Gay, Kaaps én Moslem op die planke: ’n resensie van Please, don’t call me moffie

  • 0

Foto: Jeremeo Le Cordeur

Dié stuk is vir die gesprekke wat moeilik is om met familielede te begin, veral met die uncles, om te sê wat woorde nie kan nie.

Zubayr Charles, opkomende teatermaker en Kommadagga-skryfskool-alumnus, se nuwe produksie wat tydens hierdie jaar se Suidoosterfees gedebuteer het, is geselekteer om weer tydens die Women’s and Humanity-feesgeleentheid te verskyn. Met die debuut was Charles se ma, op haar pos in die voorste ry, nie die enigste wat tot trane gebring is nie. Daar was so paar groot ooms wat ook die vogtigheid in hul oë teen ligte-af moes wegpink. ’n Einde wat met ’n verdiende staande applous by die Artscape gegroet is. Please, don’t call me moffie is emosioneel roerend en gelyktydig verstommend. Mense het die saal met ’n effense stilte verlaat na hul gelukwense aan die eenman-show se ster, Anzio September, en sy regisseur. Alles te sê is reeds op die planke gelaat.

September, reeds in karakter, lê en bed rot in die lig van sy foonskerm soos die gehoor tot rus kom. Meteens is dit duidelik dat die gehoor in ’n intieme ruimte ingelaat is. Vuil wasgoed wat aan ’n lyn hang, is die oorheersende komponent. Deur die verloop van die stuk kom ’n mens tot die besef dat die verskillende stelle en uitrustings op hul beurt die akteur verklee en lewe aan elke karater se storie gee. September se vaardigheid is nêrens meer onvermydelik as die oomblik wanneer hy, byna soomloos, van ’n flambojante, crop top-draende queen verander in ’n vuilbek-gym-boet met ’n hartseer oorsprongstorie.

Onverrassend genoeg, handel die stuk oor gaywees. Die Grindr-toep se kenmerkende notification-geluid is selfs deel van die klankontwerp. Dit kom vanaf die foon van Mushfeeq, die gehoor se eerste ontmoeting met die groep bruin en Kaaps-Maleise gay mans in hul laat 20’s wat almal deur September vertolk word. Hy probeer vergeet van ’n steurende kettingboodskap-video oor twee gay mans wat in ’n naamlose Arabiese land aangerand word in sy soeke na ’n hookup deur die bekende gay-ontmoetingstoep. Die gehoor mis nie die ironie daarvan dat Mushfeeq uit privaatheid nie sy persoonlike besonderhede wil weergee nie, maar stuur wel sy adres vir ’n vreemdeling – iets alledaags met die eennagontmoetings wat deur Grindr vergemaklik is. Een tema in die stuk beduie herhaaldelik na die kontras tussen die tipes geweld wat gay mense in die publiek ervaar en dit wat in die privaatheid van hul tuiste geskied.

Steeds is onveilige ontmoetings soos hierdie een van die min maniere waarop gay mense, veral gay mense in Kaapse Moslem-gemeenskappe wat soms hulle identiteite moet verskuil en onderdruk, ander gay mense kan ontmoet en intimiteit kan ervaar. Charles se toneelstuk handel ook oor die idee dat gay mense se jeug oortrek is van ’n hunkering na aanvaarding, soos hul straight portuur, maar ook na die veiligheid en menswaardigheid wat hulle eweknieë as vanselfsprekend ervaar. Please, don’t call me moffie is ’n ongelooflik brose stuk teater wat sy gehoor lank na die skokkende eindtoneel sal bybly.

Charles het by die Women’s and Humanity-produksie aangekondig dat daar ’n gedrukte weergawe van die toneel sal verskyn om die storie en sy krities benodigde boodskap aan toekomstige generasies oor te dra. Charles noem dat dit vir elke jong, gay Kaapse kind ’n manier is om hulleself in ander raak te sien en te voel dat hulle minder alleen in die wêreld is; iets waarsonder hy en sy muse, September, moes grootword.

Charles het by die feesgeleentheid hulde gebring aan feesdirekteur, Marlene le Roux, wat volgens hom ruimte help uitkerf vir stories soos dié een, wat nooit voorheen in plekke soos die Artscape-teater sou kon bestaan nie. Please, don’t call me moffie is nuwe, noodsaaklike queerteater.

Lees ook:

No, really, this bra’s a psycho: Grindr notifications at the Artscape

Q&A with writer and director of Mercy, Zubayr Charles

Haram

Ramadaan on Dorp Street

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top