Heil die Leser!: Waar laventel bloei

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

Titel: Lessons from loss: Life on the other side of grief
Outeur: Dominique Olivier
Uitgewer: Penguin Random House South Africa, 2026
ISBN: 978 1 77639 268 1 

Dominique Olivier is in Kaapstad gebore en het in 2014 aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste (UK) gegradueer. Alhoewel sy steeds in haar vrye tyd skilder, het sy vir haar ’n loopbaan as skrywer in die bemarkingswese gevestig, en werk as rubriekskrywer vir Ghost Mail en Daily Maverick. Haar debuutmemoires vertel die verhaal van die ongeluk wat haar lewe in 2022 verander het waarin haar man en oudste dogtertjie gesterf het. Hoewel die uitgangspunt van dié lewensverhaal vernietigend is, transformeer sy hierdie insident in haar skryfwerk in een van hoop, wysheid en liefde. Sy woon in Kaapstad saam met haar verloofde en haar jongste dogter, wat nou drie jaar oud is.

Lessons from loss: Life on the other side of grief is ’n kragtige, dig intieme memoir wat die snykante van rou en menslike lyding konfronteer, terwyl dit mettertyd ’n baken van oorlewing en hernude betekenis word.

Op net 29 is Olivier se wêreld deur ’n enkele motorongeluk verpletter. Die tragedie het die lewens van haar man en peuterdogtertjie geëis en haar as weduwee agtergelaat, alleen verantwoordelik vir ’n pasgebore baba. Die boek begin met hierdie verwoestende skok, weergegee in onverskrokke, eerlike prosa wat weier om die surreële gevoel van om “uit pas met die res van die werklikheid” te wees te versag. Op bl 15 verneem die leser:

Some 30 kilometres away, on an ordinary stretch of highway, a truck carrying a load of bricks burst a front tyre. Veering out of control, it crossed the median into oncoming traffic, collided with one vehicle head-on and pushed it off the road. Inside that vehicle, returning from a morning spent on the beach in Fish Hoek, were my husband, Jaendré, and our two-year-old daughter, Felix.

En op bl 23:

The time was just after 20:00. Twelve hours earlier, I had woken up as a married mother of two daughters. Somewhere after 20:00 on the 7th of October 2022, I left the hospital as a widow, a single mother to a newborn, and a parent of a dead child. I was twenty-nine years old.

Lesers word onmiddellik ingetrek in die eerste weke en maande van rou – die angs van enkelouerskap van ’n baba te midde van oorweldigende verlies, die praktiese en emosionele chaos, en die diepgaande isolasie wat met rou gepaard gaan.

Wat Lessons from loss van baie roumemoires onderskei, is dat die werk hom nie posisioneer as ’n voorskriftelike “hoe om”-gids, selfhelp- of motiveringsboek nie. In stede daarvan funksioneer dit as ’n diep persoonlike getuienis: deels memoires, deels soos ’n metgesel wat jou laat nadink en herbesin. Olivier deel haar trauma sonder om universele antwoorde te eis. Elke hoofstuk begin met ’n kort toneelvinjet en terugflitse na daardie ondenkbare pynlike ervaring wat in geleefde werklikheid geanker is eerder as in abstrakte teorie. Die toon bly eg – soms ondraaglik eerlik – tog vervaag dit nooit in wanhoop, sonder ’n sprankie hoop nie.

Die memoires se grootste krag lê in die balans daarvan. Olivier skryf openhartig oor die disoriënterende, lewensveranderende aard van so ’n verlies, maar sy ondersoek ook hoe die lewe “aan die ander kant van rou” lyk. Temas van oorlewing, geleidelike genesing, dankbaarheid, en om te leer om so ’n verlies sáám met die voortsetting van die lewe te dra, tree organies na vore. Vroeë lesers en promosiemateriaal beskryf die werk as “lewegewend”, ’n “wonder van deursigtigheid” en ’n stille metgesel vir enigiemand wat verlies in enige vorm navigeer – of dit nou die dood van geliefdes, of meer metaforiese sterftes is. Dit erken dat die samelewing dikwels die taal van rou ontbreek, en dit modelleer sagkens één manier om daaroor te praat. Olivier se memoires is emosioneel die waarheid. In die proloog noem sy dat daar nie ’n hiërargie van verlies is nie; daar is nie ’n rangorde van wie se verlies die grootste of meer gering is nie, want dis hoogs persoonlik.

Sy vervleg behendig verwysings na kuns, byvoorbeeld Bruegel (bl 24), asook filosofie, soos Hanlon se lem (hoofstuk 3) deur die teks. Die prosa is gestroop en poëties: “Grief teaches a language that only the initiated can speak” (135). In die bittersoet slot verwelkom sy op selfironiserende wyse ander mense met verlies:

While there are many people who may never fully understand, there are those who do. Seek them out. Hold them close. We are the Losers Club, and we are waiting to welcome you when you are ready. You don’t have to hide your pain or lighten your burden to enter. Simply come as you are. (138–9)  

Ná die onverwagse afsterwe van my eggenoot 17 maande gelede het ek heelwat roumemoires gelees. En inderdaad: Die ingeligtes, diegene wat die taal van rou verstaan, kan ook onmiddellik die kunsmatige fineer van sommige van hierdie boeke aanvoel. Dit is hoegenaamd nie die geval met Lessons from loss nie.  

Stilisties lees Lessons from loss toeganklik en gesprekmatig, met ’n mengsel van narratiewe vertelling en insiggewende en diepgaande besinning. Dit vermy  sentimentaliteit of clichés en kies eerder eerlikheid en ’n besonder diafane skryfstyl wat die verhaal tegelyk hartverskeurend en opheffend maak. As ’n Suid-Afrikaanse skrywer word Olivier se stem gekenmerk deur ’n herkenbare direktheid wat by lesers in verskillende kulturele kontekste sal aanklank vind, want die emosionele kern is universeel menslik.

Vir dié wat al diepgaande verlies ervaar het, kan hierdie boek voel soos ’n bemoedigende hand op die skouer van iemand wat self daar was, wat die emosionele puin beskryf sonder om maklike kortpaaie te belowe. Vir ander lesers open die werk ’n venster op ’n werklikheid wat die meeste hoop om nóóít te beleef nie, en kweek dit empatie en ’n dieper waardering vir die broosheid van die lewe.

Binne die florerende (ja, die ironie!) van rouliteratuur tref Lessons from loss die leser met sy beheerste en outentieke aanslag; die stille wysheid. Dit poog nie om rou “reg te maak” nie; dit vertel bloot die verhaal van een vrou wat geleer het om daarmee saam te leef. Hoogs aan te beveel vir enige iemand wat vertroosting, begrip of bloot ’n pragtig geskrewe verslag van die psigologiese veerkragtigheid in die aangesig van ondenkbare pyn soek.

........
Hoogs aan te beveel vir enige iemand wat vertroosting, begrip of bloot ’n pragtig geskrewe verslag van die psigologiese veerkragtigheid in die aangesig van ondenkbare pyn soek.
.........

Ongelukkig is die titel ietwat verbeeldingloos en misleidend. “Lessons” het so ’n pedantiese, en selfs generiese klankie – en die memoires is inderwaarheid die teenoorgestelde: Dit handel oor die outentisiteit van ’n vrou se belewenis, en dit is allesbehalwe voorskriftelik.

Die omslag se skakerings van laventelpers, van die diep, amper “bloeiende” rou-pers tot die ligter agtergrond, impliseer dat daar hoop is; dat die rouproses ook metafories ligter word. “Waar laventel bloei ...” het dadelik deur my gedagtes geflits.

Roumemoires steun sterk op die waarde van identifikasie. Hierdie troop in letterkunde is transformerend; dit handel oor daardie spesiale oomblikke wanneer lesers stukkies van hulself herken – in die emosies, die stryd, die pyn of die hoop. Identifikasie beteken immers jy neem die verteller/personasie se perspektief oor, voel hul verliese asof dit jou eie is, en leef tydelik deur hulle oë. Dit skep ’n emosionele brug waarin stories ’n spieël, ’n troos en selfs ’n genesingsmiddel word.

Memoires wat handel oor die rouproses na die dood van ’n geliefde vorm ’n groeiende en invloedryke subgenre binne die breër kategorie van lewensverhale. Hierdie boeke is nie bloot persoonlike dagboeke of joernale nie, maar literêre werke wat die naaktheid van emosie, herinnering en transformasie verweef met narratiewe tegnieke. In ’n wêreld waarin die dood dikwels taboe is of klinies hanteer word, dien hierdie memoires as openbare selfterapie en ’n manier om sin te maak uit die ondenkbare.

Roumemoires vertoon tipies ’n duidelike onderbou wat in struktuur ’n “voor”, “tydens” en “ná” die verlies volg. Die “voor”-deel word dikwels idillies of met warm nostalgie geskilder om die impak van die verlies te versterk. Die oomblik van dood (soms skielik, soos ’n hartaanval of ongeluk, soms stadig en pynlik, soos kanker) of die nuus daarvan dien as die katalisator. Die middelste gedeelte beskryf die “dark night of the soul”: die rouproses met sy chaos, skuld, woede, ontkenning en selfs absurde gedrag.

Die slot bring nie altyd ’n gelukkige einde nie, maar eerder ’n herkonfigurasie – ’n nuwe verhouding met die wêreld, die oorledene en die self. Die skrywer kom nie noodwendig oor die verlies nie, maar leer om daarmee saam te leef.

Dit is altyd interessant om te let op die stylkenmerke van ’n genre: Al neem jy honderde verskillende verhale, is die template of gietvorme van individuele boeke stilisties verstommend dieselfde. Stylkenmerke van roumemoires sluit byvoorbeeld die volgende in:

– Die gebruik van spaarsamige, maar helder en liriese prosa wat veral op sensoriese besonderhede fokus (byvoorbeeld die reuk van die hospitaal, of die belewenis van lig wat deur blindings val).

– Die roumemoires is dikwels gefragmenteerd: ’n nielineêre vertelling om die chaotiese aard van rou na te boots. Soms word verskillende genres ingespan, soos gedigte, gevolg deur prosa. In Elisma van Zyl se roumemoires, Uit rou gebore: ná die verlies van ’n lewensmaat (Turksvy, 2025), vind die leser ’n achroniese aard van die gedigte, joernaal- en dagboekinskrywings, foto’s en grafika wat herinner aan ’n collage. Lessons from loss begin dan met ’n gedig deur Olivier. Ek herinner my ook Dominique Botha se Valsrivier (2013), ’n epiese roman wat eindig met ’n gedig, en dié gedig is weer opgeneem in haar digbundel Donkerberg (2021) as “Roudig”. In Marlise Joubert se digbundel, Grondwater (2020) skryf sy “prosas” tussen die poësie deur ná die dood van Ma Didi. Hierdie versnippering van genres in rouliteratuur weerspieël iets van die gebroke rouproses.

In hierdie werk word daar ook ’n “dubbele visie” aangetref: Die rouende “ek” word gelyktydig waargeneem en ontleed deur die skrywer-verteller wat later terugkyk. Dit skep ’n spanning tussen rou emosie en intellektuele besinning.

Heelwat skrywers onderhandel insgelyks met die sosiale verwagtings rondom rou. Hulle daag die verouderde Kübler-Ross-vyf-stadia-model uit of wys hoe rou nie lineêr is nie, maar stuwend en onvoorspelbaar. Sommige boeke bevat donker humor, woede of selfs kritiek op die “industrie” van rou (soos begrafnisse, die frustrasies rondom die sleur van administratiewe papierwerk, en die belewenis van welmenende, maar oningeligte of “onhandige” vriende).

Een van die mees ikoniese werke in die genre is Joan Didion se The year of magical thinking (2005). Didion beskryf die skielike dood van haar man, John Gregory Dunne, terwyl hul dogter ernstig siek is. Die boek is klinies, met ’n forensiese presisie wat herinner aan reportage, maar deurdrenk met die absurditeit van rou. Didion se “magiese denke” – die geloof dat sekere rituele haar man sal terugbring – word ’n kragtige metafoor vir hoe rou logika ondermyn.

Uiteindelik funksioneer roumemoires as ’n bekentenis van openbare rou in ’n samelewing wat privaatheid rondom dood vereis. Hierdie boeke bied ’n soort validasie aan lesers wat voel hulle rou “verkeerd”, of te lank. Baie skrywers en lesers beskou die skryfproses sélf as terapeuties – ’n manier om die verlies te orden en die oorledene se lewe te eer. Dit kombineer die voordele van selfhelp met literêre diepte.

Terselfdertyd word die genre gekritiseer vir die kommodifisering van tragedie: Rou word ’n produk, en die oorledenes bloot die “vleis” wat die memoires aanvul. Sommige van hierdie werke vermy die moeilikste dele – die presiese oomblik van dood, of komplekse, onopgeloste verhoudings – om ’n meer verteerbare verhaal te skep. Ander daag juis hierdie konvensies uit deur eerlik oor skuld, woede of ambivalente verhoudings te skryf.

Die genre is veral gewild onder vroulike skrywers, maar dit spreek universele temas aan: die transformasie van die self deur verlies, die morele plig om te onthou, en die vraag hoe om voort te gaan sonder om te vergeet.

Roumemoires oor die dood van ’n geliefde is ’n genre wat emosionele gebrokenheid met literêre vernuf verbind. Dit bied nie antwoorde of heling nie; dis eerder soos ’n bondgenoot in die donker. Om persoonlike verlies openbaar te maak help lesers om hul eie gestorwe geliefdes en persoonlike trauma te onthou en sin te vind in ’n wêreld wat skielik kaler en kouer voel. Hierdie boeke getuig van kragtige herinnering: Jy is nie alleen nie. Die skryf oor rou is self ’n daad van liefde – en ’n manier om die geliefde se afwesigheid in woorde te laat voortleef.

Lees ook:

Heil die Leser!: Oor die poëtika van seine, tekens en simbole

Boekevat met Deborah: Brief op veertigduisend voet deur Tom Dreyer en Wilde vere deur Hendie Grobbelaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top