Herrie van Rooy en Jorrie Jordaan was lede van die begeleiding- en redaksiekomitee van die 2020-Bybelvertaling – Herrie as kenner van die Ou Testament en Jorrie as deskundige op die gebied van die Nuwe Testament. In hierdie gesprek bespreek hulle kernvrae oor die wyse waarop vertalers met die bronteks van die Bybel omgaan.
Besoek die invalsblad van die miniseminaar hier om al die bydraes te lees: Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling
Watter brontekste is vir die vertaling van die Ou Testament en die Nuwe Testament vir die 2020-vertaling gebruik?
Herrie van Rooy: Vir die Ou Testament is die Biblia Hebraica Stuttgartensia as basisteks gebruik. Die basiese teks wat in hierdie uitgawe gedruk is, kom van die codex leningradensis. Die oorspronklike manuskrip is in ’n museum in St Petersburg, wat tydens die kommunistiese tydperk as Leningrad bekend gestaan het. Dit is die herkoms van die leningradensis in die naam van die uitgawe wat vir die 2020-vertaling gebruik is. Die codex leningradensis is die oudste volledige manuskrip van die Hebreeuse Ou Testament en dateer uit 1008/9 na Christus. Die Biblia Hebraica Stuttgartensia word deur die Duitse Bybelgenootskap uitgegee wat in Stuttgart in Duitsland gesetel is. Die afkorting wat vir hierdie uitgawe gebruik word, is BHS.
Jorrie Jordaan: Vir die vertaling van die Nuwe Testament is die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se vierde hersiene uitgawe van die Griekse Nuwe Testament as basisteks gebruik. Die uitgawe het in 1994 verskyn, en word kortweg aangedui as UBS4corr, op spoor van die Engelse naam United Bible Societies. Die vertalers het egter ook die teks in die 26ste en 27ste uitgawes van Nestle-Aland se Novum Testamentum Graece en ander onlangse teksuitgawes oorweeg.
Verskil dit van die brontekste wat vir die 1933/53- en 1983-vertalings gebruik is?
Herrie: Die 1933/53-vertaling het gebruik gemaak van die tweede uitgawe van Kittel se Biblia Hebraica. Om dit te onderskei van die Biblia Hebraica Stuttgartensia staan die eerste drie uitgawes van die Biblia Hebraica deesdae bekend as die Biblia Hebraica Kittel. Die tweede uitgawe is in 1913 gepubliseer. Die Hebreeuse teks wat in daardie uitgawe opgeneem is, is afkomstig van die sogenaamde Bombergbybel. Dit is in vier volumes gedruk tussen 1517 en 1519. Die teks in die tweede uitgawe van daardie Hebreeus teks (die Mikra’ot Gdolot) het die standaardteks gebly vir die gedrukte Hebreeuse Ou Testament tot voor die derde uitgawe van die Biblia Hebraica. Hierdie derde uitgawe is in los aflewerings gepubliseer tussen 1929 en 1939 (met die volledige uitgawe in 1939); die vertalers van 1933 kon dus dalk van die eerste gedeeltes gebruik het. Die Hebreeuse teks van die derde uitgawe van die Biblia Hebraica is die teks van die codex leningradensis, die oudste volledige teks van die Hebreeuse Ou Testament. Die hersieners van die 1933-vertaling in 1953 kon wel van hierdie derde uitgawe gebruik gemaak het. Die verskille tussen die teks in die Bombergbybel en die codex leningradensis is min en van mindere belang. Die 1983-vertaling en die 2020-vertaling het albei gebruik gemaak van die Biblia Hebraica Stuttgartensia, wat ook die codex leningradensis as basiese teks bevat. Baie min van die verskille tussen die 1933/53-vertaling, die 1983-vertaling en die 2020-vertaling kan aan verskille in die grondteks toegeskryf word. Dit hou eerder verband met verskillende maniere van vertaling en verskillende maniere waarop probleme in die Hebreeuse teks hanteer word. Hieroor word meer gesê in antwoord op een van die volgende vrae.
Jorrie: Die 1933/53-vertaling het die sogenaamde Textus Receptus as bronteks gehad. Die 1983-vertaling is gedoen uit die eerste uitgawe van die UBS-teks, wat in 1966 verskyn het. Die teks van die eerste uitgawe verskil baie min van dié van die vierde uitgawe wat die 2020-vertalers gebruik het. Die Textus Receptus, daarenteen, dateer uit die 17de eeu. Soos die naam aandui, is die Textus Receptus vir ’n lang tyd as standaardteks van die Griekse Nuwe Testament aanvaar en het dit groot aansien by die kerke geniet. Dit berus egter nie op ’n behoorlike wetenskaplike oorwegings van manuskripgetuienis nie. Die samestellers het bloot die teks wat hulle in die paar Griekse manuskripte wat destyds vir hulle beskikbaar was, geneem en dit laat druk. Hoewel die Textus Receptus nie ’n onbetroubare teks bevat nie, is dit so onwetenskaplik saamgestel, sonder enige behoorlike studie van ander manuskripte van die Griekse Nuwe Testament, dat dit op die lang duur vervang moes word. In die 20ste eeu is dit dan ook vervang deur uitgawes wat saamgestel is nadat duisende ou manuskripte geraadpleeg is en op wetenskaplike manier met mekaar vergelyk is. Die bekendste uitgawes is dié van Nestle-Aland en die Wêreldbond van Bybelgenootskappe, of dan die UBS-uitgawes.
As ’n mens vra na die mate waarin die Textus Receptus en die UBS-teks van mekaar verskil, verkies ek om aan die positiewe kant te begin deur te noem dat daar ’n bykans 98%-ooreenkoms is. Die 2% verskille tussen dié twee uitgawes word op ongeveer 6 500 plekke gevind. Die meerderheid hiervan is egter so klein dat dit nie in vertalings gesien kan word nie en uiteindelik maar min verskil aan eksegese maak. ’n Mens kan daarom nie, soos soms gedoen word, beweer dat een van hierdie uitgawes ’n vervalste teks bevat of die boodskap van die Nuwe Testament verdraai nie. Hoogstens kan gesê word dat die teks van die Textus Receptus wetenskaplik gesproke op ’n onnoukeurige manier saamgestel is deur die getuienis van slegs enkele manuskripte in ag te neem. Die UBS-teks berus egter op deeglike voorafgaande tekskritiese studie wat tot gevolg gehad het dat elke lesing met groot sorg uit die groot aantal variante lesings (eklekties) uitgekies is.
Hoe is hierdie brontekste saamgestel?
Herrie: Die verskillende boeke is vir baie eeue in manuskripte wat met die hand geskryf is, oorgelewer. In die tyd voor die Nuwe Testament, en selfs daarna, is die boeke in boekrolle geskryf en so oorgelewer. Sommige geleerdes meen dat die Hebreeuse Ou Testament in 16 sulke boekrolle oorgelewer is, terwyl sommige selfs dink aan 22 of 24 rolle. Dit is onwaarskynlik dat baie mense in die tyd voor die Nuwe Testament oor al hierdie rolle sou beskik het. Die Kodeks is eers in die tyd na Christus ontwikkel en was, wat die vorm betref, die voorloper van die moderne boek. ’n Kodeks kan baie meer teks as ’n boekrol bevat. So is die codex leningradensis so groot dat dit die hele Hebreeuse Ou Testament bevat. Daar was dus vir eeue baie boekrolle met dele van die Ou Testament in omloop. Later het kodekse gevolg. Teen die 10de eeu nC was die basiese vorm van die Hebreeuse Ou Testament in groot kodekse gestandaardiseer. Die beste een is die Aleppo-kodeks, wat egter in ’n brand beskadig is en nie meer volledig beskikbaar is nie. Die codex leningradensis is die oudste volledige Hebreeuse Ou Testament.
Vir die samestelling van antieke tekste, soos die Ou en Nuwe Testament, kan twee verskillende benaderings gevolg word, wat onderskeidelik sogenaamde eklektiese en diplomatieke uitgawes lewer. Die een benadering is nie noodwendig beter as die ander nie. Vir die gedrukte Nuwe Testament wat vir die 2020-vertaling gebruik is, is ’n eklektiese benadering gevolg, soos hier onder aangedui word. Vir so ’n teks word in elke geval waar daar ’n verskil in die lesings van verskillende manuskripte is, ’n keuse gemaak. Alternatiewe lesings (en soms die beoordeling van die sekerheid van ’n keuse) word in voetnote aangedui, met ’n aanduiding van watter lesing in watter manuskripte of ou vertalings voorkom. Hierdie benadering word ook gevolg in die groot standaarduitgawe van die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint).
Die Biblia Hebraica Stuttgartensia is ’n diplomatieke uitgawe, soos ook die verkillende uitgawes van die Biblia Hebraica Kittel. In ’n diplomatieke uitgawe besluit die redakteurs van die uitgawe wat, na hulle oordeel, die beste manuskrip is. Daardie teks van daardie manuskrip word dan in die uitgawe gedruk, soms met die regstelling van ooglopende foute. Moontlike alternatiewe lesings word dan in voetnote opgeneem, met ’n aanduiding van die redakteurs se voorkeur (die teks in die manuskrip of die alternatiewe lesing in die voetnoot). Omdat daar baie min wesentlike verskille tussen al die Hebreeuse manuskripte sedert die 10de eeu is, is so ’n diplomatieke uitgawe waarskynlik die beste vir die Hebreeuse Ou Testament. In die voetnote word gegewens aangetref uit ander Hebreeuse manuskripte, soos veral die Dooie See-rolle, en uit die belangrikste antieke vertalings, soos veral die Septuagint (Grieks), Vulgaat (Latyn), die Targums (Aramees) en die Pesjitta (Siries). Die Hebreeuse manuskripte is veral in Joodse kringe oorgelewer, en so ook die Targums. Alhoewel die Septuagint aanvanklik deur Jode vertaal is, is dit veral in Christelike kringe oorgelewer. Die Vulgaat en Pesjitta is deur Christene vertaal en in Christelike kringe oorgelewer.
Jorrie: Vir die eerste 15 eeue nadat die Nuwe Testament geskryf is, is dit in die kerke versprei deur handgeskrewe afskrifte daarvan te maak. Vandag is daar meer as 5 000 van hierdie afskrifte, oftewel manuskripte, wat bewaar gebly het. So het dit gekom dat die teks van die Griekse Nuwe Testament wel deeglik beskikbaar was teen die tyd dat dit na die uitvinding van die boekdrukkuns in gedrukte vorm uitgegee kon word.
Vir die uitgewer van so ’n gedrukte teks is dit egter nodig om ’n keuse te maak oor watter manuskrip se teks hy gaan volg, want die teks in die manuskripte stem nie presies ooreen nie. Soos dit maar altyd die geval met handgeskrewe afskrifte is, kom daar skryffoute voor, tot so ’n mate dat daar nie twee manuskripte is wat presies woordeliks ooreenkom nie. Die eerste gedrukte uitgawes, onder andere die Textus Receptus, het maar volstaan deur die teks van die eerste die beste manuskrip te druk. Dit het egter gou geblyk dat die verskille in die manuskripte bestudeer moet word en ’n verantwoordbare keuse tussen die verskille gemaak moet word. So is die wetenskap van die tekskritiek gebore. In die loop van die laaste twee eeue is tekskritiek ontwikkel en uitgebou tot ’n metode wat vandag as gematigde eklektisisme bekendstaan. Hierdie metode is gevolg met die samestelling van die Griekse Nuwe Testament van die UBS.
Gematigd-eklektiese tekskritiek se vertrekpunt is dat die oudste manuskripte waarskynlik die naaste aan die oorspronklike teks lê. Hoe minder tussengangermanuskripte daar tussen ’n bepaalde manuskrip en die oorspronklike geskrif was, hoe kleiner is die kans dat oorskryffoute kon ingesluip het. Daarom word die ouderdom van elke manuskrip so na as moontlik bepaal as ’n belangrike oorweging vir die keuse van variante lesings. Boonop word ander vroeë teksgetuies ook geraadpleeg, soos antieke vertalings van die Nuwe Testament in byvoorbeeld Latyn, Siries en Kopties. Ook aanhalings deur die vroeë kerkvaders in preke en kommentare, asook aanhalings in liturgiese materiaal van die kerk word in ag geneem. Deur al hierdie getuies met mekaar te vergelyk, maak die wetenskaplikes dan ’n verantwoordbare keuse oor watter manuskriplesings in die gedrukte uitgawe geplaas moet word. Op hierdie manier is die teks van die UBS4corr saamgestel.
Hoe het die vertalers en die redaksionele komitee die bronteks en tekskritiese probleme hanteer?
Herrie: Die vertalers het probeer om die Hebreeuse grondteks so getrou as moontlik te volg. In ’n diplomatieke uitgawe kan dit gebeur dat daar probleme in die teks is, met die gevolg dat die Hebreeuse teks doodeenvoudig nie vertaal kan word nie. In sulke gevalle moes die vertalers dan na ’n oplossing soek. Dikwels sou die voetnote in die BHS kon help om ’n probleem op te los. Soms moes die vertalers self na verdere inligting gaan soek. Sommige kommentare het soms voorstelle gehad hoe om ’n probleem op te los, maar soms moes die vertalers self na byvoorbeeld die ou vertalings gaan kyk. Sommige kommentare maak ook soms voorstelle om die teks te wysig waar daar nie juis ’n probleem in die teks is nie. Oor sulke voorstelle was die vertalers baie skepties. Die BHS se voetnote is nie altyd volledig genoeg om alle moontlikhede te noem waar daar probleme is nie. Die Dooie See-rolle het ook in sekere gevalle gehelp om probleme op te los. ’n Mens moet onthou dat die Hebreeuse tekste van die Dooie See minstens 1 000 jaar jonger is as die teks van die codex leningradensis, wat die basiese teks van die BHS was. Heelwat van die Dooie See-rolle was nog nie gepubliseer toe die BHS saamgestel is nie, sodat daardie tekste goed oorweeg moes word.
Die basiese uitgangspunt was om sover as moontlik die grondteks van die BHS te volg. Die benadering van die vertalers was dus tekskrities konserwatief, om nie maar sommer maklik van die grondteks af te wyk nie. Soms is die grondteks moeilik om te verstaan, maar tog kan ’n mens daarvan sin maak. In sulke gevalle sou die vertalers die moeiliker lesing van die teks gevolg het, en nie sommer probeer het om die teks makliker te maak om te verstaan nie.
Die probleem kan met ’n voorbeeld verduidelik word. 1 Samuel 13:1 is in die Hebreeus letterlik: “Saul was een jaar oud toe hy koning geword het en hy het twee jaar oor Israel regeer.” Aan die begin van die vers word ’n formule gebruik om ’n koning se ouderdom by troonbestyging uit te druk. Hier is ooglopend ’n probleem in die teks. Verskillende vertalings los die probleem op verskillende maniere op.
1933/53: Saul het ’n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het ... (Hier word die ouderdomsformule geïgnoreer. Dieselfde gebeur in die 1983-vertaling.)
1983-vertaling: Saul het al ’n jaar of twee oor Israel geregeer ...
2020-vertaling: Saul was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy twee jaar lank oor Israel regeer.
In ’n voetnoot word verduidelik dat die “dertig jaar oud” enkele manuskripte van die Septuagint volg en dan word ’n letterlike vertaling van die Hebreeus gegee om die probleem duidelik te maak. Wat die twee jaar betref, meld die voetnoot dat hier dalk ’n deel van ’n getal moes uitgeval het en dat Handelinge 2 en die Joodse geskiedskrywer Josefus van veertig jaar praat.
Hierdie voorbeeld maak dit duidelik dat wanneer daar van die grondteks in die 2020-vertaling afgewyk word, ’n voetnoot dit verduidelik en motiveer.
Jorrie: Hoewel die vertalers UBS4corr getrou as bronteks gebruik het, was daar aan hulle die ruimte gelaat om, waar nodig, met goeie motivering daarvan af te wyk en ’n ander lesing te volg. Die vertalers het daarom die pad gevolg om by plekke in die teks waar daar onsekerhede bestaan, deeglike studie te doen en ’n eie keuse te maak. Waar hulle dit dan nodig gevind het, het die vertalers hulle keuse in ’n voetnoot gemotiveer. Voetnote is ook gebruik om tekskritiese probleme of interessanthede wat by ’n bepaalde lesing voorkom, te noem. Veral waar die 2020-vertaling as gevolg van die grondteks wat gebruik is van die 1933/53-vertaling of 1983-vertaling verskil, is dit telkens in ’n voetnoot verduidelik. Uiteindelik is daar in die 2020-vertaling 105 voetnote waarin tekskritiese kwessies van een of ander aard hanteer word.
ʼn Voorbeeld van so ’n voetnoot kom in die 2020-vertaling voor by Openbaring 8:13. Die UBS4corr-teks bevat ’n lesing wat soos volg vertaal kan word: “Ek het ’n arend gesien wat hoog in die lug vlieg.” Die 2020-vertaling lui egter: “Ek het ’n engel gesien wat hoog in die lug vlieg” en het die volgende voetnoot daarby geplaas: “Op grond van sterk manuskripgetuienis en die inhoud van Openbaring word die lesing ‘engel’ hier gevolg.” Die voetnoot is ’n kort samevatting van deeglike studie en beredenering deur die Redaksiekommissie van die vertalers wat in hulle notules volledig opgeteken is en bewaar word.
Lees ook op LitNet:
Christo H.J. van der Merwe: Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling?
Henning Snyman: ’n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: ’n Direkte Vertaling)
Pieter GR de Villiers: Afrikaans se grootste topverkoper
Kommentaar
Tog jammer dat geen Joodse kenners van die Tanakh of Hebreeuse Bybel (volgens Christene die sogenaamde Ou Testament) by die vertaalprojek betrek is nie. Dit sou kon gehelp het om ten minste die orde van die boeke van hierdie gedeelte van die Christelike Bybel te herstel en die vertaling te bevry van die Christelike kaping en toeëiening van 'n stel boeke wat nie rêrig vir hulle geskryf is nie.
Bybelvertaling is 'n onderwerp wat my nou al verskeie jare fassineer. Die kompleksiteite waarmee gewerk word verstom my. Wat my meer verstom, is dat ons wel 'n leesbare, verstaanbare Bybel in die hand kan neem en dit lees. Vergelyk byvoorbeeld die werklike direkte vertaling uit Grieks en die weergawes wat ons te lese kry in die interliniêre Bybel ‒ Nuwe Testament. Dit is 'n wonderwerk op sy eie. Dankie vir 'n besonder interessante artikel.