Grendelstaat ofte not – Leonie se Graffiti woeker driftig voort

  • 6

Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke (Foto: verskaf)

Wanneer Pretorianers die naam Graffiti hoor, dink hulle dadelik aan Leonie van Rensburg.

Leonie is al 38 jaar lank in die boekbedryf, en sedert sy die Graffiti-boekwinkel in 2005 gekoop het, gaan dié baken vir boekwurms van krag tot krag. Die winkel het deur die jare ’n gewilde bymekaarkomplek vir Afrikaanse skrywers geword waar hulle skouers met getroue lesers skuur. Graffiti se “Boek en koek”-geleenthede in Pretoria is ’n formidabele inisiatief, en dit word sedert 2006 elke laaste Donderdag van die maand gehou.

Dié geleenthede, waar lesers weglê aan tertjies, koeksisters en ander fyngebak terwyl prominente skrywers oor hul jongste publikasies gesels, is altyd volgepak. “Soms is daar twee geleenthede per maand,” vertel Leonie. “Dit was my poging om iets terug te ploeg in my gemeenskap en om vir skrywers ’n platform te gee waar hulle oor hulle skryfwerk met lesers kan gesels.”

Klante het spontaan begin om na dié kuiers as “Boek en koek”-geleenthede te verwys. En van die bekendste name in Afrikaans het al hul boeke hier te water gelaat: Deon Meyer, Marita van der Vyver, Margaret Bakkes, Cecile Cilliers, Pik Botha, Mimi Coertse, Rudie van Rensburg, Etienne van Heerden …

“Ek het Graffiti in 2005 gekoop nadat my pad met Fascination Books doodgeloop het,” vertel Leonie. “Van jongs af is ek ’n ywerige leser met ’n passie vir Afrikaans. Ek het gou besef dat daar ’n leemte in die mark is met winkels wat in Afrikaanse boeke spesialiseer. Graffiti het die plek geword waar ek my passie en droom kon uitleef.”

Voor Graffiti het Leonie wye draaie deur die boekbedryf gegooi. Van die begin af, in 1982, het sy geweet: “Boeke is waar ek wil wees.” Sy het begin werk as winkelassistent by Universitas in Sunnypark. Daarna het sy spore gelaat by NB-Uitgewers, Exclusive Books en The Bookshop in Tygervallei. Voordat sy Graffiti gekoop het, was Leonie hoof- uitvoerende bestuurder van Fascination Books.

Vandag is daar by feitlik elke uitgewer en boekwinkel in Suid-Afrika ’n personeellid wat al iewers in die verlede met Leonie saamgewerk het. En elkeen het báie by haar geleer. “Dit is vir my ’n enorme pluimpie dat soveel van my personeel uiteindelik poste by uitgewers kry en bestuurders van boekwinkels en boekwinkelgroepe word. My sterk punt was nog altyd my opleiding en verhoudings met my personeel,” sê sy.

Skrywer Kerneels Breytenbach saam met die Graffiti-span in Pretoria (Foto: Graffiti)

In die 38 jaar wat Leonie in die bedryf is, het die boekewêreld uiteraard van gedaante verander. “Dis nie meer so klein soos 20 jaar gelede nie. Daar is nou verskeie spelers in die mark en my era se mense begin nou al aftree. Uitgewers begin ook nou die kleinhandelmark betree, wat vir boekwinkels nie goeie nuus is nie. Ons verskaffers word nou ons mededingers en ek dink dit is baie sleg vir boekwinkels. Hoe dit boekwinkels in die toekoms gaan beïnvloed, sal net die tyd leer.”

Met die korona-inperkingsregulasies moes Graffiti, soos talle ander besighede, vroeër vanjaar hul deure tydelik sluit. Op 24 April kon hulle egter weer oopmaak, maar net om skryfbehoeftes te verkoop. “Verkope was maar yl aangesien die meeste mense nog in volle inperking was,” sê Leonie. “Eers toe die aankondiging kom dat ons opvoedkundige publikasies kon verkoop, kon ons weer boeke van die hand begin sit.” Met dié hersiening van die regulasies het die winkel dadelik met aanlyn verkope gewoeker, en het lesers hul produkte uit koeriers se hande ontvang.

“Die grendelstaat het so onverwags gekom dat die meeste van ons onkant betrap is. Ek het besef dat indien ons wil oorleef, ons drastiese veranderinge sal moet maak. Omdat ek ook geen boekbekendstellings kon hou nie (Irna van Zyl, Sophia Kapp en Steve Hofmeyr se praatjies moes gekanselleer word), het ek besluit om dit aanlyn te doen. Sedert 1 Junie het ons 36 aanlyn kuiers gehad met bykans elke nuwe boek wat verskyn het.”

Leonie koester herinneringe aan skrywers wat nie meer met ons is nie. Links is Margaret en Cas Bakkes by Graffiti, en regs is Cecile Cilliers saam met Leonie. (Foto: Graffiti)

En dié geleenthede, wat direk op Graffiti se Facebook-groep uitgesaai is, het gesorg dat Leonie se personeel seker van hul salarisse is. Te midde van stywe kompetisie van konkurrente: “Die groot aanlyn reuse, wat alles verkoop van boeke tot blomme, bied ook dikwels reuse-afslag aan klante waarmee boekwinkels nie kan meeding nie. Ook uitgewers wat direk aan die publiek verkoop, maak die mark vir boekwinkels nóg kleiner,” sê sy.

Gelukkig het ondersteuning vir Graffiti uit verskeie oorde gekom. Leonie sê: “Ons grootste verskaffers het ook ongelooflike ondersteuning gegee met afbetalingsooreenkomste. Die eiendomseienaar het afslag gegee op ons maandelikse huur.” Dié klein maatskappy – met vyf werknemers – het vinnig van denke en rigting verander toe die pandemieregulasies die land tref. Daarmee saam het die aanlyn kuiers in ’n baie kort tydjie derduisende lesers aan Graffiti bekendgestel.

En daar lê nog baie videokuiers voor tot die einde van die jaar. “My program vir Oktober en November is reeds vol bespreek. In sommige weke doen ek van Maandag tot Donderdagaand elke aand ’n bekendstelling en ek begin nou ook Vrydagaande bespreek. Daar is so ’n wonderlike verskeidenheid boeke op pad wat elke leser se smaak sal bevredig.”

Marita van der Vyver op besoek aan Graffiti. Kyk na Marita se boekomslag op Leonie se T-hemp. (Foto: Graffiti)

Leonie se skrywerspyskaart tot einde 2020 lees soos die Wie’s wie van Afrikaans: Francois Smith (Die kleinste ramp denkbaar), Chris Karsten (Die versoeking van Thomas Maas), Isa Konrad (Toekomsmens), Chanette Paul (Droomvanger), Willem Anker (Skepsel), Deon Meyer (Donkerdrif), Dana Snyman (Onder een dak), Annelie Botes (Voetstoots) en vele meer. Leonie voorspel dat nuwe titels deur Deon Meyer, Dana Snyman, Nataniël, Dibi Breytenbach, Annelie Botes en Chanette Paul wegholtreffers gaan wees in die Kersseisoen.

Dat die grendelstaatbeperkings die boekbedryf onherroeplik verander het, staan soos ’n paal bo water. Sosialemedia- en aanlyn bekendstellings het beslis meer normaal geword, en kan dalk selfs in die toekoms die norm raak. “Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie,” sê Leonie. “Ons gaan beslis weer fisiese bekendstelling hou wanneer die beperkings heeltemal gelig word, maar die oorgrote meerderheid boeke gaan steeds aanlyn bekendgestel word. Met ’n fisiese geleentheid is daar ongeveer 80 gaste, terwyl aanlyn kuiers gemiddeld 1 500 bywonings het.”

Leonie en Afrikaans se megaverkoper, Deon Meyer (Foto: Graffiti)

Enigiemand wat al ’n “Boek en koek”-belewenis by Graffiti meegemaak het, sal juig oor Leonie van Rensburg se deursettingsvermoë. Terwyl ander rolspelers in die bedryf steier onder die impak van die grendelregulasies, gaan dié vergaderplek vir boekliefhebbers in Gauteng van krag tot krag. Onderkry is min. En dit is waarskynlik die grootste getuigskrif vir Leonie.

 

  • Lesers wat nie die Graffiti-bus wil verpas met skrywerkuiers nie, kan op Facebook by die winkel se amptelike blad aansluit. Tegnologie-dinosourusse wat nie weet wat “Facebook” beteken nie, kan (hopelik) ’n WhatsApp met die woord VIDEO na 076 116 6933 stuur, dan sal Leonie ’n skakel aanstuur waar mense na bekendstellings kan kyk.
  • Boekliefhebbers buite Pretoria, en in die buiteland, kan gerus Graffiti se webwerf besoek by graffitiboeke.co.za – hulle koerier boeke regoor die wêreld.

 

  • 6

Kommentaar

  • Fanie Viljoen

    Leonie en haar span is tops!
    Ons skrywers is baie dankbaar vir hulle ongelooflike ondersteuning.

  • Boek- en koekgeleenthede is uitstaande, maar die aanlynkuiers het die leemte uitstekend ondervang. Dankie vir Leonie en Grafitti se ywer vir Afrikaans

  • Isabel le Roux

    Hierdie huldeblyk aan Leonie slaan spyker op die kop. Sy is 'n reus in die boekewereld, 'n uitstekende besigheidsvrou en passievol in alles wat sy doen. Trots op ons plaaslike boekwinkel en eienaar

  • Herbert Raubenheimer

    Anita Stander het my op jou spoor geplaas. Sy was behulpsaam met my debuutroman, XOV Kruisondervraging. Sal jou kontak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top