Haar storie is elke vrou se storie - Medea

  • 0

Medea

Teks: Dieter Reible
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
Vervaardiger: Hugo Theart
Aangebied deur TEATERteater
Heimatsaal – 70 min
R80

2 Oktober 13:00
3 Oktober 09:30
4 Oktober 13:00
5 Oktober 20:00
6 Oktober, 09:30

Medea was ’n Griekse godin, en daar is verskillende weergawes van haar mite. Een storie is dat sy haar kinders vermoor het en gedwing is om telkens haar lewe oor en oor te beleef wanneer sy sterf. By die Clover Aardklopfees is Coba-Maryn Wilsenach dapper genoeg om die verhoog alleen aan te durf en hierdie godin te word. Naomi Meyer vra haar uit oor Medea.

Hallo Coba-Maryn, ek sien jy vertolk die rol van Medea in die stuk met dieselfde naam. ’n Griekse godin wat as straf haar lewe oor en oor moet beleef. Iets soos die fliek Groundhog Day. Nou hoekom, van al die gode en godinne om van te kies, juis sý?

Medea se storie het my nog altyd geraak, veral omdat dit op vele vlakke elke vrou se storie is. Ek het op universiteit saam met Sandra Temmingh ’n uittreksel uit die teks gedoen en ek was van toe af gefassineerd en geboei deur Reible se ryk teks. Ek het destyds al besef dat ek die hele teks moet doen as ek myself ernstig wil opneem as verhoogaktrise. Dit was ’n reis wat ek geweet het ek moet aanpak, ’n uitdaging aan myself op meer as een manier.

As mens sommer gou nog van Medea op Wikipedia gaan lees, verstaan ek die opsomming van julle toneelstuk baie beter. Hier’s ’n vrou wat haar kinders vermoor en sy moet dit oor en oor beleef. Maar in dieselfde asem: tannies wat Blou Bulle met towerspreuke toor. Is die toneelstuk tragies én snaaks?

Die stuk is beslis tragies, maar ook sardonies. Die sardoniese kom deur wanneer Medea die mens en menswees vlymskerp beskryf. Veral die tipe mens wat vraatsugtig na mag en rykdom lus, en in ons land en samelewing is daar tog so baie van dié mense ... Die tragiese element word versterk omdat Medea so gehard en ongenaakbaar voorkom ten spyte van wat sy gedoen het. Dit is deur haar wreedheid dat haar sagmoedige kant gesien word, asook haar motivering vir dit wat sy gedoen het, en dit vind ek geweldig tragies.

Is die toneelstuk verstaanbaar en toeganklik?

Die stuk is beslis toeganklik en verstaanbaar, Naomi. Dit handel oor menswees en verlies en ek dink almal kan op een of ander manier daarmee identifiseer. Ons almal moes al iets kosbaar opoffer en dit in die naam van die liefde ...

Is dit ’n lekker rol om te vertolk?

Ja, dit is ongelooflik uitdagend en stimulerend om met emosionele integriteit so ’n komplekse wese te vertolk. Vir my is dit dié rol om te vertolk. As ek nooit weer verhoogwerk doen nie, sal ek berus wees, want die een rol wat ek nog altyd wou vertolk, het ek  vermag.

Wat was die mees uitdagende aspek van Medea vir jou?

Die moeilikste aspek is om nie verswelg te raak deur die onderliggende emosie van die stuk nie en om die ongenaakbaarheid  van Medea te balanseer met die oomblikke van weerloosheid en verweer. Sy is ’n donker karakter en dit is beslis swaar om saam met haar die las te dra en terselfdertyd jou afstand as aktrise te hou van die karakter.

Ek het met Marthinus en Hugo gesels, maar uit die perspektief van die akteur: Hoe is dit om saam met hulle te werk?

’n Absolute voorreg! Ek leer so baie by Marthinus oor die teaterkuns, die lewe en myself. Dit beteken vir my geweldig baie om saam met hom aan hierdie projek te werk, omdat ek ongelooflik baie respek het vir hom as kunstenaar en mens.

Hoe ondervind jy dit om dit “sielalleen op die verhoog te waag”?

Sodra ek op die verhoog is en in karakter, vergeet ek dat ek alleen is. Dit is die tye daarvóór wat vir my moeilik is, want jy word genoodsaak om jou eie klankbord te wees. Medea is die derde soloproduksie wat ek aanpak (Bangbroek en Audrey daarvóór), so in ’n mate is ek gewoond aan die alleenwees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top