Mense styg hier bo handelsname uit: Kalmer – meester van talle klein wendinge

  • 0
Groceries – 56 stories oor huishoudelike produkte
Harry Kalmer
Lapa-Uitgewers
144 pp
R130


Hoekom die 56 in die titel? Dalk deels omdat Harry Kalmer in 1956 gebore is. Groceries – 56 stories oor huishoudelike produkte is sy vyfde prosawerk sedert 1989. Die evokatiewe titels van heelwat van die stories in die bundel, byvoorbeeld “Die derde lewe van Mossie Muscovitz”, “Polisiekoffie”, “Brood en rugby”, is reeds ’n aanduiding van die inhoud: soetsuur verhale, soms uit vergange se dae, soms uit die hier en nou.

Kalmer gebruik dikwels korterige sinne – woord-ekonomie en pittigheid is aan die orde. Hy het immers ’n lang draai in die reklamewêreld gemaak en talle toekennings ontvang vir sy skryfwerk aldaar. Die openingsinne van die stories suig mens reeds in, byvoorbeeld: “Ek is bly ek was daar, anders sou ek nooit geglo het dat my man homself doodgelag het nie.” Of: “Die storie dat mens iewers hoort, is buitendien iets wat deur eiendomsagente en politici uitgedink is.”

Die meeste van die stories beslaan slegs twee bladsye. Kalmer betrek ’n wye verskeidenheid temas en situasies in die 56 stories. Kuiertjies by oumas en oupas, kindwees in die stad en ook op die platteland, huweliksprobleme, die weermag, misdaad, familie oorsee, en nog veel meer word in die vertellinge betrek. Heelwat van die stories is selfs korter, en pas op ’n enkele bladsy in. Slegs in ’n paar gevalle is ’n storie drie bladsye of langer. Elke storie is in kleur geïllustreer, een deur die skrywer self, en die res deur 35 verskillende kunstenaars, onder andere Bruce Backhouse, Lorcan White, Tinus Horn, Ingrid Winterbach, Jacobus Kloppers en Glenda Venn. Die boek is in ’n groter as standaard formaat, sodat mens die kunsafdrukke goed kan waardeer.

Die huishoudelike produkte in die illustrasies sluit Boxer-tabak, Marmite, Ouma-beskuit, Castle-bier, Oros-koeldrank, Palmolive-sjampoe en vele meer in. Die uitleg streel die oog, en die prentjies van die produkte was ’n skerp idee, maar die produkte is eindelik bysaak (al is daar ook tannies met Lexington-laggies). Dis die woorde wat die meeste indruk maak, wat mense en hulle verweefde verhoudings en emosies uitbeeld. ’n Hele paar van die verhale is vanuit die perspektief van ’n vrou geskryf, en Kalmer kry dit goed reg om agter die vrou se vel in te kruip en deur haar oë te kyk.

Kalmer is ook die skrywer van agtien opgevoerde toneelstukke. Hy is bedrewe met dialoog, en wissel dit goed met die narratief in sy verhale af. Sy vertellinge spring moeiteloos tussen die verlede en hede en terug na die verlede, wat daartoe bydra om spanning in baie van die stories te laat opbou. Daar is herinneringe aan Tweede Wêreldoorlog-insidente, en een van die karakters keer ná omtrent veertig jaar terug na ’n plek waar hy hom gedurende die oorlog in Italië bevind het. Klein maar beslissende wendinge in die stories vang die leser dikwels onkant. Heelwat van die stories eindig verrassend, subtiel of suggestief, wat mens vir ’n rukkie laat nadink voor jy na die volgende storie blaai. Soms grinnik jy, ander kere vee jy ’n nattigheidjie uit jou ooghoeke.

’n Ouer wat ’n kind verloor het, word so beskryf: "… weerloos en verpletter en gewapen met niks anders as voetstappe en sugte nie”. En in ’n storie oor ’n boer wat gedwing word om sy plaas te verlaat en dorp toe te trek, staan daar: “Die drie hope grond waar hy die honde wat hy gister doodgeskiet het, begrawe het, lê vars en rooi onder die ry appelbome langs die huis.”

Die geweld van die stadslewe peul uit van die stories, en elders weer word tere verhoudings of nostalgie vasgevang. Humor is nooit ver onder die oppervlak nie. En taalvaardigheid skyn oral deur, heerlike frases wat mens twee of drie keer laat lees, soos “Die straat was ’n betontrog vol uitlaatgasse, rokende minibustaxi’s en bleek winterson”, of “Haar voete het uit haar stywe skoene gepeul soos oom Tommie Heuningkop se wors wat altyd te styf gestop was. Sy het my ’n nat gesoen gegee en teruggestaan om my beter te beskou.” ’n Digtershand wys in ’n beskrywing soos “Die silwer maan is omring deur gloeiende cumuluswolke. ’n Digte massa fyn waterdruppeltjies hoog opgestapel tot diep in die donkerte in.” En Kalmer besin op een plek so: “Buitendien, wat is water? Sagte reën of ’n tsoenami? Die bruuske bruin rivier wat alles voor hom wegswiep, of die silwer labirint wat rustig die kontoere van die landskap volg?”

“Die vervulling van Arno Heunis” het politieke ondertone, maar die meeste van die stories in die bundel is eerder gemoeid met die intens-persoonlike, die klein skokkies wat die alledaagse ontwrig, die “rou hoenderboudjie wat lei tot ’n bord wat aan skerwe spat teen ’n muur”. Of ’n suspisieuse vrou ondersoek haar man se klere in die wasgoedmandjie en is bewus van “’n dralende intieme klankie wat meer seevis as forel is”. Elders word naderende blindheid, ’n swart kol wat kom en gaan in die gesigsveld van ’n skilder, beskryf as “’n polsende swart amoeba”.

Die teks word ongelukkig deur heelwat foute ontsier: Truimph in plaas van Triumph; The Alice Galery ipv The Alice Gallery; humour ipv humor; korporasie ipv koöperasie; Boedhis ipv Boeddhis; Baghdad ipv Bagdad; outokraties land ipv outokratiese land; HIV-positief ipv MIV-positief; gemengde dubbels kampioene ipv dubbelskampioene. Mens lees ook: “… het sy voor die huis verbygestap en vriendelike gegroet.” Vriendelik moet dit wees! Op een plek staan daar restourant, elders restaurant; op een plek al twee, elders altwee. Op een plek is dit seweuur, elders sewe-uur. Hier lees ons gouestrooptoebroodjie, daar gouestroop toebroodjie.

Soms is ’n ekstra is in ’n sin geplaas: “… die eerste keer is in sy lewe is dat hy vet Ethiopiërs sien”; ander kere ontbreek ’n het: “Die eerste aand was hy amoreus toe hy teruggekom en het hy op seks aangedring.” In ander gevalle makeer kommas.

Daar is talle gevalle in die teks waar los ipv vas geskryf is: in die straat af gery ipv afgery; rond gestap ipv rondgestap; af gelek ipv afgelek; voete van die bed af geswaai ipv afgeswaai; van die rak af gehaal ipv afgehaal, ens.

En dan die gebruik van die koppelteken. Soms kry Kalmer dit reg, soos in tuisland-universiteit, Wolf-grassnyer, Brita-waterfilter, Mitsubishi-dubbelkajuitbakkie. Maar daar is talle gevalle (ek lys nie almal hier nie) waar koppeltekens ontbreek: Omo advertensie, Goodyear buitebande, Regal bioskoop, Swanepoel familiewapen, Shell petrolpomp, Tastic rys, Sunlight skottelgoedwasmiddel, popster roem, maande oue vervaldatum, Cobra vloerpolitoer, Gold Cross kondensmelk, Krost metaalemmer, Primrose gemeente, Nissan bakkie, Da Silva broers.

Ten spyte van die taalversorging wat hier en daar haper, het ek met die lees ’n sterk aanklank met byna al die stories in die bundel ontwikkel. As ’n lusmakertjie, die hele titelstorietjie, “Groceries”:

“Daardie vervlakste Griek,” het Henkie de Lange se ma hard uit die kombuis gepraat.
“Wat is dit nou weer, vrou?” wou sy pa van agter Die Vaderland weet.

“Ek vra hom vir karringmelk en dan stuur hy vir my caramel. As hy nie leer om ordentlik Afrikaans te praat nie, gaan ek wragtig my groceries op ’n ander plek begin koop.”

Eers jare later toe mevrou Gouws, sy standerd drie-onderwyseres, hom drie hale met haar agtienduimliniaal oor sy oop hand gee omdat hy dié woord in ’n Afrikaanse opstel gebruik het, het Henkie de Lange ontdek dat groceries nie ’n Afrikaanse woord is nie.

Nog later het hy besef dat as die eerste mense wat Afrikaans gepraat het sulke taalpuriste soos mevrou Gouws was, Afrikaans heel moontlik nooit sou bestaan het nie.

 

Drie LitNet-lesers kan elk 'n kopie van Harry Kalmer se Groceries56 stories oor huishoudelike produkte wen. Die boeke is geskenk deur Lapa-Uitgewers. Stuur jou posadres en die antwoord op die volgende vraag na naomibruwer@litnet.co.za

Noem een van die huishoudelike produkte wat in Groceries56 stories oor huishoudelike produkte geïllustreer word.

Kompetisie sluit: 15 Julie 2007

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top