
Vroegie neks oggend toe moet Grietjie opstaan om vuur te maak en ʼn groot pot water te koek.
“Ôs gat eeste bak,” hettie ou heks gesê. “Ek het klaa die vuur innie oond gemaak en ek het klaa die deeg geknie.”
Sy stoot toe vi arme Grietjie na die stoof toe waa die vlamme hoeg brand.
“Waavoo wag djy? Klim in!” sê die slegte heks, “En voel of dit warm genoeg is lat ekkie brood kan bak.”
Maa die heks wou einlik vi Grietjie ingestoot het om haa te bak en te iet, maa Grietjie was te slim vi haa en het gesien wat sy proebee doen.
“Ek wietie hoe om te kyk offit warm genoeg issie. Hoe moet ek inklim?” vra Grietjie virrie heks.
“Jou dom voël,” sê die ou heks toe, “djy kan mos sien die deu is groot genoeg soedat djy kan inklim. Kan djy nie sienie? Dis soe groot dat ek self daa in kan klim.” Sak die heks toe af en stiek haa kop by die oond se deu in. En dis waavoo Grietjie gewag het, wan toe die heks se kop innie oond is, toe stoot sy haa van agte af soedat sy innie oond in val. Grietjie het toe gou die oond se ystedeu toegeklap agterie heks en die oonddeu se yster ingedruk. Die deu was styf toe ennie heks kon dittie van binne af oep drukkie. Sy het kliphard beginte skrie, maa Grietjie het weggehaloep ennie ou slegte heks net daa gelos lat sy uitbrand innie vuur wat sy vi Grietjie gemaak het.
Grietjie het reguit na Hansie se hok toe gehaloep. Sytie hok se hek oepgesluit soes sy gil: “Hansie, die heks is dood! Die heks is dood! Ek het haa innie oond gestoot. Sy’s dood!”
Hansie het byrie hok uit gevlieg ennie broe en suste het mekaa styf vasgedruk en mekaa soentjies gegie van blydskap. Hulle het om mekaa gedans en gesing.
“Die heks is dood! Die heks is dood!”
En ommat daa nou niks mee was om voo bang te wiesie, het hulle in elke hoekie vannie ou heks se huis gat krap. En daa het hulle kiste-kiste pêrels en diamante gekry.
“Dié is iets bietere dan vuurklippies,” het Hansie gesê soes hy sy sakke vol van dit gestop het. En Grietjie, wat oek iets saam haa wou huis toe dra, het haa vooskoot vol vannie pêrels en diamante gemaak.
“Kô Grietjie, lat ôs maak lat ôs hie wegkô,” sê Hansie toe.
Toe hulle vi ampe twie ure gestap het, het hulle by ʼn groot rivier angekô.
“Ôs sal mos nooit hie kan oorie,” het Hansie gesê. “Hie is nêrens ‘n plek wat mens kan oo stappie, en ek sien oekie ʼn bruggie.”
“Ja, ek kan oekie ʼn boot of iets soes daai sienie,” sê Grietjie toe, “maa kyk, hie kô ʼn groot gans an. Miskien sal sy ôs oo help as ek haa net vra.”
Grietjie het toe virrie gans geskrie: “Gans, gans, kan djy ôs help, Hansie en Grietjie, hie staan ôs! Daa is nêrens om oo te stappie, nie ees ʼn bruggie. Help ôs asseblief! Laai ôs op jou groot rug en gie ôs ʼn lif oorie rivier, asseblief.”
Die gans het toe oo geswem na Hansie en Grietjie toe. Hansie het op haa rug geklim, en sê toe vi Grietjie dat sy moet oek opklim.
“Niee Hansie. Djy is klaa ampe te swaa virrie gans se rug. Gat djy eeste oo, dan sal ek kô.”
En dis hoe Hansie en Grietjie annie annekant vannie rivie gekommit. Hulle het toe sing-sing weggestap vannie rivie af.
Soes hulle vêder innie bos in geloep het, het dit mee en mee beginte lyk soesie bos wat hulle ken. Hulle het nog ʼn bietjie vêder angeloep tot hulle uiteindelik hulle pa se huis gesien het. Hulle het beginte haloep om vinniger daa uit te kô, en by die huis se deur in gevlieg, en in hulle pa se arms geval. Die man se gies kon nie een kee rus narat hy sy kinners innie bos gelos het nie, en sy vrou het oekie lank geliewe nie, en toe gat sy oek dood.
Grietjie het haa vooskoot oepgemaak ennie pêrels en diamante hettie vloer vol geval. En Hansie het hanne vol vannie pêrels en diamante uit sy sakke uitgehaal. Hulle dae van swaa kry en honge gat slaap was oo, en hulle het geliewe sonne ienige warrie innie liewe.
Die storie se wind is uit.
Lees ook:
Hansie en Grietjie: ’n sprokiesvehaal geskryf deurie Grimm broes, deel 4
Hansie en Grietjie: ’n sprokiesvehaal geskryf deurie Grimm broes (deel 3)
Hansie en Grietjie: ’n sprokiesvehaal geskryf deurie Grimm broes (deel 2)
Hansie en Grietjie: ’n sprokiesvehaal geskryf deurie Grimm broes

