Franschhoekfees 2017: Is ’n plot ’n plan?

  • 3

Boekfeeste hou vir my ’n vreemde bekoring in. Bekoring – amper soos gekoring, omdat dit soos drank is – vir my altans; dit laat my die wêreld anders ervaar, effe surrealisties, effe op ’n ander vlak, dalk omdat jy binne die ou bekende wêreld aan nuwe en onbekende leefwêrelde bootgestel word. By so ’n fees is jy steeds op Stellenbosch of Franschhoek of Pniël of Philadelphia, maar vir die duur van so ’n fees is die plek anders. En die mense rondom jou is anders as dié wat jy op ’n ander tyd daar sal raakloop – hulle is almal op hierdie heel bekende plek om een doel, en almal het een ding gemeen. Hulle herinner my selfs aan die karakters op die stel van ’n film, sê maar Star Wars. Hulle kan baie verskillend lyk, maar is daar geplaas om ’n gemeenskaplike doelwit te bereik.

En elke fees is soos ’n ander soort drank – hier in die Boland sal dit meestal wynsoorte wees, nooit vodka of bier nie, maar daar is steeds geen voorskrif watter soort wyn nie: elkeen kan besluit wat hy of sy van die rak wil haal en selfs proe. In hierdie geval sal dit wel Engels proe, nie Afrikaans nie.

Franschhoek as dorp bekoor my wel, en elkeen van die dorpe wat ek genoem het ook, maar ek het my gunsteling, en dis nie Franschhoek nie. Dalk oor die nie-Afrikaanse smaak. Dog ek is daar op 19 Mei om ’n lesing by te woon, jy kan maar sê iets soos ’n demonstrasie oor hoe jy wyn maak, eintlik spesifiek oor een van die tegnieke van die proses, naamlik plot (verhaalberaming?).

Plot gaan natuurlik hier nie oor wyn (of oor ’n erf langs die Eerste of Apies) nie, maar oor ’n heel ander storie – skryf. En die rolspelers in hierdie demonstrasie is jou tradisionele hoofkelner/fasiliteerder en drie kokke/skrywers. Paige Nick het die taak om, soos hulle langs haar sit, Mike Nicol, Francois Bloemhof en Martin Steyn uit te vra oor hulle benaderings tot plot-ontwikkeling.

Dit is ’n interessante kombinasie, dié drie manne in die kerksaal, want Nicol is ’n Engelssprekende skrywer wat deesdae skynbaar al meer na die Afrikaanse mark vry, terwyl Bloemhof en Steyn Afrikaanssprekende skrywers is wat nou boeke in Engels beskikbaar stel. Dit op sigself is interessant, omdat dit ’n soort anomalie in die Suid-Afrikaanse boekmark weerspieël. Waar Bloemhof en Steyn hulle vlerke in ’n wêreldtaal sprei om meer lesers te bereik, probeer Nicol, wat alreeds in die wêreldtaal skryf, die huidige sterk Afrikaanse mark betree.

Waarom sou iemand wat in Engels skryf dan in ’n veel kleiner taal belangstel terwyl hy reeds vir die wêreldmark toeganklik is? Omdat Engelssprekende skrywers in Suid-Afrika met Engelssprekende skrywers van oorsee kompeteer, en spesifiek met die groot name wat miljoene boeke verkoop. As Nicol ’n boek op die rakke sit, staan dit langs dié van Stieg Larsson of Stephen Leather. Plaaslike lesers kies eerder die “brand names” as hulle in Engels wil lees. En plaaslike Engelssprekendes lees beswaarlik Afrikaans. En gaan vra by menige boekwinkel, soos in Kaapstad, of hulle boeke van Afrikaanse skrywers het en hulle ken nie eens die name nie – bid jou aan, sommige van hulle weet nie eens wie Dan Sleigh is nie.

Die Afrikaanse skrywers het die voordeel dat hulle lesers meer lojaal is. Altans, baie Afrikaanse lesers lees hoofsaaklik Afrikaanse boeke. Afrikaanse skrywers wat ook in Engels publiseer, hoop natuurlik dat hulle oorsee raakgesien word, soos ’n Larsson of nou ook ’n Meyer, want die plaaslike Engelse mark is hoeka te klein, juis waarom iemand soos Nicol nie kan bekostig om voltyds te skryf nie. Bloemhof en Steyn, daarenteen, is voltydse skrywers – ook nie gemaklik nie, maar tóg.

Nietemin, ek verloor nou die plot (verskoon my die anglisisme in hierdie geval), en die titel van hulle praatjie is juis “Finding the plot.”

Paige Nick, Mike Nicol, Francois Bloemhof en Martin Steyn (Foto: Francois Verster)

Paige Nick, wat dadelik noem dat sy self ook al ’n boek geskryf het, begin deur die drie skrywers voor te stel: Nicol het reeds sowat 20 boeke gepubliseer, in verskillende genres, Bloemhof meer as 80, in seker elke denkbare genre, en Steyn, die jongste in jare en skryfervaring, drie speurverhale, maar hy is beslis besig om naam te maak. Bloemhof se Double echo (oorspronklik in Afrikaans as Doodskoot gepubliseer) en Steyn se Dark traces (as Donker spoor) is hulle toetrede tot die Engelse mark. Nicol se Agents of the state is as Dieners en donners (2013) vertaal en Power play as Woes (2015). Anders as Nicol en Bloemhof, doen Steyn sy eie vertaalwerk. Nicol se boeke is ook al in Nederlands, Frans en Duits vertaal.

Ek kyk rond. Die kerksaal is nogal vol en die gehoor luister aandagtig. Hoewel daar nie op hierdie stadium vrae uit die gehoor gevra word nie, praat Paige Nick en kie meer met die gehoor as met mekaar. Hulle kom ontspanne voor. Die skraal Nicol is in swart en denim geklee. Bloemhof het ’n modieuse blou-en-wit gespikkelde kortmouhemp aan wat sy harde werk in die gym verklap. Hy het ’n kort poniestert en lyk veel jonger as sy net oor die 50 jare. Borselkop Steyn het ’n grys sweetpaktop met ’n kappie aan. Hy sit deurentyd met ’n skalkse glimlag na die ander en luister, breedgeskouerd en nogal sinister.

“Hoe besluit julle op ’n tema?” kom die eerste vraag.

Nicol sê hy dink aan ’n situasie, soos iemand wat die president wil vermoor (sy nuutste boek gaan gedeeltelik daaroor) en skryf dan sonder om ’n plot vooraf uit te werk.

Bloemhof sê vir sy boek Double echo het film noir hom geïnspireer. Hy werk ’n redelik gedetailleerde plot uit, want hy wil weet waarheen hy op pad is. Hy skryf dit daaraan toe dat hy ’n “control freak” is (sy woorde). Tog laat hy hier en daar ’n opening in die raamwerk waar wendings kan plaasvind wat hom ook kan verras. Die plot is dus nie ’n dwangbuis nie, maar ’n roetekaart. Hy werk uit hoeveel bladsye die boek min of meer sal wees en skryf ’n paar bladsye rofweg uit – “boy meets girl, they fight, they make up” – so iets.

Nicol sê hy besluit wel op ’n struktuur: hoeveel bladsye, hoeveel hoofstukke, hoeveel onderafdelings, en of dit heeltyd in die derde persoon vertel word, maar dalk in die laaste passasies in die eerste persoon – daardie soort ding. Maar die verloop van die verhaal is hoofsaaklik in die karakters se hande – dus is sy stories karaktergedrewe in die ware sin van die woord.

Steyn weer skryf ook oor ’n situasie, met geen voorafbeplande raamwerk nie, maar anders as Nicol doen hy sy huiswerk deeglik. ’n Idee kom in sy kop en hy brei daarop uit, maar eers ná intensiewe navorsing daaroor. Hy doen onderhoude met patoloë, polisiemanne, en so meer. Net Nicol het egter nog in ’n tronk met misdadigers self gesels. Bloemhof sê hy gebruik wel soms die internet as hy iets wil weet.

Oor navorsing sê Nicol laggend dat dit te veel na werk klink en waar Steyn byvoorbeeld ’n lykskouing sal bywoon en die lykshuis noukeurig sal beskou en beskryf, skep hy wat Nicol is sy eie lykshuis soos hy dit wil hê. Hy mag na die eerste konsep na ’n lykshuis gaan, maar hy het nog nooit sy lykshuis verander om by ’n ander een te pas nie.

Bloemhof stem saam. Hy sal later gaan kyk of (byvoorbeeld) sy lykshuis geloofwaardig is, en hy sal dit aanpas as dit nie is nie.

Beide Nicol en Bloemhof put dus hoofsaaklik uit eie ervaring wanneer hulle hul milieus skep. Steyn, daarenteen, verkies om sy boeke soos studies aan te pak, wat nie verbasend is nie, want hy het in kriminologie en sielkunde gestudeer.

“Het julle al self daaraan gedink om iemand te vermoor?” is die volgende vraag.

Ja, sê Bloemhof, soos ’n sekere versekeringsagent, maar helaas, hy dink daar is altyd een of ander slim geregsdienaar en hy sal gevang word. Die ander twee ontken sulke donker gedagtes en Steyn sê hulle ontlaai hulle aggressie deur te skryf. Paige Nick dink dis skreeusnaaks, soos ook die geval is met meeste van wat die drie, nogal gevatte, skrywers te sê het, en só verskaf sy die balans by die donkerte – soos iemand wat kort-kort ’n glas vonkelwyn omhoog hou en “tjeers!” skree terwyl haar tafelgenote beskryf hoe hulle port maak.

“En hoeveel skryf julle per dag?” wil sy weet.

Steyn sê hy skryf stadig, eintlik dwarsdeur die dag.

Bloemhof werk gewoonlik tot middagete.

Nicol skryf soggens so vyf tot tien bladsye, en as dit te maklik begin raak, weet hy dis gemors en dan hou hy op.

Bloemhof sê hy skryf vinnig, maar redigeer baie stadig en presies, en hy dink oor sy werk as hy stap of draf. Nicol lag uitbundig – o nee, tog geen oefening vir hom nie, roep die oudjoernalis uit. Die meelewende gehoor lag saam. Uitroepe van verbasing of eenstemmigheid klink op soos die gesprek voortgaan, maar geen selfone lui of kameras flits nie – ’n beskaafde, belese gehoor. Ás daar kriminele onder hulle is, is hulle dalk baie slu psigopate ...

Toe Nicol beweer dat hy na elke boek in ’n donker put beland en dink dat dit sekerlik sy laaste boek is, want hy hoor skrywers het maar net soveel idees en werk selfs aan verskillende boeke tegelyk (Steyn en Bloemhof doen dit blykbaar), kreun die gehoor in simpatie met die arme gefolterde Nicol, wat duidelik genoeg aandik met sy selfspot en vertoë dat hulle tog vir hom, die kreperende kunstena(a)r, moet ondersteun. Hy beweer ook hy skryf en skryf en skryf en dan begin hy bekommerd raak dat hy dalk al die tyd gemors het en dis ’n krisis, want hy het geld nodig en dan weet hy nie eens of sy storie ’n behoorlike einde gaan hê nie.

Ek het min simpatie met so ’n benadering, want dis presies die risiko wat jy neem as jy “generies” skryf, as jy soos ’n skilder verf op ’n doek begin plak en hoop dit gaan sin maak. Ja, dis opwindend, jy verras jouself, en die element van gevaar is daar, naamlik dat jy in ’n doodloopstraat gaan beland – duisende laaie regoor die wêreld lê vol onvoltooide manuskripte. (Myne het ook ’n paar, met min kans dat hulle sal klaarkom, want beter idees kom gewoonlik verby en daardie branders word eerste gery.) Nee, vir wat my stuiwer werd is, is die rowwe plot maar die beste: weet ten minste wat jy wil sê en hou ’n moontlike einde in gedagte. Dan laat jy die karakters inkoop op die hele lot.

Maar wat saak maak, is wat die drie rillermeesters sê, en Nicol sê as hy nie weet hoe om die verhaal af te sluit nie, los hy dit. Die manuskrip fermenteer dus vir ’n week of selfs ’n maand totdat ’n werkbare einde hom aanmeld.

Steyn sê op sy bedeesde manier dat hy vertrou dat sy stories wel goeie eindes sal hê – ten minste uit sy perspektief, dalk nie uit die oogpunt van spesifieke karakters in die boek nie. En as jy hom so kyk, glo jy hom. Daar is iets van ’n Deon Meyer se selfversekerdheid in sy houding – nee, selfs meer, ondanks sy jeugdigheid in skrywersterme. Hy laat ook die gehoor skaterlag toe hy vertel dat hy slagoffers vir sy stories kies deur na sy ou skooljaarboek te kyk en dat hy hulle met ’n grynslag afmaai. Of eintlik doen die karakters in die boek dit vir hom – hy sê hy kies so vyf of ses en dan “gaan sit hy agter in die motor en ry verder net saam” as toeskouer. Op die vraag wat hom snags wakker hou, antwoord hy lakoniek: “Muskiete.”

Wat pla Nicol snags? wil Nick weet. “O niks, ek slaap soos ’n baba,” kom die antwoord. Bloemhof sê hy kry ook nie nagmerries van sy skryfwerk nie, maar wel van mense wat hom of sy familie inloop soos motorhandelaars, en dis wanneer hy moordfantasieë kan vertroetel.

Nicol laat die gehoor weer lag toe hy erken dat hy tog ook navorsing doen. Hy spandeer glo baie tyd op webwerwe wat vroue-onderklere adverteer. Want hy moet tog sy karakters aantrek, verduidelik hy. Die vroue in die gehoor lag die hardste.

Die laaste vraag oor plot is of dit moeiliker raak om nuwe idees te kry ná etlike boeke.

Bloemhof sê nee, want hy skryf in talle genres en so bly alles vir hom vars. Elke nuwe boek hou immers nuwe uitdagings.

Steyn sê boeke is soos kinders – elkeen is anders. Hy lees graag “true crime”, in tydskrifte en boeke, nie films nie.

Nicol sê hy probeer nie nuwe truuks nie, kyk nooit vooruit of hy verrassings kan vind nie – hy hou daarvan om skielik verras te word. Ook voel hy dat elke mens eintlik net een roman in hom het, een wêreldbeskouing, wat hy elke keer op ’n nuwe manier probeer uitskryf.

Hierop herhaal Steyn die punt dat daar altyd idees sal wees – hy is nie bekommerd as hy van hulle vergeet of aanhou uitstel om hulle te gebruik nie. Die oues sal deur nuwes vervang word as die oues nie werd is om boeke te word nie. Ek moet sê, ek beny hom sy flegmatiese geaardheid, sy onverstoorbaarheid. Ek kan my voorstel dat dit ’n groot voordeel kan wees in die onseker wêreld van die kunste. Aan die ander kant het Nicol en Bloemhof reeds bewese suksesse en al verskil hulle heelwat in temperament en aanslag, vind hulle steeds hulle weg na sukses en maak in die proses deure oop na nuwe wêrelde.

Op pad terug huis toe dink ek toe: ’n plan is nie noodwendig ’n plot nie, maar ’n plot kan ’n plan wees.

En terwyl ek hier skryf, op ’n Sondagoggend vroeg, gaan daar iewers in die buurt ’n skoot af. Daar iewers is die potensiaal vir misdaad en die sneller is getrek wat tot ’n plot kan lei.

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Francois, al het jy op LitNet dwars opmerkings oor my kritiek op Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die Universiteit Stellenbosch gemaak, was ek 'n gereelde leser van jou rubriek in Bolander. Ek hoop dat jy voortaan meer dikwels op LitNet sal skryf.

    • francois verster

      Johannes, baie dankie. Ek onthou nie meer my opmerking(s) nie, maar hopelik was dit nie persoonlik aangetrek nie. Ek het ook al baie van jou skrywes met vrug en plesier gelees, Oor Bolander: ek skryf nie meer vir hulle nie, oa omdat my tyd net te min raak en al mis ek die Bolander-rubriek (10 jaar geloop, en ek is al 12 jaar besig - steeds nog - met artikels vir ander publikasies, soos Kaapse Bibliotekaris en Die Burger) reeds, moet ek iewers inkort, veral omdat ek graag meer boeke wil skryf. Maar ek sal dan en wan artikels en resensies skryf wanneer daar die geleentheid is/ek gevra word; dis tog vir my 'n lekker uitlaatklep vir idees en gevoelens, dog nie met gedurige spertye wat in 'n mens se agterkop bly fluister nie. Ai, as ek nou net meer van Facebook en e-posse kan wegbly! Beste wense, Francois.

  • Chris Marnewick SC

    'n Verslag soos hierdie laat my sterk huistoe verlang.

    Ai, wat sou ek gee om vir Mike Nicol hier naby te hê nie, om te kan gesels oor skryfkuns, om te skinder oor ander skrywers, om probleme met die plot uit te werk, en om daardie manuskrip wat vir 'n elegante einde soek af te stof.

    Plot, adviseer Danél Hanekom van Protea Boekhuis my, is storielyn in Afrikaans, al is dit nie 'n reguit lyn nie; in elk geval, nie in misdaadfiksie nie.

    Soos Nicol, laat ek die karakters en omgewing toe om die storielyn aan te dryf. Soos Steyn gaan kyk en tot in die lykshuis, in my geval, tot in die dodeselle of in 'n joernalis se tas vol ou foto's en notaboekies. Soos ander skrywers het ek 'n onvoltooide manuskrip in 'n laai. Soos al drie hierdie manne probeer ek in Engels en Afrikaans skryf. Die wonderlike is dat, as ek my eie boek vertaal, ek 'n tweede geleentheid het om die storie te vertel, en die tweede een voel vir my telkens beter as die eerste.

    Ek mis die gemeenskap van skrywers - Afrikaans en Engels - waar ek hier in die vreemde sit. Daar is darem goeie rugby hier in Nieu-Seeland. Sê maar net.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top