Franschhoekfees 2017: Sophie Hannah

  • 0

Sophie Hannah (foto: Twitter)

Misdaadfiksieskryf 101: beplanning, beplanning, beplanning

Sophie Hannah by die Franschhoekfees 2017

Sophie Hannah het meer as een keer tydens vanjaar se Franschhoekfees opgetree en ek het onderstaande geleentheid bygewoon:

 Sophie Hannah in her own words

Travel writer and shameless fan Darrel Bristow-Bovey finds out more about one of the UK’s most successful crime writers, Sophie Hannah

Agtergrond van die skrywer

Op Sophia Hannah se webwerf is 'n uittreksel uit The Guardian:

The genius of Hannah’s domestic thrillers – along with the twistiest plots known to woman – is that she creates ordinary people whose psychological quirks make them as monstrous as any serial killer.

Van Sophie Hannah kan gesê word dat sy 'n Britse topverkoper is van misdaadfiksie, dat haar boeke in 32 tale vertaal is en dat sy in 2014 deur Agatha Christie se familie gevra is om 'n nuwe Hercule Poirot-roman te skryf – as 't ware die nalatenskap van Christie se romans voort te sit. Die agting vir haar aanmekaarsit van 'n spanningsverhaal kan nie onderskat word nie.

Sy het etlike pryse gewen, en twee van haar boeke is in TV-reekse omskep.

Nie net het sy 14 misdaadboeke geskryf nie (die 15de een verskyn later vanjaar), maar haar gedigte word ook dwarsoor Engeland deur skoolkinders en studente bestudeer.

Toe Darryl Bristow-Bovey haar aan die woord stel, sê hy dat hy verbitterd is om met iemand te gesels wat sy droomberoep, van sy kinderdae af, beoefen. Sy eerste vraag aan haar is: Skryf sy inderdaad twee boeke per jaar?

Ja, knik sy. Maar dit is alles die uitgewer se skuld. Toe haar eerste boek aanvaar is, het die uitgewer gevra wanneer sy die tweede een skryf en sy het, geskok, besef dat hulle nie in hierdie vergadering sou gesels oor die boek wat pas aanvaar is nie, maar oor haar loopbaan as skrywer. Sy het gevolglik haar mond oopgemaak en daar en dan vertel van 'n storie wat sy nog nie geskryf het of selfs nog uitgedink het nie. Die uitgewer het gedink dit klink wonderlik en sy moes dit skryf. Sedertdien het sy nie 'n keuse gehad nie.

Sy vind 'n sperdatum ook baie aanmoedigend. Daar is vir haar 'n vrees dat sy dit nie gaan haal nie en dan dryf hierdie datum in die toekoms haar. Uiteindelik bestaan die boek.

Maar is dit nie moeilik om twee boeke per jaar te skryf nie? hou die onderhoudvoerder vol.

Ja, knik sy. Dis moeilik. Maar dis doenbaar. Haar nuwe beleid, glimlag sy, is: "Just say yes." Agterna moet sy maar uitpluis of dit gedoen kan word.

O ja, onthou sy: die uitgewer het ook vroeg-vroeg in die gesprek, toe dit duidelik is dat sy moontlik meer as een boek in die toekoms kan lewer, gevra gaan sy nog kinders hê en sy het gesê nee, beslis nie, sy sal eerder haar eie of die kind se kop afkap. Dit was ooglopend die regte antwoord.

Wanneer sy skryf, vertel sy, verbind sy haar heeltemal tot die storie. Niks kan in die pad daarvan kom nie, insluitende die werklike lewe. Een oggend, vertel sy, het sy die kinders by die skool gaan aflaai. Agterna, toe sy terug is by die huis, hoor sy 'n stem van agter op die passassiersitplek af: "Mummy, we are still in the car."

Sy was besig om 'n roman te voltooi. Die enigste ding in haar kop was nie die kinders in die motor nie, maar "The thing I had, was my deadline."

Sy skryf sonder 'n roetine, met net die sperdatum en die chaotiese bestaan van die alledaagse lewe rondom haar.

"I've never heard of this technique," sê die onderhoudvoerder.

Maar ek kry klaar, glimlag sy. As sy haar ingrawe en die sperdatum is naby, werk sy tot twee-uur in die oggend.

"I have a fantasy working model, I would start writing a few hundred words a day."

Beplanning, beplanning, beplanning

Voor elke misdaadboek, sê sy, beplan sy haar boek haarfyn. Sy beplan elke boek vooraf so deeglik dat haar agent een slag vir haar gesê het as Sophie doodgery word, sal sy wat die agent is aan die hand van die uiteensetting die boek kan skryf.

Sy beplan baie mooi en dan skryf sy die boek binne ongeveer vier maande.

As sy sê sy beplan, klink dit vervelig, sê sy. Sy dink egter daaraan as storie-argitektuur. Sy maak seker dat elke aspek van die plot werk en dán kan sy dit tot lewe aanblaas.

As jy 'n plan het, beteken dit egter nie jy kan dit nie verander nie.

Dis makliker om eers die beplanningstuk te verander as die volledig-geskrewe werk.

Haar eerste misdaadroman, Little face

En toe vertel sy die storie wat een van haar boeke totaal by die fees laat uitverkoop: hoe sy haar eerste boek geskryf het.

Sy het baie gesukkel om te kraam toe sy haar eerste kind verwag het. Die kind het eenvoudig geweier om gebore te word. Later het sy desperaat in die hospitaal gelê terwyl die mense elke denkbare middel in haar ingepomp het om die kind te laat uitkom. Sy het met 'n leepoog na die leë bababed langs die bed gestaar. Toe daar uiteindelik, na wat soos jare gevoel het en nadat hele ginekologiese mediese personeel gekom en gegaan en afgetree het, besluit is om haar 'n keisersnee te gee, het sy gesien: daar is 'n baba in daardie bed. Sy het dankbaar en onmiddellik aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, was die bababed leeg. Kort daarna het 'n verpleegster ingekom met 'n baba wat toegedraai was in 'n groen kombers. Sy het haar arms na die kind uitgesteek, maar die verpleegster het die kind besitlik vasgehou. "Oh no, this is not your baby." Sy het die kamer verlaat en met 'n ander baba teruggekom. Dié baba het identies gelyk aan die vorige een, ook toegedraai in 'n groen kombers. Net daar het die idee vir haar storie ontstaan: Sê maar daardie klein gesiggie was nie die regte gesiggie nie? Sê maar haar baba is in die hospitaal omgeruil?

Die gehoor sit en leef hulle in haar storie in.

Dis die soort stories wat sy skryf, vertel sy, die soort stories wat sy ook graag lees.

Storie-idees wat haar aantrek, is daardie vreemde soort idees – "so weird that you can't imagine the solution".

Die oplossing moet ooreenstem met, in verhouding of in balans wees met, die openingsraaisel.

Dink aan 'n huis se boonste deel versus die onderste deel – beplanning, beplanning, beplanning.

Agatha Christie en Sophie Hannah

Agatha Christie was haar rolmodel – sy het haar op skool ontdek en haar boeke verslind. Noudat sy self 'n topverkoper en suksesvolle skrywer is, is sy deur Christie se familie gevra om 'n voortsetting en volgende boeke van Christie se Hercule Poirot-karakter (die fiktiewe Belgiese speurder) te skryf.

Sy probeer nie die nuwe Agatha Christie wees nie – dit sou onregverdig en onmoontlik wees, meen sy. En, dink die hele gehoor: sy hóéf dit nie te wees nie. Sy moet Sophie Hannah wees. Enigeen wat na haar kom luister, voel so geïnspireerd soos wat sy deur Agatha Christie was.

Sy laat die skryf van misdaadfiksie so maklik klink. Dis alles oogverblindery. Hierdie vrou weet presies wat sy doen.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top