Boekevat met Deborah: Brief op veertigduisend voet deur Tom Dreyer en Wilde vere deur Hendie Grobbelaar

  • 0

Brief op veertigduisend voet
Tom Dreyer
Queillerie
ISBN: 9780795803437

Wilde vere
Hendie Grobbelaar

LAPA (Penguin Random House South Africa)
ISBN: 9781779860323

Tom Dreyer, stel ek my voor, het sekere dinge eenvoudig nooit ontgroei nie: nuuskierigheid, opgewondenheid, energie. En as dít nie die eienskappe van ’n uitmuntende digter is nie, weet ek nie.

Hierdie bundel is soos ’n ruimtereis, soos ’n tydreis, millennia terug, tot anderkant die Ordovisium (vir die oningeligtes soos ek deel ek my Google-resultate: ’n geologiese periode, die tweede van ses van die Paleosoïese tydvak – van 485,4 tot 443,4 miljoen jaar gelede). Dreyer skilder dus op ’n groot doek. Die fossiel van ’n oerkreef stem hom so liries soos ’n skaap vir Boerneef: “my pantserkind, my diepsee-dop / ver van jou blou panthalassa ...”

Hy sien die mulitversum in ’n sweetdruppel, maar die heel treffendste is momente tussen mense: sy wat in die venster staan met haar hare wat teen haar wang waai, haar elmboog en die haartjies op haar arm. So intiem en verwonderd dig hy oor menslike aanraking:

jou hand doem op hier tussen ons
’n landskap in die ioonreën
’n ru eskarp
’n lawastroom

En:

ek proe dit: die chaotiese aanraak van spesies
in ’n blinde val vind ons monde mekaar.

Die kontras tussen koue wetenskap en warm lewe verras telkens. Tussen die onherbergsame ontheemdheid van die hemelruim en ’n oggend op aarde. ’n Terravormertuig wat doelloos in die ruimte voortsweef, onthou:

soms flits ’n beeld in die kwantumskuim
van my geheuebank:
’n hand wat streel oor ’n hond se oor
in ’n oggendreuk van gras.

Soos dit ’n semper iuvenus van formaat betaam, dig hy dromerig oor kinderjare, soos toe hulle dertien was en hul dae kon oopknak soos die mes wat Cas hom buite Video Star gewys het. Dertienjarige seuns wat speekgesang bo teer hoor met fietsghries in hul tande en die middag ken hul naam. Nou soek hulle op die lippe van vroue dié dag se weerklank. Daar is spatsels van intense seunsvriendskappe, byna soos in Brideshead revisited, wat lyflik soos liefde is, soos in “liefde in die arkade”, waar hy van sy maat sê:

jy’s ’n prins-prinses tussen kwartskristalle
duikrollend deur ’n persiese nag
een salto voor die hashashin
dertien en onsterflik

In jou lyf se flikkervlam
dra jy die gloed van xerxes met jou saam
en jou blieps tref my verrukliker as woorde.

Hashashin was ’n leër in die Persiese berge en die Engelse woord assassin kom van hashashin.

Daar is verse oor Xerxes, ’n Persiese heerser, die vierde koning van konings van die Achaemenidiese Ryk, die seun van Darius die Grote en Atossa, dogter van Sirus die Grote.

Hy dig oor ’n axolotl, wat my ook fassineer, oor ’n jellievis wat sy biologiese horlosie kan terugdraai en bloedjonk oor begin. Oor trilobiete, drielobbige wesens, ’n uitgestorwe mariene geleedpotige met ’n uitwendige skelet. Hy dig oor voëls, die kolibri (hummingbird) wat agteruit kan vlieg, die sakaboela, ’n langstertflap.

.........
Hy bevolk die bladsye met alles wat leef en geleef het en hy skryf soos niemand anders nie.
.........

Hy bevolk die bladsye met alles wat leef en geleef het en hy skryf soos niemand anders nie. Miskien gaan hy nie daarvan hou nie, maar die digter aan wie hy my soms vlugtig laat dink is TT Cloete met sy wetenskaplike weetgierigheid en verwondering oor die heelal.

Hy strooi terme rond wat net vaagweg ’n klokkie lui by my, soos sakkadiese bewegings – vinnige, rukkerige bewegings van beide oë tesame om die fokus van een punt na ’n ander te verskuif, so broodnodig vir lesers, of wanneer jy die vertrek bespied op soek na ’n bekende gesig.

Hy skryf die heelal oop en my oë spring sakkadies om dit alles in te neem. My brein word swaar soos ’n nat spons. Ek is verwonderd. Ek gaan dit weer en weer lees. Hy herinner my aan die onmeetbaarheid van alles:

die wêreld is iets anders as wat ons vermoed
’n glasplaat sonder einde
’n stippel in ’n hond se oog
die laaste horison is nie ’n lyn nie
dis ’n steeds vallende refrein
soos ’n golf wat aanhou breek
ons slee gly sonder weerstand voort
die laaste koördinaat is ’n ongesêde woord.

Wat ’n digter!

Wilde vere

........
Ek het nog nie voorheen ’n roman van Hendie Grobbelaar gelees nie. Wilde vere het my beïndruk, veral die eerste helfte.
.........

Ek het nog nie voorheen ’n roman van Hendie Grobbelaar gelees nie. Wilde vere het my beïndruk, veral die eerste helfte. Pop de Wild en haar man Gys woon op ’n plot naby Vereeniging. Hulle sien die rook van fabrieke en ’n plakkerskamp naderkruip aan hul grensdraad. Pop is ’n motorwerktuigkundige, maar op hierdie lap aarde boer sy met hoenders en groente. Gys is lewensmoeg. Hulle seun Evan is in Engeland, waar hy nie juis suksesvol was nie (Pop moes geld aanstuur), en nou is hy op pad huis toe. Hy aard na sy pa, wat maar nie rigting kry nie. Pop is die raakvatter.

Op die lughawe herken sy haar seun amper nie. Hy pronk met ’n mohawkhaarstyl, tatoes en ringe oral. Aan sy sy is sy half-Oosterse bruid, Sue. Sy is swanger. Hulle neem ook hul intrek op die plot. Sue is heel handig en Evan begin weer as werktuigkundige werk.

Die mans is redelik hopeloos, maar die vroue beïndruk. Pop is oorgewig en verslons, maar nog nie oud nie. Sy sukkel om weg te bly van moedverloor se vlakte. Sue is gebroke. Sy het in ’n kinderhuis grootgeword. Haar pa was ’n Australiër en haar ma Indonesies. Sy is desperaat op soek na haar wortels, na ’n anker. Sy raak geheg aan die hoenders, en veral een hennetjie, Maria Magdalena, is haar oogappel. Sy brei vir haar truitjies, dra haar oral rond en gesels met haar. Die hen is selfs soms fokalisator.

Dis altyd fassinerend om te lees van mense vir wie die dobbelsteen nie so mooi geval het nie, wat voortbeur teen die aanslae van die lewe en redelik versukkeld, maar tog intelligent en soekend is. So ’n sweempie van Ons is nie almal so nie.

Dan tref ’n gelukskoot en kort daarna ’n dubbele tragedie die plotmense en Sue besluit om Bali toe te gaan om te soek na moontlike bloedverwante. Pop, wat intussen slank en stylvol is, gaan saam.

Hier verval die roman vir my in cliché: die Eat pray love-model van soeke na verheldering, na ghoeroes en na jouself in die vreemde. Ek wil nie in ’n roman lees oor interessante uitheemse rituele, danse en gebruike nie. Dit is wel relevant tot die storielyn (Sue se ma was ’n kedongdanser), maar is te uitgesponne. Waarvan ek hou, is menslike drama en die plofbare dinamika tussen karakters wat op ’n klein verhoog afspeel.

Ek het dit nogtans klaargelees en die karakters is wel terug plot toe. Self die hennetjie was weer aan die woord. Dis ’n vaardige, bekoorlike roman.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top