
Skets deur Bianca van Dijk van Pixabay
...
Heine het ’n kenmerklikheid aan haar werk. ’n Verweerde onskuld. Bedrieglike sprokies. Asook ’n volksgewete wat sy amper onderduims uitdaag om te kyk na die vrot magsug en universele eensaamheid oral in ons samelewings, wat al jare in ons eie land aanhou weerklink en ons almal aanhou wegdryf van mekaar.
...
Kabaret: Die potplant. Met: Karli Heine (spel en sang) en Grethe van der Merwe (klavier). Musiek: Karli Heine, Grethe van der Merwe en Dean Balie. Beligting: Stefan Benade. Regie: Dean Balie. Masambe. Baxter Teater. Rondebosch
In 2019 het Greta Thunberg die Britse parlement aangespreek met die volgende woorde: “The climate crisis is both the easiest and the hardest issue we have ever faced.” Snaaks dat hierdie woorde vandag nog relevant voel. Globale verwarming het al gestyg so hoog soos 1,44 grade Celsius, wat lei na wêreldwye verlengde droogtes, intense hittegolwe en intense vloede wat seevlakke laat reis en wye skade aan biodiversiteit veroorsaak.
Karli Heine is een wat vir die plante ’n stem gee.
“Plante en diere se gevoelens word geïgnoreer en hulle is al lank voor ons hier,” bieg sy na die opening van haar eenpersoonkabaret Die potplant. Die radioweergawe is onlangs deur RSG uitgesaai as hul eerste musikale drama, met ’n geselskap wat spog met onder andere Joanie Combrink, Marion Holm, Esther von Waltsleben en nog meer.
Bethany Nichols skryf vir BBC Earth in ’n artikel “Plants have feelings too” die volgende: “Plants can sense a lot about their environment and it can cause them stress. Unlike most humans and animals though, when plants face predation, damage, or environmental changes they can’t run away and hide.”
In Die potplant het ons met statiese plante in ’n kantoorgebou te doen.
Wie sou kon raai dat hierdie lewens in potte verbloem soveel stories kan oplewer?
En ingekleur met nuanses en kwinkslae.
Soos mens by Masambe Teater by Baxter instap, word jy gegroet deur ’n eensame leë pot op die verhoog. Dis nie jou gewone pot nie; dis lewensgroot – omtrent vir ’n mensgrootte plant – en dis ook wat gehoorlede na kan uitsien, want as Karli Heine – versier deur plastiekwingerde wat oor haar lyf rank – uit die pot verskyn, dan is daar ’n planterige mensstorie wat uit die verhoog uit blom.
’n Sad, stowwerige potplant staan op haar eie in die voorportaal van ’n kantoor. ’n Potplant ken mens gewoonlik as iets wat warmte en prag na als om dit moet bring. Maar wie laat voel die arme plant mooi of goed? Net mooi niemand. So daar word maar gesing en gedroom oor alles wat nooit sal gebeur nie. Klink nogal sad, en dit is, maar ook ten minste koddig en komieklik.
Die kabaret belig ’n lewe wat nooit ten volle geleef kan word nie. Dit kyk na wat dit beteken om te groei waar jy geplant is en om lig in die donker van jou bestaan te vind.
Ons word voorgestel aan verskeie verwaarloosde en verrinneweerde potplante in ’n kantoorgebou. Die eerste een het ook sommer besluit om die onbetaalde, asook ondankbare pos as ontvangsdame oor te neem – nogal ’n bekkige groenigheid wat ’n oorstuk op- en afpluk en net antwoord wanneer dit haar pas. Sy is nie sommer jou gewone gewas nie – oh no, sy het drome vir haarself, en een van hulle sluit in om op ’n eiland oorgeplant te word. Nogal ’n spesifieke een ook, ’n KI-eilandposkaart. Die naïwiteit en onskuld, nie net van hierdie flora nie, maar regdeur vang jou as gehoorlid aan die hart.
Dan het ons ook met ’n kaktus te doen. Die arme stekerige gedoente soek net ’n drukkie, maar tussendeur sy klaagliedere verloor hy maklik ledemate ook. Al maak dit hoe seer, bly die seerste hiervan sy gebroke hart.
Dis nog nie naastenby die absurde een nie, maar ek wil alewig te veel weggee met my vertellings, so kom ek gee net nog so ’n paar plantsaadjies as pitkos.
Daar is ’n Tori Amos inspired spook-roosboom, sowel as ’n vismot met ’n nare attitude wat net baas van die plaas wil wees.
As dit nie genoeg is om jou aandag te trek nie, dan weet ek nie wat sal wees nie!
Heine se aanbieding voel vars en lig.
Sy gooi verskillende verwysings in haar groot potplant, van Laurika Rauch se weergawe van “Toemaar, die donker man” tot “Dapper muis”, en elke parodie kom eiesoortig bo die sand uitgegroei. Heine het ’n kenmerklikheid aan haar werk. ’n Verweerde onskuld. Bedrieglike sprokies. Asook ’n volksgewete wat sy amper onderduims uitdaag om te kyk na die vrot magsug en universele eensaamheid oral in ons samelewings, wat ook al jare in ons eie land aanhou weerklink en ons almal aanhou wegdryf van mekaar. Gelukkig is sy ’n vernuftige teatermaker wat jou laat dink en voel, maar eers laat lag en die gewonde kind in elkeen omarm en saam laat speel op die wrede speelgrond van ons samelewing.
Die teks is pittig met sterk oomblikke van ironie, parodie, absurditeit en hekelry. By tye is ek herinner aan die werk van Hennie Aucamp, veral dié’s met ’n lighter touch, soos ’n Bruidsbed vir tant Nonnie, of die donkerkomiese lied van Amanda Strydom “Fanie en Bettie”. Heine span ook af en toe genuanseerde benaderings in om ’n mens sonder die towerstaf van haar magiese woorde ook net eenvoudig te laat voel, en dis mos wat kabaret ook moet doen: om deur die omgewings en biodiverse kritiek en spot met die samelewing ook ’n aar raak te tref met ’n tuinvurk. En Heine slaag op eiesoortige wyse daarmee.
Die oorspronklike uittreksel is bekroon met die KKNK se Kanna vir beste Lucky Pakkie-aanbieding (2024).
Die potplant is van 20 tot 27 Junie by Baxter Masambe Teater te sien.
Die radiodrama met dieselfde naam is op RSG se webtuiste as potgooi beskikbaar.
Lees ook:
Persverklaring: RSG Radioteater se Die potplant, ’n kabaret, op Donderdag 18 Junie

