Goue lint, my storie begint: Spieëls en vensters – die stand van inklusiwiteit en diversiteit in Afrikaanse kinderliteratuur

  • 0

Grafiese elemente geskep onder Cava se gratis lisensievoorwaardes; foto-erkenning van spieëls en vensters: ImaArtist van Pixabay onder Pixabay se gratis lisensievoorwaardes.

  • Anke Theron skryf gereelde kinderboekrubrieke vir LitNet.

Kinderliteratuur of ’n kinderboek se daaglikse werk is dié van ’n spieël of ’n venster – dit hang net af in watter rigting jy kyk (of lees).

’n Boek is ’n spieël wanneer ’n leser hom- of haarself kan sien en die wêreld van die boek beleef. Hulle identifiseer met die kultuur en ervarings wat in die boek weerspieël word. Dit is terselfdertyd ook ’n venster wanneer dit ’n blik bied op ’n wêreld wat vreemd of anders is aan die leser se eie ervarings. ’n Wonderlike manier om te reis deur ’n venster van stories en nuwe dinge te leer ken – deur ’n storieboek.

Christina du Plessis het in 1992 in haar navorsing verwys na Emily Style en later S Cox en L Galda se argument dat boeke óf as spieëls óf as vensters dien. Cox en Galda (Du Plessis 1992:31) som die essensie van multikulturele kinderliteratuur op deurdat goeie kinderboeke aan die een kant gesien word as ’n spieël wat bekende kultuurelemente en -ervarings weerspieël, en aan die ander kant as ’n venster “revealing a multicultural vista that juxtaposes the familiar and less familiar [...]”.

In die Suid-Afrikaanse konteks – ’n heterogene, veeltalige en histories verdeelde samelewing – is hierdie konsep nie net ’n hoogdrawende literêre teorie nie. Dit is opvoedkundige gereedskap vir ’n veeltalige en multikulturele samelewing. Die potensiaal om “anders” en “verskillend” as bloot net dít te ontdek, sonder die historiese angs en vrees vir die ander, is enorm.

Dit is tog tydens die kinderjare dat ’n kind se ingesteldheid teenoor die wêreld gevorm word. Die kind se interne waardestruktuur word uitgebrei en verryk elke keer wanneer hy of sy ’n nuwe boek lees (Du Plessis 1992:22).

Maar waar staan die Afrikaanse kinderboekmark tans ten opsigte van hierdie spieëls en vensters? Sien ál die Afrikaanssprekende kinders – oor die hele spektrum van ras, sosio-ekonomiese agtergrond, geslagsidentiteit en gesinstrukture heen – hulself vandag in stories? En watter uitdagings is daar in die uitgewersbedryf wat bepaal watter stemme gehoor of gelees word?

Die spieël – identiteit en herkenning

Dit is algemeen bekend, veral in die Afrikaanse kinderboekmark, dat hoofsaaklik die waardes, norme en leefwyse van ’n bevoorregte, wit middelklas weerspieël is. Dit is waar, in die verlede was daar óf ’n algehele afwesigheid van kinders van ander rasse in kinderliteratuur, óf hulle is in stereotipiese en minderwaardige karakters uitgebeeld. Hierdie eendimensionele spieëlbeeld het op verskeie maniere skade gedoen:

  • Vir die bevoorregte kind het dit ’n vals, verdraaide beeld van die samelewing geskep en die indruk geskep dat die kind se eie kultuurgroep die enigste relevante norm is (Du Plessis 1992:24).
  • Vir die kind uit ’n minderheids- of histories benadeelde groep was dit gelyk aan kulturele onsigbaarheid, waar die kind die afleiding kon maak dat sy of haar leefwêreld nie genoeg waarde het om oor te skryf nie (Du Plessis 1992:24).

Die “bril” waarmee die kind in die spieël (boek) kyk, funksioneer as ’n vorm van manipulasie waardeur die kind sy of haar identiteit bou. Dit is ’n vraag waarmee elke tiener of kind en eintlik elke persoon op die een of ander stadium van hul lewens worstel: “Wie is ek?” Dit is dus belangrik om vir ons kinders ’n ongesensureerde of unfiltered blik op die samelewing te gee waarin hulle grootword. Meer hieroor later.

Verskuiwing in geslagsrolle en gesinstrukture

Gelukkig is daar in die moderne Afrikaanse kinderliteratuur ’n merkbare verandering, meer so sedert 2000. Die spieëls word al hoe skoner gevee om ’n duideliker en nader aan die waarheid beeld te weerspieël. Waar seuns tradisioneel as die dapper, emosieloos-sterk helde uitgebeeld is en meisies as passiewe of versorgende newekarakters uitgebeeld is, sien ons nou toenemend verhale waar hierdie norme omgekeer of uitmekaar gehaal word.

Daar word emosionele kompleksiteit by seuns toegelaat – seuns wat twyfel, met hul emosies worstel, kuns beoefen of antwoorde soek buite fisiese kragvertoon. Dink hier maar aan die rits boeke deur Jaco Jacobs en by uitstek Fanie Viljoen, met boeke soos Uit en verskeie ander.

Agentskap, leierskap in sterk vroulike (meisie-) karakters tree na vore – karakters wat wetenskaplike probleme oplos, avonture lei, hulself red en nie wag vir die ridder op die wit perd nie. Quinn in Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout is beslis een van hierdie karakters.

Verder beweeg die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse werklikheid weg van die tradisionele kerngesin (pa, ma, twee kinders en ’n hond) na meer realistiese en diverse gesinstrukture. Stories oor kinders wat grootword saam met enkelouers, oumas en oupas (dink aan Jaco Jacobs se Oupa Zombie), gemengde gesinne of in pleegsorg. Hierdie uitbeeldings bied aan kinders die deurslaggewende versekering: My gesin lyk dalk anders, maar my ervarings verdien ook om vertel te word.

Die venster - begrip vir ander en die stereotipes

As die spieël die kind help om ’n gesonde selfbeeld te vestig, is die venster enersyds van waarde om emosionele intelligensie en empatie te kweek, asook ’n begrip vir dié wat anders is.

’n Onthullende aanhaling in die navorsing oor multikulturele literatuur is dié van Rivlin (soos na verwys in Du Plessis 1992:i): “Different means different; it does not mean better than or worse than.”

’n Konsep waarmee die mens en die samelewing nog lank seker sal worstel, dog eenvoudig. Anders beteken nie sleg nie, net anders. In ’n gemeenskap waar kulturele konflik dikwels voortspruit uit onkunde, ou uitgediende of selfs bloot verkeerde persepsies, kan boeke dien as ’n veilige ruimte waar ’n kind blootgestel word aan dit wat anders is, sonder enige vrese. Dit is natuurlik ook presies waar ons vir ons kinders kan leer wat die waarde van “andersheid” behels.

Kulturele konflik en verskille hoef nie negatief te wees nie. Konflik kan juis as ’n positiewe invloed op leer dien – dit verskaf ’n modus vir kulturele opvoeding, selfbegrip en die uitbreiding van kommunikasievaardighede oor kultuurgrense heen.

’n Boek as venster het die potensiaal om soveel te verrig. Alle mense, ongeag hul agtergrond, ras of klas, deel dieselfde basiese emosies, vrese, drome en behoeftes (Du Plessis 1992:38–9). Geen enkele kultuurgroep besit ’n monopolie op kreatiwiteit, verbeelding of menslikheid nie (Du Plessis 1992:29–30). Stereotipes (soos om armoede outomaties aan ’n gebrek aan waardigheid te koppel, of sekere rasse aan spesifieke sosiale rolle) is vals en skadelik, veral in ’n samelewing soos Suid-Afrika (Du Plessis 1992:36).

In ’n onderwyssituasie speel sulke boeke ’n deurslaggewende rol. Die klaskamer moet ’n plek wees waar leerders toegerus word om as ingeligte, deernisvolle volwassenes in ’n diverse samelewing te kan funksioneer. Multikulturele kinderliteratuur is eintlik ’n geheime wapen om vooroordele te bestry, rassistiese gedrag aan te spreek en begrip vir ander se situasies te kweek (Du Plessis 1992:28–9).

Die uitgewersbedryf – uitdagings, realiteite en die gevaar van tokenisme

Wanneer ons vra waarom daar steeds leemtes in die Afrikaanse kinderboekmark bestaan, moet ons krities na die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf kyk. Uitgewers funksioneer immers nie op ’n eiland nie en is ’n besigheid; hulle word beïnvloed deur ekonomiese, politieke en maatskaplike realiteite (Du Plessis 1992:42).

  1. Ekonomiese druk en markgrootte

Die Afrikaanse mark vir boeke is eintlik nogal klein, veral as die skolemark buite rekening gelaat word. Hoewel Afrikaans deur miljoene Suid-Afrikaners oor verskillende rasse- en sosio-ekonomiese klasse heen gepraat word, is die groep wat gereeld nuwe kinderboeke kan bekostig en dit wel koop, histories beperk. Boeke word dikwels as ’n luukse artikel beskou, veral in gemeenskappe waar die finansies druk, enkelouergesinne die norm is of waar kinders saam met uitgebreide familie woon weens finansiële beperkinge of selfs werkloosheid (Du Plessis 1992:43). Suid-Afrika het immers die tweede hoogste werkloosheid syfer ter wêreld.

Die hoë koste van volkleurillustrasies en -drukwerk maak dit vir uitgewers ’n finansiële risiko om nuwe, onbeproefde stemme te publiseer (Du Plessis 1992:43). Verder is daar die uitdaging van vertaling en veeltaligheid. ’n Kwessie wat onlangs baie meer aandag geniet, waar boeke soos die Tippie-reeks in Afrikaans, Engels en isiXhosa beskikbaar is. Daar is egter altyd geld betrokke wanneer ’n boek vir verskillende taalgroepe gepubliseer moet word (Du Plessis 1992:43). Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika uniek is, omdat ons 12 amptelike landstale het, waarvan gebaretaal nie as geskrewe ekwivalent ingereken word nie.

  1. Tokenisme en resepmatige stories

In ’n poging om aan die eise van diversiteit te voldoen, trap sommige skrywers en uitgewers in ’n gevaarlike strik: die skepping van oppervlakkige of geforseerde “multikulturele” en polities korrekte boeke.

Du Plessis verwys na die kritici L Gerhardt (1991), E Dyer (1978) en G Kruse (1992) wat waarsku teen twee verskynsels: tokenisme en resepmatige skryf.

Tokenisme (simbool-verteenwoordiging) is wanneer ’n skrywer of uitgewer bloot ’n oorspronklik wit, dikwels Eurosentriese verhaal neem en sonder deurdag ’n donkerder gesiggie in die illustrasies invoeg om aan ’n polities korrekte vereiste te voldoen, sonder dat die kultuur of konteks hersien of oor besin is (Du Plessis 1992:35).

Resepmatige skryf gebeur wanneer ’n storie volgens ’n gevestigde resepmatige formule geskryf word om ’n sekere sosio-politieke les voor te hou of te preek, ten koste van literêre gehalte, goeie karakterisering en ’n lekkerleesstorie (Du Plessis 1992:35).

Beide van hierdie praktyke is ruim gebruik voor die 2000’s en resepmatige skryf was al male sonder tal voor die deur van geslaagde en gerekende reeksboeke neergegooi. Van die Maasdorp-reeks tot Professor Fungus en Jamie en Sebastiaan.

’n Boek wat as ’n venster dien vir ’n kind wat lees oor ’n wêreld en karakters wat anders is as sy eie, behoort ’n boek van dieselfde kwaliteit en literêre waarde te kan geniet. Dit behoort nie net ’n afmerkoefening te wees nie en ’n kind kan dit ’n myl ver sien kom.

  1. Nuwe en outentieke stemme

Du Plessis noem in haar studie dat ’n skrywer se motivering altyd eerlik en opreg moet wees. Wit skrywers wat oor ander kulture se ervarings skryf, moet dit met diepgaande navorsing, empatie en insig doen (Du Plessis 1992:33). Nog belangriker is egter die aktiewe ontginning en ondersteuning van outentieke skrywers en illustreerders uit alle gemeenskappe. In 2026 kan ons met trots sê dat daar ’n reeks jong stemme skryf oor hul ervarings uit al die uithoeke van die Afrikaanse diversiteit. Om enkeles te noem:

  • Cliffordene Norton se boeke Om jou te ken, Ek sal vir jou veg, Hoe haal ek nou asem? en meer onlangs Los bietjie plek vir magic, uitgegee deur Tafelberg, vul hierdie leemtes met gemak.
  • Bianca Flanders se Prinses Pampoenpit-boeke en die gesprekke oor dogtertjies se hare wat anders is, is juis die tipe stories wat ons land se kinders nodig het.
  • Keith Juluka, ’n jong swart Suid-Afrikaanse musikant, kunstenaar en komediant wat op sosiale media bekend geword het vir sy Afrikaanse kletsrymliedjies, het onlangs Gunsteling in boekvorm uitgegee.

Daar is nog baie meer en dit is die moeite en leesplesier werd om deur die vensters te gaan loer en te lees oor ander se stories.

Waarna moet ons kyk?

Wanneer ouers, oumas, oupas, tannies, onderwysers, resensente en biblioteekpersoneel boeke vir kinders kies, kan die volgende kriteria as riglyne dien:

  • Akkuraatheid en balans: Word die spesifieke kultuur of leefwêreld feitelik en kontekstueel korrek weergegee sonder om te veralgemeen? (Du Plessis 1992:36)
  • Menswaardigheid: Word die karakters as volwaardige individue met goeie, sowel as minder goeie eienskappe uitgebeeld, eerder as net stereotipes? (Du Plessis 1992:36)
  • Getrouheid in illustrasies: Is die visuele uitbeelding getrou aan die realiteit en die tydvak waarin die verhaal afspeel? Wees juis bedag op illustrasies uit tye waar byvoorbeeld swart persone met oordrewe liggaamsdele uitgebeeld word om inherent met hulle andersheid te spot (Du Plessis 1992:37).
  • Natuurlike taalgebruik: Word kunsmatige of spottende taalgebruik vermy, terwyl eiesoortige, kleurryke taalgetrouheid behou word? Byvoorbeeld die verskil van ’n kru of vloekwoord, teenoor die gebruik van “djy” en “awê” om spreektaal weer te gee. Vergewe dan ook maar hierso die meng van Afrikaanse en Engelse woorde – tieners deesdae praat so (Du Plessis 1992:37).
  • Vermy prekerigheid: Word universele waardes en morele lesse deur die handeling verweef, sonder dat die teks in ’n politieke of sedeles ontaard? Daardie boeke wat meer soos ’n lewensoriënteringles voel as ’n lekkerleesstorie, wen geen tieners se hart vir lees nie (Du Plessis 1992:37–8).
  • Positiewe invloed op selfbeeld: Bemagtig die boek die jong leser om trots te voel op sy of haar identiteit en aspirasies te koester vir die toekoms? Is daar ’n gevoel van hoop vir die toekoms, dat die karakter gegroei het deur die verhaal en so ook die potensiaal vir die leser om te groei deur die boek te lees? (Du Plessis 1992:39)

Maak ’n boek oop – maak ’n deur oop

In die Afrikaanse kinderboekliteratuur bevind ons, ons tans op ’n opwindende en interessante plek. Ons het al lankal verby die homogene, uitsluitende literêre landskap van die verlede beweeg. Daar is toenemend pragtige voorbeelde van boeke wat as getroue spieëls én vensters dien deur skrywers en illustreerders wat al die mooi van ons land en sy mense in ’n storie probeer vasvang. Ondersteun hierdie skrywers, illustreerders en hul boeke waar jy kan; dit maak ’n verskil.

Die werk van stories vertel is nog lank nie afgehandel nie. Daar is nog baie stories wat geskryf en vertel moet word vir elke Afrikaanssprekende kind – van die Kaapse Vlakte tot die Karoo, van plattelandse dorpe tot stedelike woonstelle en plakkersdorpe. Al moet ons soms die venster breek om by mekaar se stories uit te kom.

Verwysings

Du Plessis, C.W. 1992. Multikulturele kinderlektuur in die Suid-Afrikaanse samelewing. M.A.-skripsie. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit (UJ). https://eu-st01.ext.exlibrisgroup.com/27UOJ_INST/storage/alma/B4/16/3E/95/FD/29/F9/37/1F/59/61/BB/40/8E/00/65/uj_12283%2BCONTENT1%2BCONTENT1.1.pdf?AccessRightAllowDownload=true&Expires=1791274463&Signature=W4r5ZfZtkWNsZ8Zr134XEO-F7K9mcdbkbeJoVXLEwGQPwx9w~EoKqPRYqpdww8sD5qg3xYb5YtAnCwO2Sbfic2Sb-rIYA~7JzkdRsoDvd~z14Jl3LlWP6mLS8SA9BllqeoJZygXndrPG75qFOmYE7o72hbLFaoSlr-3oOVZ-Cygw0309aBza7Tjf7TM8M7lF5bSPiny0wAiEKXmbEJNZd6q8tvB3MYORCI~9o8DT5YWx5IvR~1x4Ckm4GsSjxSBMLPm3uQt9E1yoRBAf9Xx7VtBjQSGFGyCMWTUIAiWiOL3NpSyxS1RzZUMPU7U1g8eIIp0HDpp-r12OfIMNG-bZDg__&Key-Pair-Id=APKAJ72OZCZ36VGVASIA (30 Augustus 2026 geraadpleeg).

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Van ekostories tot eko-angs – die planeet in die kinderboek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top