Jorrie Jordaan

Gert Johannes Cornelis (Jorrie) Jordaan is gebore op 23 Februarie 1951, distrik Groblersdal, waar hy in 1968 matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen. Vanaf 1969 studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en verwerf B.A., M.A. (Grieks), Th.B. en D.Litt. (Grieks). As deel van laasgenoemde doen hy navorsing oor Nuwe-Testamentiese Paleografie en Tekskritiek aan Princeton Theological Seminary, V.S.A.

Van 1973 tot 1982 is hy ’n dosent in Grieks aan die PU vir CHO. Daarna dien hy as predikant van Gereformeerde Kerke onderskeidelik in Viljoenskroon/Bothaville en Vanderbijlpark-Oos. In 1989 word hy aangestel as professor in Nuwe-Testamentiese vakke aan die Teologiese Skool Potchefstroom en die Fakulteit Teologie van die PU vir CHO (die latere Noordwes-Universiteit). In hierdie tyd tree hy ook op as redakteur van Die Kerkblad en later as rektor van die Teologiese Skool. Hy is die outeur van 3 akademiese boeke en 32 artikels in vaktydskrifte, en dien op ’n aantal deputaatskappe van die Gereformeerde Kerke in S.A. Hy was van die begin af by die vertaalprojek van die 2020-Bybelvertaling betrokke. Hy was lid van die Loodskomitee, van meer as een vertaalspan, die Redaksionele Komitee van die Nuwe Testament, en die Begeleidingskomitee.

In 2016 emeriteer hy. Hy is sedert 2020 woonagtig in Die Oog Aftreelandgoed naby Naboomspruit (Mookgopong) aan die voet van die Waterberge. Hy is getroud met Hanlie (Venter), en hulle het 4 kinders en 10 kleinkinders.

Gesprek: Hoe gaan ’n Bybelvertaler om met die bronteks van die Ou en Nuwe Testament?

Herrie van Rooy, Jorrie Jordaan Seminare en essays 2021-05-25

In die derde bydrae tot LitNet se miniseminaar oor die 2020-Bybelvertaling bespreek Herrie van Rooy en Jorrie Jordaan kernvrae oor die wyse waarop vertalers met die brontekste van die Bybel omgaan.

Top