Clover Aardklop-onderhoud: Om sonder 'n valskerm te spring – Marthinus Basson en Hugo Theart gesels

  • 0

Hallo Marthinus en Hugo, dankie vir julle tyd om met my te gesels oor julle betrokkenheid by die Aardklop-fees vanjaar. Ek sien vier produksies waar julle name gelyktydig opduik: Die vrou vantevore, Op dees aarde, Medea en Kind Hamlet. Marthinus, jy behartig telkens die regie en Hugo, jy is die vervaardiger. Iemand hier in die kantoor sê dis uit ’n boekeperspektief soos die uitgewer en die redakteur in die produksieproses van die totstandkoming van ’n nuwe nuwe boek. Vertel asseblief vir my uit elkeen van julle teater-perspektiewe wat julle rol agter die skerms is.

Marthinus: Op my rak staan daar honderde stukke, tekste wat mens graag sou wou sien ... oor droom om te sien, droom oor doen ... Met elke fees dink ek miskien ... miskien ... en sit 99,9% van hulle terug op die rak, wetende: nee – nie genoeg geld nie – nie publiekgenadig genoeg nie – te groot rolverdeling – of ons het nie sulke akteurs meer oor nie ... Nogal 'n frustrerende proses. Dan sê ek vir Hugo: Wat van ...? En dan sê Hugo miskien, maar sny hier, sny daar aan begroting, aan skaal en drome en dan baklei ons en haat mekaar vir 'n paar ure en dan net soms lê ons van die lag en maak iets waarvan ons hou ...      

Hugo: In kort: In my en Marthinus se geval, omdat ons saam TEATERteater bestuur, werk ons baie nou saam aan alle aspekte van die proses. Maar as regisseur is Marthinus verantwoordelik vir die kreatiewe visie van ’n projek en ek neem verantwoordelikheid vir die finansiële en logistieke aspekte (aanstellings, skedules, bemarking, algemene beplanning). Ek moet befondsing vir die produksies vind en seker maak die begrotings klop. Marthinus moet sorg vir die artistieke gehalte van die produksies. Dit sou egter vir my aaklig gewees het as ek net met syfers en logistieke die hele tyd moes werk en niks met die kreatiewe proses te make gehad het nie. Die lekkerste deel van produksies is die begin, want dan hoef mens nog nie ’n mens vas te maak aan die realiteite van begrotings en praktiese oorwegings nie. Dan kan ons droom oor watter akteurs ons sou wou gebruik en oor die moontlikhede met stelle en kostuums. Dis lekker. Maar op ’n stadium moet ek ons weer aan bande lê. Dis jammer. Tog kry ons die geleentheid om steeds aan wonderlike projekte te werk wat ons bevredig en voed, maar wat ook ’n kommersiële doel dien.

Dis gewis nie die eerste keer dat julle saamwerk nie. Julle twee het TEATERteater gestig en ek sien jul doelwit is “om ’n meer permanente infrastruktuur te vestig wat aan ’n geselskap van akteurs, regisseurs, skrywers en tegnici ’n meer standvastige omgewing bied waarbinne hulle kan skep en asemhaal”. Dink julle nie die nomadiese teaterwêreld wat deur die kunstefeeste in SA geskep word, skep al amper ’n standvastige – of ten minste voorspelbare – omgewing in die teaterlandskap van die land nie?

Marthinus: Beslis nee. Ek werk daagliks met jong akteurs en ervaar hulle frustrasies eerstehands. 'n Akteur wat sy sout werd is moet, soos 'n sportman, in oefening bly en dag in, dag uit werk aan sy vak. Hier is jy, as jy al die feesdae bymekaartel, maar 12 dae 'n jaar akteur en vir die res probeer jy oorleef deur ander goed te doen ... Dit wil sê, almal is afgegradeer tot amateurs, en die probleem is dat hulle skeef ontwikkel. Onder druk moet hulle twee, drie, vier rolle instudeer vir 'n fees, niks is werklik deurdag nie, en as hulle deur TV oorlel, word hulle gevra om een ding oor en oor te doen en 'n persoonlikheid te verkoop. Al twee opsies is ongesond vir die ontwikkeling van 'n plooibare akteur met diepgang. Voor daar nie geselskappe is waar hulle weer 365 dae van die week akteurs kan wees nie, sal daar nie weer Wilnas, Sandras, Mariusse, Janas, Antoinette’e en Cobusse wees nie.

Hugo: Die kunstefeeskultuur skep broodnodige geleenthede, en ons kan almal (veral in Afrikaanse teater) dankbaar wees vir wat die feeste aan ons bied. Maar ongelukkig bied dit nie aan enige akteur (of ander teaterpraktisyn) enige sekuriteit of standvastigheid nie. Dis op die oomblik ’n ambag wat bykans as stokperdjie bedryf word. Ek sou graag wou sien dat dit verander en dat ons weer met trots ’n professionele bedryf kan bou. Talent is daar baie, toewyding ook, maar as gevolg van die nomadiese/sporadiese aard is daar ’n tekort aan ervaring en vaardigheid. Eendag dalk ...

 Wat is vir elkeen van julle die lekkerste stuk van die lot waarby julle betrokke is – en watter een die moeilikste?

Marthinus: Almal is ewe lekker. Dis soos kinders. Die een gee opdraand, die een is lief, die een maklik, die een 'n stoutgat – maar jy is vir hulle almal lief. Moeilik is hulle almal op hulle eie manier. Maar Kind Hamlet is 'n hartsprojek met mense wat my eindeloos geïnspireer het, my teaterouers, en is 'n werkswinkelproses. So dit is 'n bietjie soos om uit 'n vliegtuig te spring sonder 'n valskerm.   

Hugo: Om die lekkerste stuk te kies sal wees om een kind voor te trek en elkeen van die produksies het sy eie uitdagings. Ek is bevoorreg om deel te wees van ongelooflik opwindende projekte en is soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel ... Wat ’n voorreg en plesier om te werk (en te leer) by veterane soos Wilna Snyman, Cobus Rossouw en Sandra Kotzé. ’n Mens het ook die eer om met Reza de Wet se teks om te gaan (olv Marthinus Basson) en ook deel te wees van die skep van ’n nuwe teks, Kind Hamlet. Dis lekker. Met elkeen van die produksies waarby ek betrokke is, werk ek saam met besonderse mense. Van veterane tot jongelinge. Dit is lekker. Dit is opwindend. En daarom kan ek nie kies nie en kan ek nie uitsonder nie. (Soms in retrospek is dit wel duideliker watter produksies was werklik lekker en watter was die uitdagendste.)

Marthinus Basson

Marthinus, jy is bekend vir jou liefde vir en betrokkenheid by opera. Watter van hierdie stukke spreek hierdie behoefte in jou aan, indien enigeen?

Mens kan nie een van hierdie met opera vergelyk nie. Die skaal is nie daar nie, nog minder die goddelike musiek, nóg die begrotings. Maar elkeen is so kompleks op sy eie manier dat dit die aandag van 'n operaproduksie verg. En met 'n drama moet die akteur sy eie musiek en sy eie orkes wees. En dit is moeilik.

Hierdie sin in Medea tref my: “In ’n tyd waar tannies met towerspreuke Blou Bulle wil tem vir die liefde en waar gesinsmoorde gereeld voorkom, is die verhaal van Medea nog altyd waar en relevant.” Dink jy mense gaan uitloop?

Hierdie Medea is allermins 'n wilde een. Dis 'n fyn, intieme kyk na die bloedige verhaal deur die oë van 'n vrou wat verdoem is om die storie oor en oor te vertel. Dít is haar straf: dat sy nie haar verlede kan laat lê nie.

Jy het Kind Hamlet geskryf. Dis eintlik ook ’n huldeblyk, op ’n manier. Dit bring hulde aan ’n akteur, maar ook aan ’n bekende Shakespeare-stuk. Of hoe interpreteer jy dit? Wat probeer jy met hierdie stuk vermag (en wat doen jou akteurs daarmee)?

“Skryf” is 'n gevaarlike woord. Dit is 'n dokumentêre drama. Dit skryf homself. Ek maak dit uit onderhoude (12 ure daarvan) met Cobus Rossouw, die enigste akteur in Afrikaans, in ons geskiedenis, wat enigiets van koning Lear, Hamlet, Iago, Malvolio, Richard die Derde, deur Feydeau en Moliére-klugte, tot volksteater soos Die Ryk Weduwee en Die Wildsboudjie gespeel het, en sy ewe omvangryke aktrise/regisseuse-vrou, Sandra Kotze. Ek kyk na wat dit vat om 'n Hamlet te speel, na waarom Hamlet so selde gedoen word (slegs drie in ons Afrikaanse teatergeskiedenis: met André Heugenet 1947, Cobus Rossouw 1973, Marius Weyers 1989), en gee twee jong akteurs (Eben Genis, nou in sy vroeë dertigs, en Ludwig Binge, nou in sy vroeë twintigs, albei met uitstaande potensiaal as Hamlets) die geleentheid om met twee gesoute akteurs te werk, hulle vrae te vra, van meesters te leer. Ek hoop om uit die proses iets te bou wat die gehoor insig sal gee in wat dit verg om 'n akteur te wees, wat dit vat om 'n rol te skep, en ook te kyk waarom Hamlet as rol beskryf word as die Olimpiese Spele van ’n akteur se loopbaan. Ek hoop dat dit vir die gehoor net so opwindend sal wees as vir my om Cobus en Sandra weer op die verhoog te sien, waar hulle hoort. En dat hulle sal kan deel in Cobus se verbysterende insig. Terloops, hy dra die hele Hamlet, in Engels, in sy kop rond en kan te eniger tyd, met enige karakter, foutiewe of minder suksessvolle vertaling uitwys. Jou bek hang oop. Ek sit goddank, as newe-effek van die proses, met waardevolle argiefmateriaal.

Jy het Die vrou vantevore vertaal. Wat gryp jou hier aan – waarom het jy hierdie stuk gekies?

Die vrou vantevore is een van daardie rare stukke wat 'n loket-treffer is, en terselfdertyd 'n briljante teks wat slim speel met struktuur en mite. Presies die tipe stuk wat my plesier gee. Dus is Vrou vantevore die derde keer wat ek met die Medea-legende kon werk, en dit is die lekkerste lekker. Dis 'n klein, intense familiedrama met kontemporêre mense en 'n oeroue tema. Lekker.

Hugo Theart

Hugo, jy is ook ’n akteur. Is dit met hierdie oog dat jy na die produksies by vanjaar se Aardklop kyk? 

Nee, ek dink ek benader dit dalk meer met ’n regisseursoog. Ek probeer om ook daarna as ’n gehoorlid te kyk – as dit sin maak? Maar uiteindelik moet ek daarna kyk as ’n vervaardiger. Ek is ’n dromer en my hele hart wil eintlik net kreatief na produksies kyk – die moontlikhede – geldelike beperkinge te ignoreer.

Hugo, ek geniet dit hoe julle beelde op hul kop keer in die huldeblyk-stuk aan Reza de Wet, Op dees aarde: “Ou koeie tuimel baldadig uit die sloot in dié plattelandse sprokie vol humor en tragiek.” Hierdie frase, asook die feit dat dit aan haar ’n huldeblyk is, sal veroorsaak dat ek hierdie stuk die graagste van die vier sal wil sien. Loop tragiek en komedie hand aan hand in teater?

Altyd. En nie net in teater nie. Dis waar vir ons in die alledaagse lewe. Lag en huil kom vanuit dieselfde plek. En Reza de Wet het dit baie goed verstaan en sy het dit die heel mooiste vasgevang in haar werk. Ek het op hoërskool en later op universiteit ál die produksies van Reza se werk gaan kyk (almal wat ek gesien het, was geregisseur deur Marthinus Basson). Haar werk was vir my ’n verslawing en op ’n stadium het dit seker gegrens aan ’n obsessie. Dit is die grootste eer om by hierdie produksie betrokke te wees.

Watter ander stukke wil julle vanjaar by Aardklop sien? Of gaan julle net kom eet, of wat is die ding om by hierdie fees te doen?

Marthinus: Die probleem is dat mens so baie werk, tussen ruimtes moet hardloop en onder druk stukke gereed moet kry dat jy soms bitterlik min tussen-in kan inpas. Ek kyk gewoonlik liewer kuns.   

Hugo: Die fees is my werkstyd – dis nie vrye tyd nie. Tussen tegniese intrekke, bemarking, logistieke en verantwoordelikhede teenoor jou eie produksies wat speel is daar nie altyd tyd om ander produksies te sien nie. Ek ervaar ook dat my kop te besig en vol is tydens feeste – en dan kan ek nie werklik ander produksies geniet nie. Ek verkies – en probeer ook – om produksies wat Kaap se kant toe kom, hier te siene te kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top