
Naas Steenkamp en Kerneels Breytenbach by die eerste PEN Afrikaans Algemene Jaarvergadering.
Foto: Naomi Bruwer
PEN Afrikaans het met hartseer verneem dat Naas Steenkamp, een van ons stigterslede, gisteroggend oorlede is.
Naas Steenkamp was saam met John Miles, Fanie Olivier en Kerneels Breytenbach die dryfkrag agter die stigting van PEN Afrikaans in 2012.
Steenkamp het sy agtergrond as besturende direkteur van General Mining en president van die Kamer van Mynwese goed kon benut met die moeilike proses om Pretoria PEN en die Afrikaanse Skrywersunie saam te voeg en te herkonstitueer as PEN Afrikaans. Steenkamp het die proses soos ’n groot kampanje benader, en danksy sy vriendskap met die destydse voorsitter van PEN South Africa, Anthony Fleischer, kon hy PEN International oorreed om PEN Afrikaans onmiddellik as sentrum te erken. Hy het ook ’n sleutelrol gespeel in die opstel van PEN Afrikaans se grondwet en die skep van die nodige administratiewe struktuur. Daar is in 2016 lewenslange lidmaatskap aan hom toegeken.
Steenkamp het André P Brink as student aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys leer ken. Hul vriendskap het daartoe gelei dat Steenkamp vir Brink alle nodige inligting kon gee oor die werking van ’n Suid-Afrikaanse ambassade in ’n Europese hoofstad vir Brink se roman Die ambassadeur.
Steenkamp het later self ’n bundel vertellings by Human & Rousseau gepubliseer. Op ’n galop na Buckingham-paleis handel oor sy tyd as junior diplomaat in Londen in die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare.
Hy was iemand wat ’n groot bydrae gelewer het waar hy gegaan het. Ook by PEN Afrikaans.
Ons innige meegevoel aan sy naasbestaandes.

Naas Steenkamp, Kerneels Breytenbach en Fanie Olivier by eerste PEN Afrikaans Algemene Jaarvergadering.
Foto: Naomi Bruwer