........
Dikwels kort iemand net ’n geleentheid, ’n mentor en iemand wat sê: Jou storie is belangrik.
.......
Catrina Wessels praat met Rita Swanepoel oor Rita se projek Haar verhaal van krag, wat nou ook in boekvorm beskikbaar is.
Rita, jy was die kursusaanbieder, maar ook andersins die dryfkrag agter die projek. Vertel asseblief oor die projek. Waar is dit oral aangebied? Wie en wat wou jy daarmee bereik?
Mense glo hulle is nie regte skrywers nie, omdat hulle nie die geleentheid kry om hul talent te ontwikkel nie. Haar verhaal van krag het ontstaan om vroue die kans te gee om stories te skryf.
Met befondsing van die Nasionale Kunsteraad, kon ek skryfwerkswinkels aanbied by Melton Rose-biblioteek, Eersterivier-biblioteek, Bellville-biblioteek en Sir Lowry’s Pass-biblioteek. Ons het aan die tegniese aspekte van skryf gewerk, maar die belangrikste was om te sien hoe die deelnemers begin besef dat hulle eie lewens en ervarings in stories omskep kon word.
Die kursus by die onderskeie biblioteke het seker ’n wye verskeidenheid deelnemers gelok. Wat het jou opgeval oor die vroue wat kom deelneem het en oor die ervaring en dinamika van die onderskeie skryfgroepe?
Van die begin af was dit vir my duidelik dat hierdie projek oor baie meer as net die skryf van kortverhale sou gaan. Ons wou vir vroue ’n ruimte skep waar hulle kon ontdek dat hulle lewenservarings waarde het en dat dit verhale kan word wat ander mense raak. Vir baie was dit die eerste keer dat iemand werklik in hulle as skrywers geglo het.
Die deelnemers was uiteenlopend. Sommige het nog nooit iets langer as ’n brief geskryf nie, terwyl ander al jare lank in stilte gedigte of dagboekinskrywings geskryf het sonder om dit met iemand te deel. Hulle het uit verskillende ouderdomme, beroepe en kulture gekom, maar byna elkeen het ’n storie gedra wat al lank gewag het om vertel te word.
Wat my die meeste geraak het, was die eerlikheid waarmee hulle geskryf het. Baie verhale is geïnspireer deur persoonlike ervarings van verlies, geweld, armoede, verslawing, familieverhoudings, moed, geloof en hoop. Dit was die rou materiaal waaruit stories dikwels ontstaan.
Die grootste verandering was die groei in selfvertroue. In die begin het ek dikwels gehoor: “Ek is nie ’n skrywer nie.” Teen die einde van die projek het dieselfde vroue mekaar se manuskripte bespreek, herskryf en eerlike terugvoer gegee.
Nog iets wat my diep geraak het, was die dinamika wat tussen die deelnemers ontstaan het. Hulle het mekaar se stories met respek ontvang, sonder oordeel, mekaar aangemoedig en mekaar se suksesse gevier.
’n Deel van die projek behels dat die deelnemers se kortverhale in gedrukte formaat in ’n bundel verskyn. Die bundel se titel is Haar verhaal van krag. Vertel asseblief oor die publikasieproses en die medewerkers wat daarby betrokke was.
Ná afloop van die werkswinkels het die publikasieproses begin. Elke verhaal is individueel deurgewerk en het deur verskeie rondtes mentorskap en redigering gegaan.
Vir baie van die deelnemers was dit ’n nuwe ervaring om te ontdek dat herskryf nie beteken die oorspronklike verhaal was swak nie. Inteendeel, hulle het geleer dat goeie skryfwerk juis deur herskryf ontstaan. Dit was wonderlik om te sien hoe die verhale met elke nuwe weergawe sterker geword het, sonder dat die skrywers se eie stemme verlore gegaan het.
Ek was bevoorreg om saam met Surene Esterhuizen en Stefaans Coetzee as mentors en redakteurs te werk. Hulle het met groot sensitiwiteit, kundigheid en toewyding elke deelnemer begelei en gehelp om haar verhaal tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Kwarts Uitgewers het die bundel met groot sorg en professionaliteit uitgegee en ons met elke stap van die publikasieproses ondersteun.
Ek wil my waardering uitspreek teenoor Rene Walker en die personeel van die deelnemende biblioteke, wie se entoesiasme, logistieke ondersteuning en bereidwilligheid om yd ’n ekstra myl te stap ’n onmisbare bydrae tot die sukses van die skryfwerkswinkels gelewer het. Hulle praktiese hulp, gasvryheid en ondersteuning het ’n inspirerende ruimte geskep waar die deelnemers kon skryf, leer en groei.
Vir die deelnemers was Haar verhaal van krag die eerste keer dat hulle hul naam in ’n gepubliseerde boek sien. Om daardie trots en ongeloof op hulle gesigte te sien was een van die mees onvergeetlike oomblikke van die hele projek.
Sal jy asseblief ook jou indrukke deel oor die kortverhale self? Was daar sekere motiewe of temas wat herhaal het? Waar kan belangstellendes die bundel in die hande kry?
Hoewel elke verhaal uniek is, loop daar ’n draad deur die bundel: veerkragtigheid. Die verhale handel oor gewone vroue wat buitengewone uitdagings moes trotseer. Lesers sal temas soos verlies en herstel, geweld en vergifnis, armoede en hoop, familie, liefde, identiteit, geloof en die moed om weer op te staan deur die bundel sien vloei.
Die bundel is nie swaarmoedig nie. Selfs waar moeilike onderwerpe hanteer word, is daar ruimte vir humor, deernis en hoop.
Die stories is ook uiteenlopend. Daar is verhale wat ontroer, ander wat jou laat glimlag en sommige wat nog lank ná die laaste bladsy by jou bly.
Ons is tans besig om ’n manier uit te werk waarop Haar verhaal van krag verkoop mag word. Omdat die bundel verhale van verskillende skrywers bevat, bring dit bepaalde administratiewe en kontraktuele vereistes mee wat ons graag korrek wil hanteer.
Enigiets anders wat jy wil noem?
Dikwels kort iemand net ’n geleentheid, ’n mentor en iemand wat sê: Jou storie is belangrik.
As hierdie projek daarin geslaag het om selfs net ’n handvol vroue die moed te gee om aan te hou skryf, het dit sy doel bereik.


