Harry Kalmer (1956–2019)

  • 2

Gebore en getoë

Harry Kalmer is op 21 November 1956 in die Hansa-kliniek in Bellville gebore, die vierde kind van Kenneth Laurence Kalmer, ’n elektrotegniese ingenieur, en Johanna Christina Steyn. Drie jaar later vertrek die gesin na Johannesburg en in 1963 begin Harry sy skoolloopbaan aan die Florida Laerskool. In 1970 is hy na Florida Hoërskool, waar hy in 1974 matrikuleer. In sy hoërskooljare “blink (hy) uit as slapgat en skelm roker, ontdek teater en wen redenaarsbeker”, om hom self aan te haal. In 1973 skryf hy sy eerste toneelstuk.

Verdere studies en werk

Na skool gaan Harry na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1979 sy BA-graad verwerf met Afrikaans en Dramakunde as hoofvakke. Gedurende hierdie tyd gaan hy na Amerika, waar hy die land per bus deurreis. Na sy studies in 1980 meld hy hom aan by die Weermag en spandeer hy dertien maande op die grens as luitenant.

Harry werk onder meer as treindrywersassistent, spoorwegklerk, vertaler/leksikograaf, kopieskrywer, arbeider in Griekeland, skottelgoedwasser in Londen, blommeplukker in Cornwall, ’n relatief suksesvolle dramaturg en ’n teaterregisseur wannabe.

In 1981 ontmoet Harry vir Sanpat Hattingh, ’n mode-ontwerper, en in 1983 trou hulle. Hulle het twee kinders, Daniel (14) en Jana (10).

In 1982 word sy eerste kortverhaal, "Man wat deur ’n opblaasmatras vermoor is", in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en in dieselfde jaar begin hy skryf aan X-Ray Visagie en die Vingers van God. Niemand is egter bereid om dit te publiseer nie.

Harry begin dan in alle erns skryf aan sy dramas. In 1984 word Bloed in die strate (176 interviews for television) deur Jacqui Singer vir TRUK opgevoer. Hierdie stuk veroorsaak die eerste en enigste ernstige geveg met sy ouers, omdat die karakters te veel f** gesê het. In 1985 word die stuk ook in die Markteater in Johannesburg opgevoer. Ook in 1984 skryf Harry Piet Joubert en die Boer War Show en Die val van Pretoria. Eersgenoemde is die naaswenner van die Amstel Awards en laasgenoemde ’n finalis in die Sakruktoekennings. In 1986 word die drama Hartland in die Baxterteater in Kaapstad opgevoer onder regie van Marcel van Heerden.

In 1984 maak Harry vir die eerste keer kennis met die reklamewêreld. Aanvanklik skryf hy die bewoording op hondekossakke, maar in 1987, nadat hy en Sanpat van Europa af terugkeer, begin hy werklik ernstig as kopieskrywer werk.

In 1988 word nog ’n drama, Die wit van hulle oë, deur TRUK opgevoer, weer onder regie van Jaqui Singer, en in 1989 ook Antjie Somers and I, wat in 1990 bekroon word met die Dawie Malan-Dalro-toekenning vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelstuk.

In 1989 verskyn Harry se eerste bundel kortverhale, Die waarheid en ander stories, by Taurus. In hierdie debuutbundel vind die leser betrokke kortverhale waar die politieke situasie die agtergrond vorm en die karakters persone is wat nie altyd oral inpas nie. Enkelinge se swaarkry word verbeeld in verhoudings wat misluk, verminkings en selfmoord en dood. Party van die verhale het die Grensoorlog as agtergrond en die trauma wat daarmee saamhang.

Harry en Jaqui Singer se samewerking duur voort met die opvoering van Watercolour days in 1991 deur TRUK. Hierdie stuk is ook voorgelê vir uitsending op televisie, maar die projek is later laat vaar.

Intussen word Harry se kortverhale gereeld in versamelbundels opgeneem, soos in Vuurslag, Forces’ favourites, Eeu en Vonkfiksie. Sy toneelstuk They say heaven is like TV word onder regie van Craig Freimond deur TRUK opgevoer en wen in 1992 die Vita Potpourri-prys. Dit word ook in die Universiteit van Texas se Afrika-manuskripversameling opgeneem. In 1992 skryf en regisseer Harry die kabaret The secret of my excess vir Lynn Joffe.

Na vele pogings en vele draaie by vele uitgewers word X-Ray Visagie en die Vingers van God uiteindelik in 1993 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is ook in Engels vertaal onder die titel Killing Afrikaners, maar die oorsese mark vind die boek "te Suid-Afrikaans".

Hierdie postmodernistiese roman speel af in 1982 in Suid-Afrika. Die land word gekenmerk deur ’n gemilitariseerde lewenshouding. Dit is in die dae toe apartheid hoogty gevier het. X-Ray Visagie is ’n vasvrakampioen op televisie. Suzette en Daan, sy vriende, word lede van Die Vingers van God en as sulks meen hulle dat hulle hul reg op demokrasie met wapen in die hand kan uitoefen. X-Ray word gedurende ’n vasvrawedstryd voor bykans ’n halfmiljoen kykers ontvoer. Dit wat tydens hierdie aksie gebeur, lei tot die sterfte van die meeste lede van Die Vingers van God, wat daartoe lei dat ’n tweede groep, Vriende van Die Vingers van God, op die been gebring word.

Barries Barnard, ’n speurder, word ingeroep om orde uit hierdie chaos te skep. "Die bonte verskeidenheid karakters en die absurde geweldsituasies waarby hulle betrokke raak, maak die boek soos ’n tekenprent in woorde en is daarop gemik om die sensasionele aard van die samelewing te parodieer" (Eduan Swanepoel, De Kat, Februarie 1994).

Harry se stuk Frida Kahlo’s eyes beleef in 1995 onder regie van Sandra Prinsloo meer as 100 opvoerings in nege Suid-Afrikaanse dorpe en in 1996 tref Harry die Kunstefeeste met Sleeping with Alice, wat onder regie van Gerrit Schoonhoven by die KKNK opgevoer word. Hy verwerk Marita van der Vyver se roman Die dinge van ’n kind wat in 1998 met groot sukses by die KKNK, die Grahamstadse Nasionale Kunstefees en by die Klein Teater in Pretoria opgevoer word.

Sy romans Die man met dertien kinders en Kniediep word beide in 1998 uitgegee en hy verwerk eersgenoemde na ’n voorlesing in twee stemme wat in 1999 sy première by die KKNK het en ook op ’n landswye toer geneem word. Hierdie produksie is in 2000 vir vier ENB-Vita-pryse in Bloemfontein benoem. Harry het die roman self vir die radio verwerk en dit is in 2014 oor RSG uitgesaai.

Die man met die dertien kinders is ’n novelle wat as ’n moderne sprokie beskryf kan word. Dit begin wanneer Jos Goosens vir Mathilda ’n sjokolade koop terwyl hul op ’n Griekse eiland is. Terwyl hy vir Mathilda die sjokolade gee, dryf dertien bootjies in die volmaan op die Middellandse See. Aan die einde van die storie kry die leser vir Jos en Mathilda met hul dertien kinders waar hul op ’n plaas in die Bosveld woon. Hier kan Jos weer begin droom – al lê daar ’n lewe vol mislukkings, verbeurde geleenthede en dronkenskap agter hom. "Om vir sy (veelrassige) gesin te kan sorg, moet Jos diep in eie boesem delf en sodoende met sy Afrikaner agtergrond en die geweld en paranoia daarin afreken. Die problematiese verhouding tussen Jos en Mathilda sorg ook vir vermaaklike kommentaar op familie en gemeenskap." (Rapport, 26 Julie 1998, Marina le Roux)

Barries Barnard is weer die speurder in Kniediep. Strijdom Benadé is ’n baie suksesvolle sakeman uit ’n stoere Afrikaner-familie. Hy het ’n meisie, Tash, help grootmaak en toe sy vermoor word, probeer hy uitvind wie haar moordenaar is. Die titel van die verhaal sinspeel op hoe groot die moeilikheid in die verhaal is.

Die gebeure in die verhaal speel in een week af en om die karakters en die gemeenskap beter te verduidelik, maak die skrywer van terugflitse gebruik. Daar is heelwat wendinge in die verhaal wat die leser nie verwag nie en die afloop is ook nie wat die hoofkarakter sou wou hê nie. (Fanie Olivier, Beeld 26 April 1999)

By 2001 se Aardklopfees in Potchefstroom word twee van Harry se produksies op die planke gebring, naamlik The Bitterbek Blues of Ben (die breker) Bartman en Briewe aan ’n rooi dak. Laasgenoemde stuk, wat sentreer om die eensaamheid van die ouderdom, is die wenner van die AngloGold Smeltkroesprys vir die beste nuwe inheemse drama by die fees. Paul Boekkooi, die voorsitter van die beoordelaarspaneel vir die prys, skryf in sy motivering dat Briewe aan ’n rooi dak “’n empatiewekkende teks is byna in die styl van kamermusiek. Dit is sielskommunikerend, maar op ’n werklikheidsvlak totaal geloofwaardig. Dit breek deur bestaande grense.” (Rapport, 7 Oktober 2001)

Harry wen ook in 2001 die Pendoring vir sy radioadvertensie vir ’n Bic-aansteker. Dit is nie die eerste keer dat hy ’n Pendoring wen nie – in 1995 het hy ook as die wenner uitgetree as kopieskrywer in die tydskrifte- en kleinhandelafdelings, en so ook in 1996. In 2004, om die Pendoring-reklamewedstryd se tiende verjaardag te vier, word Harry gevra om ’n spesiale toneelstuk vir die geleentheid te skryf. Die resultaat is sy agtiende toneelstuk onder die titel Wie is Spek Harmse en waarom skryf hy Afrikaanse advertensies? Hierdie stuk, tesame met Briewe aan ’n rooi dak en 25 vrouens, is in 2006 vir televisie verwerk en verfilm en op kykNET uitgesaai. Briewe is ook op DVD vrygestel.

Harry se drama Briewe aan ’n rooi dak word in 2005 deur Harry self gepubliseer in ’n bibliofiele uitgawe, met handgeskrewe briewe in koeverte. Dit vertel die storie van Magdaleen Otto, ’n vrou wat, soos sy ouer en meer eensaam word, briewe aan die bure se rooi dak skryf. Só leer die leser meer van Magdaleen se lewe ken en word die eensaamheid van bejaardes met net herinneringe en onvervulde verlanges waartoe om jou toevlug te neem, op ’n baie aangrypende manier uitgebeeld. ( Rachelle Greeff, Rapport, 15 Januarie 2006)

In 2006 skryf Harry die eenmanstuk Meneer de Beer, waarin die bekende akteur Frank Opperman speel. Dit word in 2007 verfilm.

In 2006 verskyn ook Harry se kortverhaalbundel, Groceries: 56 stories oor huishoudelike produkte, by LAPA-Uitgewers. In hierdie bundel kortverhale kan Suid-Afrikaners hulleself eien in die temas wat die skrywer aanraak. Die verhale se agtergronde wissel van ’n sendingstasie vroeg in die 20ste eeu tot in die woonstel van ’n Afrikaner in die 21ste eeu in die koue oorsee. Die stories het almal illustrasies by en by elke verhaal word iets uit ’n inkopiesak aangewend om die leser "te betower en weg te voer na hierdie realiteite." (Rapport, 3 Desember 2006 en Beeld, 4 Desember 2006)

In 2007 word Harry se roman, En die lekkerste deel van dood wees, bekroon met die tweede plek in die Sanlam Groot Romanwedstryd en verskyn dit by Tafelberg-Uitgewers.

Harry vertel aan Naomi Bruwer op LitNet dat En die lekkerste deel van dood wees ’n moordstorie met vyf kante is. "Dit gaan egter/dalk/miskien ook oor vyf verskillende soorte alleenheid. Magdalena Otto is so eensaam dat sy briewe aan die bure se rooi dak skryf. Haar seun Kobus is so alleen dat hy die hele tyd stoned is. Sy dogter Camilla is so eensaam dat sy crack rook. Die petty criminal Basil Apolis se alleenheid het fatale gevolge vir Magdalena, en haar man Isak is so eensaam dat hy weier om op te tree soos ’n ordentlike dooie behoort op te tree. Kortliks gestel, dis ’n familiesage waarop Springbokradio trots sou wees en enige sepiekyker sal geniet. ’n Verhaal wat elke moederhart sal roer en die verloop van die wêreldgeskiedenis gaan verander. Enige leser wat meer van ’n boek wil hê behoort hom/haar te skaam."

Op LitNet skryf Andries Bezuidenhout oor En die lekkerste deel van dood wees: "Die storie word vanuit verskillende oogpunte vertel, insluitende dié van ’n moordenaar en ’n vermoorde. Die skrywer verander as’t ware in vyf uiteenlopende persone.

"Daar is ’n bejaarde vrou wat briewe aan die huis langs haar se dak skryf, omdat sy niemand anders het om voor te skryf nie – Magdalena Otto.

"Daar is hierdie vrou se kleindogter – ’n popster in die VSA wat herstel van haar verslawing aan crack. Ons vind uit dat haar ouma in Suid-Afrika vermoor is – Camilla (Wolke) Otto. Hierdie gedeelte verwerk Harry Kalmer later in ’n volwaardige toneelstuk.

”Ons lees die transkripsie van kassette met die stem van die moordenaar – Basil Apolis.

"Ons lees die briewe wat die popster se vader aan haar geskryf het, maar nooit gepos het nie. Toe sy klein was, het hy haar verlaat om terug te keer Suid-Afrika toe – Jak Otto.

"Aan die einde van die boek kom selfs die oorlede man van die vermoorde vrou aan die woord. Hy dryf tussen siprestakke rond en wonder oor sy lewe en sy dood – Isak Otto.

"Dis ’n vreemde boek – amper soos ’n spookstorie – maar ek dink Harry Kalmer klim op ’n oortuigende wyse onder sy karakters se velle in. Die stories kom vir my heeltemal geloofwaardig oor. Met die lees daarvan het ek gevoel ek is besig om iets te lees wat geheel en al outentiek is. Daar is ’n paar redes hiervoor.

"In die eerste plek skryf Kalmer oor die Johannesburg wat ek ken. Dis nie die beskermde voorstede van Saartjie Baumann nie. Dis die kant van die stad waar Afrikaners maar net nog ’n groep immigrante is, waar ons op ’n manier in ’n kosmopolitiese mengelmoes verdwyn.

"’n Deel van die stad se onheilspellende ondertone kom uit as Camilla Otto wakker lê in die rehabilitasiesentrum in die VSA. Sy hoor honde in die verte blaf en dit herinner haar aan Johannesburg: 'Honde wat blaf. Haar pa wat die gordyne versigtig eenkant toe trek en buitentoe tuur om die oorsaak van die honde se onrustigheid probeer sien' (p 64).

"Dan is daar die moordenaar, wat ná ’n traumatiese bekendstelling aan Johannesburg deur die skuim van die aarde met ’n bebloede gesig op die sypaadjie gaan sit en sien die straat se naam is Mooistraat. Hy begin 'lag en lag en lag' (p 146).

“In die laaste gedeelte van die boek, oor die lewe van Isak Otto, word Johannesburg weer uit die verlede opgegrawe. Dis die herinneringe se detail en tekstuur wat dit so geloofwaardig maak. Isak se vriend Abdie se pa ry groente van die Newtown Mark af aan na sy groentewinkel in Troyville. Abdie se pa sê vir Isak se pa, 'Naand, baas Otto' (p 216).

"Hierdie is maar enkele voorbeelde om die punt te illustreer. Dis die tekstuur en die detail in En die lekkerste deel van dood wees wat ’n mens ’n ander blik op die stad gee. Ons kry ’n weergawe van Johannesburg wat dieper kyk as die oppervlakkige weergawes van 'suburb' en 'township'. Dis ’n stad waar regte mense woon. Hulle leef die geskiedenis deur hulle liefdes, teleurstellings en trauma. Hulle is mense wat nie instaan vir een of ander groot idee nie.

"’n Tweede rede vir die boek se geloofwaardigheid is die manier waarop daar oor musiek geskryf word. Een van die mees treffende tonele is waar Camilla Otto praat oor hoe sy voor sy op die verhoog gaan, met haar kop teen die muur gaan staan en toelaat dat die klanke van die bastrom en die baskitaar deur haar lyf gaan. 'Dan stoot sy haarself van die muur af weg en stap die kollig in wat haar aan die kant van die verhoog inwag. Al skree en gil die gehoor wanneer hulle haar sien, weet sy dat die beste deel van die vertoning reeds verby is ...' (p 109). (...)

"’n Laaste rede vir En die lekkerste deel van dood wees se geloofwaardigheid is die wyse waaroor [sic] daar oor buitestanders geskryf word, die mense wat nog nooit in die kassies van die groot ideologieë ingepas het nie – hetsy die nasionalisme van die Afrikaners of die Marxisme van die bevrydingsbeweging. Mense is kompleks en kan nie tot wette van die geskiedenis of stereotipes gereduseer word nie. Ek wil graag die boeke van skrywers lees wat die vervelige ou gesprekke oor misdaad en verval op ’n interessante manier aanpak en ’n mens op nuwe maniere daaroor laat dink. Maar sonder om maklike antwoorde te gee.

"Etienne van Heerden, Mark Gevisser en Harry Kalmer skryf op verskillende maniere oor hoe moeilik dit is om onder ’n ander mens se vel in te kruip, om op sy skouer te gaan sit, of om in haar skoene te staan. Ek dink nie juis ek gee om oor of dit in die vorm van ’n roman, oor die skryf van ’n roman, ’n roman, of ’n biografie is nie. Dis sulke eksperimente wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou bly in hierdie land waar dit meestal onmoontlik is om in tuis te voel."

Harry skryf tussendeur al sy ander bedrywighede ook vir die My tyd-bylae in Rapport die gereelde rubriek oor Vlieger. Dit is gesitueer in die 1970's en vertel van Vlieger wat tot sy ma en pa se ontsteltenis verlief raak op ’n Portugese meisie. Hy gaan weermag toe en bly wonder oor die moeilike tyd tussen kind- en manwees. Harry se skryfsels oor Vlieger is só gewild dat Harry dit in 2011 op versoek van die Woordfees as verhoogstuk verwerk met Ben Kruger in die rol van Vlieger. Die stuk is getiteld Vlieger unplugged, Die produksie vervleg voorlesings en voordrag en om die gebeure verder toe te lig, is daar ’n volledige klankbaan en videomateriaal.

In 2012 word Vlieger en die gevare van close dance by Queillerie uitgegee. Vlieger kry sy naam wanneer sy bal op die treinspoor beland waar die Bloutrein se buffer hom so op sy agterwêreld tref dat hy met 'n wye boog deur die lug trek, sonder om ernstige beserings op te doen.

In Beeld van 5 November 2012 skryf Dineke Volschenk: "Hierdie bekoorlike verhale oor die lewe in Suid-Afrika in die sewentigerjare word gepubliseer in Vlieger en die gevare van die close dance. Die skrywer het die vermoë om fyn detail te verskaf en hierdie verhale word terselfdertyd die verhaal van die grootwordjare en geestestoestand van die jong wit mense van daardie tyd."

Harry se volgende drama, Die Bram Fischer-wals, debuteer in 2012 in Bloemfontein. Die stuk speel af in die Pretoria Sentraal-gevangenis, waar Bram Fischer lewenslange tronkstraf uitdien nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die kommunisme bevorder het en saamgesweer het om die regering omver te werp. (Beeld, 15 September 2014)

Die drama beeld Bram Fischer se lewe op geskakeerde manier uit, sodat nie net sy politieke ideale en sienswyses nie, maar ook sy menslikheid en Afrikanerskap belig word (Tydskrif vir Letterkunde, Lente 2015). Die Engelse weergawe van hierdie drama, The Bram Fischer Waltz, word in 2013 by die Grahamstad Nasionale Kunstefees opgevoer, waar dit 'n Silver Ovation-toekenning ontvang, en in 2014 word dit bekroon met 'n Adelaide Tambo-prys vir menseregte in die kunste. Die Bram Fischer-wals is in 2016 deur Wits University Press in boekvorm gepubliseer.

Die Bram Fischer-wals het ook ’n speelvak gehad by die Woordfees in 2013. Kalmer het met Stephanie Nieuwoudt gesels oor sy motivering om die stuk aan te pak: "Ek het dit seker maar gedoen in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ’n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ’n wenner." (https://blogs.litnet.co.za/feeswoord/tag/bram-fischer)  

Harry erken teenoor Nieuwoudt dat hy nie met Fischer identifiseer nie, maar eerder ’n bewondering vir hom het. "Hy verteenwoordig ’n ander tyd, met ander waardes. ’n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die ‘ooms’ waarmee ons groot geword het. Miskien net ’n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het."

Oor sy keuse van David Butler vir die rol van Fischer vertel Harry dat nadat hy een aand vir Butler gesien het, hy besef het dat hy nogal effe na Fischer lyk. En hulle het al voorheen saamgewerk: "Hy is wyd belese en het ’n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ’n tegniese register en ’n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander. Hy het die rol aanvaar nog voordat ’n woord geskryf of ’n pennie in die bank was."

Die manuskrip van Harry se volgende boek, ’n Duisend stories oor Johannesburg, is in 2012 op die kortlys vir die Groot Romanwedstryd en in 2015 is dit op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys, die WA Hofmeyr-prys, die ATKV-Prosaprys en die kykNET-Rapportpryse vir fiksie en in die rolprentafdeling. Dit is in Engels vertaal en in 2018 word dit met die Barry Ronge-prys vir fiksie bekroon.

Op LitNet is Johannes Bertus de Villiers die resensent. Hy skryf as volg oor ’n Duisend Stories oor Johannesburg: "Wanneer Harry Kalmer in sy aangrypende ’n Duisend stories oor Johannesburg die verhaal van die Goudstad vertel, gaan dit oor mense wat kom en gaan. Selfs by diegene wat in Johannesburg gebore [is] of grootgeword het, spook die stories van hul ouers en grootouers wat as ontwortelde Boere of Chinese trekarbeiders na die stad gekom het.

"Mense sou dalk kon verskil oor wie die hoofkarakter van dié gefragmenteerde roman, bestaande uit ’n aantal verweefde narratiewe, werklik is, maar die storie neem uiteindelik vorm aan rondom Zweig van Niekerk, ’n Suid-Afrikaner wat dekades reeds in Londen woon nadat hy en sy Indiërvrou voor die Ontugwet moes vlug. Zweig keer terug na sy Johannesburg om sy suster te besoek, maar selfs hy, wat hier gebore is, beleef die stad soos ’n vreemdeling en inkomeling. En vir inkomelinge brand die stad. Dis 2008 en 'makwerekwere' in die townships vlug vir hul lewens.

"Terwyl Alexandria brand, bly Zweig in ’n boetiekhotel in Belgravia, omring van die karakters wie se verhale (en familieverhale) die roman vorm. Hulle sluit in ’n Afrikaanse digter en die buite-egtelike dogter wat hy eers as volwasse vrou leer ken het. ’n Fotograaf wie se voorouers uit China Johannesburg toe getrek het. ’n Tsjeggiese immigrant. Die interessantste van dié karakters (en een wie se storie mens wens verder ontwikkel was) is ’n vrou uit Franssprekende Afrika wat in die gastehuis teen die vreemdelingehaat kom skuil. Mens verwag aanvanklik dié vrou gaan ’n belangrike narratiewe spil word waarom die roman uiteindelik grotendeels wentel. Parallelle word in die teks selfs getrek tussen Suid-Afrika se xenofobiese geweld en Kristalnacht, ’n gebeurtenis wat op ’n karakter uit ’n vroeëre generasie ’n bepalende invloed gehad het. Maar gaandeweg verdrink die tema van vreemdelingehaat so bietjie tussen die ander verhaallyne totdat mens teen die einde die indruk kry die skrywer het effens daarvan vergeet.

"Die struktuur van die verhaal beteken dat daar nog ’n paar voorbeelde is van storielyne wat onderbreek word sonder dat dit voel of hulle hul volledige verloop gehad het. Maar vernaamlik vorm die magdom stories egter ’n boeiende geheel.

"In die teks word herhaaldelik melding gemaak van ’n Duisend en Een Arabiese Nagte. Heelwat van wat al oor Kalmer se roman geskryf is, vergelyk die boek met dié klassieke Arabiese werk in die opsig dat mens dit (soos sommige werke van Italo Calvino en Felipe Alfau) op enige plek sou kon begin lees en steeds ’n samehangende storie sou aantref. Ek stem nie heeltemal hiermee saam nie. Ek het in ’n Duisend stories oor Johannesburg ’n besliste narratiewe boog gevind, gebou om die verloop van Zweig se besoek en die geleidelike onthulling van sy familiegeskiedenis (sy grootouers wat die Anglo-Boereoorlog, oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog, oorleef het; sy pa ’n verloopte predikant wat in die 1950’s by die struggle teen apartheid betrokke raak).

"’n Interessanter vraag na aanleiding van die titel is eerder waar mens die 'duisend stories' van die titel sou aantref. Want op die oog af lewer Zweig en die ander hoofkarakters net ’n handvol verhaallyne op.

"Die krag van die roman – en ek moet benadruk dat dit ’n boeiende roman is wat ek, ondanks die meer as 300 bladsye, moeiteloos in een dag deurgelees het – lê daarin dat dit binne ’n stad geplaas word waar elke gebou ’n magdom stories vertel. Soms kry Kalmer dit reg om in een beskrywing van ’n straattoneel ’n hele wêreld van stories te suggereer; ’n duisend geskiedenisse van ’n stad wat vinnig opgeskiet het, uitspattig gebloei het, en nou in die nagloed van dié goue dae teen ’n vorm van selfverwoesting veg. (...)

"Baie selde is daar al in Afrikaans met so ’n ‘spirit of place’ oor Johannesburg geskryf. Geen leser wat al sy of haar hart vir Johannesburg gegee het, sal daardeur onaangeraak bly nie."

Ook Deon Maas (Netwerk24, 11 Augustus 2014) is beïndruk met ’n Duisend stories: "Die kort sketse dien slegs as ’n agtergrond terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns ’N Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak. Harry vertel die storie soos iemand wat baie ervaring het van stories vertel, seker nie ’n moeilike situasie as ’n mens 23 toneelstukke agter die blad het nie.

"Met elke scenario en nuwe karakter bring hy nog elemente na die storie om die donkerte waarin jy ronddwaal, ligter te maak. Hy verweef hierdie stories sonder om iemand af te skeep en dwing jou om bladsy op bladsy te lees al is dit al verbly slaaptyd.

“Sy karakterontwikkeling gebeur teen die agtergrond van goed nagevorste geskiedenis oor Johannesburg. Soveel so, dat jy op die einde besef dat Johannesburg vandag steeds dieselfde plek is as wat dit gedurende die tyd van die goudstormloop was – ’n plek waarheen mense kom met die hoop om ’n beter, nuwe toekoms te vind."

Vir Maas is die storie só suksesvol as gevolg van die manier waarop dit vertel word. "Dit is die teken van ’n skrywer wat sy selfvertroue en voete op dieselfde tyd gevind het. ’n Duisend stories oor Johannesburg is ’n ode aan die stad én die mense én hul stories. Ons kon vir niemand beter gevra het om dit te skryf nie."

Harry Kalmer se laaste boek voor sy voortydige afsterwe aan die einde van Julie 2019 is In die land van die voëls.

Johan Myburg vertel die storie van In ’n land sonder voëls op Maroela Media. Adam Burger is die hoofkarakter van hierdie verhaal wat iewers in die middel van die 21ste eeu afspeel. Na die chaos na die demokratiese verkiesing is ’n referendum uitgeroep. Die mensdom het gestem ten gunste van ’n ekonokrasie – in hierdie ‘utopie’ sou alle korrupsie, geweld en oorloë nie bestaan nie en die Korporasie sou aan die hoof van alles staan.

Ook die klimaat vorm deel van hierdie agteruitgang. Daar is ’n wolklaag tussen die aarde en die son, en wanneer die son wel deur die wolke skyn, blaas ’n sonfluit en moet almal hulle skutbrille opsit.

Die roman word in drie dele verdeel, naamlik "Fladdering", "Vlug" en "Land". Op Netwerk24 (23 Junie 2019) skryf Jean Meiring dat hierdie "dubbelsinnige binnetitels die verhaal se boog gelykstel aan die trajek van ’n voël.

"In die openingsdeel stapel Adam Burger se ek-vertelling in die hede in korterige flitse op. Hulle word deur ewe beknopte aflewerings afgewissel waarin Adam sy ontslape vrou, Sybille, uit die toekoms uit direk aanspreek. (...)

"In die tweede deel, ‘Vlug’, stu die verhaal terugblikloos vinnig in die hede voort, die hinterland se bloedbelope boskasie deur. En dan, in ‘Land’, word die hede-vertelling weer eens met die terugskouende gesprek met Sybille afgewissel.

"Uiteindelik besef ’n mens terdeë dat wat telkens as die waarheid voorgehou word, dalk iets volledig anders is. Só val die skille keer op keer van ’n mens se oë af totdat jy in die finale instansie nie mooi wys is wat wat is en wie se woorde geglo kan word nie."

Johan Myburg skryf as volg in sy resensie op Netwerk24 (24 Junie 2019): "Die 'beter lewe' wat aangebreek het, is die soort toekomsbestaan wat Aldous Huxley beskryf het in sy Brave new world van 1932, ’n boek waarvan hy die aard self bevraagteken het: Is dit satire, ’n profesie of ’n bloudruk? Kalmer se jongste roman laat ’n mens fladder tussen dié moontlikhede en laat jou heimlik hoop op satire. Wat jou laat twyfel, is ’n opmerking soos: 'Dalk is dit in die aard van beskawings om onbeskaafd te wees.'

"Aan die woord is Adam Burger, soos Huxley se hoofkarakter ’n soort alfa-man met inherente gebreke, wat as hy vir hom ’n nom de guerre moet kies, terugval op die naam Siener van Rensburg (hy kon net sowel X-Ray Visagie gekies het). Hoewel Burger nie meer vandag se kind is nie – hy het sy kwota mankemente, onder meer swak oë – het hy die visage van James Bond, Mick Jagger en straks Peter Pan.

"'Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet,' sê Burger vroeg in die boek en kom later mank en met ’n kierie oor die weg. Dat hy verliese gely het, soos die Bybels Job, blyk uit die naam van sy dogter, Jemima (wat terloops tortelduif beteken).

"Hy is alleen – sy mense het hy verloor, nee, hulle is van hom weggeneem – en hy raak betrokke in ’n newelwêreld, ’n nagmerriewêreld waartoe hy toegang kry soos Alice na haar Wonderland deur ’n tonnel, kompleet met ’n sakkie 'drink my'-poeier, in sy geval gemerk 'vir die ouer ultrasportman'.

"Maar dan is hy ook Faustus en les bes, gered deur ’n man met die naam Moses, sélf Moses in sy hangmatbedjie. Name en die betekeniswêreld van name in dié roman rakel ’n parallelle bestaan van sy eie op, maar so ook die magdom multi-betekenisse wat dikwels gewoon tersluiks genoem word.

"Hoewel die verhaal in die toekoms afspeel, is die roman geanker in ’n herkenbare (Suid-Afrikaanse) landskap met ruim beskrywings van ’n hinterland met fauna en flora en hedendaagse produkte, wat nogal dikwels as 'outyds' beskryf word. Daarmee saam betree jy tegelyk die onbekende, wat jou versigtiger laat lees en twee maal laat dink voor jy aanvaar jy snap volledig.

"In wese is die boek veel lywiger as wat ’n mens kry tussen voor- en agterblad. Reken jy die wêrelde van die verwysings in, veral na musiek (moontlik ook as ’n soort klankbaan) én godsdiensbeskouings en godsdienstige dokumente, kom jy onder die indruk van die verwikkelde aard van dié roman, van die gelaagdheid en die onderbeklemtoonde maar sekure hand waarmee Kalmer skryf. Ná hoeveel boeke weet hy nie net wie sy lesers is nie, maar ook waar sy meesterskap lê.

"Kalmer bied ’n rykdom dis- of eerder anti-utopie waarin die leser nuuskierig haar of hom kan verlustig. Bo en behalwe die goeie storie wat Kalmer vertel. Die boek het immers die opdrag: 'Vir my lesers'."

Tydens die Woordfees in 2019 op Stellenbosch gee Harry saam met die visuele kunstenaar, Hannelie Coetzee, die lapboek Die agtste plaag uit. Dit is saam met ’n vrouehandwerkkring in Hillbrow gemaak en is onder andere geïnspireer deur ’n rooi lapboek uit Harry se kinderdae.

Dit vertel die storie van ’n Hollandse skoolmeester wat gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere geveg het en deur die berugte krygshof van Wolmaransstad gefusilleer is.

Hy was dus ’n verraaier, maar, vertel Harry op die Woordfees, "eerder van sy eie idealisme as van ’n nasionalisme”. Hy het aan die Boeresaak geglo, maar tydens sy vrou (Esperance, wat Frans vir “hoop”) se derde swangerskap besef hy oorlog is nie vir hom nie.

"Die boek is ’n liefdesverhaal van twee outsiders – Martruid ('Die kindermeid' en 'bywonersweeskind’) en die Hollandse skoolmeester wat sprinkane in bottels aanhou.

"Ek was mal oor Hannelie se landskapkuns 'Locust & Grasshopper' in 2017 toe sy reusagtige swart prente in die wintergeel gras in die koppies rondom Nirox se beeldpark gebrand het. Toe sy die storie lees en afkom op die sprinkaanversameling van die Hollandse skoolmeester het dit tot haar gespreek.

"Ekself verwys in Die Bram Fischer Wals na die Britse soldate wat Bloemfontein inneem as sprinkane. Die sprinkaan bied ons ’n geleentheid om ’n menslike storie te vertel met die oorlog as agtergrond. Metaforiese reportage eerder as ’n visuele 'show and tell'. Oorlog; die sprinkaan wat ’n verwoeste aarde agterlaat in sy wake.

"Hannelie en ek deel ’n belangstelling in 'verborge geskiedenisse'. Daarom is ons bly dat Ingrid Winterbach, [wat] dikwels self ’n sonderlinge blik op die geskiedenis bied, met ons gesels by die woordfees. Ons was ook gelukkig om ons pel Glenda Venn, die aweregse grafiese en boekskepper en hoof van Istago! Communications aan boord te kry om met die uitleg en drukproses te help.

"Hannelie se vrou, die skrywer en kunstenaar Reney Warrington, het ’n kort film geïnspireer deur die boek met ’n voice over deur Mariëtta Kruger (TBC) [te skiet].

"Die boek self is ’n labour intensive job en Hannelie sit elke dag saam met lede van die Boithumelo Sewing Projek in Hillbrow daaraan en werk.

"Sy en ek is altwee Gereformeerd groot gemaak dus is die 'Psalmboek formaat' nie toevallig nie. Net soos 'die kantwerk' wat die boek omsoom ’n verwysing is na Emily Hobhouse se kantwerkprojekte saam met die boerevroue na die oorlog."

Ná Harry se afsterwe sê Hannelie aan AJ Opperman (Die Burger, 27 Julie 2019) dat Die agtste plaag Harry se idee was, "maar hy het respek gehad vir wat ek doen. Dit was regtig deel van sy persona om saam met iemand iets te skep en oop vir voorstelle te wees. Hy was ’n baie spesiale kunstenaar. Dit was sy Nuwejaars-brainwave in 2018 en verlede jaar het ons in die winter bier gaan drink en daaroor begin praat."

In 2018 is kanker by Harry Kalmer gediagnoseer. Op 26 Julie 2019 is hy in Johannesburg aan keelkanker oorlede. Hy laat sy vrou Sanpat en twee kinders agter.

Huldeblyke

  • Jeanette Ferreira: "’n Briljante skrywer en ’n mensch. Altyd die lewe lig aangepak – oënskynlik. Waarskynlik omdat hy ’n ware filosoof was. Voorspoedige reis, Harry." (Facebook)
  • Marcel van Heerden: "Dit is vir my ’n groot kompliment dat Harry altyd gesê het ek het hom gehelp om in teater te kom. Maar ek voel ’n baie persoonlike verlies. Ons was huisvriende en ons seuns was saam in die klas. Dit was vir my ’n groot kompliment dat hy die stuk Weg in 2017 vir my geskryf het. Ek het geweldig baie respek vir hom gehad as skrywer. Ek is bly dat toe hy siek geword het, daar ’n dringendheid by hom ingeskop het om aan te hou werk." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • David Butler: "Dit was ’n reis saam met Harry. Ons is ook bevriend en in 2011 het hy my vertel van ’n idee wat hy het. Daar was nie ’n teks nie, maar omdat dit Harry is, het ek dadelik ja gesê en ’n paar maande later was daar ’n teks. Ons het by my huis gerepeteer. Ek het hom as ’n skrywer vertrou. Daar was 'n short hand tussen ons." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • Hans Pienaar: "Harry was my sielsgenoot, my broer, my kameraad. As skrywer het Harry onvergeetlike karakters geskep en hy was een van die beste humoriste in enige taal in Suid-Afrika. Vir sy vele vriende het hy lojaliteit bo alles gestel; hy was ’n ware mensch met ’n diep insig in ons lewens. My kinders sê hulle onthou die warmte van ons aande saam. Hy het ons male sonder tal vermaak met sy unieke humorsin; daar het nooit ’n onoorspronklike woord oor sy lippe gekom nie. Sy heengaan laat ’n groot gat in my lewe." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Corné Coetzee, Hans Pienaar se vrou: "Ek wil skaars glo dat ons vriend van meer as drie dekades nooit weer met ’n bottel wyn by ons stoeptrappe sal opstap nie. Hy kon lekker kuier omdat hy in byna alles, en bowenal mense, belang gestel het. En hy kon luister. Sy geesdrif oor dinge was wonderlik. Oor ’n boek wat hy gelees het, ’n toneelstuk, ’n plek, ’n song, ’n spesiale gereg wat Sanpet gemaak het. Harry het dikwels verwonderd gesé: 'Die beautiful!' Een van die heel mooiste goed was sy liefde vir sy kinders en sy vrou. Ek dink dis in een van sy kortverhale dat ’n karakter na sy vrou van baie jare sit en kyk, en hy dink: 'EK besef ek is nog steeds verlief op haar.' En almal wat vir Harry en Sanpat geken het, weet dit is geen persona nie, dit is Harry wat self hier praat, uit sy groot, liefdevolle hart uit." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Schalk Schoombee: "In 1991 was my eerste onderhoud vir De Kat met Harry, die kopieskrywer, vir ’n artikel oor Afrikaanse taalmense in die reklamebedryf. Toe al was hy behep met die woord, slagreëls, klingels, hoe woorde vlytig ingespan word om enige produk te verpak. Maar Harry wou ook wyer gesels, oor skrywers, filosowe en boeke waarvan ek niks geweet het nie, oor politiek, idees, denkrigtings. Hy het oorgeloop met konsspte en gebroei oor projekte. Een beroep kon hom kwalik definieer. Later sou hy in ’n radioveldtog vir dié glanstydskrif met die ongeveinsde slagreël vir Nataniël vorendag kom: 'Maar koop net die bleddie ding!' (...)

"Harry was altyd aan die lees, herlees en navors, onversadigbaar en byna obsessief, maar hy was geensins koesterend oor boeke. Hy wou nie boeke opgaar nie, het hy my meegedeel, eerder weggee. Plek maak vir die volgende ontdekking en leesavontuur. Sy nugter kyk op sake blyk uit elke sin en paragraaf van sy werk. Oogklappe is daar nie. In een onderhoud het hy gebieg dat hy altyd geboei was deur 'verskuilde geskiedenisse', stories wat onvertel gebly het. Sy verkennende gees en dikwels eksperimentele aanslag was trompop, onthutsend en gestroop.

"Hy was deeglik bewus van neigings in die letterkunde, maar kon sy eie koers onbeteueld inslaan. Stories was belangriker as postmodernistiese speletjies; resensente moes dans om by te bly met die veelheid van narratiewe drade, karakters met kruiskulturele identiteite, die wye belangstelling van ’n outodidak, aanhalings en fragmente wat hy om ’n tema geweef het." (Die Burger, 30 Julie 2019)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Keur van artikels oor en deur Harry Kalmer beskikbaar op die internet

 

Bygewerk: 2019-08-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top