Geloof en die digkuns: ’n gesprek met Heilna du Plooy

  • 4

Pieter GR de Villiers voer ’n gesprek met Heilna du Plooy oor Pieter Verster se LitNet Akademies-artikel “’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)”.

.............

Heilna du Plooy (Foto: verskaf)

Die artikel wat by LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) oor Christelike digkuns verskyn het, is deur ’n teoloog met ’n sterk belangstelling in letterkunde geskryf. Dit sou waardevol wees om jou siening as nieteoloog oor die tema te hoor. In jou vele publikasies, navorsingsartikels, digbundels en ’n roman, asook in jou betrokkenheid by Psalm-omdigting en Bybelvertaling merk ’n mens ’n belangstelling in godsdiens en sekere belangrike godsdienstige temas. Jy is ook ’n gerekende akademikus oor literatuurwetenskap en boonop ’n gepubliseerde digter uit eie reg. Kan jy meer sê oor waar jou belangstelling vandaan kom? Hoe is jou siening van godsdiens gevorm en wat is die rol wat dit in jou eie skeppende en akademiese werk speel?

Vooraf moet ek sê dat dit goed is dat daar gesprekke oor godsdiens gevoer word en ook oor godsdiens en letterkunde saam. Of mense godsdiensbeoefenaars is of nie, bly die religieuse as ’n dimensie van menswees iets wat nie ontken kan word nie. Vandaar waarskynlik dat selfs ongelowige en ateïstiese filosowe en geleerdes nogtans oor religie as onderwerp bly skryf en bespiegel. Wat myself betref, beskou ek my eie ervaring van godsdiens op geen manier as die reël of ’n norm nie: Dit is en bly ’n persoonlike saak hoe iemand godsdienstige ervarings beleef, hoe iemand kennisgemaak het met of blootgestel is aan interpersoonlike en wyer religieuse invloede en ook hoe daardie persoon daarop gereageer het. En ek is nֶóg ’n teoloog nóg ’n absolute kenner van Christelikheid in die kunste.

Uiteraard bestaan ek ook as gelowige mens in die gewone wêreld en ek besef hoe mens opgevoed is en ook hoe die dinge en idees wat jy in jou lewe teëgekom het – byvoorbeeld alles wat ek van my jeug af en ook as letterkundige en as akademikus gelees en beleef het – hoe alles tesame tot jou vorming en ontwikkeling bydra. ’n Mens ontdek voortdurend skrywers, teoretici en filosowe wat skryf oor die verhouding tussen religie en letterkunde en dan kom jy weer onder die indruk hoeveel gesigspunte daar bestaan op ’n saak en hoeveel skakeringe van insig en opvatting daar bestaan. Die meeste daarvan is waardevol, maar (gelukkig!) kan (en hoef) mens nie alles altyd te verreken en onthou en (nog minder) beoefen nie. Daarom is my deelname aan hierdie gesprek, op persoonlike en akademiese vlak, beperk en geensins bedoel om normatief of konklusief te wees nie.

Ek het grootgeword in ’n huis waarin godsdiens belangrik was. Die Bybel en die verlossing van Christus was die basis waarop ons lewe geskoei was. Ek moet egter dadelik bysê dat dit in ’n sekere sin ’n spesifieke soort Christelikheid was. My ouers was beide onderwysers en my pa was ook baie goed onderlê in die gereformeerde teologie. Elke aand met huisgodsdiens het hy nie net Bybelgeskiedenis aan ons oorgedra nie, maar ook die kernbegrippe van die Christelike geloof aan ons verduidelik. Soms was ons as gesonde lewendige kinders nie baie lus vir die “katkisasieles” nie en het ons gedagtes (myne gewis) maar gedwaal, maar op die duur het dit sterk tot ons vorming bygedra. Ons godsdiensbeoefening was nie sentimenteel of piëtisties nie, maar weldeeglik toegewyd: Ons is bewus gemaak daarvan dat daar beginsels is, beginsels wat uit die Bybel kom, waaraan ’n mens kan en moet vashou – nie soseer in die sin van ’n lys verbode dinge nie, maar in die sin van toerusting sodat jy in staat is en moet wees om wat oor jou pad kom te kan oordeel en beoordeel en te kan hanteer. Hierdie beginselraamwerk is vertroostend, dit is ’n beskerming – dis nie ’n lys van restriksies nie, maar ’n fondament waarvandaan jy vertrek om die wêreld te verken sonder vrees. En hierdie beginselraamwerk het vir ons berus op die Bybel en die gereformeerde leer, nie kerkisties nie, maar volgens die belydenisskrifte en die Bybel as vaste norm. En dan is ek ook met ’n teoloog getroud, nie omdat hy ’n teoloog is nie, maar omdat hy vir my mooi en sterk was toe ek hom leer ken het. En nog steeds is.

Eers later in my lewe het ek in volle mate besef hoe waardevol hierdie basis wat in my ouerhuis gelê is, vir my is. Godsdiens is nie ’n aparte kompartement in mens se lewe nie, dit is gewoon deel van alles wat jy is en doen. Jy hoef nie heeldag daaroor te loop en deklameer nie, jy kan dit rustig aanvaar en beleef en uitleef. Jy is prinsipieel gekodeer, maar dit beteken nie dat alles altyd goed en reg verloop nie. Die lewe is nie in hokkies en vakkies ingedeel nie en ’n mens se gees ook nie. Daar is dus ’n inherente spanning in (selfs die gewoonste aspekte van) die alledaagse lewe ingebou wat ’n mens dwing om voortdurend aanpassings te maak. Vir my het dit gehelp om te weet dat daar ’n groot patroon is wat ek nie volledig ken of kan ken nie en wat ek ook nie volledig verstaan nie. Dit kan tog nie wees dat alles wat ons sien en ervaar, net oppervlak is nie – daarvoor is daar te veel patroonmatighede wat ons kan waarneem maar nie kan verklaar nie, te veel van alles wat sonder die mens se toedoen funksioneer. Die stabiliteit in die bestaan van mense en die aarde word dikwels versteur, en soms op ’n gruwelike wyse, maar dit is dan tog of daar weer balans kom, al duur dit soms baie lank. Daarom kon ek nog altyd die bestaan van God en die verlossing van Christus aanvaar.

Daar was vir ’n lang tyd ’n sterk afwysende houding teenoor die onderwerp van godsdienstige en christelike gedigte – plaaslik, maar ook elders in die wêreld. Kan jy iets meer hieroor sê? Wat was die redes hiervoor?

Etienne Leroux (Foto: Wikipedia)

Die letterkunde, en miskien veral die poësie, is baie gevoelig vir wat in die werklikheid gebeur. Dit weerspieël die opvattings en vraagstukke wat mense in die werklikheid op ’n bepaalde historiese moment beleef. Ek kon nog nooit vasstel, of selfs eers raai, wat kom eerste nie. Soms lyk dit asof die kunstenaars hulle tyd vooruit is. Dan skryf hulle oor tendense voordat daardie tendense in die werklikheid sigbaar raak (Shakespeare is soms eg dekonstruktief!). Soms lyk dit of die filosowe eerste is en ’n invloed op die mensdom se denke het, maar soms gebeur dit juis nie so nie. En of die filosowe eerste is en die literatuurteoretici hulle volg of andersom, is ook nie altyd duidelik nie. Literatore lees soms iets raak in ’n teks wat nog nie eers ’n naam het nie. En soms lees ons agterna dinge in ’n teks raak wat ten tye van die verskyning van daardie teks nie raakgesien is nie en wat terugskouend voortekens blyk te wees. 18-44 van Etienne Leroux het in 1968 verskyn, maar is grondig postmodernisties in sy bevraagtekening van aannames, in sy radikale stylvernuwing en in die tematiek wat in verskillende verhaallyne ontwikkel word. Ek het omtrent in 2005 my eerstejaars Die mugu van Leroux laat lees en een student het opgewonde kom sê dis die “coolste” boek ooit en kon nie glo die boek kom uit 1959 nie.

Hiermee wil ek daarop wys dat in historiese tydperke waarin daar nie oor christelike temas gedig word nie, of waarin die Christendom afgekraak word, die skrywers gewoon in sinchronisasie is met die afkeer van godsdiens in die werklikheid waarin hulle lewe. Of hulle sien dit kom. Dat kunstenaars ’n agnostiese ingesteldheid of die verwerping van godsdiens op ’n wye vlak kan veroorsaak, kan nie bewys word nie. Hoe hierdie verhoudinge uiteenval, is moeilik te omskryf of te verklaar, want dit verloop, soos die werklikheid self, nie volgens vaste patrone nie. Die Modernisme wat aan die einde van die 19de eeu in die Westerse wêreld as ’n stroming in die kunste na vore gekom het en wat ook in die filosofie en teorie bepalend was, het in die bevraagtekening van meesterverhale in die eerste plek die christelike godsdiens as die sentrale meesterverhaal in die Westerse kultuur aangeval en ondermyn. Dit het in die laat 20ste eeu geïntensiveer in die postmodernisme wat inderwaarheid ’n ekstremisering van die modernistiese opvattings is. Die 20ste eeu was nie ’n eeu waarin daar digters soos Gerard Manley Hopkins of Hölderlin na vore sou kom nie. Maar daar was tog wel nog moderniste soos TS Eliot en ons eie Van Wyk Louw wat christelike temas ontgin het.

In Afrikaans het die groot breuk met die tradisionele godsdiens gekom met die beweging van Sestig (wat eintlik maar Afrikaans se Moderniste was) en in Nederland met die Vyftigers. In Nederland en ook in Duitsland (trouens in die hele Europa) het die twee wêreldoorloë natuurlik ook bygedra tot die ontgogeling wat in godsdienstige onverskilligheid en ’n algemene sekularisering oorgegaan het.

Die kulturele konteks is ook ’n faktor in die manier waarop christelike kuns hanteer word in ’n land. In Afrikaans het ons net poësie en prosa en drama wat werd is om gepubliseer te word in ’n enkele letterkundige domein. In Nederlands is daar verskillende “circuits” en die christelike een word as heeltemal apart van die sekulêre een beskou en hanteer. In Amerika het christelike skrywers ook hulle eie kringe waarin hulle skryf en beoordeel word. In Nederland is dit selde dat ’n skrywer wat hom in die christelike circuit bevind of daar gedebuteer het, kan deurbreek na die sentrale circuit.1 In die VSA is daar baie aktiewe Christene oor ’n baie wye spektrum. Sommige is uiters behoudend, byna eng (veral weerskante van die VSA-Kanada-grens) en dit is hierdie skrywers wat so in ’n aparte christelike baan skryf en gelees word. Aan die ander uiterste is daar mense wat hulle geloof beoefen in groot megakerke wat eintlik eenpersoonsgedrewe is en gebou is rondom ’n charismatiese en begaafde sentrale figuur.2 Hierdie soort godsdiens het vir my byna ’n soort vermaaklikheidskarakter in die grootse vertoon waarmee dit gepaard gaan. Van hulle kunstenaars weet ek nie genoeg om my daaroor uit te spreek nie, maar ek weet wel dat hulle in hulle skole kinders aanmoedig om hulle kuns baie spesifiek rondom christelike temas te ontwikkel deur oor bybelse figure en onderwerpe te skilder en te skryf.

Hoe moet ’n mens “christelike” verstaan? Sou ’n mens byvoorbeeld ’n teks as christelik beskou as dit op een of ander manier met die bybelse Christus verband hou? Ek vermoed dat enigiets meer as so ’n losse verbinding dadelik baie verskille sal oproep, soos maar te duidelik is uit die vele christelike kerke wat elkeen ’n eie christelike tradisie het. Wat een persoon as christelik beskou, sal ’n ander een boonop as kettery kan verdoem. ’n Mens sou so ’n gefragmenteerde situasie as ’n bedreiging kon ervaar, soos sommige mense dink wat die verskille as ’n teken van totale verwarring en ongeloofwaardigheid beskou. Of ’n mens sou saam met ander lesers kon argumenteer dat hierdie verskeidenheid ’n teken is van die rykheid van bybelse tekste wat opgeroep is deur vele interpretatiewe grepe op die Christendom se ontstaanstekste. So ’n houding sou beteken dat ruimte geskep word dat christelike gedigte per definisie baie verskillende vorme kan aanneem. Die houding roep egter ander vrae op: Wat is vir jou dit wat ’n “christelike” gedig kenmerk? Kan ’n gedig christelik wees as dit christelike waardes bevraagteken? Sou jy sê dat godsdienstige en christelike gedigte in ons tyd verskil van sulke gedigte uit vroeëre tye?

Mens moet baie versigtig wees in die tipering van veral poësie as “christelik”. Dis enersyds te eng en andersyds te wyd. Baie mense verwag met so ’n etiket duidelike en eksplisiete verwysings na christelike simbole of gebeure, maar daar is baie verskillende soorte christelikheid. Rooms-Katolieke christelike literatuur, waarvan daar baie is, veral uit vroeër eeue, handel dikwels oor simbole en rituele soos die mis, die hostie, die Moeder Maria en ander heiliges. Protestantse christelike kuns sien daar weer anders uit en was veral in die Nederlandse literatuur uit vorige eeue nogal meer dogmaties ingestel, gewis baie sober. So kan mens nog baie ander voorbeelde noem, want binne elke kultuur en styl van aanbidding val die klem anders. Die enigste simbool wat altyd herkenbaar is in al die soorte Christendom is die kruis, maar so ’n simbool kan oorwerk word en self clichéagtig raak.

Aan die ander kant is alle poësie op ’n bepaalde manier besig met die meta-fisiese. Ek gebruik die koppelteken om te beklemtoon dat dit gaan om wat meer is as en wat uitgaan bó die fisiese, wat die konkrete oorstyg. Die poësie is interpreterend met ’n aspek van die werklikheid besig, maar in verskillende tye op verskillende maniere en volgens verskillende style. Erich Auerbach was van mening dat bykans alle Westerse kuns wat sensoriese ervaring weergee, geneties christelik is omdat die christelike tradisie dominant was in die ontwikkeling van hierdie kulture.3 Dit is veels te sterk gestel en in die modernistiese en postmodernistiese tydperke is Westerse kuns eerder doelbewus sekulêr omdat daar ’n radikale skeiding tussen politiek (en al die sosiologiese verskynsels wat daarmee saamhang) en religie ontwikkel het as gevolg die klem op rasionele denke en die idee dat godsdiens ’n private aangeleentheid is.

Dit kan ’n ingewikkelde argument tot gevolg hê, maar ek merk ook oral in die literatuur oor kontemporêre kwessies rondom kuns en religie op dat die skeiding tussen die “sakrale” en die profane opnuut onder bespreking is. Daar is minstens ’n behoefte daaraan om dit weer te bedink. Wat in hierdie argumente as sakraal beskou word – dit wat selfs Derrida beskryf het as ’n verskynsel wat dui op die strewe na suiwerheid, eksklusiwiteit, transendensie, heenwysende na ’n lewe anderkant lewe met die idee van die vermoë tot offer ingesluit – dui minstens op die bestaan van iets wat anderkant en buite rasionele verklaring of intellektuele begrip lê.4 Die strewe om iets vas te vang wat bo en buite die werklikheid lê of om iets bo-werkliks in die gewoonste saak te sien (soos in verskillende soorte mistiek), is belangrike dryfkragte in die poësie, soos ook om iets te verwoord op ’n manier wat durend relevant sal bly. Die strewe na suiwerheid en heiligheid, en selfs na skoonheid, is dikwels in moderne poësie afwesig, maar ek dink tog dat die strewe om tyd te transendeer meestal bewus of onbewus wel aanwesig is. Die digter wil graag later, selfs jare later, nog gelees word en as relevant beskou word, nie noodwendig aktueel in die streng sin van die woord nie, maar ten minste relevant vir menswees in die algemeen of as insiggewend of meevoerend ten opsigte van ’n bepaalde belewenis. Dit is in hierdie sin dat ek ’n ooreenkoms tussen die soort denke waaruit poësie voortkom en religieuse denke sien, dus ’n soortlike prosesmatige ooreenkoms en nie noodwendig ’n inhoudelike ooreenkoms nie.

Die klem wat ek hier lê op abstrakte denke in die poëtiese aktiwiteit, sluit nie uit dat in die afgelope eeu die konkrete aard van poësie (in ’n tegniese sin) deurgaans as ’n belangrike eienskap beskou is nie. Betogende en argumentatiewe verse is tans selde suksesvol (in vorige eeue was dit anders). Konkreetheid in die vers dui daarop dat die gedig die konkrete uitbeeld op ’n manier wat die fisiese bestaan van die onderwerp waaroor die gedig handel, oorskry. Wallace Stevens het gepraat van “the nobility of a thing”. Hoe eenvoudig ’n vers ook al is, sê dit iets, of probeer dit iets sê, wat die beperkinge van die woorde in die gedig en die saak waarna die gedig verwys, transendeer. Dink maar oor ’n hipereenvoudige gedig soos William Carlos Williams se “The red wheelbarrow”. Die rooi kruiwa verkry ’n byna mistieke betekenis (afgesien van die prettigheid daarvan dat elke strofe ook nog lyk soos die profiel van ’n kruiwa).5

Vanselfsprekend is daar baie poësie geskryf wat bedoel is om direk en openlik christelik te wees (in die wye sin van die term). Maar daar is meer variasies as ooreenkomste in hierdie soort literatuur. Daar is die grootse christelike literatuur soos Dante se Divina Commedia (eksplisiet bedoel om te leer en te stig); daar is mistieke verse uit die Middeleeue, soos van Hadewich en Hildegard von Bingen; verse uit die Puriteinse tradisie soos van Anne Bradstreet; daar is die streng Protestants-religieuse hantering van smart soos by Totius, en die religieuse mistieke ekstase in Sheila Cussons se werk, om maar net enkele vorme te noem. TS Eliot het ook eksplisiet christelike gedigte geskryf, maar het self sy niereligieuse gedigte hoër aangeslaan.

Literatore wat hulle met religieuse aspekte van die poësie besig hou, wys inderdaad op die band tussen religie en poësie op grond van dieselfde soort onderliggende denkwyse, maar wys duidelik op die grense en onderskeide wat noodsaaklik is in die omskrywing van hierdie soort poësie. Daar is onder meer “stigtelike” (“devotional”) gedigte wat meer of minder direk ’n christelike dogmatiese tematiek bevat, met ander woorde gedigte waarin die digter in interaksie tree met of besig is met dogmatiese temas; gedigte wat selfs probeer oortuig of evangeliseer (“locutio Dei ad homines”). Gedigte soos Bunyan se The Pilgrim’s Progress of die Middelnederlandse Elkerlijc en ander Middeleeuse legendes kan as voorbeelde genoem word. Miskien ook van Gerard Manley Hopkins se gedigte en sommige van Totius se verse as hy homself binne die raamwerk van die gereformeerde leer probeer troos. Kennelik is daar in moderne en veral in onlangse tye minder van hierdie soort gedigte wat as goeie poësie beskou word, hoewel baie gewone mense sulke gedigte skryf as deel van hulle godsdienstige uitlewing.

Dan is daar in die tweede plek gedigte wat God direk aanspreek, waarin die digter hom-/haarself voor God stel en ’n mistieke belewenis verwoord (“coram deo”). Alle gedigte wat ’n gebed, gerig aan die God of Christus, bevat, sou tot hierdie groep behoort, asook mistieke poësie. ’n Goeie voorbeeld in Afrikaans is Sheila Cussons se werk, onder meer “Christ of the burnt men” en “Bedekte naak”. En vanselfsprekend skryf baie amateurdigters sulke verse om uiting aan religieuse emosies of ervaringe te gee.

In baie onlangse Afrikaanse poësie kom daar bybelse verwysings voor sonder dat die gedig noodwendig christelike idees probeer uitdra. Goeie moderne poësie is uiters selde lerend of didakties en nog minder leerstellig van aard. Maar selfs die Sestigers wat hulleself van die godsdienstige tradisie wou bevry, het steeds die Bybel as ’n verwysingsraamwerk bly gebruik. In Breyten Breytenbach se werk is daar talle en talle bybelse verwysings, terwyl ’n gedig in sy geheel telkens ’n boeddhistiese inslag het. Om te gaan kyk na christelike of bybelse verwysings sou dus nie ’n goeie maatstaf wees om poësie as christelik te beskryf nie. Die problematiek is veel meer subtiel en kompleks.6 Die digter Kevin Hart, wat homself ook as ’n fenomenoloog beskou en wat God in ’n gedig aanspreek as “Dark One / The strangest one of all / Who hides in words / And makes things stranger still”, beskou religieuse poësie as verse waarin God Homself versluier, waarin Hy verborge is maar nie verdwyn nie.7 Vir my is hierdie beskrywing buitengewoon treffend.

Die meeste ernstige digters streef gewoon daarna om goeie poësie te skryf en hulle lewensbeskouing, hetsy christelik of nie, kom dan op ’n natuurlike wyse in die verse na vore. Vir die Christen wat dig gebeur dit waarskynlik op ’n manier soos hier bo beskryf. Tog is alle digters versigtig vir etikette. TT Cloete het altyd gesê hy is ’n gelowige en hy is ’n Christen en hy skryf poësie. Die verhoudinge self het hy nie nader verduidelik nie.

Heilna du Plooy en TT Cloete (Foto: verskaf)

Ek glo egter wel dat die “groot” verhaal van die Christendom inderdaad nog ’n onmiskenbare rol speel in die Afrikaanse poësie, soms duidelik soos by TT Cloete, soms veel meer subtiel. So kom daar byvoorbeeld aan die einde van Die burg van hertog Bloubaard van Henning Pieterse ’n subtiele religieuse beweging op gang. Hoe tipeer jy dan die vers? Die moderne Christen weet dat klinkklare antwoorde nie moontlik is nie en dat die christelike geloof so veelfasettig is omdat God ongrypbaar is in woorde en die mens God nie kan bedink nie. God is net kenbaar in die mate waarin Hy Homself aan ons openbaar. Daarom sal die Christen wat dig, versigtig en subtiel omgaan met die religieuse, omdat dit vra vir subtiliteit en omdat die skrywer net kan uitreik na wat hy nie kan beheers en begryp nie.

Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat die maniere waarop mense lees ook ’n invloed het op hoe ’n gedig byvoorbeeld verstaan en getipeer word. As iemand absoluut niks van die Christendom weet nie, sal daardie persoon nie die christelike verwysings raaklees nie, net soos wat ’n Christen weer nie al die suggesties en verwysings in Moslem- of Boeddhistiese literatuur sal herken sonder om die geloof of denkwyse te bestudeer nie. In Nederland sê ons kollegas al lankal dat die jongmense tot so ’n mate gesekulariseer is dat hulle geen van die Bybelse verwysings in die ouer letterkunde kan verstaan of interpreteer nie, omdat hulle dit gewoon nie ken nie. Daarom het Jaap Goedegebuure De Schrift herschreven. De bijbel in de moderne literatuur (1993) geskryf waarin hy gewoon die Bybelse geskiedenisse oorvertel sodat die studente die ouer literêre werke waarin hierdie verwysings belangrik is, kan verstaan.

In die potensiële diskrepansie tussen die verwysingsraamwerke van die teks en sy lesers is daar ’n belemmering, maar natuurlik ook ’n geleentheid. ’n Christen kan ’n teks lees en bevestiging of verwerping van sy eie opvattings raaklees, maar hy kan ook verryk word deur insigte uit ander denkraamwerke wat in die teks voorkom. ’n Teks kan sy opvattings versterk of ondermyn, afhangende van hoe die leeservaring benader word. ’n Goeie gedig, waarin woord en gedagte saam transenderend werk ten opsigte van die onderwerp van die gedig, bring meestal ’n verruiming vir die leser te weeg. Des te meer as die digter en die leser ’n religieuse kode soos dié van die christelike geloof deel.

Daar word aanvaar dat daar in religieuse ervaring en die bewustheid van die bestaan van ’n sakrale dimensie essensieel ’n meervoudigheid (in Engelse word die woord “ambiguity” hiervoor gebruik) opgeslote is wat baie moeilik te omskryf is. Om so ’n komplekse transformerende en meerduidige sfeer soos die heilige/sakrale in menslike ervaring tot bepaalde eienskappe, temas of simbole te beperk en dit dan as merkers te gebruik vir tipering en afbakening, lyk vir my riskant. The unbearable lightness of being van Milan Kundera is ’n teks oor wanhoop en hedonisme, maar vir my was dit ’n ongelooflike beskrywing van die uitsigloosheid van die karakters se lewe in ’n era wat ons self ook ken. Daar is kommentaar op ’n politieke en sosiale struktuur wat mense van hulle menslikheid ontneem en ’n diep begrip van subtiele vorme van lyding wat ontroerend en meevoerend is. Gewis nie christelike literatuur nie, maar vir die Christen weldeeglik insiggewend en verruimend. Godsdiens moenie ’n glaskamer van afwysing wees nie.

Om dus te sê dat jy net christelike poësie of net werk van christelike skrywers wil lees, sal jou lewe erg verskraal. Kunstenaars wat allesbehalwe Christene is, kan dikwels ’n probleem ongelooflik sensitief aanvoel en daaroor skryf of dit uitbeeld sonder om ’n antwoord aan te bied. En die analise van die situasie of die aantoon van die kontoere van ’n daadwerklike probleem kan vir die christelike leser baie beteken. Die literatuur is in elk geval meestal nie op oplossings of antwoorde ingestel nie, maar veel eerder op die ont-dekking, die oopmaak en blootlê van probleme of situasies. Die leser kan dan self ’n antwoord binne sy eie verwysingsraamwerk probeer vind. Daar is selfs die redenasie dat God mense sonder hulle eie medewete kan gebruik (dink maar aan Bileam se donkie). Boonop was die eerste kunstenaars van wie die Bybel praat, Jubal, Jabal en Tubal-Kaïn, en hulle was nie gelowiges nie. Skrywers is begaafde mense en as jy as gelowige glo dat gawes van God kom (dat “die aandeel van God [..] groter [is] as wat ons dink”, volgens Etienne Leroux), kan in alle kunswerke waardevolle dinge opgesluit wees.

Natuurlik is daar ook hiervoor ’n grens en is daar inderdaad godskreiende kuns. Die grense is egter vaag en elkeen moet dit vir hom- of haarself uitmaak wat hanteerbaar is en wat skadelik kan wees. Dit is so dat daar kunswerke, literêr of andersins, is wat mens verby ’n grens druk, wat jou manipuleer om die kwade vir iets goeds aan te sien, maar die verantwoordelike christelike leser moet vir hom- of haarself verantwoordelikheid neem.8

Ek het so pas ’n artikel gelees wat eindig met die gedagte dat dit wel so is dat die gedig as gedig as sodanig in gevaar is in die tyd waarin ons leef omdat daar tans ander waardesisteme (hoofsaaklik gerig deur pragmatiese en finansiële sukses) geld, maar dat die gedig ook gevaarlik is om te lees omdat dit die leser tot meervoudigheid in denke uitdaag. Dit maak vir my die gedig juis waardevol, omdat dit buite ideologiese raamwerke kan werk, omdat dit aan die druk van die magstrukture van die hede kan ontsnap. Die gedig is daardie soort maaksel wat selfs oor die pragmatiek en die ideologie kan handel en dit juis kan oorstyg.

Aan die einde van my loopbaan as akademikus het ek ’n projek van stapel gestuur oor “Narratiewe tegnieke en strukture in liriese poësie”. Daarvoor sou ek, het ek vooraf geweet, geen befondsing kry van nasionale befondsingsagentskappe nie, maar dit het my juis die vryheid gegee om ondersoek te doen na iets suiwer poëtikaal volgens die beginsels van die poësie en die narratologie, dus akademies en poëties, en juis nie pragmaties of ideologies korrek nie. Hoe die projek op die universiteit se prestasielyste gemeet sou word, was nie my oorweging nie – ek het myself die vryheid gegun om my vak te beoefen volgens die moontlikhede wat daardie vak, die literatuur en die literatuurwetenskap, my gee. En ek vermoed dis in hierdie gees dat die meeste ernstige digters ook skryf.

Daar was ’n debat oor die bloemlesing van christelike gedigte deur Cas Vos. Hoekom was hierdie bundel so omstrede? Wat kan digters en teoloë leer uit die omstredenheid in die daaropvolgende debat oor die bundel?

Cas Vos (Foto: verskaf)

Ek dink die probleem met die bundel was dat die basis vir die keuse nie goed genoeg bedink is nie en ook nie duidelik genoeg aan die digters wat gedigte beskikbaar gestel het, oorgedra is nie. Baie van die gedigte is religieus in ’n meer algemene sin, maar nie eng en spesifiek christelik in die sin van bevorderend vir die Christendom of vir christelike opvattings nie, ook nie ’n weergawe van direk christelik-godsdienstige belewenis nie. Van die digters self het miskien ook nie die verskeidenheid van religieuse moontlikhede waarvolgens so ’n keuse gemaak sou kon word, ingesien nie en die duidelike etiket “christelik” dalk self ook te eng geïnterpreteer. Was dit weens Cas Vos se oordeel oor wat christelik is? Was dit ’n keuse wat berus het op ’n veronderstelde lesersreaksie, op hoe veronderstelde lesers christelikheid sou kon raaklees? Was dit gedigte waarin die digters self christelikheid of religieuse denke gesien het? Die vrae bly onbeantwoord en dit het onvermydelik tot die verwarring en meningsverskille gelei.

Daarby kom die negatiewe reputasie van christelike kuns as beperkend en die digters se vrees dat die gedigte beskou kan word as gedigte wat aan dogmatiese reëls gebonde is. Daarvan skram hulle dan weg. Dit sou nie nodig gewees het as die aanbieding van die bundel anders was nie. Ek dink nogal baie van die digters wat gekla het, sou heeltemal te vinde wees daarvoor as iemand religieuse diepgang in hulle werk sou raaklees, maar hulle wil nie gesien word as apologete vir een of ander spesifieke vorm van christelikheid nie. Daar is ook tans te veel formate waarin christelikheid opgedis word, en die titel as ’n oorkoepelende enkelvoudige tipering kon geen aanduiding gee van die ruimte wat deur die gedigte gevul kan word nie. En gewis gaan alle digters nie dieselfde vorm van godsdiensbeoefening onderskryf nie.

In die toekoms sou mens dit dan liewer kon oorweeg om ’n poëtiese titel te kies wat dui op ’n aanvoeling vir die sakrale, vir die onsienlike/Onsienlike agter die sienlikheid. So ’n titel sal mens maklik vind. Daarby kan dan in ’n inleiding iets van die kompleksiteit van hierdie soort poësie verduidelik word.

Kan ’n gedig godsdienstig/christelik wees sonder om godsdienstige/christelike jargon of inhoude te gebruik?

 Ja, gewis. Sekerlik is daar seker simbole en tekens en ikone en figure wat duidelik christelik is; sekerlik is daar konsepte wat eksplisiet met die Christendom geassosieer word; sekerlik is daar woorde wat direk uit die godsdienstige woordeskat van die Christendom kom en as sodanig herkenbaar is vir ander Christene; sekerlik is daar metafore wat deur die Bybel en die lang geskiedenis van die Christendom geïnspireer is of wat verwysings daarna oproep. En tog dink ek ’n gedig kan christelik wees sonder om so eksplisiet te wees. Die ongeluk is net dat as die lesers nie oor ’n soortgelyke sofistikasie van godsdienstige denke beskik nie, hulle dit dan ook nie sal raaklees nie.9

Dit is ook ’n kwessie of dit nog sinvol is om na christelike kuns te vra sonder om ook te soek na antwoorde op die vraag na godsdienstige kuns. Ons tyd word gekenmerk deur ’n besondere respek by vele mense vir al die verskillende geloofstradisies in die Christendom, maar ook in ander wêreldgodsdienste. Daar word toenemend kritiese vrae gevra oor die onmin en die onverdraagsaamheid van godsdiensgemeenskappe onderling en teenoor mekaar, en dit terwyl hulle vir hulleself die hoë morele grond opeis. Terwyl daar nog begrip is vir gelowiges wat meer van hul geloof wil uitdra en die sinvolheid daarvan wil uitbeeld, is daar al hoe meer teenstand teen pogings om ander van hul geloof af te rokkel of hul godsdiensgenote as ketters te verloeder. In sommige kringe word daarom gewaarsku teen proseliteerdery en teen die verdagmaking van ander gelowe as dwalinge en ketterye. Hoe voel jy oor die rol van poësie in hierdie konteks en van voorstelle dat digkuns gebruik word om lesers te beïnvloed of tot ’n bepaalde geloofstandpunt te oorreed?

 Daar sal altyd geskryf word oor geloof – watter geloof ook al – en dus ook oor die christelike geloof en in terme daarvan. Godsdiens is iets wat mense diep raak, en hoewel baie kunstenaars daarvan wegskram omdat hulle nie voorgeskryf wil word waaroor en hoe hulle hulle kuns moet beoefen nie, sal daar altyd dié wees wat oor en veral ook in terme van geloofsoortuiging skryf. Soos ek elders probeer aantoon, gebeur dit vanself dat as mens diep oortuig is van ’n spesifieke geloofstandpunt, dit onvermydelik in jou werk neerslag vind, hoe direk of indirek ook al. En vanselfsprekend sal Christene wat lees, ook die werk van hierdie mense as medegelowiges kan waardeer.

Dit is ongelukkig so dat ’n groot aantal werklik middelmatige dinge oor godsdiens geskryf word, ook verse wat nie veel meer as ’n goeie intensie verteenwoordig en baie emosie is nie. Dit doen die beeld van christelike kuns skade aan, want dit is te persoonlik, te maklik en dikwels, poëties beskou, nie goed nie. Sekerlik sê ek nie dat hierdie dinge nie geskryf moet word nie, maar dit val duidelik in ’n ander kategorie as ernstige poësieskryf. Ordentlike skryfwerk met ’n christelike inslag is eintlik skaars en baie digters verbloem ook die godsdienstige inhoude en verwysings om nie by die sentimentele en soetlike werk van populêre versies oor godsdiens gereken te word nie. Die Afrikaanse kritiek is nog steeds baie afwysend en skerp teenoor werk met ’n christelik-godsdienstige inhoud terwyl werk met ’n ideologiese inhoud weer baie hoog aangeskryf word. Dit terwyl albei gaan oor oortuigings wat nie tasbaar of bewysbaar is nie. Daar kan in albei kategorieë goeie en slegte poësie geskryf word.

Oor die breër religieuse problematiek van onverdraagsaamheid enersyds en groter verdraagsaamheid andersyds stem ek met jou saam, maar dit is ’n groot saak waaroor kenners op ander terreine veel meer weet as ek.

Die verhouding tussen godsdienste bly ’n groot uitdaging. Daar word dikwels beklemtoon dat die unieke karakter en integriteit van die Christendom nie gekompromitteer word deur welwillendheid teenoor ander geloofsgroepe nie. Geloofsonverdraagsaamheid word geïllustreer in die fatwa wat teen Salmadan Rushdie uitgereik is omdat sy skryfwerk as aanstootlik beskou is. Dit roep byvoorbeeld die vraag op na wanneer ’n “christelike” gedig aanstootlik sou wees. Wanneer word die grens oorskry tussen ’n gedig wat die eie handhaaf, wat mens as skerp, hard tref, en ’n gedig wat aanstoot gee en tot dodelike optrede lei?

Oor daardie grens, waar ’n gedig (of roman of verhaal) aanstootlik raak vir ’n bepaalde godsdiens en veral binne die Christendom is daar al baie nagedink en geredeneer. Baie uitsprake van die vroeëre Publikasieraad bevat ernstige foute omdat die mense nie gesofistikeerd genoeg kon lees nie en te eng gekyk het (vgl maar die verbod op boeke van Etienne Leroux en André Brink). Parodieë of herskrywings van godsdienstige tekste soos onder meer die Onse Vader-gebed word ook soms misverstaan, terwyl dit ontroerend kan wees.

Salman Rushdie (links) en Günter Grass (© Frank Röth)

’n Mens sal egter naïef wees om te dink dat daar nie gedigte of romans ook geskryf word met die doel om die Christendom in sy wese aan te tas nie. Dit gaan dan veel verder en dieper as sosiale of godsdienstige kritiek om foute uit te wys soos in Rushdie se geval. Bygesê, Christene kon nie verstaan waarom die Moslemgemeenskap so radikaal op Satanic verses gereageer het nie. Ek vermoed hulle het baie van die kritiese verwysings nie in volle skerpte beleef soos die Moslems self nie omdat hulle die geloof nie so goed ken nie en ook nie daardeur bedreig voel nie. Dieselfde argument sal andersom ook geld. Interessant genoeg is die Christendom baie meer verdraagsaam teenoor kritiek as ander gelowe. In die hedendaagse Suid-Afrika kan enigeen gal afgaan teen kerke of die Christendom, maar negatiewe uitsprake oor byvoorbeeld die Moslemgeloof sal so ’n persoon in groot moeilikheid laat beland.

Daar is sekerlik werk wat vir ’n Christen aanstootlik sal wees. Ek het self al agtergekom dat ek afkerig raak van baie sterk manipulerende werk wat jou met goeie tegniek insleep in ’n negatiewe argument om jou dan met ’n bose werklikheid te konfronteer en jou as ’t ware daarby te betrek terwyl dit inderwaarheid jou aanvoeling of gevoeligheid (“sensibility”) wil skok of verbreek deur dit eintlik aan te val. Indien iemand so voel oor ’n boek of vers, kan hy gewoon ophou lees. Ek onthou ook ek het eenkeer in ’n argument oor wat mens vir studente kan voorskryf geredeneer dat ek ’n student nie sal verbied om erg kontroversiële werke te lees nie, maar dat ek dit ook nie sal voorskryf en die student verplig om dit te lees nie, omdat daar studente is wat nie oor die geestelike veerkragtigheid beskik om dit te kan hanteer nie. Uiteraard moet studente sekere leerstof bemeester as ’n vereiste, en daarom moet die keuses met aanvoeling, met verantwoordelikheid en medemenslikheid gemaak word. Jy kan iemand dwing deur hom weg te hou van iets, maar dit is ook dwang om iemand te dwing om teen sy grein in te lees verby ’n grens van sy of haar uithouvermoë. Albei vorme van dwang is problematies. Teen die grein inlees is dikwels heilsaam, want dit dwing die leser om die grense van sy denke uit te stoot, maar daar is sekerlik vir elke mens ’n grens waar die konfrontasie met werklik erg negatiewe inhoud en styl skadelik word, en daarvoor moet verantwoordelikheid geneem word.

En hoe dink jy oor die toekoms van godsdienstige en christelike digkuns? Vir ’n lang tyd het sommige mense gedink godsdiens is besig om te verdwyn soos mense dan nou meer mondig sou geword het. Oor die wêreld heen is daar egter eerder ’n intensivering van belangstelling in godsdiens. Dit sien ’n mens aan die magdom van kerke en moskees, die bestaan van megakerke oor die wêreld heen, maar ook in die verkoop van godsdienstige boeke, flieks met ’n godsdienstge inhoud, die belangstelling in godsdienstige kuns, en ook in die rol wat godsdiens in die politiek speel. Dink maar aan Isis as radikale beweging wat hulle streng godsdienstige oortuigings met geweld wil afdwing en veral vyandig teenoor sekere kulturele instellings en voorwerpe is. Maar daar is ook die groot rol wat Evangelikaalse groepe in die VSA op die samelewing uitoefen, veral ook in hul verwagting van ’n nabye wêreldeinde. Hulle ondersteun die huidige regering in die VSA baie sterk omdat hulle daardeur hul behoudende oortuigings in die politieke, sosiale en maatskaplike sfere kan bevorder. Hulle verwagting oor die eindtyd wat veral in Israel sal afspeel met die groot konfrontasie tussen die afvalliges en gelowiges, lei byvoorbeeld tot ’n merkwaardige oorlogsugtigheid en is besig om internasionale politiek sterk te beïnvloed. Hierdie ortodokse gelowiges glo vas die einde gaan aanbreek as die Jode met Armageddon as laaste veldslag teen die nasies oorlog voer en dan tot bekering gaan kom met die wederkoms. Sulke godsdienstige sieninge is besonder gevaarlik en hou uiteindelik ’n bedreiging vir vrede in. Nog groter is die gevaar dat ’n oorspanne eindtydverwagting ’n verwaarlosing van die skepping aanbring, omdat mense dink die wêreld sal in elk geval vergaan. Selfs by ons ter lande merk ons hulle invloed met die baie sterk belangstelling in die wegraping en in die eindtyd. Dit is egter boeiend om te sien hoe die eindtydverwagting ook in Afrikaanse tekste geresepteer is: Reeds in 1957 speel dit ’n kernrol in Anna M Louw se Die koms van die komeet, en later in Koos Kombuis se Hotel Atlantis, en nou onlangs in Kerneels Breytenbach se Hond se gedagte. In hierdie werke word die siening van die eindtyd met insig en op kritiese maniere verwerk: Breytenbach se roman wys op byvoorbeeld die subtiele, maar skerp dekonstruksie van gekommersialiseerde godsdiens en die verregaande invloed van die wegrapingsideologie op populêre godsdienstigheid. Die boeke is veral waardevol omdat hulle wys hoe die godsdiens in ons samelewing figureer en met watter geestelike en etiese uitdagings so ’n godsdienstigheid ons konfronteer.

Wat die toekoms betref, is daar inderdaad verskillende tendense wat merkbaar is. Dit is egter ’n vraagstuk met baie vertakkings en baie moeilik om kort saam te vat. Dat iets aan die verskuif is, is duidelik, al weet mens nog nie hoe die verskuiwing kontoere gaan verlê nie. Ek is nie vertroud met wat in baie ander lande aan die gebeur is nie en beperk my tot waarvan ek weet.

Dit is byvoorbeeld opvallend dat waar Nederlandse letterkundiges altyd baie gesteld was daarop om dadelik te sê dat hulle nie gelowiges, of erger nog, gereformeerdes is nie, omdat hulle godsdienstigheid en wetenskaplike voortreflikheid as teenpole beskou, die tema van die Boekeweek ’n aantal jaar gelede iets soos “God in die letterkunde” was. Tot almal se verbasing is die Nederlandse “nieuwe bijbelvertaling” wat in 2004 verskyn het, deur die Nederlandse volledig gesekulariseerde publiek (wat so trots op hulle sekularisasie is) gekies as die boek van die jaar.10

Wat ek ook kan noem, is dat in die literatuurwetenskap daar talle tekens is dat daar na ’n nuwe paradigma gesoek word, dat die negatiwiteit en ondermynende aard van al die postmodernistiese teorieë (dekonstruksie, ideologiekritiek, psigoanalitiese kritiek, radikale feminisme, ens) mense nie meer bevredig nie. Daar word nog gesoek na ’n goeie benaming, maar daar word gepraat van onder meer metamodernisme of post-postmodernisme, en daar is teoretici wat benaderings ontwikkel wat hulle beskryf as eudaimonies, met ander woorde benaderings van die “goeie gees”, wat weer menslikheid en ’n waardesisteem in die letterkunde wil terugvind.

Ek het ook heelwat bronne gevind (onder meer van ’n hele groep Franse teologiese filosowe of filosofiese teoloë) wat hulle met spesifiek religieuse temas en problematiek besighou. En dit sal gewis in die letterkunde self ook gebeur, want dit was nog altyd so dat hierdie soort dinge op verskillende terreine manifesteer. Dalk sien ons weer agterna dat die tekens alreeds daar was. Daar was in elk geval nog altyd skrywers wat, sonder om dit aan die groot klok te hang, gewoon vanuit ’n christelike lewensbeskouing geskryf het. Dit is beslis so dat die tradisionele kerke tans geweldig baie steun verloor, maar die charismatiese bewegings groei. Volgens statistieke groei die Christendom sterk in Afrika en Asië. Daar is dus steeds baie gelowiges en saam met die eb en vloed van godsdienstige stromings in die wêreld sal christelike letterkunde ook beweeg.

Daarom dink ek eerlik dat ’n ommekeer in die afwysende houding teenoor godsdienstige en spesifiek christelike literatuur nie onmoontlik is nie. Uiteraard sal daar ook weer in al die vorme van christelike godsdiensbeoefening, en in reaksies daarop, ekstremistiese neigings wees, maar dalk ook wel ’n sterker gesentraliseerde omgewing waarin christelike temas en ’n christelike lewensuitkyk nie so onwelkom sal wees nie.

Dit is tog indrukwekkend om te sien hoe kunstenaars ook belese en ingelig oor godsdienssake kan wees. Die godsdienstige digkuns van WEG Louw, IL de Villiers en Lina Spies is welbekend. Maar dan is daar meer ongewone voorbeelde: Sheila Cussons se gedigte toon dat sy ’n ywerige en knap leser van die 20ste eeu se voorste teoloë (Karl Rahner en Thomas Merton) was. Teoloë sou kon leer deur haar digkuns, terwyl, omgekeerd, onlangse teologiese navorsing oor die mistiek letterkundiges sal bemagtig om die volle rykdom van Cussons se digkuns te peil. Ook skrywers soos Elsa Joubert met haar Spertyd kan eintlik eers reg verstaan word in die lig van hooggerekende teologiese skrywers soos Richard Rohr, Bernard McGinn, Thomas Keating en Thomas Merton met wie sy bekend was. Dit geld, ironies genoeg, ook van ’n satiriese digter soos MM Walters (ook ’n leser van Thomas Merton) wat treffende gedigte geskep het met ’n mistieke inhoud en oor sleutelfigure in die mistieke tradisie (bv Meister Eckhart en Die groot stilte). Hy is dikwels deur kerklikes misverstaan as ’n vyand van godsdiens en die kerk. Hoewel hy inderdaad godsdienstige uitwasse genadeloos ontmasker het, het hy, soos Elsa Joubert,  ’n tweede myl met sy kuns geloop met sy soektog na ’n egte, geloofwaardige geestelikheid. Dit is ’n tragedie dat hierdie deel van sy digkuns misgekyk word.

Die vraag is nou of die hernude belangstelling in godsdiens dit nodig maak dat ’n podium geskep word waarin godsdiens en kuns meer pertinent in gesprek met mekaar tree. Ek sou kon dink dat skrywers en teoloë/godsdienswetenskaplikes sinvolle gesprekke oor Afrikaanse literatuur kon voer, maar ook oor die rol van kuns in die godsdiensgemeenskappe. Die geskiedenis van alle geloofsgemeenskappe wys immers die wesenlike rol wat die estetiese ook in hul midde gespeel het. ’n Mens sou kon krap in die verlede om ’n antwoord te soek op die vraag of daar ’n onherstelbare breuk tussen kerk en kuns bestaan wat so ’n gesprekspodium onmoontlik maak. Het die slegte geskiedenis van die kerk met sy kritiek op en optrede teen skrywers soos Etienne Leroux, Andre P Brink, Breyten Breytenbach en MM Walters die verhoudinge te veel vertroebel? Sou ’n mens verder kon sê dat die godsdienstigheid wat in Hond se gedagte beskryf en in populêre groepe bedryf word, nie juis ’n rede is om dieper na te dink oor spirituele sake nie? Wat kan skrywers en godsdienskenners doen om die interaksie van letterkunde en godsdiens te bevorder?

Met jou redenasie stem ek volmondig saam. Daar het ’n breuk gekom, en al sal dit nie oornag uitgewis kan word nie, is gesprek op ’n hoë vlak altyd heilsaam. Verder verg dit soms baie studie en navorsing om ’n gedig of roman te kan skryf. Die skrywer wil graag sy aanvoeling toets, vandaar die belesenheid van hierdie mense. TT Cloete se Die ander een is ek illustreer hierdie saak baie duidelik.

Die Afrikaanse omdigting van die Psalms in die afgelope tyd was ’n belangrike en uitdagende onderneming, gegewe die enorme invloed van die eerste Psalmdigting deur digters soos Totius waaraan mense so geheg was. Maar ook die onlangse Bybelvertaling was ’n voorbeeld van indrukwekkende samewerking tussen letterkundiges, digters, vertalers, taalkundiges en teoloë. Dit is seker die beste voorbeeld van hoe kuns en die estetiese ook in ’n kerklike konteks ernstig opgeneem word. Samewerking was ook die geval toe die kerk se liedboek nuut uitgegee is, maar dan met vooraanstaande musici en musiekwetenskaplikes as medewerkers. Hier is dus goeie voorbeelde van die interaksie tussen godsdiens en kuns. Tog is daar heelwat uitdagings wat in die samewerking na vore kom. Met Bybelvertaling en omdigtings is dit altyd ’n uitdaging om sulke antieke en verouderde tekste in ’n moderne konteks te vertaal. Kerklidmate ervaar so ’n modernisering dikwels as ’n bedreiging en afdwaling. Maar veral moeilik is verder die etiese probleme, soos die gewelddadige karakter van sommige Psalms wat vir vele hedendaagse lesers ontstellend is (bv Psalm 137 se grafiese geweld teen babas), of diskriminerende gendertaal wat die moderne leser kan grief. Wat doen ’n vertaler met tekste wat duidelik gewelddadig is, veral boonop wanneer hulle vir ’n kerklike konteks bedoel is? Of, meer algemeen: Hoe dink jy oor hierdie interaksie spesifiek tussen kerk en kuns? Wat was die suksesse en uitdagings daarvan en wat sou die waarde daarvan wees vir verdere gesprekke tussen geloofsgemeenskappe en kunstenaars? Watter waarde het dit vir jou gehad as kunstenaar wat veral in ’n nieteologiese konteks skryf en werk?

Oor sowel die Psalm-omdigting as die literêre aspekte van die Bybelvertaling van 2020 (die vertaling wat oor die afgelope 15 jaar gedoen is) het ek elders uitvoerig geskryf.11

Wat was vir jou die belangrikste oomblikke en aspekte in jou betrokkenheid by kuns en watter rol het godsdiens daarin gespeel?

Van kleins af was ek geboei deur boeke, stories en verse. Ek was dus ’n klein boekwurm. En van daar af het dit natuurlik so ontwikkel dat my keuse van studierigting en loopbaan iets met die letterkunde te make sou hê. Vir my het lees die wêreld oopgemaak. My ouers het onder meer ’n stel boeke gehad met die titel Wêreldletterkunde – sulke dik donkerrooi boeke, met verhale uit alle tale en kulture in Afrikaanse vertaling daarin opgeneem. Ek het daardie stel ’n hele paar keer deurgelees in my tienerjare.

As ek myself nou probeer ontleed om vas te stel waar die skrywery vandaan kom, dink ek dit het wel met my basiese lewensingesteldheid te make. Dit het ook gewoon met geaardheid te make en sekerlik ook met erflikheid. Ons huis was ’n taalryke huis in die sin dat my pa self ’n klompie skryfsels in ’n lêer gehad het en my ma altyd woordspeletjies met ons gespeel het.

My neiging tot skryf, vermoed ek dus, het onder meer twee eienskappe. Ek dink altyd na (en dit gebeur outomaties) oor dinge – nie net oor godsdienstige kwessies nie, maar oor al die gewone dinge van die lewe ook. Ek sien die wêreld gewis nie net as ’n oppervlak nie; ek voel aan en glo dat daar meer is as wat die oog sien. Soms is die kyk en soek na ’n wyer en dieper raamwerk gewoon prakties nuttig omdat mense motiewe en doelstellings het wat hulle optrede bepaal en as jy dit kan raaksien, begryp jy hulle beter. Dit geld ook op ’n meer abstrakte metafisiese vlak as jy besef dat mense se denke deur groter raamwerke bepaal word, hetsy religieus of ideologies. As meer mense gebeure en sake in die alledaagse lewe bedink en probeer uitvind wat daaragter lê, sal hulle onder meer nie so vatbaar wees vir die oëverblindery van die maghebbers van die dag nie. Hierdie soort dink is iets wat die meeste (alle?) skrywers immers doen, om naamlik dieper te delf. Mense se agterliggende vertrekpunte het in die groter werklikheid meestal niks met religie te make nie en tans gaan dit uitsluitend om mag en politiek, maar dit is dan juis belangrik om dit te kan raaksien. Die bedrieglikheid van die oppervlakkige verskyningsvorme van dinge in teenstelling met waarom dit werklik gaan, is dan ook inderdaad waaroor skrywers graag skryf.

Verder dink ek dat die soort opvoeding wat ek gehad het, my nie net sensitief gemaak het vir agterliggende patrone nie, maar my ook van kleins af geleer het om abstrak te dink. God is immers nie direk sigbaar nie, en jy leer om ’n denkraamwerk te hanteer waarin onsigbare dinge wel bepalend kan wees, waarmee die onsienlike/Onsienlike oordink kan word. Ek het al gewonder of die feit dat soveel kunstenaars, skrywers en komponiste en skilders en filosowe Joods is, hiermee te make het – dat hulle van kleins af leer om abstrak te dink. Hulle God leer hulle ken uit geskrifte en uit die natuur, uit tekens en tekensisteme, want hierdie God is nie openlik sigbaar soos in ’n konkrete beeld nie, en oor eeue heen het dit gewoon deel van hulle intellektuele en psigologiese DNS geword. Die onsigbare (en onteenseglik ook die Onsienlike as God) is immers steeds een van die groot vraagstukke waarmee die filosowe deur die eeue en selfs in die sekulariserende 20ste eeu besig was en is – Nietzsche, Heidegger en Derrida ingeslote – juis omdat die (tradisionele) fenomenologie die onsigbaarhede bevraagteken. (Ek weet dis ’n oorvereenvoudiging, maar ten diepste is dit tog waaroor dit gaan.)

Hierdie twee sake – die vermoë om abstrak te dink en om bewus te wees daarvan dat alle denke en opvattings op ’n bepaalde grondslag berus – het my in my akademiese loopbaan goed te staan gekom. In die literatuurwetenskap van die laaste helfte van die 20ste eeu was die teoretiese en filosofiese onderbou van literatuurstudie immers die fokus van ons werk. In die interpretasie van tekste is dit waarom dit gaan – jy lees nie net wat letterlik daar staan nie, jy soek die betekenisse agter die woorde; selfs in dekonstruksie soek jy na meer en meer moontlike betekenisse. Jy moet dus wanneer jy interpreteer, bewustelik weet met watter vooronderstellinge jy werk, en in ons navorsingsgroep het ons baie daaroor navorsing gedoen en alle teorieë en filosofieë ondersoek en beproef.

Niemand lees en dink trouens sonder vooronderstellinge nie – diegene wat beweer dat hulle dit kan doen, is eenvoudig net nie bewus van hulle vooronderstellinge en hoe dit hulle denke beïnvloed nie. Dit sluit teoloë in wat “net” met die Bybel werk – dit is wetenskaplik bewys dat dit onmoontlik is om te lees of te dink sonder ’n voorafgaande bestaande verwysingsraamwerk – verwysings en assosiasies en denkpatrone is gewoon die manier waarop taal werk om betekenis te kan oordra. Die ouens wat op ’n direkte toegang tot ’n tabula rasa-agtige kommunikasie met tekste aanspraak maak, se denke is dikwels op ’n vroeëre verstekdenke gebaseer of dalk op ’n selfuitgedinkte suiwer subjektiewe en selfs idiosinkratiese stel opvattings. Dit is dan gewoon individualisties en ontoetsbaar, selfs potensieel met opset so uitgewerk. ’n Mens behoort na te dink oor wat jou verstek is en dit op die tafel te plaas sodat ander weet waarmee jy besig is en dit kan beoordeel. Jy kan dit ook selfkrities gebruik om te lees en te interpreteer – die Bybel of ’n roman of ’n gedig. Want niemand is ’n ganse kosmos op sy eie nie – daar is en was altyd interaksies en invloede op mense se verstekdenke. En wat mens doen, kan en behoort getoets word deur dit aan ander se oordeel en mening bloot te stel.

As dit nou by my eie skryfwerk kom, is dit nie maklik of selfs verantwoordelik om te probeer verklaar waar godsdiens en spesifiek christelikheid sou kon inspeel nie. Ek dink beslis nie eksplisiet daaroor wanneer ek skryf nie. Die skrywery kom ook eerder uit die konfrontasies met die werklikheid voort: ’n Mens is mens; jy ervaar emosies en jy beleef allerlei dinge. Daarom skryf jy oor emosies en insigte, oor ontroering, woede, liefde en veral verwondering. As ek emosioneel is, het ek baie woorde! Dis ongelooflik (en gevaarlik!) hoe intense belewenis die omvang van jou woordeskat kan laat uitbrei en uitwoeker. En dan moet jy weer agterna snoei en besin, want jy wil en jy moet uiteindelik liewer daarna streef om goed te skryf – ’n gedig of storie of wat ook al – eerder as wat jy soos Juliana Doepels op asblikke wil staan en toesprake hou.

Ek sien dit so: ’n Mens is onvermydelik op ’n komplekse wyse geprogrammeer om binne die moontlikhede en beperkinge van jou persoonlikheid en denke, jou kennis en aanvoeling op die wêreld te reageer. Die christelike inslag van jou werk lê waarskynlik op daardie vlak. Sommige mense het nodig om hulle ervarings en reaksies te konkretiseer in woorde, of in kleure en vorme of in musiek. Ander mense beleef net so intens, maar dan is dit daarmee verby. Maar diegene met ’n kreatiewe inslag het ’n neiging, ’n onbeheerbare en onaflêbare drang, om iets te maak met ’n belewenis of insig, om iets daaruit en daarvan te maak. En daarvoor gebruik hulle hulle vakmanskap en ’n diep behae in die medium wat hulle kies. Daar is egter ook die onderliggende wete dat dit vir jou so bestem is, dat God jou gemaak het soos jy is en dat jy daarmee die beste wat jy kan, moet maak.12

Veral die poësie is ’n strenge meester, en oneerlikheid of pretensie in ’n gedig is iets wat maklik opgemerk word. Ek skryf maar met my hele self, met al my breuke en sterk plekke, my al my kennis en aanvoeling. Ek probeer gewis nie dogma of net spesifiek religieus-getinte belewenis verwoord nie – ek skryf soos ek is en dink, en dit moet dan maar werk. Maar ek weet weldeeglik dat my manier van dink op ’n bepaalde christelike manier gevorm is en dat hoe en wat ek ook al daaraan toegevoeg het, iets daarvan waarskynlik onderliggend aanwesig sal wees in die onderwerpe wat my aangryp en in die woorde wat ek kies. Ek het al gesê dat as ek nou, om in die mode te wees, begin swets en gil in my gedigte, almal na my sal begin soek (dalk iewers in ’n weggebêre-plek), want dan is dit nie ek nie.13

Die feit bly staan dat wat daar in die gedig is, vanself en funksioneel natuurlik daar moet wees binne die beperkinge en moontlikhede waartoe my brein en aanvoeling in staat is en wat die medium van die poësie moontlik maak. Wat vir my ononderhandelbaar is, is dat die gedig so goed moet wees as wat ek dit kan doen of maak – die woorde en sinne moet poësie word, moet vers word, en daarop kan ek net hoop.

Ek het begin poësie skryf toe ek self agterkom dat dit natuurliker by my manier van dink aansluit. In my akademiese werk het ek eintlik gespesialiseer in prosakuns en verhaalteorie (daarom moes ek darem ook probeer om ’n roman te skryf), maar in ’n stadium was die aard van die poësie, as ’n genre wat makliker buite magstrukture om kan werk, vir my aantrekliker en iets waarby ek gemakliker kon aanklank vind om met die wêreld te praat. Die subtiliteit van die poësie is uiters boeiend en dit raak nooit uitgeput nie.

Daarby het ek soms ’n onblusbare behoefte daaraan om iets moois te maak, iets wat net dalk kan bly staan teen die afgryslikhede van die werklikheid deur net te wees, net te bestaan uit eie reg as iets mooi en duursaam. Dit is tog iets wat mens dikwels teëkom in wat kunstenaars skryf, dat hulle (binne ’n baie wye definisie van wat skoonheid is) probeer om skoonheid of estetiese voortreflikheid teen die werklikheid en verganklikheid op te stel. Of om iets wat werklik mooi of verwonderlik is in die werklikheid uit te lig en dit dan te merk deur daaroor te skryf. Die onderwerp van ’n gedig bepaal egter nie die sukses daarvan nie en die sukses van die gedig is ook nie bepalend daarvoor of jy weer gaan probeer skryf nie. Jy kan misluk maar doen dit nogtans weer.

Ek onthou goed dat die digter PW Buys by geleentheid van die bekendstelling van een van sy bundels vertel het van ’n Amerikaanse digter wat gesê het dat die effek van die publikasie van ’n digbundel vergelykbaar is met die loslaat van ’n blomblaar oor die Grand Canyon. Dit is iets wat ek onthou en waaraan ek myself gereeld herinner.

Kan jy een of twee godsdienstige/christelike gedigte noem wat vir jou spesiale betekenis het?

 Sheila Cussons se “Christ of the burnt men”14 is ’n gedig wat my telkens opnuut aangryp. Die hantering van lyding, die verootmoediging sowel as die redding van die christelike geloof word net sterker deur die voortreflike poëtiese hantering. Van TT Cloete kan baie gedigte genoem word, maar “Wie, Moses?”15 is ’n byna prettige viering van die wonders van die skepping.

Watter belangrike bronne wat hernude belangstelling in die onderwerp stimuleer, en belangrike insigte daarin bied, sou jy vir lesers aanbeveel?

 Daar is geweldig baie geskryf oor letterkunde en Christendom. Tradisioneel, in die middel van die 20ste eeu, is filosowe soos Dooyeweerd en Vollenhoven in Nederland as gesaghebbend beskou, maar tans is hulle natuurlik in onguns tot die derde mag. ’n Interessante webblad is allofliferedeemed.co.uk, waar van die ouer tot die meer onlangse filosofiese werk in die reformatoriese tradisie bymekaargebring word (onder meer interessante artikels oor die Bybel as literatuur). Daar is soortgelyke webblaaie vir Rooms-Katolieke studies en ek neem aan ook vir ander oortuigings. Ek ken nie al die skrywers wie se werk daar genoem word nie, maar ek dink dit is dalk ’n plek om te begin soek na onlangse werk oor christelikheid en literatuur en die kunste.

In die Franse tradisie is Paul Ricoeur is ’n unieke geval. As ’n filosoof met ’n streng Protestantse opvoeding het hy ’n groot invloed gehad op teoloë wat skryf oor geloof in ’n gesekulariseerde wêreld, maar sy sentrale fokus was tog op die kunste. Veral sy siening van ’n “herleefde” geloof wat nie meer naïef is nie, maar wat ander filosofieë oor godsdiens beproef en verwerk het, is vir my belangrik. Nou vind ek in my meer onlangse lees verwysings na ’n groepie Franse filosowe wat hulle met soortgelyke vraagstukke besighou. Dit lyk my na mense wie se werk van naderby bekyk behoort te word: Jean-Yves Lacoste (’n Heideggeriaanse priester met sy boek Être en danger, 2011), Dominique Janicaud, wat geskryf het oor die “teologiese wending” in die Franse fenomenologie, en Jean-Luc Marion (’n vriend van Lacoste).

Literatore wat vroeër ’n groot invloed gehad het en by wie se werk ek self aanklank gevind het, is mense soos CS Lewis en George Steiner en die Amerikaners Leland Ryken, Calvin Seerveld en N Wolterstorff. Die essays van Lewis en Steiner (veral sy Real presences) kan mens altyd herlees.

Dan is daar tydskrifte van hoë gehalte (geakkrediteerde tydskrifte) wat direk gewy is aan christelikheid en die literatuur, soos die Nederlandse Liter, Religion and literature (uitgegee deur die University van Notre Dame, ’n privaat Katolieke universiteit in Australië), Christianity and literature (uitgegee deur die Seattle Pacific University, ’n privaat Christelike universiteit in Seattle, VSA), om maar enkeles te noem.

Ander boeke en artikels wat ek meer onlangs teëgekom het of om een of ander rede gebruik het, sluit (as ’n baie willekeurige en onsistematiese) lysie die volgende in:

Bingemer, Maria C (red). 2017. Literature and theology. Londen: SCM Press.

Bornemark, J en H Ruin (reds). 2012. Ambiguity of the sacred. Stockholm: Södertörn Philosophical Studies.

Doud, RE. 2020. Psalms, Heidegger, the New Hermeneutic, and Beyond.

Farley, MD. 2016. Poem as endangered being: Lacostian soundings in Hopkins’s “Hurrahing” and Stevens’s “Blackbird”. Religions 7.

Fokkelman, JP. 2001. Reading Biblical poetry. An introductory guide. Louisville: Westminster John Knox Press.

Graham, Ashley. (An)denken as the Holy's "Homecoming": The poet's founding, the thinker's search

Jeffrey, DL en G Maillet. 2011. Christianity and literature: philosophical foundations and critical practice. Downers Grove, Ill: IVP Academic.

Kennedy, M. 2011. Home: A Bachelardian concrete metaphysics. Peter Lang Ltd. Volledige teks beskikbaar op https://www.academia.edu (10 April 2020 geraadpleeg).

McCormick, T. 2000. How to Read Christianly. https://www.academia.edu.

Seybold, K. 2010. Poetik der prophetischen Literatur im Alten Testament. Poetologische Studien zum Alten Testament 4. Stuttgart: Kohlhammer.

Tate, A. 2010. Contemporary fiction and Christianity. Londen: Continuum.

Williams, B. 2020. Heidegger, God, and time.

Eindnotas

1 Koos Geerdts is een so ’n Nederlandse digter wat openlik christelike poësie skryf en tog in die sentrale “circuit” erkenning gekry het.

2 Ek dink hier aan die groot megakerke in die “Bible belt” in die suidelike state van die VSA.

3 Erich Auerbach. 1953. Mimesis: The representation of reality in Western literature. Vertaal deur Willard R Trask. Princeton: Princeton University Press (bl 72).

4 In Ambiguity of the sacred (Bornemark & Ruin, 2012:7) word die onderskeid tussen die profane en die sakrale as uitgangspunt geneem. Al stem ’n mens nie noodwendig met al die standpunte saam nie, bewys dit tog dat daar ‘n behoefte is om grondig oor sulke basiese kategorieë na te dink. Hulle gee die volgende omskrywing:

This dispute on the relevance and value of a traditional phenomenological approach has continued up till this day in the field of religious studies. From the viewpoint of philosophy and modern phenomenology and post-phenomenology the situation looks somewhat different. What was perhaps most problematic in the older forms of phenomenology of the sacred was not then its lack of explanatory force, nor its theological bias, but rather its unreflected presuppositions that the sphere of the sacred or hierophantic was clearly demarcated and self-contained, that it could be isolated in its self-same essence by a conscientious phenomenological gaze. What is called for today is rather an approach that can address not just the dichotomous structure of the sacred – as both fascination and terror, to recall Otto – but the fundamentally ambiguous nature of the phenomenon itself. The traditional dichotomy still rests on a stable essential structure of meaning, on a something that appears in a double guise. But the ambiguity of the sacred concerns the ambiguity of sacrality as such, an inner instability and polysemy belonging to the very notion of the sacred. The meaning of the sacred needs to be thought through again in an unprejudiced manner. It needs to be traversed, activated, and critically assessed. This way we can perhaps begin to see and understand sacrality as a more mobile, transformative and essentially ambiguous sphere of human experience with subterranean links to politics, desire, language, and aesthetics, to questions of rights and obligations, sacrifices and transgressions.

5   The Red Wheelbarrow

so much depends 
upon

a red wheel
barrow

glazed with rain
water

beside the white
chickens.

6 Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat verskillende, selfs uiteenlopende soorte godsdiens ooreenstemmende temas het. So is daar tussen die Joodse Bybel en die Koran baie raakpunte. Selfs in die Christendom en Boeddhisme kan ooreenstemmende konsepte gevind word. Dit kompliseer sake baie.

7 Hierdie uitspraak kry ek in ’n artikel “Poem as endangered being: Lacostian sounding in Hopkins’s ‘Hurrahing’ and Stevens’s ‘Blackbird’” (Farley, 2016).

8 In die beroemde en berugte Fanny Hill van John Cleland is daar geen enkele vloekwoord of selfs growwe woord nie. Alles is in keurige en fleurige prosa geskryf, en tog is die boek in opset pornografies en het ook oor eeue heen so verkoop.

9 As dit nie verwaand sou wees nie, sou ek hier na een van my eie gedigte kon verwys, waarin die simboliek van nagmaal en die hartsverandering waarvan die Bybel praat, as verwysings gebruik word. Die voorafgaande gedig, “Lemoene I”, word dikwels aangehaal, maar hierdie een gaan skynbaar by die lesers verby.

Lemoene II

Ga nu maar liggen liefste in de tuin
de lege plekken in het hoge gras, ik heb
altijd gewild dat ik dat was, een lege
plek voor iemand, om te blijven.
   – Rutger Kopland

Die kinders sou sy aan die hand moes neem,
dink sy wanneer die dwarrels duiwels draai
uit die vergange ouland en die sweem
van uitsig op die hoogtes haar verraai.

Die sagte kinders sal sy gou moet roep,
die tyd vir loop is klein en afgemeet,
maar in die leë plekke in lang gras
sal hulle rus en die lemoene eet.

Die vrugte sal sy oopbreek om te deel
en mededeel ver onder hoë wind.
Die son en hierdie aarde sal hulle neem
en eet, uit bekers sap sal hulle drink.

Vertel dán, hart van vlees, die stilte opgeskort,
van somergroei wat in die winter vrugte word.

10 Nog ’n voorbeeld was Knielen op een bed violen van Jan Siebelink wat handel oor ’n fanatieke godsdienstige groep in die ooste van Nederland en die invloed wat dit op ’n gesin het. Die boek is sterk outobiografies, maar het teen almal se verwagting in ’n topverkoper geword.

11 Du Plooy, Heilna. 2006. “Geloof, musiek en taal”. CG Cillié Gedenklesing. Vir die Musiekleier. Jaarblad van die Suid-Afrikaanse kerkorrelistevereniging, 26. Desember 2006. Ook: Du Plooy, Heilna (ter perse). “Literêre aspekte en die werk van die literêre adviseurs in die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel”. ’n Verkorte weergawe hiervan is as ’n voordrag tans beskikbaar op https://youtu.be/mL8JT4IVosM  (ek is naby aan die einde van die program aan die woord).

12 TT Cloete het ’n wonderlike gedig juis hieroor geskryf: “penkop hoor meer as een stem” in die bundel Uit die hoek van my oog.

Penkop hoor meer as een stem

Hy wat my gemaak het, weet alte goed
ek is dun van vel, sonder harnas, gebukkel.
Ek vlug swaar, loop met ’n groot gesukkel,
skraal, klein van moed.

Ek is geen goeie soldaat
en geen wenner nie, nie kordaat
of dapper nie, swak is my gelaatstrekke
en my hele lyf is vol teer oop achillesplekke.

Tog is ek – deur Wie nou weer? – aangesê:

Ek wil juis jóú liggaam in die slagveld hê.
Skryf op,
Ek hou jou dop.

Hulle sal jou op albei wange slaan
en op jou mond, maar hou aan.

Loop heel voor en loop regop.
Daar is ook vreugde en geluk
maar ook dáárvoor sal jy rondgepluk
en gestamp word. Kom sukkelaar, kom penkop.

Oefen goed om te koets.
Dè, hier is jou stewels, slaapsak en pauliniese tent.
Leef soos Godsjakkalse bloot. Slaap orent.
Gaan ongewapen en barrevoets
en leer om te hol. Wees paraat ...

Hoe? Dit is eenvoudig:
in die blote gedig.

(maklik gepraat)

“Waaroor mag ek skryf en hoe,
wat is toegelaat en wat is taboe?”

“Vra hulle wat weet wat God alleen weet.” Tjoepstil
is Hy oor wat Hy met my wil.

Soek antwoorde
uit die ongehoorde ...

... snags hou ek my hande ongetroos
uitgestrek. al my nadink bring net vrae,
hou my slapeloos.
Ek dink my verslae.

En, o ja, om van honoreer te praat –
dit is doelbewus nagelaat.
Om net aan die kaktus te vat
is voldoende, tydelik ... gaan daarop prat.

Jy moet op pynlik vreemde maniere leer
om waardeloos te waardeer.
So word jy kerngesond
gereed gemaak vir die ergste wond.

Steeds neem die dinge in ons vorm aan,
steeds is daar in ons nuwe ontstaan

as jy kaalhande skryf-skryf
die dorings van die turksvy afvryf.

13 Die spieëlbeeld van die argument sal waarskynlik ook geld: dat iemand wat in ontwrigtende omstandighede grootgeword het of in aggressie en geweld leef, daardeur gemerk sal wees. Hulle kreatiewe uitsette sal waarskynlik ook tekens hiervan dra. Wat ook al daarby kom, in terme van restitusie en reaksie en ander soorte kennis en insig, mag hierdie inhoude temper of versterk, maar die eise van goeie poësie sal ook steeds ’n faktor wees. Trouens, baie kunstenaars put juis uit problematiese omstandighede die inspirasie en energie vir hulle werk, tot die mate dat dit soms byna as gepaardgaande verskynsels beskou word. Kuns hoef egter nie noodwendig uit verwarring en selfs geestesongesteldheid voort te kom nie, hoewel dit ’n sterk tema in navorsing oor kreatiwiteit is.

14 “Christ of the burnt men”

          (Thomas Merton)

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ’n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ’n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ’n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

15 Wie, Moses?

Die monargskoenlappers reël hulle lugverkeer
sonder die amerikaanse toringbeheer.

Wie het hulle dit geleer?

Wie het die visse se honger so oulik opgelos?
hulle swem in hulle kos.

Wie het die reuse-nautilusse, vra,
bo na die Himalayas gedra?

Wie is aangestel
om die stuifmeeldrade van elke lelie perfek
te plaas en die regte getal uit te tel
en die ses kolletjies op die ladybird op die regte plek?

Wie het die stomme olifant
geleer sedert die tyd van die mammoet
en mastodont om te groet
met die ivoor van sy tand,
sy sterthare en die dik sool van sy voet?

Wie het die duiwelse duwweltjie so slim ontwerp:
hoe hy ook al lê, hy is skerp.

Wie het die eierdop geleer
om te ventileer?

en die talle besonderhede in so ’n teveel
dat my oog breek en in stafies verdeel
360 grade skeel.

Lees Pieter Verster se LitNet Akademies-artikel “’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)” hier:

’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)

  • 4

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Dankie vir hierdie kosbare en insiggewende gesprek -- so diggelaai -- sal ek dit weer en weer lees.
    Sal graag 'n slypskool/skryfskool of meer, van Heilna du Plooy wil bywoon.

  • Ester le Roux

    Baie dankie, Pieter GR de Villiers en Heilna du Plooy, vir hierdie gesprek - dit belig en verryk!

  • P.G. du Plessis het by herhaling kritici en ook opinies wat hy as ongeldig beskou het, gekritiseer. ('n Huldiging. P.G. du Plessis. Hy was 'n pagter, p. 117). Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Ek moet ter wille van die waarheid prof Heilna du Plooy se opmerkings oor die bloemlesing wat ek saamgestel het, beantwoord, En dit alles ter wille van die waarheid. .
    Daar was destyds in die koerante 'n gekibbel oor die "Christelike gedigte" in die titel. Ek is selfs daarvan beskuldig dat ek digters "mislei" het. Nou haal prof du Plooy die saak weer uit die donker. Laat ek dit eens vir altyd duidelik stel: ek was nooit gelukkig met die titel nie. Ek het 'n ander titel titel voorgestel. Maar NB het op die "Christelike" besluit en tot die einde daarmee volgehou. Die projekleier het 'n e-pos aan 'n beswaarde digter geskryf en in rooi letters duidelik verklaar dat die titel nie my goedkeuring wegdra nie. Daarvoor bly ek haar dankbaar. Prof du Plooy, u kan die inligting by NB kontroleer.
    Prof du Plooy beweer ook dat "die basis vir die keuse nie goed genoeg bedink is nie." Twee literatore is aangestel om saam te dink en te bedink. Hulle het voorgestel dat gedigte weggelaat en ander bygevoeg word. Die twee verslae was deeglik verantwoord. Daar is selfs van een literator se sinvolle kommentaar in die Voorwoord opgeneem. Hoe kom prof du Plooy so misgetas het? Ek vra mooi: skrap my naam asb. oor die "Christelike gedigte".Alles ter wille van die waarheid. Ek hoop die verwarring is nou opgeklaar. .

  • Pieta van Deventer

    Lanklaas 'n artikel/onderhoud so interessant en insiggewend ervaar. 'n Kort verwysing na MM Walters: Ek gebruik dikwels van sy vrae, want dit is presies wat dit is, as aanknopingspunt in ons mansbybelstudiegroep. 'n Mens sou ook dieselfde van die onuitgesproke(?) kommentaar in Hond se Gedagte kon sê, en wat van die Big Brother-konsep met absolute magbeheptheid in Die Biblioteek aan die einde van die Wêreld waar die "mens" kan glo hy kan almal en alles beheer? Dit is vrae wat vandag in almal se agterkoppe gevra word. Baie dankie vir die plasing van hierdie heerlike gesprek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top