
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
1
Klopdans van die hart
René van Zyl
LAPA, 2026
Romanses as subgenre van prosa is ontvlugtingsliteratuur en moet as sodanig getakseer word.
Die romanse beklee ’n belangrike plek binne die populêre leeskultuur en boei miljoene lesers wêreldwyd. Die volgehoue gewildheid van hierdie genre bevestig die vermoë daarvan om fundamentele menslike begeertes na liefde, romantiese verhoudings, emosionele vervulling en ontvlugting te bevredig.
Die romanse dien ook as ’n kragtige en moderne medium om temas van vroulike selfbeskikking en bemagtiging te ondersoek. Waar vroeëre liefdesverhale tradisionele geslagsrolle bevestig het, beeld kontemporêre romans al hoe meer sterk, onafhanklike vroulike hoofkarakters uit wat aktief hul eie lot in die lewe navigeer. Hierdie karakters tree selfgeldend op in komplekse verhoudings; hulle streef hul ambisies na en daag sosiale verwagtinge uit, wat as sulks vir hulle lesers as inspirerende rolmodelle voorgehou kan word. Voorts bied die genre ’n veilige ruimte waarbinne lesers hul eie emosies kan verken. Die klem op emosionele verhoudings, liefde en kwesbaarheid laat lesers toe om op ’n persoonlike vlak met karakters te identifiseer en hul vreugdes en hartseer indirek te beleef. Hierdie emosionele katarsis kan besonder terapeuties wees en bied aan lesers ’n gevoel van begrip en validasie.
Ek het onlangs Klopdans van die hart deur René van Zyl onder oë gehad en net weer eens besef hoe ver pad Afrikaanses gekom het met die emansipasie van vroue – die verhaal wemel inderdaad van sterk vroue, matriarge, maar ook vroue wat hulle eie weerloosheid, naamlik om ’n man aan hul sy te wil hê, omarm.
Die skrywer René van Zyl is ’n skrywer, blogger, oudjoernalis en aweregse Mevrou Dominee. Sy en haar predikantman het twee volwasse dogters en ’n breingestremde seun. Hulle woon op ’n plaas in die skadu van die Magaliesberg op Hartbeespoort.
Die protagonis of “heldin” Caitlin Fitzgerald is ’n dromer, leser en ewige student. Haar lewe neem egter ’n onbeplande wending toe sy weke ná ’n gesellige aand saam met ’n vreemdeling, Aiden Kennedy, besef dat sy swanger is. Caitlin se snobistiese en liefdelose ma dwing die twee om na ’n wegbreek vir paartjies in Ierland te gaan in die hoop dat hulle sal trou. Caitlin en Aiden is egter bang om hul ouers se foute te herhaal.
Wat ek van hierdie Romanza geniet het, is die fyn gespot met ’n paartjie wat skielik in die sop beland, omdat hulle swanger is. (Skaars dekades terug sou daar geswyg geword het oor die skande om “oor die tou te trap”, soos die oumense dit genoem het.) Die ondeunde humor is verfrissend, en die hoofkarakters Caitlin en Aiden word modern en werklikheidsgetrou geskets.
Tog het beide Caitlin en Aiden pynlike bagasie wat hulle sedert hulle jeugjare moes saamdra. Erin, Caitlin se tannie in Ierland, akkommodeer gereeld wegbreke vir paartjies wat rus en terapie nodig het, en wat is beter as die mooi Ierse landskap langs die see naby die dorp Dingle?
Aanvanklik sukkel Caitlin om die realiteit, dat sy swanger is, te aanvaar. Dis veral moeilik as die pa van jou ongebore kind ’n volslae vreemdeling vir jou is. En hiérdie gedeeltes is heerlik komies.
Tog het beide Caitlin en Aiden Ierse bloed: Eersgenoemde is ’n Fitzgerald en laasgenoemde, ’n Kennedy. Die boek spot ook lekker met die pretensie van gesiene Afrikaanse families en hulle Europese herkoms en familieverbintenisse. Maar die matriarg Kate Fitzgerald van Galánta-faam regeer die familie met ’n ysterhand. En ja, daar is óók ’n kloon van Kate in die gedaante van Caitlin se suster Bridget, ’n prokureur wat Caitlin insgelyks met ’n valkoog dophou en berispe.
Klopdans van die hart bekoor in die beskrywing van Ierland en sy gebruike. Ek het besonder baie gehou van die misterieuse toneel waar Caitlin amper van ’n krans afgeval het en ’n bebaarde vreemdeling in ’n groen jas vir Aiden gehelp het om haar betyds boontoe te trek (147–8). Maar daar was net één man, Aiden, wat haar gehelp het. Die misterieuse vreemdeling was heel waarskynlik die beskermheilige Sint Patrick (wat ook die beskermheilige van Ierland is).
Maar net toe dit lyk of die liefde wel vir Caitlin en Aiden beskore is, wag daar ’n nuwe skok op Caitlin.
Die res is vir die leser om uit te vind – bestel vandag nog! Dit sal vir ’n groot verrassing in die Kerskous sorg.
2
God & money: Biblical principles for financial freedom
Wilco Naumann
LUCA, 2026
Wilco Naumann is ’n entrepreneur, skrywer, openbare spreker en besigheidstrateeg met meer as twee dekades se ervaring op die gebied van sakeonderneming, rekeningkunde en leierskap. Hy het reeds duisende mense in bybelse rentmeesterskap opgelei. Sy missie is om God se finansiële beginsels met die sakewêreld te versoen ten einde volhoubare sukses en gesonde finansiële praktyk te bevorder.
God & money: Biblical principles for financial freedom is ’n omvattende bybelse én praktiese gids tot finansiële vryheid. Dit leer jou nie bloot hoe om jou geld te bestuur nie, maar verander ook jou gesindheid en ingesteldheid teenoor geld.
Naumann put uit die Skrif, werklike lewenservaring en die finansiële werklikhede van Suid-Afrika om die historiese oorsprong van geld, die gevare daaraan verbonde en die ingrypende verskille tussen God se perspektief en dié van die wêreld te ondersoek. Hy skryf nie net teoreties nie; hy deel sy persoonlike reis – van ’n armoedige denkwyse tot ’n plek van groter finansiële vryheid – en verbind dit direk met die Skrif. Hy ondersoek ook die geskiedenis en risiko’s van geld, die verskil tussen wêreldse en goddelike perspektiewe en bied konkrete stappe om skuld teë te werk, ’n begroting op te stel, te spaar, te belê en vir aftrede te beplan.
Die boek fokus sterk op die individu se hartsgesindheid teenoor geld. Dit gaan nie net oor “hoe om meer te hê” nie, maar oor hoe om vry te word van Mammon se greep en finansiële besluite in lyn met God se beginsels te bring.
Die boek is plaaslik relevant: Dit neem Suid-Afrikaanse realiteite (skuldvlakke, belasting en ekonomiese druk) in ag.
Die boek is ook Bybels-prakties: Daar is duidelike stappe hoe om skuld af te betaal, ’n begroting te bestuur en ’n nalatenskap te bou.
Met 22 omvattende hoofstukke, verdeel in drie kernafdelings – “Biblical foundation”, “Financial philosophy” en “Practical planning” – rus hierdie boek lesers toe om hul finansiële lewens volgens transformerende beginsels in te rig.
Dit belig die verskille tussen wêreldse en goddelike perspektiewe op geld. Deur die beginsels en riglyne in hierdie boek toe te pas, kan lesers hul finansiële sake suksesvol in ’n positiewe rigting stuur en skuld, finansiële slaggate en geldelike druk agterlaat.
God & money voel met die lees soos ’n persoonlike finansiële raadgewer wat altyd byderhand is. Dit is ’n moet-lees vir alle gelowiges wat finansiële vryheid nastreef, koninkryksbeginsels op ’n outentieke wyse wil verstaan en ware sukses wil behaal.
3
Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades
Riana Scheepers; illustreerder: Elsabé Ebersöhn
LAPA, 2026
Riana Scheepers het geen bekendstelling nodig nie. Sy is ’n veelsydige en bekroonde skrywer wat haar merk gemaak het as outeur van kortverhale, jeug- en romanliteratuur, poësie en as samesteller van talle antologieë.
Kallie Kakkerlak se sewe kaskenades is ’n nuwe kinderboek uit Scheepers se pen (met illustrasies deur Elsabé Ebersöhn). Die teks is ’n heerlike skaterlag-storie vol chaos, poetsbakkery en ’n dapper klein supergogga.
Kallie is klein, maar sy planne is groot. Toe tannie Chané hom eendag in haar blink kombuis sien, gil sy só hard dat die sak suiker oopspat en die appels oor die vloer rol. Kallie besluit daar en dan: Hierdie tannie moet ’n les geleer word. Wat volg, is sewe skreeusnaakse kaskenades – van “kakkerlakvlerke” in haar ontbyt tot vreemde verrassings in die badskuim – wat tannie Chané al hoe harder laat gil.
Riana Scheepers se skryfstyl is lig, filmies en vol humor wat kinders (en ouers) sal laat ril van lekkerkry (ook vir die kakkerlakke!). Die teks vloei in klankspel (soos alliterasie) wat die hardop-lees van die storie eweneens ’n plesier maak. Elsabé Ebersöhn se illustrasies is energiek en vol speelse detail wat die deurblaai van die boek telkens ’n nuwe ervaring maak. Kallie, die hoofkarakter, is stout en vindingryk en die jong lesers sal hom beslis onthou.
Die boek is ideaal vir kleuters en vroeë lesers. Dit speel met die idee dat selfs die kleinste wesentjie groot moeilikheid kan maak, en dat die stryd tussen mens en kakkerlak nie altyd so eenvoudig is soos dit lyk nie. Die vraag: Wie is op die ou end die slimste, die mens of die kakkerlak? boei tot aan die einde van die verhaal.
Hiér is ’n kinderboek wat perfek is vir ’n lekker slaaptydstorie, óf vir die klaskamer, óf net vir ’n lekker lagbui. Ek hoop Kallie Kakkerlak is hier om te bly – en dat hy vir nog meer kaskenades sal sorg.
Personifiërende diere in kinderboeke is een van die oudste en mees suksesvolle tegnieke in jeugliteratuur. Van Aesopus se fabels tot in moderne kinderboeke dien pratende diere as ’n kragtige literêre instrument om jong lesers te help om emosies te verstaan; om morele keuses uit te oefen; om insig in moeilike onderwerpe te hê; en bloot net om die stories te geniet. Mag dié boek sy weg vind na die Kerskous en na talle kinderharte!

