Gillette se advertensie skeer ná aan die vel

  • 4

Die vroue is gaande daaroor en baie van “die manne” is vies.

Dis hoe dit lyk as jy probeer om agter die kap van die byl te kom van die reaksie op die jongste Gillette-advertensie wat die hele wêreld, of ten minste die hele internet, aan die gons het.

Byna elke nuuswebwerf skryf daaroor. Van die lowbrow Sun en die middlebrow Time tot die highbrow Guardian. Verder instagram, twiet en facebook miljoene daaroor. En verskyn dit ook op allerhande onverwagse plekke, van stand-up video’s op YouTube tot op gaming platforms wat gewoonlik oor niks behalwe videospeletjies praat nie.

Dit klink soos enige bemarker in 2019 se “wet dream”. ’n Video “that went viral”.

Hierdie internet-advertensie ontlok sterk uiteenlopende reaksies. En die verdeling is voorspelbaar. “Die manne” wat nie daarvan hou nie, soos die konserwatiewe ou knorpot Piers Morgan, tenoor heelwat ander wat met die boodskap identifiseer. Onder vrouens is die reaksie meestal positief. In ’n artikel in The Guardian spekuleer die skrywer, denker en aktivis Geoge Monbiot oor hoekom die mans wat nie van die advertensie hou nie, se ego’s so broos is.

En as mens na baie van die besware teen die veldtog kyk, kom mens agter dat Monbiot heel moontlik ’n punt beet het. En ook dat die Gillette-advertensie heelwat teer puntjies aanraak.

Die kritici kerm dat Gillette onregverdig en “antimans” is in ’n toon en met ’n logika wat jou herinner aan jou neef wat bier-in-die-hand en steak-op-die-grill langs die vuur staan en kla dat “white privilege” ’n klomp rubbish is.

Die internet oorleef op spekulasie en emosie eerder as feite. Internetpopulisme en -histerie is die lewe daarvan. Maar op enkele uitsonderings na, soos die Spur-boikot, kom daar bitter min van sosiale-media-boikotte. Die dae na die bekendstelling van die kontroversiële Colin Kaepernick-veldtog wat ook dreigemente van ’n boikot opgelewer het, het Nike ’n 31%-styging in hulle aanlyn verkope gehad!

Die internet se geheue is kort. Môre is daar weer iets anders om op loop mee te gaan

Die vlak van die debat op sosiale media bewys ook dat baie mense, onder beide kritici en ondersteuners van die veldtog, glad nie die dinamika en werking van die internet en internetbemarking snap nie. En dis te verstane – selfs die reklamebedryf sit die pot steeds dikwels mis. Die wêreld van analytics, click-through rates en algoritmes is heel anders as die een waarin tradisionele media soos koerante, tydskrifte, radio en die TV oor die afgelope honderd jaar plus ontstaan en ontwikkel het. In 2019 verg dit ’n nuwe soort kreatiwiteit om deur te breek na die netvoos-verbruiker.

Dit lyk dalk asof Gillette ‘n lat vir hulle eie gat gepluk het. Maar die handelsnaam is deel van die internasionale korporasie Procter & Gamble, en die veldtog is beslis deur talle fokusgroepe en vraelyste voordat dit op die internet verskyn het.

Danksy die hipsters en ander modegiere het die baard ’n groot comeback oor die laaste paar jare gemaak en heel moontlik het dit ’n negatiewe invloed op Gillette-verkope onder jong mans gehad.

Om dus ou dinosourusse soos Piers Morgan te vervreem is dalk nie ’n slegte idee nie. Oor ’n paar jaar, wanneer die jong bebaardes begin skeer, gaan hulle onthou dat Gillette die “woke” ouens was wat die stiksinnige outoppie de moer in gemaak het en dat Gillette hulle steeds sal help om cool te lyk. Selfs al het hulle nie meer ’n baard nie.

Baie van “die manne” is vies. Maar dit lyk asof Gillette die hart van die vrouemark gesteel het. En wie weet, dalk het een of ander slim bemarker uitgevind dat dit eintlik ma is wat skeermeslemmetjies vir manlief en haar groot seuns koop.

  • 4

Kommentaar

  • Harry, dit lyk of jy vergeet het dat daar waarskynlik net soveel vroue is wat skeer as mans. Jou slotparagraaf ignoreer hierdie feit op 'n wyse wat vir my na aan seksisme kom.

  • Vir ons sagtebaarde met dun velle en ander moderne manne is Gillette-skeermeslemmetjies in elk geval iets wat in museums tuis hoort. In die 20ste en 21ste eeu gebruik ons elektriese skeermesse. Aan die baardmanne met hulle private gogga-oerwoude is daar in elk geval geen salf te smeer nie.

  • Gogo de Bruin

    Natuurlik hou ons vroue van die advertensie want ons ken die waarheid van "some are not enough". Die meeste van ons ken of leef saam met mense (mans en vrouens) wat nie seksisties, nie rassisties en veral nie magsbehep is nie maar dit werk eers regtig wanneer die meerderheid dit doen.

  • Op nommer 28 op die lys van die top 50 mees gehate YouTube-video's van alle tye, is Gillette se omstrede advertensie op die oomblik net onder Taylor Swift se "Look What You Made Me Do", Lil Pump se "Gucci Gang", en Miley Cyrus 'we can't stop".
    Met die uitsondering van musiekvideo's, is Gillette se advertensie die 12de mees gehate YouTube-video van alle tye!!
    Breitbart het Woensdag (VSA tyd) voorspel dat die advertensie teen die einde van die week in die lys sal inbreek. Teen Maandag het die advertensie, wat meer as een miljoen afwysings het, nie net in die 50 mees ongewenste YouTube-videolys ingebreek nie, maar ook tot die 28ste posisie gestyg.
    Die video het nou die lokprent vir die 2016-Ghostbusters sequel, "Crazy Frog's Axel F" en verskeie Justin Bieber-musiekvideo's in ongewildheid oortref!
    In Gillette se omstrede advertensie word kykers gevra, "Is dit die beste wat 'n man kan kry?" In 'n sinspeling op die maatskappy se klassieke "tagline", " Die beste wat 'n man kan kry" het dit 'n aantal kwessies opgehaal, insluitend seksuele teistering en bullebakkery, maar ook die NWO-aanslag teen ondubbelsinnige, onapologetiese en GESONDE (blanke) manlikheid; en dra Gillette tans dus die gevolge van die ONSINNIGE, ONGEWENSTE en kultuur-marxisme geïnspireerde publisiteitsfoefie, soos uitgewys word deur die YouTube-rang!
    Dus: kry vir julle, mans veg terug teen ONREG.
    Die NWO-geïnspireerde geveg teen die Weste en sy waardes, waarvan die aanslag teen blanke mans en hul manlikheid 'n hoofbestandeel uitmaak, HET REEDS GEFAAL.
    #MAGA/KAG

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top