Gedagtes oor rubriekmaak

  • 0

Foto van Heindrich Wyngaard: Menán van Heerden

........
Sodra ’n mens se politieke bewussyn egter begin gestalte kry, kom ’n volgende dimensie ter sprake: dat jy wil skryf om ’n stem te gee aan “my mense”. My mense: die afgeskeeptes van die Afrikaanse medialandskap, die stilswyende meerderheid sprekers van die taal, hulle wat nog taalkundig agter op die bakkie sit.
........

Rubriekmaak is ’n term wat vir die skryf van rubrieke geskep is deur die doyen van die (hoofstroom-) Afrikaanse joernalistiek, Rykie van Reenen, leer haar biograaf, Lizette Rabe, ons in ’n LitNet Akademies-artikel uit Augustus 2015. Rabe loop dan terug op die ontstaanspoor van rubrieke “as forum vir argument, ontleding en verduideliking”, wat ’n “globaal-politieke gevolg” van die Eerste Wêreldoorlog sou wees. Dit moes die behoefte vervul aan meer ontledende, meningsgebaseerde en verduidelikende joernalistiek, ’n wegbeweeg van wat tot op daardie stadium die gebruik was, naamlik die “afstandelike oorvertel van die feite” van ’n gebeurtenis.

Rubriekmaak sou nou op ’n gereelde basis aan die skrywer die geleentheid bied om ’n eie stem te ontwikkel deur op ’n gekose onderwerp kommentaar te lewer. Sy dit die alledaagse lewe, politiek, iets uit die geskiedenis, tegnologiese uitvindsels, sport of die media is.

Van Reenen het die toets geslaag vir wat as ’n suksesvolle rubriekskrywer beskou word, het nie slegs Rabe geglo nie, maar ook ander gesoute joernaliste, soos die ontslape Martie Retief-Meiring en die oudredakteur en mediabaas Ton Vosloo. Die toets was onder meer die volgende, aangehaal uit Rabe se artikel: “Die stilistiese kenmerke van die rubriekskrywer moet wees dat die skrywer ’n kenmerkende stem moet hê (die ‘ek’ moet teenwoordig wees), ’n wye belangstellingsveld moet hê, ’n ywerige leser moet wees, met gesag oor allerlei onderwerpe moet kan skryf, gemoedelikheid met geniepsigheid kan afwissel, en menslikheid, humor, gevatheid en aktualiteit nie net verteerbaar nie, maar leesbaar aanbied.”

Samevattend, ook aldus Rabe, moet die rubriekskrywer “amper letterlik ’n vinger op die pols van sy of haar leser hê – en moet dit alles doen met ’n soepele taalvaardigheid wat betref woordgebruik, formulering en grammatika”. Die bekende Thomas Friedman, vooraanstaande rubriekskrywer vir The New York Times, glo dat sukses vir die rubriekskrywer heel veel te make het daarmee of die rubriek reaksie ontlok.

Hoewel ’n rubriek natuurlik ’n joernalistieke genre is, vereis dit nie noodwendig joernalistieke studies of joernalistieke ervaring, soos wat dit met Van Reenen die geval was en met Friedman steeds die geval is, om as ’n “rubriekmaker” te kwalifiseer of aangestel te word nie. Sommige skrywers word rubriekruimte gegun vanweë hul kundigheid in ’n spesifieke veld, byvoorbeeld die aandelemark of spesialiskennis van die toerismebedryf. Die voordeel daarvan dat ’n joernalis as rubriekskrywer ingespan word, lei egter wel tot die soort rubriek wat as een van Van Reenen se mees uitstaande onthou word.

Terwyl sy nie destyds – ingevolge “mediamuilbandwette” – ’n berig mog skryf oor ’n urelange onderhoud wat sy met die Swartbewussynsdenker, Steve Biko, gevoer het nie, kon sy ná sy dood op 12 September 1977 in polisie-aanhouding wel ’n rubriek daaroor maak. Dit het op 18 September in Rapport verskyn – “die hoogtepunt in wat ek geregverdigde ondermynende joernalistiek noem,” was Retief-Meiring se beskrywing van die rubriek in 2003. “[A]nder sou sê dis regverdige kritiek, maar dit was meer as kritiek, dit was ’n aanslag.”

***

Prent: verskaf. Klik op die prent om die PDF, waarop die program duidelik sigbaar is, af te laai,

Dié stukkie geskiedenis word as inleiding gebruik vir hierdie vooraf-artikel oor ’n paneelgesprek oor “Rubrieke, kommentaar [en] skryf oor gemeenskappe”, wat komende Saterdag op die tweede dag van die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium by die Universiteit van Wes-Kaapland plaasvind. Ons het in Februarie die voorreg gehad om Hein Willemse se agtergrondstuk oor die eerste simposium, wat in 1985 gehou is, hier op LitNet te lees. Die beraad, sou ’n mens kon sê, het onder Biko se Swartbewussynsinvloed die benaming “swart Afrikaans” bevat – en soos wat Willemse verduidelik, is dit doelbewus so gekies, “kontradiktories soos dit mag klink, om swart bewustelik as ’n positiewe bowe-etniese term te gebruik”.

Dit is ’n ideologiese beker wat my verby gegaan het sonder dat ek daaraan gedrink het met dié dat ek eers sowat ’n dekade later my denke tot so ’n mate gevorm het dat ek ’n eie mening oor sake van die dag kon waag. [Miskien is dit waarom Willemse, soos wat ek in my praatjie by vanjaar se Etienne van Heerden-veldsoirée vertel het, meen die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium in 1995 by Paternoster is die plek waar ek (as skrywer en meningsvormer, lei ek af) my “plek leer ken het”.] Tot op daardie stadium het ek nog net as student ’n rubriekgeleentheid by die plaaslike koerantjie op my tuisdorp, Caledon Kontrei Nuus, gekry en wel in die vorm van “’n brief uit Kaapstad”. Hierin het ek meestal vertel van die ervarings van hierdie plattelandse japie in die grote stad.

Nadat ek in 1996 voltyds by Die Burger se algemene redaksie aangesluit het, het ek my daarop toegespits om diepte- en meningsartikels vir die middelblad te skryf en ook so vir die kunsblad, waarby boekresensies ingesluit is. Net dalk sou dit dié kreatiewe skrywes wees wat gehelp het om my naam in die hoed te kry toe die besluit in 1997 geneem is om vyf nuwe skrywers die geleentheid te gee om een dag per week die “Van alle kante”-rubriek te behartig. Pieter Spaarwater wat toe die alleenskrywer was, soos Rykie van Reenen klomp jare vooraf, sou nou slegs op Saterdae skryf. My dag was Dinsdag – en ek het my eerste bydrae gelewer vanaf die KKNK op Oudtshoorn met Paasfees as tema.

Wanneer Friedman van The New York Times in ’n praatjie op YouTube sê een van die belangrikste reaksies op ’n rubriek is dat die leser agterna moet kan sê: “O, ek het dit nie geweet nie”, dan herinner dit my juis aan daardie eerste VAK-rubriek. Deel van die vertelling was oor die tradisie in bruin gemeenskappe om oor die Paasnaweek ingelegde kerrievis en Paasbolletjies te eet, oftewel “pickled fish & hot cross buns”. Hein Swart, toe sakeredakteur by Die Burger, se reaksie hierop was presies dit waarna Friedman verwys: “Ek het dit nooit geweet nie, want ons [wit Afrikaanse mense] doen dit nie.”

In daardie selfde periode van my loopbaan is ek ook aangestel op die (toe nog) Naspers-parlementêre redaksie wat later gevolg sou word deur die skryf van politieke rubrieke – ook politieke hekelrubrieke – by sowel Die Burger as Rapport; heelwat vroeër is ’n boeke-rubriek vir die jeugbylae JIP in Die Burger ook aan my toevertrou en is die weg so voorberei vir die volgehoue skryf van rubrieke en kommentaar- of meningsartikels.

***

Ter aansluiting by die titel van die SAS5-bespreking Saterdag oor “rubrieke”, “kommentaar” en “skryf oor gemeenskappe”, die volgende: Sedert daardie eerste treë as ’n nat-agter-die-ore-joernalistiekstudent, was die deurlopende tema waardeur my skrywes gekenmerk is dat dit oor die wel en weë van bruin gemeenskappe gehandel het. Waarom was dit en bly dit vir my belangrik? Miskien is die eenvoudige antwoord dat ek vanuit die bruin gemeenskappe kom, daarin grootgeword het en dat dit is waar my menswees gevorm is. Sodra ’n mens se politieke bewussyn egter begin gestalte kry, kom ’n volgende dimensie ter sprake: dat jy wil skryf om ’n stem te gee aan “my mense”. My mense: die afgeskeeptes van die Afrikaanse medialandskap, die stilswyende meerderheid sprekers van die taal, hulle wat nog taalkundig agter op die bakkie sit.

........
Maar dit durf jy nooit doen ten koste van “die ander” wat voor in die bakkie sit nie, selfs al het jy rede om die josie in te wees vir dié “ander”. Om deur te dring na alle lesers, bruin en wit, is dit raadsaam vir die rubriekskrywer om nie toe te gee aan die versoeking dat waarhede deur woede verteenwoordig word nie, maar om altyd die “menslikheid”, wat ook deel van Van Reenen se rubriekmaak-resep was, te laat seëvier.
........

Maar dit durf jy nooit doen ten koste van “die ander” wat voor in die bakkie sit nie, selfs al het jy rede om die josie in te wees vir dié “ander”. Om deur te dring na alle lesers, bruin en wit, is dit raadsaam vir die rubriekskrywer om nie toe te gee aan die versoeking dat waarhede deur woede verteenwoordig word nie, maar om altyd die “menslikheid”, wat ook deel van Van Reenen se rubriekmaak-resep was, te laat seëvier.

Jare gelede, toe ek veel jonger was, het die skrywer Riana Scheepers opgemerk dat ek die enigste rubriekskrywer sou wees met die vermoë om deur my skryfwerk iemand sleg te sê sonder dat die een wat sleg gesê word, daaroor kwaad kan raak. Jare daarná, toe ek al amper so oud soos nou was, het Waldimar Pelser, toe hy nog redakteur van Rapport was, op ’n dag opgemerk dat wat hy van my skryfwerk waardeer, is “dat jy nooit ons lesers deur die gesig klap nie”. En so wil ek hê moet dit tot in ewigheid bly: dat my taalgebruik vir solank as wat ek “rubriekmaak”, in navolging van Rykie van Reenen se voorbeeld sal wees; dat dit soos Albie Sachs se “sagte wraak” sal klink, nooit bedoel om te stenig nie, maar altyd om die leser te help sin maak en om onderlinge begrip en samehorigheid – tussen hulle oor wie ek skryf en hulle vir wie ek skryf – te bevorder.

Lees en kyk ook:

“Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers

Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium

"Haal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels..." – vroeë Arabies-Afrikaanse tekste

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top