’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)

  • 4

’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)

Pieter Verster, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Dit is belangrik om te bepaal watter gedigte in Afrikaans as Christelike gedigte aangedui sou kon word; nie alleen omdat sulke gedigte in groot getalle in die Afrikaanse literatuur voorkom nie, maar ook omdat daar groot onsekerheid oor die definisie van Christelike gedig bestaan. Die Godsbegrip bepaal dikwels die oortuiging aangaande Christelike kuns en digkuns. Verskillende benaderings tot die Goddelike Drie-eenheid, veral ten opsigte van die Godheid van Jesus Christus, bepaal onder meer hoe Christelike digkuns omskryf kan word. Die onderskeid tussen religieuse kuns in die algemeen en Christelike kuns, veral digkuns, is ook van belang. Die metode wat hier gevolg word, is om die bestaande standpunte oor Christelike digkuns te oorweeg en dan tot ’n onafhanklike begrip van die aard en betekenis daarvan te kom. Bepaalde eienskappe daarvan word vasgestel. Konsentriese sirkels word vanuit ’n benadering van wesenlike kenmerke van die Christelike digkuns vasgelê waar die drie-enige God as eerste beginsel erken word, met die algemene erkenning van God se bestaan in wyer verband as laaste beginsel. Enkele gedigte in die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017) is in die lig van hierdie begrip oorweeg.

Trefwoorde: Afrikaans; bloemlesing; Christelike gedigte; Godsbegrip; kwalitatiewe parameters

 

Abstract

Investigating Christian poetry in Afrikaans with reference to the anthology Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017)

This analysis assesses the Afrikaans Christian poems in the anthology of Afrikaans poetry Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017), compiled by Cas Vos.

Using original images and views is essential in the art of poetry, and clichés in metaphors and images must be avoided. Poems are characterised by the wonder and beauty of specific words and images.

Various interpretations of what constitutes religious poetry exist. Should any poem that has some or other religious implication be classified as a religious poem? 

Christian poetry is characterised by how God is viewed in the poem. In this regard, many traditions, both Roman Catholic and Protestant, accept the confession that God reveals Godself as Triune God, Father, Son and Holy Spirit. Classical confessions also attest to this belief, for instance the Apostolic Confession, the Nicene Creed and the Athanasian Creed. Other critical views of philosophers and theologians about these confessions, are, however, also relevant for evaluating Christian poetry.

The 1970s were characterised by a lively debate concerning Christian art. Calvin Seerveld’s A Christian critique of art and literature (1977) was hugely influential in this debate. Seerveld viewed Christian art from the perspective of Christian philosophy. According to him, the style of a poem is decisive, rather than its Biblical references. Werkman (1996:5) refers to a few literary critics and historians in the Netherlands who are of the opinion that “Christian literature” does not exist. O’Connor (2020), writing from a Roman Catholic perspective, argues that art should not be used to evangelise.

A moot question is whether Christian poetry should explicitly refer to the Triune God, and in particular to Jesus Christ. In this regard there are mainly three different views concerning the relationship between the Christian religion and other religions (Crafford 2015:266 ff.). The first is the exclusivist approach in which Christ is regarded as the only Saviour. The second is the inclusivist approach that views Christ as Saviour for those who may be unknown to him. The third, the pluralist view, places all religions on the same level. This last view challenges the traditional confession that Jesus is Lord and God.

Qualitative parameters or guidelines for the evaluation of Christian poetry may be established by way of concentric circles. Firstly, Christian poetry would reflect respect for the Triune God, even when serious questions about the relationship with God are raised (such as in the Biblical book of Job). It also reflects a confession of the Lordship and the Divinity of Jesus Christ, although this may not be expressed explicitly. Salvation by grace alone, atonement, and resurrection are expressed, especially by Calvinistic poets. Secondly, it leads the reader to honour God. Although rebellion and doubt may be present, it should be accepted that God exists in glory. This is more in line with the inclusivist approach. The poem does not need to reject faith, but should also not necessarily be a confession of faith. The journey with and to God must be explained with respect. Thirdly, the pluralist view accommodates the humanity of Christ or general references to God and the gods.

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte is explicitly presented as containing “Christian” poems. Various poems in this book are evaluated in terms of their Christian nature. Many critics reacted negatively to this volume. Tom Gouws’s (2017) critique states that both the notions “mooiste” (most beautiful) and “Christelike” (Christian) had not been well thought through by the compiler.

Poems by W.E.G. Louw, a poet with a Christian worldview, such as “Golgotha” and “Opstanding” (Resurrection), can be categorised as undoubtedly Christian in nature, as is the case with Sheila Cussons’s poem “Christ of the burnt men” with its deep cosmological Christian implications. Poems by I.L. de Villiers, T.T. Cloete and Bernard Odendaal are also clearly Christian in nature.

On the other hand, a poem by Cas Vos, “Die Here is nie my Herder nie” (The Lord is not my Shepherd), poses certain challenges in being regarded as a Christian poem, because of its ironic references to Christ’s crucifixion. Lina Spies’s “Credo” challenges the Christian view of heaven although it has a clear religious inclination. Olga Kirsch’s Jewish background and beliefs are clearly evident in her poems. Even though her poetry reflects a deeply religious worldview, her poems cannot be categorised as Christian poems. Daniel Hugo writes highly critical poems about the Christian faith. His “Mossie en mens” (Sparrow and human) challenges God’s relation to humanity and the human condition.

These examples indicate that it would have been better if Vos’s anthology had referred rather to “Christian and religious poetry” in its title. They also portray how difficult it is to define a generally acceptable view of Christian poetry. And yet, some guidelines assist in establishing the nature of Christian poetry, of which honouring God in Christ Jesus is most important. Christian poetry tends to glorify Christ even though doubt, rebellion and questioning of God may form part of it. However, it is always a journey with and to God. The wonder of the word glorifies the Word. 

Keywords: Afrikaans; anthology of poetry; Christian poems; qualitative parameters; view of God

 

1. Inleiding1

In hierdie ondersoek na Christelike gedigte in Afrikaans sal enkele gedigte in die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017) oorweeg word. Die bloemlesing, met Cas Vos as samesteller, is gekies omdat die titel aandui dat die gedigte daarin opgeneem ’n uitgesproke Christelike karakter sou hê.

Die vraag na watter gedigte dan as Christelike gedigte beskou kan word, is in die eerste plek van belang. Werkman (2014) wys byvoorbeeld daarop dat iemand soos Komrij (1999), wat geen erg aan “God, Nederland en Oranje” het nie, in sy bundel oor die Afrikaanse poësie nie anders kon as om ook die positiewe herwaardering van die religieuse aan die einde van die 20ste eeu te erken nie. Die Afrikaanse digkuns is daarvolgens ook deurtrek met die religieuse, veral die Christelik-religieuse. 

Ook Cloete (1989:892) skryf: 

Om mee af te sluit: Ek wou daarop gewys het dat ons poësie deurlopend van die begin af tot vandag toe ’n Bybelse betrokkenheid toon, en ’n baie intensiewe en uitgebreide Bybelse intertekstualiteit by ons belangrikste en grootste digters, in soms klein gedigte, soms in groot en grootse digwerk. 

’n Groot aantal gedigte in die driedelige bloemlesing Groot verseboek (Brink 2008a; 2008b; 2008c) toon hierdie temas. In hierdie artikel val die klem egter op die gedigte opgeneem in die bloemlesing van Vos. 

Die kategorie “religieuse gedigte” sou egter ook ’n groot verskeidenheid gedigte kon insluit. Breyten Breytenbach en T.T. Cloete se uiteenlopende benaderings sou in hierdie verband as voorbeeld kon dien.

Watter meetinstrumente of riglyne moet dan aangelê word om gedigte as spesifiek Christelik te bestempel? Daar sal bepaal moet word watter gedigte as Christelike gedigte beskou sou kon word en waarom daar kritiek bestaan teen die aanname van wat “Christelike gedigte” sou wees in die bloemlesing van Vos.

 

2. Die essensie van die gedig

Dit is nie die bedoeling van hierdie artikel om indringend te besin oor die aard van die poësie nie. Wanneer die samesteller egter die term “Christelike gedigte” gebruik, word veronderstel dat hy wel oorweeg het of die opgeneemde werk inderdaad binne die definisie van poësie val. Ter inleiding word hier dus na enkele aspekte van poësie verwys, vir sover dit van belang is vir die vraag na Christelike digkuns.

Cloete, Botha en Malan (1985:134) meen dat die gedig op die volgende wyse van prosa verskil:

[Dit is] meestal ’n gekonsentreerde liriese uitdrukking van ’n bepaalde waarneming of ervaring […] eerder as ’n verteller se weergawe van ’n verhaal. Ons stel dus veral belang in die samespel van woorde, klanke, die ritme en betekenis binne ’n struktuur wat noukeurig sintakties, strofies en andersins saamgestel word.

Grové (s.j.:37) bevestig dat die nosie van beelding ’n wesenlike onderdeel van die poësie is, “want talle gedigte is niks anders nie as ’n poging om ’n sprong te maak van die konkrete na die abstrakte, die besondere na die algemene, die tydelike na die bo-tydelike, die verskynsel na die verskyning, die aktuele na die simboliese …”

Grové (1978:120) toon ook aan dat verskeie faktore ter sprake kom in die ontleding van ’n gedig. Die gedig kan nie bloot in isolasie beskou word nie: “Daar is bv. die verhouding tussen die gedig en die digter, die gedig en die gemeenskap, die gedig en die literêre tradisie waaruit hy stam e.d.m. – almal verhoudings wat hulle nie sonder meer laat wegdink nie.” Dit is veral belangrik wanneer daar oor “Christelike gedigte” nagedink word.

Pereira (1992), in haar bydrae oor beeldspraak, en Gräbe (1992), in haar bydrae oor die metafoor, beide in Cloete se Literêre terme en teorieë (1992), dui aan dat die beeld sentraal staan in die digkuns. 

’n Interessante perspektief aangaande T.T. Cloete word deur Odendaal (1997:172) voorgehou. Daarvolgens is dit die sensitiewe digter se taak om die werklikheid te verken en in taal om te sit. Samehang is wesenlik in hierdie proses, en die digter as “prospekteerder” en “vertolker” gee “vergange sowel as toekomende menslike ervarings” weer (Odendaal 1997:173). As prospekteerder sal die digter vergange sake opdiep. As vertolker kyk die digter na die toekoms. Wat Christelike gedigte betref, is hierdie aspekte belangrik, omdat dit meespreek in die vraag of ’n gedig wel as Christelik beskou kan word al dan nie. By Cloete kom daar ook ’n diep religieuse begrip van die werklikheid voor, sodat die digkuns in verband gebring word met die skepping van God (Odendaal 1997:194).

Snyman (1983:24) dui aan dat die digterlike woord, wat hy beskryf as “enige” woord in die gedig wat “sinvolle gestalte verkry”, op sy eie reeds ’n magiese element vertoon. Daarom moet die woord met die uiterste respek hanteer word. Ook Van Rensburg (1983:131) dui die belang van die woord aan, selfs die “mooi” woord, omdat die wonder waarin die gedig kuns word, daardeur geskep word. 

Willemse (1999:16) toon aan hoe kanonisering in die poësie (byvoorbeeld van die Afrikaanse korpus) verskeie beginsels en kriteria, wat egter deur die jare verander, as uitgangspunt het. Uiteenlopende en veranderende sosiale diskoerse bepaal die kanon. Waar die estetiese waarde dikwels as die rigtinggewende beginsel aangedui is in die verlede, het daar met verloop van tyd ander beginsels na vore getree, soos politieke betrokkenheid. Van Vuuren (2006:302) wys daarop dat daar in latere ontwikkelings in die Afrikaanse poësie na normdeurbrekende tendense beweeg word. Dit is van belang om dan te vra of sommige van daardie gedigte wel as Christelike gedigte beskou kan word, selfs al maak dit van Christelike tematiek gebruik.

Cloete (1980:116 e.v.) wys op ontwikkelings wat sedert die sestigerjare in die Afrikaanse poësie voorkom wat ook van belang is vir die vraag na die wesenlike van Christelike poësie, naamlik relativisme, ontdoening, satire, die onbenullige, onbelangrike en eenvoudige, verset teen ouer poësie, die konkrete en tasbare, aktualiteitsverse, die aardse en plaaslike, ens.

Oorspronklike beelde en sienings is dus essensieel aan die digkuns en geykte retoriese beelde moet vermy word (Spangenberg 1980:17). Die gedig word gekenmerk deur die wonder van die spesifieke woorde en beelde. Waar die betekenis van gespreksvoorwaardes van belang is, sal die voorwaarde van ekonomie in die gedig wel nagekom word (vgl. Van Coller en Van Rensburg 1984). 

Wat verder van belang is vir die ondersoek na Christelike gedigte, is hoe die temas en tendense Christelik uitgebou word. ’n Narratiewe lyn kom in die digkuns voor, wat ook in liriese poësie vertoon word. In hierdie verband kan na die insiggewende artikel van Heilna du Plooy (2010:36) verwys word waarin sy aantoon dat daar wel ’n narratiewe grondslag in liriese poësie voorkom, veral by bundelvorming. Sy skryf (2010:37): “As ’n mens egter liriese poësie lees met ’n bewustheid daarvan dat daar ’n narratief in die liriek kan skuil, kom daar fasette van die gedig na vore wat andersins misgekyk of onderskat kan word.” Dit is juis van belang vir Christelike digkuns, omdat soveel van die verhaal daarin na vore kom. 

Wat dus duidelik word, is dat Christelike digkuns aan dieselfde kwaliteitsvereistes as ander poësie gebonde is, maar dat dit verskil ten opsigte van die wyse waarop temas aangebied word en ook ten opsigte van lewens- en wêreldbeskouings.

 

3. Christelike kuns en poësie

3.1 Die vraagstelling

Die vraag wat dan gestel word, is of gedigte wat dikwels as Christelike gedigte beskou word, wel as sodanig geklassifiseer kan word. Soms word hoogs kontensieuse gedigte aangaande die Christelike oortuiging geskryf wat dit eintlik bevraagteken en soms verwerp. Kan Christelike gedigte dan inderdaad betekenisvol aangewend word om bepaalde aspekte van die lewe omvattend te verwoord? 

3.2 Religieuse gedigte 

Volgens Gardner (1966:121) is die vraag of daar werklik ’n aparte kategorie “godsdienstige gedigte” bestaan, asook wat die beperkinge op godsdienstige gedigte sou wees. Wanneer kan ’n gedig as godsdienstig beskou word? Moet daar spesiale kriteria vir godsdienstige gedigte wees? As daar spesifieke dinge is wat in godsdienstige gedigte na vore kom, is daar beperkinge en uitsluitings wat op religieuse digters van toepassing is wat maak dat hulle dan mindere digters is? Is ’n religieuse digter minder belangrik as ’n persoon wat slegs van mens tot mens spreek? Daar is diegene wat inderdaad kritiek lewer op religieuse poësie. Volgens Gardner (1966:121 e.v.) meen hulle dat die substansie van religie inderdaad nie in gedigte oorgedra kan word nie.

Wiman (2015) verduidelik dat dit moeilik is om aan te dui watter kuns na God soek en God dien:

In alle originele kunst is iets, dat zich niet onderwerpt aan God, als we met “onderwerpen” een soort vrijwillige censuur bedoelen, een bewust weigeren van de gang naar de donkere en verontrustende plek waar het brein terecht kan komen. Maar zo moet die zin niet begrepen worden. We komen dichter bij de waarheid van de relatie van de kunstenaar met de goddelijkheid als we niet spreken van “onderworpen zijn aan God” maar van “onderwerpen aan God”: onze individuele subjectiviteit gaat verloren en wordt herontdekt binnen de realiteit van God …. Wat ik probeer te zeggen, denk ik, is dat God soms iemand tot ongeloof roept om het geloof nieuwe vormen aan te laten nemen.

Die godsbegrip is in dié verband belangrik. Borgdorff (2020) verwys byvoorbeeld na die verskillende wyses waarop oor God nagedink word. Hy skryf: “Muziek zit niet ergens, muziek zit in de verbinding. Zoals God niet bestaat, maar gebeurt, al word ik altijd wel een beetje nerveus van deze opmerking.” 

Die belydenis dat God Godself openbaar as die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, word wyd aanvaar onder verskeie kerkgenootskappe, sowel Rooms-Katoliek as Protestants. Klassieke belydenisgeskrifte, soos die Apostoliese Belydenis, of Twaalf Artikels van die Christelike Geloof, die Belydenis van Nicea en die Belydenis van Athanasius, druk hierdie oortuiging uit. Dit sou as ’n klassieke Godsbegrip aangetoon kon word. Hierdie belydenisgeskrifte, veral dié van Nicea en Athanasius, het egter ontstaan te midde van ’n kerklike stryd oor veral die Godheid van Christus. Tans is daar weer intense bespreking oor die wyse waarop daar oor God besin moet word. Nie alleen word die Godheid van Christus opnuut bevraagteken nie, maar die hele begrip aangaande die Godheid word nuut bespreek. ’n Teoloog soos Van de Beek (1998:91–8) handhaaf die Godheid van Christus radikaal, maar ander, soos Lampe (2016), dink veel meer menslik oor Christus en is van mening dat, onder die huidige omstandighede in Europa, die mensheid van Christus beklemtoon moet word. In die Afrikaanse omgewing het teoloë soos Heyns (1992:130–8) en Jonker (1977:172–4) deurgaans die Godheid van Christus erken en daarmee saam die belydenis aangaande die Drie-eenheid van God. ’n Teoloog soos Muller (2011) kies egter ’n meer postfondasionele (“postfoundational”) benadering. Vanuit teologiese sowel as nieteologiese benaderings word die Christelike godsbegrip opnuut indringend bespreek. Dit beteken dat wanneer daar oor Christelike digkuns besin word, die Godsbegrip, wat wesenlik by digters kan verskil, in ag geneem moet word. Daar sal wel ’n keuse vir ’n bepaalde Godsbegrip moet wees om sodoende aan te dui wat in hierdie artikel as Christelike digkuns beskou word.

3.3 Christelike kuns 

’n Lewendige debat het in die 1970’s plaasgevind oor die vraag na Christelike kuns ten tye van die publikasie van Calvin Seerveld (1977) se boek A Christian critique of art and literature. Seerveld staan direk in die tradisie van die Christelike wysbegeerte. Die Wysbegeerte van die Wetsidee, soos uiteengesit deur Dooyeweerd, asook die Wysbegeerte van die Skeppingsidee van Stoker, is voorbeelde van die sogenaamde Christelike wysbegeerte. Volgens Seerveld (1977:32 e.v.) is daar veral sedert Plato beklemtoon dat kuns die skoonheid dien. Die beginsel van skone harmonie word vasgelê. Seerveld dui aan hoe die gereformeerde tradisie van Calvyn, Kuyper en Dooyeweerd die klem op styl plaas en nie soseer bloot op die weergee van Bybelse uitdrukkings nie (Seerveld 1977:39, 49–51, 68.) Hiervolgens word Christelike kuns nie soseer gekenmerk deur spesifieke verwysings na Jesus of Bybelse figure nie, of selfs deur die feit dat die skilder of skrywer self ’n Christen is nie, maar deur die beginsels van die styl en simboliek wat God in God se skepping ingegee het. Seerveld (1977:39) skryf: “Art is the symbolical objectification of certain meaning aspects of one thing or another, subject to the law of allusiveness.” Maar wat sou dan ’n Christelike styl wees? In aansluiting by Calvyn dui Seerveld (1977:50) dit soos volg aan: “A Christian style will be honest, self-effacing, serious in its gaiety, fresh, candid and confident in its naïve immediacy.” Die sonde en die sondaar sal nie soseer met begrip en simpatie bejeën word nie, maar daar sal aangetoon word hoe diep hulle ellende is (1977:75). Dit beteken nie dat alles net “mooi” moet wees nie, maar wel dat kuns die styl van God se skepping moet vertoon. Die essensie is dus vir Seerveld “symbolically objectified meaning” (1977:80).

Johl (1986:88) lewer ’n belangrike bydrae tot die literêre kritiek deur ook na die Calvinistiese eksponente van die kunskritiek te verwys. Sy wys daarop dat die literator Dekker beklemtoon dat die kunswerk na die sondeval verwys en dat die stryd tussen goed en kwaad juis daarin moet voorkom. Hy benader die saak vanuit die lewensbeskoulike Calvinistiese kunskritiek. Sy verwys ook na die literator Van der Walt wat meen dat die kunswerk juis ook moet poog om orde te bring. Orde en sin is in die chaotiese wêreld nodig en die kunswerk moet juis dit teweegbring. Sy is ook van mening dat die literator Steenberg op sy beurt beklemtoon dat die kunswerk meer as net blote aktiwiteit moet wees, maar religie in werking deur oor die sonde te heers. Johl (1986:159) vat haar beskouing oor die literêre kunswerk soos volg saam:

Die literêre werk is ’n selfstandige gesagsentrum of werksgeheel wat sélf die riglyne verskaf vir die wyse waarop dit “gelees” (geïnterpreteer) wil wees en ook vir verbandlegging na buite die teks. Die werk, en wel: as ’n geheel, kan op simboliese of impliserende wyse van toepassing wees op of geldigheid hê vir ander ervaringswerklikhede of die empirie op die manier waarvoor in die teks voorsiening gemaak word. (Kursivering deur Johl)

Dekker (1966:63) verwys na die implikasie van die kunswerk as die sinlike gestalte of suggestie van die bosinlike. Skoonheid kan waardeer word selfs al sou daar by die leser lewensbeskoulike verskille met die kunstenaar wees (1966:62). Die skoonheid, die waarheidsmoment, word waardeer. Ten slotte moet die kunswerk egter ook teen die lewens- en wêreldbeskoulike beginsels en die Godsbeskouing wat daarin vervat is, oorweeg word (1966:62).

Ook Van der Walt (1999:381) toon aan dat die verskillende aspekte of modaliteite van die werklikheid ook die kuns bepaal. Die estetiese word dus as modaliteit binne die werklikheid aangetoon. Waar een van die modaliteite verabsoluteer of oorbeklemtoon word, het dit negatiewe gevolge. Geen modaliteit, ook nie die kuns nie, mag as absoluut erken word nie, aangesien daar maar een absolute is, naamlik die ware God van die Bybel.

Van der Colf (1980:22) wys daarop dat in die sistematisering van die religieuse denke die wonder van die irrasionele nie verdring mag word nie. Hy is van mening dat sowel die Metodisme as die gereformeerde teologie die irrasionele soms as “onhanteerbaar” beskou en daarom ook as onaanvaarbaar. Om die heilige te ervaar, sal daar besondere begrip daarvoor moet wees.

Johl (1988:117) toon aan hoe ironie ter sprake kom wanneer die fundamentele tweespalt tussen goed en kwaad in die teologie ook literêre neerslag vind.

O’Connor (2020) skryf oor geloof en die skrywer vanuit ’n Rooms-Katolieke perspektief en vat dit soos volg saam:

Sint-Thomas van Aquino stelt dat kunst geen morele insteek vereist, dat het puur gaat om de kwaliteit van datgene wat wordt gemaakt. Hij stelt dat een kunstwerk goed is in zichzelf, iets wat tegenwoordig maar al te vaak uit het oog wordt verloren. Tegenwoordig willen we iets maken dat ergens toe dient. Maar wat in zichzelf goed is, eert God omdat het God weerspiegelt. De kunstenaar volbrengt zijn taak door zich te wijden aan zijn kunst, en daar heeft hij de handen vol aan. Hij kan het evangeliseren met een gerust hart aan de evangelisten overlaten.

Dit word dus uit hierdie voorbeelde duidelik dat religieuse kuns op verskillende wyses benader kan word. Kuns kan so wyd geïnterpreteer word dat die vraag of religieuse kuns wel moontlik is, gevra word. Religieuse denke is egter so beslissend dat dit wel ook in die kuns, en in die digkuns spesifiek, na vore kom. Die menslike bestaan is ten diepste ook aan religie verbonde en die kunstenaar reageer onder meer daarop.

3.4 Christelike literatuur

Werkman (1996:5) verwys na enkele literatuurkritici en -historici in Nederland wat dit uitdruklik stel dat iets soos “Christelike literatuur” nie bestaan nie. Hy verwys egter ook na die standpunt dat Christelike literatuur bloot literatuur is wat na Christus verwys of Bybelse uitgangspunte vertoon. Daar is ander wat Christelike literatuur beskou as literatuur wat deur Christene geskryf word (1996:7–8). Werkman (1996:8) vat sy eie siening egter soos volg saam:

Zelf definieer ik de drie woorden in het begrip “moderne christelijke literatuur” graag apart, maar wel in elkaar hakend. Als volgt:

•  Christelijke literatuur is literatuur waaruit expliciet of impliciet blijkt dat er hoop is omdat Christus is opgestaan; de weg naar de hoop gaat menigmaal via wanhoop en twijfel.
•  Christelijke literatuur moet kunstzinnige verfijning en originaliteit bezitten.
•  Moderne christelijke literatuur bemoeit zich met de problemen van haar eigen tijd en zal in de tweede helft van de twintigste eeuw daardoor vaak geëngageerde literatuur zijn.

3.5 Christelike digkuns

Wat die poësiekritiek betref, skryf Wiehahn (1965:178) dat die kritikus nooit vanuit sy eie sisteem reeds by die aanvang van die kritiek moet besluit wat die gevolgtrekking sal wees nie. Die sisteem van die kritikus moet ook die proses van poësiekritiek beïnvloed en wysig. Wat Christelike poësie betref, sal daar in gedagte gehou moet word wat die invalshoek van die poësiekritiek is.

Engelbrecht (2012:48) wys in haar belangrike proefskrif daarop dat die postmodernisme se “narsistiese naïwiteit” bevraagteken word en dat ’n fase van post-postmodernisme binnegegaan word waar meesternarratiewe terugkeer, waardes weer beklemtoon word en die religieuse weer na vore kom (2012:36 e.v.). Daar moet egter versigtiger met die uitgangspunte van die postmodernisme omgegaan word. Lyotard (1984:31 e.v.) se bevraagtekening van meesterverhale word wel selfs deur diegene wat ook as postmoderne denkers beskou word (vgl. Serres (met Latour) 1995:139 e.v.) op bepaalde wyses herinterpreteer, maar daar is steeds aspekte van die relatiwiteit van kennis wat voorgehou word.

Die vraag na waardes en die religieuse word egter wel belangriker. Wat die Afrikaanse poësie betref, skryf Engelbrecht (2012:374) die volgende:

In die inleiding is genoem dat Christelike elemente in die Afrikaanse letterkunde reeds deur die Dertigers en Veertigers ingesluit is. Dit is ook as hipotese gestel dat waar Christelike elemente in gedigte sedert 1960 ’n klemverskuiwing wég van die individu se godsdienservaring ondergaan het ten gunste van Bybelse elemente in diens van die gemeenskap (by name die versetstryd), is daar in ’n nuwe millennium sprake van ’n klemverskuiwing terug na die individu se God- en kerkervaring. 

Hiervolgens sou die begrip Christelike digkuns ruim geïnterpreteer kon word. Engelbrecht hanteer die temas van Moses, God en satan, hemel en hel, en Christus in die onlangse Afrikaanse poësie en lirieke (2012:101 e.v.) op ’n soortgelyke wyse. Die spesifieke aard van Christelike digkuns moet egter aandag kry en sal verdere ondersoek verg.

Bosman (1989:1 e.v.) gee ’n oorsig van die moderne Christelike poësie in Afrikaans. Aanvanklik word verwys na die probleem van die definiëring van Christelike poësie, omdat daar meningsverskille is oor die implikasies daarvan. Daar is diegene wat meen dat dit absoluut beperkend op die digter is, omdat hy of sy nie die volle heerlikheid van God kan beskryf nie. Aan die ander kant is dit beperkend omdat ’n mens in sodanige digkuns nie vry is om alle aspekte van die bestaan te kan benader nie. Daardeur word objektiwiteit ingeboet, omdat die mens nie self kan vrykom van die keurslyf van die Christelike nie, en daarom lei dit tot swak poësie. Ander is egter weer van mening dat ’n begrip soos Christelike poësie nie gehandhaaf kan word nie, omdat ’n mens nie in menslike terme oor die wonder van God kan skryf nie, dat dit te groot en te heerlik is en dat ’n mens ver daarvan af sal staan. Uit nieliterêre oorde was daar al ook ’n skerp en negatiewe reaksie op die begrip Christelike poësie (Bosman 1989:7). Daar was egter ook diegene wat gemeen het dat digters hulle teen die godsdiens opstel en daarom nie die volk se poësie en die Christelike poësie van die volk voordra nie (1989:8). Daar was selfs die gedagte dat die Christelike poësie na die vroeëre voorkoms daarvan doodgeloop het; later moes egter tog erken word dat digters soos T.T. Cloete dit weer lewend gemaak het.

Dit is ook interessant om na te gaan na watter digters Bosman as Christelike digters verwys. In die benadering wat sy gevolg het, word verskillende Christelike digters voorgehou. Daar word begin met die vroeëre geslag digters en dan word verwys na digters wat in ’n besondere sin as Christelike digters beskou kan word, naamlik Ina Rousseau, Sheila Cussons, I.L. de Villiers en T.T. Cloete. Ten slotte verwys sy na ’n laaste groepie digters, wat volgens haar Lina Spies en Petra Müller insluit.

Daar is ook ander aspekte van die poësie wat oorweeg moet word wanneer daar gevra word wat die betekenis van Christelike poësie is. In sy ondersoek na mistiek in die Afrikaanse poësie wys Olivier (1985:103) daarop dat woorde ’n nuwe gestalte van die werklikheid verkry wanneer dit op ’n analogiese wyse na die ander werklikheid verwys. Binne ’n bepaalde konteks verkry woorde nuwe betekenis (1985:119). Hy skryf: “Dis juis omdat die gelowige nie konformeer nie dat religieuse taal so ’n ‘snaakse’ voorkoms en kwaliteit het; dit is juis omdat die gelowige ’n nuwe struktuur vir die ou taalfenomene soek, dat die taal wat hy het vir die ‘oningewyde’ vreemd en moeilik is” (1985:102). Daarom is die taalgebruik in die Christelike poësie soms vreemd en uniek.

Odendaal (1997:236 e.v.) toon aan dat daar in T.T. Cloete se werke verskeie duidelik Calvinistiese elemente voorkom. Hy noem die volgende: die absolute soewereiniteit van God; ’n Bybelse begronding; en die belang van die skeppingsopenbaring van God, waaronder die volgende ressorteer: eenheid in verskeidenheid; die mens/digter as verkenner en vertolker van die Goddelike openbaringe in die skeppingsdinge; die wonder en sinvolheid van die skepping; en die vreugde van die geskapene. Hierdie elemente sou inderdaad sekere riglyne vir die beoordeling van Christelike poësie kan verskaf. Odendaal (1997:240 e.v.) toon egter wel aan dat daar by Cloete ook motiewe voorkom wat nie as Calvinisties beskou kan word nie, soos ’n neiging tot panenteïsme en eiesoortige mistiek. Verder wys Odendaal (1997:245 e.v.) op die voorkoms van verganklikheid in Cloete se poësie, wat nie altyd met die verwagting van ’n hemelse heerlikheid ooreenkom nie. Dit alles dui daarop dat dit moeilik is om spesifiek Christelike gedigte te vind en te ontleed.

In ’n huldiging van die teoloog en digter Totius skryf Pretorius (1984:12) dat Totius sy roeping as Calvinis gesien het as ’n opdrag om altyd te bevestig “hoe groot Hy is” en dat sy poësie deurentyd deurtrek is van sy “innig vrome Calvinisme”. Bosman (1989:28) wys daarop dat Totius in die eerste plek teoloog is en dat sy poësie ’n manifestasie van sy Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing is. 

Sou spesifieke verwysings na God Drie-enig wel noodsaaklik wees, en dan spesifiek verwysings na Jesus Christus, en dan ook nie in ironiese sin nie? Daar word hoofsaaklik drie verskillende benaderings oor die verhouding tussen die Christelike evangelie en ander godsdienste onderskei, wat ook hier van belang is (sien Crafford 2015:266 e.v.). Die eerste is die eksklusiwistiese benadering. Daarvolgens is Christus die enigste Verlosser wat in bepaalde kerke vereer word. Hy alleen moet erken word. Daar is geen ander weg na saligheid nie. ’n Tweede benadering is dat Christus wel die ware Verlosser is, maar dat nie almal daarvan bewus is nie, en nogtans deur Hom gered word. Hy is die een wat dit moontlik maak deur die verlossing aan die kruis, maar dit beteken nie dat almal dit noodwendig weet of aanvaar nie. Ander persone as die gelowiges in Jesus Christus is op ’n anonieme wyse ingeskakel by die heil wat Christus bewerk. Die derde standpunt van die verhouding van die Christelike godsdiens tot die ander godsdienste is dié van die pluralisme, waarvolgens gemeen word dat alle godsdienste op gelyke vlak beoordeel behoort te word en dat almal dan op hierdie gelyke vlak die saligheid beërwe. Daar is geen sprake daarvan dat Christus uniek is in die sin dat hy die wese of betekenis van ander godsdienste kan bepaal nie. Hiervolgens is die Christelike godsdiens ’n wonderbaarlike godsdiens, maar dit is nie die enigste of uitgesonderde godsdiens waardeur mense gered kan word nie. Die Christelike godsdiens is een van vele. Daarom regverdig enige uitdrukking van geloof dieselfde uitkoms as die Christelike geloof. Alle paaie lei dus na Rome. Enige gedig wat wel op die een of ander wyse vir God erken sou dan, volgens hierdie uitgangspunt, as “Christelik” in die algemene sin van die woord beskou kon word.

Wat is dan die betekenis van die oortuiging dat Jesus die ware Verlosser is vir die hele saak van die Christelike poësie? Daar sou hier ook na die verskillende standpunte verwys kon word. Die eerste standpunt sou wees dat Christelike poësie uitdruklik Christus moet verheerlik en dat daar in die Christelike poësie sprake van Jesus Christus moet wees, naamlik dat Hy as God uit God (soos in die geloofsbelydenis van Nicea gestel) waarlik vereer sal word en dat die Christelike poësie deurgaans sal moet beklemtoon dat Hy as Christus die sentrale punt is waarom dit gaan. Die Christelike poësie sou dus poësie moes wees waarin Jesus Christus sentraal staan.

’n Mens sou egter ook die standpunt van inklusiwiteit kon gebruik om na poësie te verwys. Dan sou mens kon sê dat Christelike poësie nie noodwendig die naam van Christus moet gebruik of op ’n bepaalde manier na die Drie-enige God moet verwys nie, maar dat alle poësie wat waarheid, geregtigheid, eer en trou versinnebeeld, Christelike poësie sou wees, al sou dit nie noodwendig die Christelike standpunt verkondig nie. Op ’n anonieme wyse sou poësie dus Christelik kon wees sonder dat dit noodwendig enige Christelike boodskap uitdra. Die beginsel van geregtigheid, trou en waarheid sou dan kon bevestig dat die waarheid gedra word.

Die laaste moontlike begrip van poësie sal dan kan wees dat ’n pluralistiese benadering gevolg word en enige religieuse poësie aanvaarbaar is, dat poësie nie afgewys kan word nie, selfs wanneer dit in meerdere of mindere mate uitgaan van ’n totaal ander lewens- en wêreldbeskoulike standpunt, solank dit op een of ander wyse vir God erken. Enige poësie wat God op ’n bepaalde wyse erken, sou in die wydste sin as “Christelike” poësie erken kon word, omdat dit wel ’n religieuse element vertoon. Dit is duidelik dat hierdie standpunt so ruim is dat alle religieuse poësie wat aan kriteria van algemene literatuur voldoen, dan as aanvaarbare “Christelike” poësie beskou sou kon word.

Daar sal dus wel ’n spesifieke invalshoek vir die onderskeiding van Christelike poësie moet wees. Christelike poësie is nie maar net poësie wat bloot waarheid en egtheid verteenwoordig nie. Dis belangrik dat die digter nie die onbeskryfbare essensie van God beskryf nie, maar wel op die openbaring van God reageer. Die reis na en met God word deur die digter uitgebeeld en die drang om oor die Onsêbare te praat word uitgedruk in taal. Die digter antwoord op die openbaring van God deur die weerwoord van die gedig. Ten diepste sal die gedig Jesus Christus moet verheerlik. Dit sal egter geen oppervlakkige verheerliking kan wees nie, maar juis ook ’n diepgaande worsteling moet toon om tot eerbetoon te kom. Daarom moet bepaalde eienskappe aangedui word vir spesifiek Christelike gedigte. Hierdie eienskappe sal dan ook in bepaalde konsentriese sirkels ontwikkel kan word wat vanuit ’n sentrale begrip uitgebou kan word om meerdere moontlikhede in te sluit. Dit kan samevattend soos volg aangedui word:

  • As eerste konsentriese sirkel behoort daar in die gedig respek vir God Drie-enig as Persoon te wees, selfs al sou daar intense vrae, soos by Job, aan God wees. Daarmee saam sou daar erkenning van Jesus Christus se Godheid wees, al sou dit nie eksplisiet of letterlik so gestel word nie. Jesus se verlossing, soendood en opstanding sou ook erken word. Dit sou ’n eerste enger kring van Christelike poësie wees wat saamhang met die eksklusiwistiese siening. Onder andere sal Calvinistiese digters hieraan voldoen.
  • ’n Tweede sirkel sou ’n ruimer erkenning van God wees waar die gedig die leser lei tot die erkenning van God Drie-enig, al sou dit ook opstand en twyfel impliseer, maar die gevolgtrekking sal altyd wees dat God in God se heerlikheid bestaan. Dit sluit ’n ruimer verstaan van Christus se persoon en werk in wat met die inklusiewe benadering saamhang. Die gedig behoort nie geloof te verwerp nie, al hoef dit nie noodwendig ’n geloofsbelydenis te wees nie. Die reis na en met God behoort met eerbied in die gedig uitgedruk te word.
  • Daar kan egter ook ’n derde sirkel van digkuns wees wat net na die mensheid van Jesus verwys en ook as Christelike digkuns beskou sou kon word. Dit hang saam met die pluralistiese benadering en sou ook digkuns insluit wat bloot in afgeleide vorm Christelik sou wees.
  • Laastens sou daar ’n geheel pluralistiese beskouing kon wees waar enige poësie wat op een of ander wyse vir God erken, wel as “Christelik” beskou sou kon word bloot omdat God ook erken word.

Vanuit die belydenisse kies ek vir die eerste twee moontlikhede en sal aantoon waarom vanuit hierdie gesigspunt die woord Christelike in die titel van die bundel, naamlik Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, te ruim verstaan word.

 

4. Beoordeling van gedigte

Enkele gedigte uit die bloemlesing van Cas Vos word getoets aan die riglyne soos hier bo uiteengesit om vas te stel of hulle wel as Christelike gedigte beskou kan word. Daar word nie oor die meriete van die gedigte geoordeel nie. Enkele gedigte word beoordeel om aan te toon hoe sekere gedigte wel die eienskappe van Christelike gedigte vertoon, maar ook hoe moeilik dit is om alle gedigte in die bloemlesing as Christelike gedigte te beskou.

Die bundel het heelwat reaksie uitgelok. Vos (2017:17) self skryf oor die bundel: “Al is al die gedigte in die bloemlesing nie noodwendig streng gesproke Christelik van aard nie, is al die opgenome gedigte weldeeglik versoenbaar met die Christelike oortuigings.” Die problematiek word hierdeur egter verdiep. Tom Gouws (2017) se resensie is byvoorbeeld uiters krities ten opsigte van die samesteller self en hy meen dat beide die woorde mooiste en Christelike nie goed deurdink is nie. Reaksie is uitgelok omdat sommige digters wat daarin opgeneem is, gemeen het dat hulle nie genoegsaam geraadpleeg is nie en omdat hulle gedigte wat opgeneem is, volgens hulle nie noodwendig Christelike gedigte is nie (Koen 2017). In hierdie kommentaar word na Lina Spies verwys, en dan ook na Daniel Hugo, wat ’n spesiale gedig vir opname in die bundel geskryf het, onder die indruk dat dit ’n algemene bundel van religieuse of geestelike gedigte sou wees en nie spesifiek Christelik van aard nie (Gouws 2017). Ook Joan Hambidge (2017) notuleer haar ontsteltenis oor die opname van enkele van haar gedigte. Koen (2017) is verbaas dat Breyten Breytenbach nie opgeneem is nie, maar neem nie in ag dat Breytenbach op grond van sy Zen-Boeddhistiese lewensbeskouing buite beskouing gelaat is nie. Gouws (2017) is eweneens oor Breytenbach se weglating verbaas in die lig van die insluiting van Olga Kirsch se gedigte, gesien in die lig van haar Joodse agtergrond. Hy erken wel dat die samesteller ’n bykans onmoontlike taak gehad het.

Vervolgens word ten eerste enkele gedigte wat opgeneem is wat die spesifieke karakter van Christelike gedigte deur die Drie-eenheid erken, bespreek.

W.E.G. Louw, wat deurgaans in sy gedigte sy Christelike geloofsoortuiging uitgedruk het, word verteenwoordig met die gedigte “Golgota” en “Opstanding”. “Opstanding” (55) bevat die frase “Dat Hy, één met die Vader en die Gees …”, wat ’n duidelike erkenning van die bestaan van ’n Drie-enige God is. Dit eindig met ’n duidelike geloofsoortuiging:

en soos uit diepe duisternis ’n vlam,
staan hoog en rank en smetteloos die Lam! 

Van besondere betekenis is die hoofletter wat gebruik word by “Lam”. Daarmee word besondere betekenis aan Jesus Christus gegee. Die sonnet bou op tot die hoogtepunt van die erkenning dat Jesus opgestaan het.

Ohlhoff (2006:79-87) toon aan hoe Christelike motiewe vernuwend in W.E.G. Louw se digkuns na vore kom; vergelyk ook Beukes en Lategan (1967:65) wat verwys na Louw se nederige verootmoediging wat in sy verse voorkom. Alhoewel Louw se verse dus diep godsdienstig en in dié geval Christelik is, het hy tog ook ’n nuwe stem laat hoor in sy verhouding met God (Kannemeyer 1988:129). Ook Cloete (1989:879) verwys na die invloed van die Bybel op die Afrikaanse digkuns en veral op W.E.G. Louw wat ook die Bybelgegewens vernuwend verwerk (Cloete 1989:880). 

Vervolgens kan die gedig “Christ of the burnt men” van Sheila Cussons (85) onder die loep geneem word: 

                                                     ... o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die kleiner donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: grýp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

Die unieke verhaal van Christus word verruim om universele maar ook individuele betekenis te verkry. Die diep Christelike karakter spruit uit die erkenning van Christus as Here waar die erkenning van Christus uitgedruk word in die persoonlike belewenis (Cloete 1989:888). Kannemeyer (1988:402) skryf dat iets van eenwording met Christus se lyding op mistieke wyse in dié gedig uitgebeeld word. Van Vuuren (2006:288) wys daarop dat die (werklike) vuur waardeur Cussons gegaan het, deur haar gesien word as geestelike suiwering.

’n Mens kan die gedigte van I.L. de Villiers beskou as spesifiek Christelike gedigte waar hy verskillende gedagtes vanuit sy Calvinistiese agtergrond na vore bring. Hy skryf byvoorbeeld in “Geloofsbelydenis” (137):

Ek stamel eeu-ou woorde oor my God: Vlees-
wording, Lyding, Kruis en Gees.
Ek glo dit alles, Heer, maar weet hoe bot
ek is in my probeer om méns van God te wees. 

Erkenning word uitdruklik aan Christus as God gegee. Alhoewel die gedig sekere elemente van menslike swakheid vertoon, is die erkenning van God in Christus duidelik. 

Vanselfsprekend is daar van T.T. Cloete, wat vanuit sy Calvinistiese wêreldbeskouing dig, gedigte opgeneem wat aan die eienskappe van Christelike gedigte voldoen, byvoorbeeld “Job” (171), “God die digter” (175), “Uit: Transkripsies 11 Ps. 24:1; Job 7:19, 20” (172):

alles behoort aan die Here   liefderyk
is Hy met my behep
omdat ek vir Hom ’n las
is moet Hy my gedurig oppas
Hy is liefderyk
met my behep
omdat ek sondig
is wil Hy met my iets uitrig
as Hy net ’n oomblikkie wil wegkyk
en my laat asem skep.

Cloete se gedig spreek van onrus en vertwyfeling, maar soos in vele ander gedigte wend hy hom tot God om dan ook te beleef dat God saam met mens op reis is. Van Vuuren (2006:289) vind ’n “religieuse toonaard” by die gedigte van T.T. Cloete en behandel sy gedigte onder religieus-mistieke poësie. Hierdie religieuse toonaard verkry egter ’n diepe Christelike verwysing in die gedig met die verwysing na “liefderyk” en “omdat ek sondig is”.

Bernard Odendaal se opgenome gedigte, waaronder “’n Kersdag se ware verhaal” (242), “Gebed vir ’n Somerkersfees” (244) en “Romeinse offisier by die Kruis” (246) toon sterk Christelike elemente wat as Christelike poësie aanvaar kan word. Dit kom byvoorbeeld sterk na vore in “Romeinse offisier by die Kruis” (247):

Ek staan voor hom,
en hoor Jerusalem se kreet,
en dan iets diep in my wat weet:
Ek staan voor Hóm!
Die seun van God,
ek staan voor Hóm!

Die gedig toon inderdaad diep Christelike oortuigings, omdat dit juis nie alleen die offisier nie, maar ook die digter en die mens voor Christus self stel. “Die seun van God” staan onomwonde voor God.

Die saak word moeiliker wanneer na Cas Vos se eie gedig “Die Here is nie my Herder nie” (217) verwys word, want op ironiese wyse word heengewys na Christus se lewe. Hier kan die vraag gestel word of dit wel as ’n Christelike gedig beskou kan word. Die gedig toon Christelike elemente deur die ironiese uitbeelding van Christus wat universele betekenis verkry:

U laat my aan ’n kruis hang
terwyl my vyande koggel.
U ontvang my soos ’n rower,
ek is oorlaai met skuld.
Al slaan u stilte my stom,
sal ek na U bly roep,
ek, u weggooilam. 

Die erkenning dat wel na God geroep word, vertoon Christelike elemente, maar dan bloot in ironiese sin waar wel gevra word of die mens hom so op aanvaarbare wyse in Christelike sin aan die heilsgebeure mag verbind.

Soortgelyk is die gedigte van Lina Spies, waar veral in “Credo” (134) bewustelik standpunt ingeneem word teen die hemelse verwagting. Op sigself is dit nie verkeerd om daaroor na te dink nie, maar dit is tog ’n vraag of, wanneer die hemelse verwagting direk betwyfel word, dit nog as ’n Christelike gedig in die sin van die eerste konsentriese sirkel beskou kan word. 

Op dié deurtog verheug ek my
Om te oorwinter, te oornag.

En ten slotte:

Die God van die verborge plekke
leer ek sienderoë ken. 

Britz (2006:589) toon aan dat Spies aanvanklik godsdienstige piëteit vertoon, maar tog later in die digbundel Hiermaals téén die Christelike geloof inskryf, alhoewel sy dit nie geheel aflê nie (2006:596).

Gedigte wat kwalik binne die omskrywing “Christelike gedigte” sou inpas, is gedigte van Olga Kirsch (80–2). Hierdie gedigte sou beslis as religieuse gedigte erken kon word, maar nie as Christelike gedigte nie. Die Ou Testament word binne ’n Christelike konteks wel erken as deel van die Christelike kanon, maar nie sonder die volle erkenning van Jesus Christus in die Nuwe Testament nie. Die Joodse belewenis, waarvoor daar groot respek is, word uitgedruk, maar nie in Christelike sin nie. Die Paasgebeure word beslis vanuit die Joodse agtergrond aangebied. Vergelyk “Die uittog” (81):

Ons het ons sterk gemaak, gewend aan pyn,
maar hoeveel jare, Heer, in die woestyn?

Heelwat ander gedigte kan aangehaal word wat wel religieuse elemente vertoon, maar wat nie as spesifiek Christelike gedigte beskou sou kon word nie. As voorbeeld kan na gedigte van Daniel Hugo (184–6) verwys word. ’n Skerp kritiese gedig is byvoorbeeld “Mossie en mens” (184). Weer eens is dit wel aanvaarbaar om diepgaande vrae oor God se betrokkenheid by die mens se bestaan te vra, maar dit is duidelik uit die wyse waarop dit in hierdie gedig gevra word, dat dit nie God Drie-enig erken nie. Die vraag is dan wel of dit as “Christelike” gedig sou deug. 

                                         ek het simpatie
Met my mede-aardling, my klein mossiemaat:
In God se heelal is daar gans te veel afval.

 

5. Gevolgtrekking

Hierdie artikel het aangetoon hoe moeilik dit is om wel tot algemeen aanvaarbare riglyne vir die klassifikasie van Christelike digkuns te kom. Dit is egter ook nodig om vanuit die belydenisse aan te toon wat as spesifiek Christelike gedigte beskou sou kon word. Die debat daaroor sal steeds voortgaan. 

Moontlik moes die titel van die bloemlesing eerder gelui het Die mooiste Afrikaanse Christelike en ander religieuse gedigte; daardeur sou heelwat onsekerheid en polemiek vermy kon word. ’n Veel ruimer begrip van die gedigte wat opgeneem is, sou dan moontlik wees.

 

6. Samevatting

Vanuit verskillende benaderings kan sekere riglyne verskaf word om te oorweeg of gedigte wel “Christelik” is. Die belangrike beginsels is dat die eer en heerlikheid van God in Christus Jesus voorop moet staan. Christelike gedigte behoort ten spyte van vertwyfeling en onsekerheid steeds vir Christus te verheerlik. Die antwoord aan God mag spreek van vertwyfeling en onsekerheid, maar dit is altyd ’n reis na en met God wat God in Jesus, God se Seun, openbaar. Die wonder van die woord verheerlik daarmee die Woord.

 

Bibliografie

Beukes, G.J. en F.V. Lategan. 1967. Skrywers en rigtings. Pretoria: Van Schaik.

Borgdorff, L. 2020. In poesis: ... God die als een vogelverschrikker in het midden / stond. https://www.leesliter.nl/blog-en-nieuws/1201-in-poesis-203-rijneveld. 24 maart 2020 (30 Maart 2020 geraadpleeg).

Bosman, M.E. 1989. Op Hom die groot hosannas: Enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in Afrikaans. PhD-proefskrif, Rhodes-universiteit, Grahamstad. 

Botha, E. en R. Pretorius (reds.). Samehang en sin: Opstelle oor die Afrikaanse poësie, aangebied aan prof A.P. Grové by geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaarsdag op 10 Junie 1983. Kaapstad: Tafelberg.

Brink, A. (samest.). 2008a. Groot verseboek. Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2008b. Groot verseboek. Deel 2. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2008c. Groot verseboek. Deel 3. Kaapstad: Tafelberg.

Britz, E.C. 2006. Lina Spies. In Van Coller (red.) 2006. 

Crafford, D. 2015. Teologie van die godsdienste. In Meiring en Meiring (reds.) 2015. 

Cloete, T.T. 1980. Poësie. In Cloete (red.) 1980.

—. 1984. Taalhandeling en die literatuur. In Van Coller en Van Jaarsveld (reds.) 1984. 

—. 1989. Die Boek wat laaste uitgepak word: Oor die Bybel in die Afrikaanse digkuns. Hervormde Teologiese Studies, 45(4):874–93.

—. 2006. Totius. In Van Coller (red.) 2006.

Cloete T.T. (red.). 1980. Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Goodwood: Nasou.

—. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Cloete, T.T., E. Botha en C. Malan (reds.). 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Dekker, G. 1966. Vryheid en gebondenheid in die kuns. In Smal swaard en blink: Bundel aangebied aan N.P. van Wyk Louw by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 11 Junie 1966

Du Plooy, H. 2010. Narratiwiteit in liriese verse: Teoretiese aspekte van die bestudering van narratiewe inhoude, strukture en tegnieke in liriese poësie. Stilet, 22(2):36–62.

Engelbrecht, G.C. 2012. Bybelse intertekste in resente Afrikaanse gedigte en lirieke, met spesifieke verwysing na identiteitsformasies in die (post)postmoderniteit. DLitt-proefskrif, Universiteit Stellenbosch. 

Gardner, H. 1966. Religion and literature. Oxford: Oxford University Press.

Gouws, T. 2017. Resensie: Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. Versindaba, 22 Oktober. http://versindaba.co.za/2017/10/22/resensie-die-mooiste-afrikaanse-christelike-gedigte-samest-cas-vos (10 Julie 2019 geraadpleeg).

Gräbe, I. 1992. Metafoor. In Cloete (red.) 1992. 

Grové, A.P. s.j. Nogmaals die beeld. In Grové en Botha (reds.) s.j. 

—. 1978. Dagsoom: Letterkundige opstelle uitgegee by geleentheid van die skrywer se sestigste verjaardag op 10 Junie 1978. Kaapstad: Tafelberg.

Grové, A.P. en E. Botha. s.j. Handleiding by die studie van die letterkunde. Kaapstad: Nasou. 

Hambidge, J. 2017. Hambidge: Geestelik en Christelik is nie dieselfde. Netwerk24, 31 Augustus. https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/hambidge-geestelik-en-christelik-is-nie-dieselfde-20170831 (10 Julie 2019 geraadpleeg). 

Heyns, J.A. 1992. Inleiding tot die dogmatiek aan die hand van die Nederlandse geloofsbelydenis. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

Johl, J.H. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Johl, R. 1986. Kritiek in krisis: Vryheid vir die teks. Durban: Butterworth.

Jonker, W.D. 1977. Christus die Middelaar. Wegwysers in die dogmatiek 2. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1652–1987. Kaapstad: Human & Rousseau.

Koen, D. 2017. Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte: ’n resensie. LitNet, 24 November. https://www.litnet.co.za/die-mooiste-afrikaanse-christelike-gedigte-n-resensie (10 Julie 2019 geraadpleeg).

Komrij, G. (samest.). 1999. Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Amsterdam: Bert Bakker. 

Lampe, P. 2016. Caesar, Moses and Jesus as “God”, “godlike” or “God’s Son”: Constructions of Divinity in Paganism, Judaism and Christianity in the Greco-Roman world. Referaat gelewer by die kongres Research Project: Making sense of Jesus: Experiences, interpretation and identities. Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, 20–21 Oktober 2016, Bloemfontein.

Lyotard, J.-F. 1984. The postmodern condition: A report on knowledge. Vertaal deur G. Bennington en B. Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Meiring, A. en P. Meiring (reds.). 2015. Suid-Afrika, land van baie godsdienste. Wellington: CLF. 

Müller, J.C. 2011. Postfoundational practical theology for a time of transition. Hervormde Teologiese Studies, 67(1). DOI: 10.4102/hts.v67i1.837 (2 April 2020 geraadpleeg).

O’Connor, F. 2020. Katholieke schrijvers en hun lezers (Vertaal deur Astrid Staartjes). Die essay “Catholic novelists and their readers” het in 1963 verskyn in Mystery and manners: Occasional prose. Die vertaling is ’n verkorte weergawe van die lesing. https://www.leesliter.nl/blog-en-nieuws/1088-essay-flannery-oconnor-astrid-staartjes (30 Maart 2020 geraadpleeg).

Odendaal, B.J. 1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. PhD-proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.

Ohlhoff, H. 2006.Perspektief op die Afrikaanse poësie: Die poësie van voor 1900 tot 1960. In Van Coller (red.) 2006.

Olivier, S.P. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. DLitt-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Pereira, A. 1992. Beeldspraak. In Cloete (red.) 1992.

Pretorius, R. 1984. Ryk domeine: Opstelle oor die Afrikaanse poësie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2006. Ina Rousseau. In Van Coller (red.) 2006.

Seerveld, C. 1977. A Christian critique of art and literature. Toronto: Association for the Advancement of Christian Scholarship. 

Serres, M. (met B. Latour). 1995. Conversations on science, culture and time. Vertaal deur R. Lapidus. Michigan: University of Michigan Press.

Smal swaard en blink: Bundel aangebied aan N.P. van Wyk Louw by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 11 Junie 1966. Pretoria: Academica. 

Snyman, H. 1983. Mirakel en muse: ’n Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van ’n gedig. Johannesburg: Perskor.

Spangenberg, D.F. 1980. Peilings van die poësie: Handleiding by die bestudering van gedigte. Pretoria: Academica.

Van Coller, H.P. (red.). 1999. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.

—. 2006. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik. 

Van Coller, H.P. en B.J. Odendaal. 2006. George Weideman. In Van Coller (red.) 2006.

Van Coller, H.P. en G.J. van Jaarsveld (reds.). 1984. Woorde as dade: Taalhandelinge as letterkunde. Durban: Butterworth.

Van Coller, H.P. en M.C.J. van Rensburg. 1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In Van Coller en Van Jaarsveld (reds.) 1984.

Van der Colf, A.P. 1980. Poësie en godsdiens: ’n Verkenning van die samehang tussen godsdiens en poësie in ’n sewetal gedigte van N.P. van Wyk Louw. Johannesburg: Perskor.

Van der Walt, B.J. 1999. Visie op die werklikheid: Die bevrydende krag van ’n Christelike lewensbeskouing en filosofie. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Van Rensburg, F.I.J. 1983. Van Wyk Louw en “die soort woord”. In Botha en Pretorius (reds.) 1983. 

Van Vuuren, H. 2006. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960–1997). In Van Coller (red.) 2006.

Vos, C. (samest.). 2017. Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. Kaapstad: Lux Verbi.

Werkman, H. 1996. Christelijke literatuur in Nederland aan het einde van de 20e eeuw. Literator, 17(1):5-26. 

—. 2014. Werkman over Komrij. Rympies, gedigte, versies, poësie – over de dikke Afrikaanse Komrij. 10 September. https://www.leesliter.nl/verdieping/381-hans-werkman-over-de-afrikaanse-poezie-in-1000-en-enige-gedichten (20 Maart 2020 geraadpleeg).

Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek: ’n Histories-teoretiese beskouing. Kaapstad: Academica.

Willemse, H. 1999. ’n Inleiding tot buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke. In Van Coller (red.) 1999.

Wiman, C. 2015. Kunst en Geloof Lezing 15 November 2015. https://www.leesliter.nl/verdieping/815-tekst-lezing-14-oktober-2016 (30 Maart 2020 geraadpleeg).

 

Eindnota

1 Bronne uit verskillende periodes en benaderings word naas mekaar gestel om ’n volledige beeld van die onderwerp te gee.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Berdéhan Brand

    * Die digter moes 'n godsdienstige gedig gaan skryf oor die wederkoms, hoewel hy nie daarin glo nie.
    * Die godsdienstige skrywer glo in God, maar nie in Jesus nie.
    * Die christen-gelowige se werk is deurspek van godsdienstigheid en stel daarmee die lesers teleur.
    * Die Skrifgeleerdes en Fariseërs was baie godsdienstig en het uit 'n wettiese verwysing die christene, die navolgers van Christus veroordeel.
    * Is die karakter van die gedig geestelik, godsdienstig of religieus van aard?
    * Is jy godsdienstig of is jy ch'n risten?

    'n Wysiging tov die titel sou 'n alternatief wees ter wille van, óf die behoud van die titel met gereduseerde inhoud en meer substansie - in dié geval, ter wille van die geestelike karakter wat digter en digkuns insluit. Nie polemiek nie.

  • Geagte prof. Verster

    In u artikel maak u die volgende stelling gebaseer op my resensie van die bundel: "Koen (2017) is verbaas dat Breyten Breytenbach nie opgeneem is nie en laat ’n vermoede van ’n politieke motief deurskemer, maar neem nie in ag dat Breytenbach op grond van sy Zen-Boeddhistiese lewensbeskouing buite beskouing gelaat is nie".

    In my resensie van die bundel skryf ek soos volg oor Breytenbach: "Ek kan verstaan dat Breytenbach in 1987 moontlik weens politieke redes nie in Die braambos brand ingesluit was nie (hy kon moontlik toestemming vir publikasie geweier het), maar waarom sy gedigte nie in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte opgeneem is nie, is ’n misterie".

    Die "vermoede van 'n politieke motief" waarna u in u artikel verwys, is nie op Vos se samestelling van toepassing nie, maar verwys na CJM Nienaber en M Nienaber-Luitingh se Die braambos brand – ’n Keur van religieuse gedigte wat in 1987 verskyn het. U is wel korrek wanneer u noem dat ek "nie in ag [neem] dat Breytenbach op grond van sy Zen-Boeddhistiese lewensbeskouing buite beskouing gelaat is nie". Ek wou net die regstelling met u deel.

    Dankie vir die interessante en insiggewende artikel.

    Vriendelike groete
    Dewald Koen

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Ek stem saam met Prof. Joan Hambidge en Berdéhan Brand.
    Daar is 'n wesenlike verskil tussen die terme 'geestelike' en 'christelike.' Beslis nie sinonieme nie!
    Daar is vleeslike Christus-gelowiges en eweneens geestelike ongelowiges.

    Ware Christen digters sal mynsinsiens dié wees wat in die Woord glo; 'n persoonlike verhouding met Jesus Christus het, en deur die Skepper Gees gelei word in die geinspireerde woordkuns.

  • Hendrina Grove stem: enige iets of iemand kan die ware karakter van Christus/God weergee in welke kunsvorm ookal. God maak en gebruik wie en wat Hy wil. Ek dink mens poog juis hier om die kunsmatige soetsappige godsdienstigheid uit te sif uit hierdie bevooroordeeldheid rondom die term Christelike of godsdienstige gedigte. Skeiding te maak tussen spirituele en Geestelike. Geestelike(hoofletter) dui vir my op dit wat van die Heilige Gees is en deel vorm van die Drie-Enige God. Daarom dat ek meen daar is geestelike(sielsmense wat diep en sensitief dink oor die wonder van alles). Ongelowiges is wat ware kuns skep teenoor vleeslike oppervlakkige sogenaamde Christene wat bloot godsdienstige verse voortbring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top