Helpmekaar Studiefonds: kommentaar op ‘n hersiene konseptaalbeleid

  • 3

Ebbe Dommisse (foto: Naomi Bruwer)

Die direksie van die Helpmekaar Studiefonds het kennis geneem van die uitnodiging wat op 21 Maart 2016 namens die Universiteit Stellenbosch aan belanghebbendes gerig is om voor 22 April 2016 kommentaar op ‘n hersiene  konseptaalbeleid te lewer.

Die konsep is deur die US-bestuur opgestel, dus nie deur die taalkomitee wat die US-Raad as beleidmakende liggaam in onlangse hofstukke aangekondig het nie. Die status van hierdie konsep is gevolglik onseker, aangesien nie aan die Raad se voorneme voldoen is nie, terwyl daar ook nie voor aankondiging van die konsep wyer raadpleging was soos in die US se onlangse skikking in die hofgeding met AfriForum onderneem is nie.   

Die Helpmekaar het belang by hierdie kwessie aangesien die Studiefonds vanjaar lenings aan 1 650 studente administreer, van wie die meeste aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hangende opklaring van die bogenoemde onsekerheid, wil die direksie van die Helpmekaar egter reeds in hierdie stadium graag die onderstaande onder die aandag bring, met die aanname dat dit deur die US-Raad se benoemde taalkomitee oorweeg sal word indien en wanneer finale besluite geneem word.

Belangrike kwessies wat in die taaldebat ter sprake is, is onder meer die volgende: 

  1. Die noodsaak van Afrikaans in sekondêre en tersiêre onderrig
  2. Die belang van veeltaligheid op kampus en in die land
  3. Die outonomie van die universiteit
  4. Die onderwyskrisis in sy geheel.

Afrikaans – bodemtaal en bastertaal en soetste taal – is ‘n besonderse nasionale bate: ‘n moderne, hoogs ontwikkelde taal met ‘n rykgeskakeerde Afrika-geskiedenis sowel as internasionale konneksies; ‘n taal wat ‘n model vir die ontwikkeling van ander inheemse tale kan  wees. ‘n Afskaal van hierdie taal, ‘n amptelike landstaal met gelyke status ingevolge die Grondwet, kom eintlik neer op minagting van veeltaligheid, terwyl dit waarskynlik die onderwyskrisis en polarisasie sal vererger. En diegene wat inskiklik oor die wegvat van ‘n verworwe reg is, kan hulle op ‘n glybaan bevind waar ook ander regte aangetas sal word.

Dit is bewys dat moedertaalonderwys verreweg die beste metode van onderrig is. Nie net is dit noodsaaklik vir die ontwikkeling van kognitiewe vermoëns nie, maar dit bevorder abstrakte denke op tersiêre vlak.

Voorstanders van slegs Engels, onder druk van hegemoniese politiekery en kulturele konformisme, toon weinig begrip vir die uitkringende gevolge van ‘n eentaalbesluit. Daaronder tel benadeling van Afrikaanse studente en geleerdes, met gevolglike agteruitgang en selfs wegkwyn van die hoogkultuur in die openbare domein. Aandrang op eentalig Engels sal ook Afrikaanse skole in die gedrang laat kom as onderwysers nie meer in Afrikaans opgelei word nie. Dit kan voorts die paradoksale uiteinde hê dat dit die reeds ernstige breinkwyn vererger.

Hierdie situasie verg nie net dat die US ernstig besin oor die mate waarin sy outonomie deur politieke agitasie aangetas word nie. Dit sal ook allermins ‘n oplossing vir die onderwyskrisis bied, soos Theodorus du Plessis, direkteur van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging van die Universiteit van die Vrystaat, in ‘n onlangse artikel aangetoon het:

Een van die besonder ontstellende aspekte omtrent die huidige vlaag van bykans Engels-besetenheid aan Suid-Afrikaanse kampusse is die feit dat die beheptheid met die verwydering van Afrikaans as voertaal die aandag aflei van ʼn veel groter nasionale krisis. Hierdie krisis het te make met die onvoorstelbare onderprestasie op skool van Suid-Afrikaanse leerders. Volgens die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag is die onderprestasie van veral swart skoolgangers so groot dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle “bevoorregte” eweknieë is. Ons praat dus hier van ʼn soort sistemiese ongelykheid wat universiteite in werklikheid erf.

Du Plessis sê voorts dat die Child Gauge-verslag op grond van beskikbare internasionale inligting verder daarop wys dat 41% van plattelandse leerders in Suid-Afrika funksioneel ongeletterd is en dat graad 6-leerders (swart leerders ontvang moedertaalonderrig tot graad 4) swakker presteer wat geletterdheid betref as hulle eweknieë in armer lande in Afrika. Ofskoon moedertaalonderrig hierin ʼn rol speel, dui die betrokke onderprestasie ook op ander sistemiese tekortkominge. https://www.litnet.co.za/ongelykhede-in-taal-en-onderwys-perspektiewe-op-moedertaalonderrig-in-suid-afrika/.

In hierdie verband is die eksponensiële toename van Engelssprekendes aan die US in die laaste jare opvallend. Ondanks amptelike ontkennings wil dit voorkom of dit onder meer toe te skryf is aan die universiteit se aktiewe werwing van Engelssprekendes van KwaZulu-Natal en die Rand. Dit geskied klaarblyklik tot nadeel van die US se natuurlike voedergebied, die westelike deel van die land waar Afrikaanssprekendes die meerderheid uitmaak, synde ‘n vername komponent van die land se miljoene Afrikaanssprekendes van alle rasse en gelowe.

In onlangse hofstukke het die US-Raad se voorsitter toegegee dat beduidende afwykings van die taalbeleid voorgekom het, klaarblyklik oor etlike jare. Ewe klaarblyklik het dit met die medewete en toesig van die US se bestuur geskied. Die vertrouenskrisis loop so diep dat die Raad ‘n regterlike ondersoek na afwyking van die taalbeleid gelas het.

Hierdie vertrouenskrisis bring die King-riglyne oor korporatiewe bestuur, wat deur die US onderskryf behoort te word, ter sprake. Die optrede van die US-bestuur in die hele taalkwessie sedert die middel van 2015 is totaal onversoenbaar met die King-beginsels, veral die grondslag van etiese leierskap. In die korporatiewe wêreld sou amptenare wat direksiebeleid en -besluite so flagrant en herhaaldelik ignoreer, hulle aan die strengste dissiplinêre optrede blootstel.

Die bogenoemde ontwikkelinge vorm ‘n vername deel van die agtergrond van die onlangse hersiening van die taalbeleid.

Die nuwe konseptaalbeleid lyk op die oog af na ‘n ietwat verwaterde vorm van die voorgestelde beleid wat die bestuurspan van die US op 13 November 2015 wêreldkundig gemaak het. Daardie verengelsing-dokument is kort daarna as gevolg van heftige openbare teenkanting deur die US-Raad gerepudieer.

Die nuwe konsepbeleid maak voorsiening vir parallelmediumonderrig in Engels en Afrikaans vir groter groepe, terwyl in kleiner groepe alle inligting in Engels oorgedra sal word. ‘n Groot mate van diskresionêre toepassing word aan dosente oorgelaat, onder wie dus ook diegene wat die laaste jare tot toenemende verengelsing van die US bygedra het. 

Op sigself is hierdie konseptaalbeleid reeds diskriminerend teenoor Afrikaanse studente en dosente, terwyl dit terselfdertyd ontmoedigend vir die gebruik van Afrikaans as vaktaal is, ondanks die konsepdokument se erkenning van die US se rol in die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. So ‘n afwyking van die bestaande taalbeleid kan kwalik aansporing bied vir die veeltaligheid wat die US beweer hy voorstaan, ewe min as wat dit gelykwaardigheid bevorder. Daardeur word wegbeweeg van die morele verpligting dat Afrikaans aan hierdie instelling “geen mindere plaats” moet beklee nie – die voorwaarde wat die weldoener Jannie Marais gestel het toe hy ‘n eeu gelede met sy enorme destydse skenking van £100 000 die stigting van die universiteit moontlik gemaak het.

Soos die geskiedskrywer Leopold Scholtz op 23 Desember 2015 in Die Burger aangetoon het, word taal- en minderheidsregte deesdae regoor die wêreld as intrinsieke onderdeel van menseregte erken. Hy wys op die Raad van Europa se Raamwerk-konvensie vir die Beskerming van Minderhede (1995), die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie vir Burgerlike en Politieke Regte (veral artikel 27), die Europese Handves vir Streek- of Minderheidstale (1992), die Verklaring oor die Regte van Mense wat tot Nasionale of Etniese of Religieuse Minderhede behoort (1992), die Internasionale Konvensie oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (1966), die CEI-instrument vir die Beskerming van Minderheidsregte (1994), die Konvensie teen Diskriminasie in die Onderwys (1960), en die Oslo-aanbevelings betreffende die Taalregte van Nasionale Minderhede en Verklarende Nota (1998). Soos artikel 1 van eersgenoemde dokument dit reguit stel:

The protection of national minorities and of the rights and freedoms of persons belonging to those minorities forms an integral part of the international protection of human rights, and as such falls within the ­scope of international co-operation.

Waarvoor Afrikaanssprekendes pleit, en dít met die volle krag van die volkereg agter hulle, is gewone, normale menseregte. Nie diskriminasie teen enigiemand anders nie, maar ook nie diskriminasie teen hulleself nie, aldus Scholtz.

‘n Vooraanstaande lid van die US-Raad, Jannie Durand, rig juis ‘n pleidooi dat meertaligheid aan die universiteit uitgebou en gekoester moet word. “As ons oor 20 jaar die enigste universiteit in die land is wat in Afrikaans klasgee, gaan ons Afrikaanse leerders van die hoogste gehalte trek. Dis hoekom ons Afrikaans moet beskerm,” het hy op 18 Maart 2016 by die Helpmekaar se prestige-toekennings gesê.

So ‘n benadering sal ook diversiteit aanhelp. Die feit dat die volle diversiteit van Afrikaans nog nie behoorlik deur die US erken en ontgin is nie, is onlangs deur die nagraadse Matiestudent Lovelyn Chidinma Nwadeyi uitgewys. Sy het op 26 Januarie 2016 voor die Konvokasie van die US in ‘n lesing, “Courage, Compassion and Complexity – Reflections on the new Matieland and South Africa”, verklaar:

Die groter waarheid is: Afrikaans is baie tale, dit is baie verskillende kulture. Ons moet erken dat Afrikaans in ons eie geskiedenis (en selfs vandag) baie keer gebruik is teen mense wat nie wit is nie. As ons ‘n Afrikaanse universiteit wil verdedig, dan moet ons aanvaar dit behels onder andere ‘n verdediging van: Afrikaaps, Swartlandse Afrikaans, Bolandse Afrikaans, Overbergse Afrikaans, Weskus-Sandveldse Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Oos-Kaapse Afrikaans, Oranjerivier- en Gariep-Afrikaans, Boesmanslands, Griekwa-Afrikaans, Namakwalands en Richtersveld-Afrikaans. En dan moet ons erken dat die gesig daarvan meestal nie die gesig van ‘n wit Afrikanerman is nie. 

Veeltaligheid kan onmoontlik bevorder word deur die afskaling en moontlik uiteindelike uitfasering van Afrikaans. Minagting van ‘n taal – reeds merkbaar in kru slagspreuke soos “#Afrikaansissh*t” – sou ‘n onreg wees wat langdurige verset regverdig. Daardeur sou ook die reeds aktiewe bevoorregting van Engels aan meer as twintig universiteite in die land verdere stukrag kry. Die eindresultaat sal noodwendig wees dat ‘n klein minderheid van die bevolking, die moedertaal-Engelssprekendes, meer as ooit ten koste van die inheemse tale  bevoordeel word. Hierdie (grotendeels blanke) minderheid begin met ‘n voorsprong van taalvaardigheid wat die ander moedertaalsprekers moeilik kan inhaal, indien ooit.

‘n Verdere verwante kwessie wat die US beslis geregverdig is om te opper, is waarom ander universiteite so traag is om ander inheemse tale te bevorder, terwyl die leemtes rakende moedertaalonderrig in daardie tale so drasties bydra tot die akademiese agterstand van talle studente wat in hul tweede of derde taal moet studeer. Meer relevant as ooit is die verslag waarin prof Jakes Gerwel na die oorgang van 1994 aanbeveel het dat verskillende universiteite eienaarskap vir die ontwikkeling van ander inheemse tale moet aanvaar. Dit het geen aandag van regeringskant  gekry nie, ook nie van inrigtings en aktiviste wat aanvoer dat hulle “antikolonialisties” is nie. En terwyl onderwysdepartemente verklaar dat hulle hulle vir veeltaligheid beywer, word hul doen en late  eerder deur nalaat as uitvoering gekenmerk.

Die hele kwessie van die aanslag teen, en selfs verkettering van, Afrikaans verg ernstige besinning indien ons bewindhebbers die volle potensiaal van ons intellektuele kapitaal in sy omvattende en ryke diversiteit skeppend wil ontsluit. Dit sal medebepaal of Suid-Afrika, met sy dalk toenemend ironiese leuse van “Eenheid in diversiteit”, ‘n wenland of ‘n mislukte staat gaan wees.

Die billike pleidooi vir die behoud van die kernuitgangspunte en -reëlings van die US  se bestaande taalbeleid beteken beslis nie dat op “Afrikaans alleen” aangedring word nie, maar juis dat gelyke status met Engels inklusiwiteit versterk, sodat transkulturele interaksie, bewuswording en wedersydse respek bevorder sal word.

DR EBBE DOMMISSE

Voorsitter

 

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Sedert Wim de Villiers die rektor is, kom die inisiatief vir die verengelsing van die US van hom af. Maar toe hy om die pos van rektor meegeding het, het hy beweer dat die posisie van Afrikaans vir hom ononderhandelbaar is. Voor hom het Chris Brink dieselfde laai uitgehaal. Pieter Kapp toon in sy boek, Maties en Afrikaans (2013), aan hoe daar ten koste van Afrikaans gekonkel is; ook deur Russel Botman. Ten spyte van 'n hofbevel word daar op onetiese wyse hiermee voortgegaan omdat dit vir die huidige US-bestuur 'n passie is om Afrikaans te benadeel.

  • Geagte Ebbe, jou eenvoudige, geordende en oortuigende logika in hierdie artikel is indrukwekkend. Hoë intelligensie word vereis om 'n ingewikkelde saak op so 'n eenvoudige wyse te verduidelik - dit onderskei die goeie dosente van die res.
    Ek daag Piet Croucamp uit om op soortgelyke wyse sonder banaliteit of persoonlike aanval op al die vermelde argumente te reageer.

  • francois verster

    Dr Dommisse het die spyker netjies op sy kop getik. Elkeen van daardie vier kwessies wat hy noem is van groot belang. Eers as dit als tot niet is, sal mense besef wat weg is, soos wanneer water en vryheid verdwyn het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top