
Frieda van den Heever, Joanie Combrink, Lochner de Kock; voor Esther von Waltsleben, Marion Holm; sittend Karli Heine
’n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hul omstandighede. Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om uit te sterf en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef.
Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke soos ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed; wie is nou eintlik die vyand? Is dit vismot, die grommige gogga wat aan alles knaag, of die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie?
Natuurlik is die gras werklik groener aan die ander kant…
Omdat die karakters plante is, verskil die ritmes en spraakpatrone van die taalgebruik wat ons aan gewoond is. Die mens karakters word gespeel deur dieselfde akteurs. Dit speel met die idee dat die plante die persoonlikhede aanneem van die mense in die kantoor. Soos ’n hond van sy baas. Die plantstemme is meer karikatuuragtig en die mensstemme, die vervelige (neutrale) weergawes.
Die drama is deur Karli Heine geskep en vir radio verwerk, waar die musiek en ’n paar kern-karakters ontstaan het uit die oorspronklike kabaret. Die Potplant: ’n Tragedie is vir die eerste keer in 2024 opgevoer by KKNK se Blitsteater. Karli vertel: “Die idee het begin toe dit vreemd voel om ’n boomkarakter binnenshuis te plaas. Wat het plantgedagtes en staan onder dak?” Die uittreksel het tot ’n vollengte produksie gegroei, opgevoer deur Karli Heine, met klavier deur Grethe van der Merwe en regie behartig deur Dean Balie.
Die spelers in die radiodrama is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Grethe van der Merwe speel die klavier en Frieda van den Heever as die regisseur in die ateljee.
Die potplant deur Karli Hiene, Donderdagaand 18 Junie in Radioteater om 21:10 op RSG of rsg.co.za en die RSG APP. Dit is ook beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.


Kommentaar
Kan nie wag vir die uitsending nie!
Jy is 'n ster, Karli!