kennismaking was in 1967 deur sy suster, Anita Lindenberg, wat destyds saam met my verbonde was aan Wits se Departement Afrikaans en Nederlands. Hy was toe reeds terug in Suid-Afrika met ’n loopbaan in die korporatiewe wêreld. Toe hy te hore kom dat ek nie oor voldoende fondse beskik vir ’n deposito op ’n huis nie (die bougenootskap was destyds van oordeel dat Melville ’n slum-gebied is) het hy terstond onder ’n paar van sy kollegas voorbrand gemaak om my met die nodige R1 000 tegemoet te kom. Sonder enige waarborg. Ek het die lening in paaiemente terugbetaal en baie later vasgestel dat my berekening van die rentekoers nie naastenby in pas was met die heersende koerse nie.

Wie vergeet so ’n daad van medemenslikheid? En ek was nie die enigste nie. Daar was ook sy eie pa wat oor die 100 jaar oud geword het, wat hy enduit finansieel gedra het.

Sy lang loopbaan in die sakewêreld stel hy in perspektief in ’n onderhoud met Willemien Brümmer in By van 21 November 2011. Met sy wakker intelligensie en wye belangstelling het dit niemand verbaas dat hy as sewentigjarige vir ’n universiteitskursus in derdejaar-Frans inskryf nie.

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was teen die einde van die sewentigerjare met sy deelname aan die Wiehahn-kommissie wat die regering moes adviseer oor arbeidsverhoudinge. Ongetwyfeld was hy die groot dryfveer agter die herstrukturering van die destydse arbeidswette. Swart vakbonde is volwaardige erkenning gegee, die regte van werkers is uitgebrei en werkreservering afgeskaf.

Baanbrekerswerk doen hy ook as voorsitter van die Parkeraad en die Natuurlewe­vereniging.

In 2012 het ek die geleentheid gehad om nou met hom saam te werk in die poging om Afrikaanse skrywers te verenig in ’n oop en demokraties verkose liggaam onder die vaandel van PEN International. Fanie Olivier was die inisieerder hiervan, maar Naas se tussenkoms, met sy ervaring en takt, sy uitgebreide netwerk, was ’n groot bydraende faktor vir die suksesvolle totstandkoming van PEN Afrikaans. Danksy hom is ruim finansiële ondersteuning verkry en kon ’n afvaardiging selfstandige erkenning kry by PEN se internasionale kongres in Korea.

Ek eer sy nalatenskap, sy toewyding en werkvermoë, boweal sy sensitiwiteit vir die omgewing en sy keurige en presiese omgang met taal.

John Miles
6 Januarie 2019

 

Lees ook

PEN Afrikaans bring hulde aan Naas Steenkamp

Briewe van Andan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top