Franklin Abraham Sonn (1939–2025)

  • 1

Sedert sy oorlye Saterdagmiddag is Franklin Abraham Sonn (1939–2025) gehuldig vir sy rol as opvoeder, onderwysleier, politikus, diplomaat, sakeman, filantroop, kunsliefhebber en gemeenskapsmens. President Cyril Ramaphosa beskryf hom as iemand wat “betekenisvol tot verskillende sektore van die gemeenskap en ekonomie bygedra” en hom as leier in die onderwys, politiek en besigheid onderskei het. Sonn het inderdaad sedert die 1980’s ’n nasionale profiel as anti-apartheidstryder gehad en in die woorde van Ramaphosa “’n groot rol in ons geskiedenis gespeel”.

Franklin Sonn in Vosburg (September 2025) (foto: verskaf)

Selfs op gevorderde ouderdom en ná meer as ’n dekade uit die openbare lewe was Sonn steeds ’n meningsvormer. Hy is dikwels genader om kommentaar te lewer oor aktuele sake in die media. Sy mees onlangse openbare optrede was juis hierdie jaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die bekendstelling van sy outobiografie, Karooseun van Vosburg (Protea Boekhuis, 2024), en later met die Engelse vertaling, Vosburg to Washington (Protea Boekhuis, 2025), is die aandag weer gevestig op ’n man wat diep spore in die Suid-Afrikaanse gemeenskapslewe getrap het.

Sonn was sjarmant en innemend, wat mense maklik na hom aangetrek het. Hy was nie onbewus van daardie vermoë nie en het dikwels speels geflankeer. Wanneer hy ’n vertrek binneloop, sou hy onmiddellik die aandag trek. Hy was gesteld op sy voorkoms. Jy kon hom enige tyd van die dag deur ’n ring trek. Selfs as ’n ouer man wat hom nie aan fisieke inspanning of oefening gesteur het nie, het hy grotendeels sy lenige liggaamsbou behou. “Goeie gene,” was sy antwoord.

Hy het met ’n ligtheid met die wêreld omgegaan. Hy kon selfs in die moeilikste omstandighede snaaksighede sien. “Franklin maak van alles ’n grap,” het Jakes Gerwel op ’n stadium gesê. Dit was egter nie ondeurdagte ligsinnigheid nie, maar ’n onderdeel van sy charismatiese persoonlikheid. Hy was bewus daarvan dat sy sin vir humor mense na hom aangetrek het. Sy rol as onderwysleier in die Kaaplandse Professionele Onderwysersvereniging, as rektor van die Skiereilandse Technikon en as politikus was geskoei op dié gemaklike omgang met mense.

Mense het hom as toeganklik en as ’n demokraat ervaar. Veral in die moeilike jare van politieke opstand in die 1980’s het hy hom gevestig as iemand wat demokrasie nie net gepredik het nie, maar dit as praktyk in sy werksomgewing nagestreef het. In ’n WhatsApp-boodskap op 21 Oktober 2025 skryf hy oor die spanning tussen maklike outokrasie wat “doodtrap” en “vryheid veranker [in] demokrasie”. Maar ook beken hy dat in daardie moeilike tye “Mismoedigheid [...] my ook in my klein wêreld oorval [het]. Wanneer ek 2-uur op ’n Saterdagoggend huis toe ry na urelange vergaderings met my studenteleiers en onderwyshoofbestuur[,] in navolging van die metodiek wat demokrasie op ons afdwing. (Vir my het dit telkens sukses verseker terwyl in ander kringe chaos – aansteeklike chaos – uitgebreek het.)” 1

Die gemaklike omgang het ook in sy familie- en vriendekring neerslag gevind. Die Sonns se gasvryheid is legendaries. Franklin en Joan het die vermoë gehad om mense van uiteenlopende agtergronde en standpunte om hulle etenstafel byeen te bring. Samekomste aan hul huis met hul groot kunsversameling was altyd uitbundig met Franklin wat stories vertel van sy wedervaringe in die openbare lewe, meestal ten koste van homself. Joan het dikwels dié stories afgewissel met haar eie meer besadigde vertellings van hul lang verbintenis van meer as 60 jaar as minnaars en getroudes. Sy is die toonbeeld van elegansie en sofistikasie wat sulke geleenthede (van watter aard ook al) tot in die fynste besonderhede beplan, en wat met hul verblyf as ambassadeurspaar haar stempel as formidabele gasvrou afgedruk het.

Hoewel Sonn gedurende die laat 1980’s na aan die buiteparlementêre bewegings beweeg het, en in die 1990’s nou met die ANC geassosieer het, het dié verbintenis mettertyd minder heg geword. Alhoewel hy allerweë as gematigd beskou is, het hy nie geskroom om sy kritiek oor die huidige stand van sake in die land uit te spreek nie. Sy ontgogeling met die bewind van die ANC, veral onder Jacob Zuma, maar later ook onder Ramaphosa, het toegeneem. Hy het selfs in die aanloop tot die nasionale verkiesing in 2024 in die openbaar verklaar dat hy vir ’n opposisieparty gaan stem.

Die koalisievorming van 2024 was vir hom ’n belangrike skeiding. Op 1 Junie 2024 stuur hy ’n WhatsApp-boodskap: “My eie gebede is verhoor en die goeie kant van papbroek Cyril is gered.” Hy is verheug dat die ANC verplig is om ’n koalisie te vorm en na die middel gedryf word, en dat die kabinet vir die “eerste keer ná Madiba [...] nierassig voorkom”. “Die mark is gered en ons aansien in [die] internasionale [arena] is gered en bankrotskap ook.”

Maar sy vreugde sou nie lank duur nie.

Sy ongemak met die huidige bewind was duidelik: “[Dis] om van te huil ... Werkloosheid 62% van mense onder 35 jaar.” Hy betreur die onvoldoende regspleging, die oorvol tronke en die beleidsrigting wat gevolglik gevaarlike bendelede op parool uitlaat. Intussen groei die gaping tussen ryk en arm en sit “ministers [wat] Zondo uitgewys het rustig in die kabinet ... Buitelandse GELD bly weg. Staatskuld neem toe ... Groei rondom 1%, ekonomie gly” (WhatsApp, 4 Julie 2025).

In sy hart was Sonn ’n kind van die Karoo wat gereeld die plekke van sy herkoms besoek het. In sy laaste reis na die Karoo, twee maande gelede, om sy outobiografie aan die mense van Vosburg en Carnarvon bekend te stel, sit dié boorling van die Karoo tussen die Vosburgers en skryf op WhatsApp: “My eie mense ... wat jy sien is wat jy kry [, dis die] waarde van behoort ... Tweedens[,] by wie is jy werklik gelukkig[, ...] derdens[,] ons mense verdien en wil raakgesien word.” Hy vertel dan van mense wat hy in Carnarvon raakgeloop en vir koffie by ’n garage genooi het “waar ons lekker gesels het en aanvoelingsdeernis geniet het”.

Hy kan egter nie van beskeidenheid beskuldig kon word nie. In ’n maatskaplike omgewing waar in die verlede stereotipering gedy en prestasie onderwaardeer en dikwels geïgnoreer is, het hy homself as die draer van ’n omvattender sosiale en persoonlike geskiedenis gesien. So vertel hy in dieselfde sosiale-media-boodskap van 15 September 2025 dat “’n pragbrosjure aan toeriste aan VOSBURG versprei word wat vir FRANKLIN as die beroemdste VOSBURGER beskryf.” Hy lys dan die redes waarom hierdie erkenning hom “goed laat voel”: “dat ’n bruin persoon so beskrywe word; dat ons trotse gedeelde SONN-NAAM in daardie terme verskyn; dat Oupa se van só verskyn; [dat] Ankel Basie wat nog onder die oues bekend is, baie trots sou wees; dat die SONNS NA VERDIENSTE AANGESLAAN WORD; dat OUPA SE KINDERS [en] DIE WETE DAT DIT WERK EN INSPANNING BELOON [word].”

’n Huldeblyk sou onvoldoende wees as ’n mens nie sy ervaring as jong skoolkind in Kaapstad en sy diepe geloofsoortuiging betrek nie. Sy ouers stuur hom as plattelandse kind op 13-jarige ouderdom na Kaapstad om sy hoërskoolloopbaan voort te sit, maar hy het nie veel erg gehad aan wat hy in sy outobiografie “die Engelse Coloured snobs” (bl 29) genoem het nie. Dis dié onderwysers wat syns insiens ’n “weersin” gehad het in plattelandse Afrikaanse kinders en hulle “met minagting en as minderwaardig behandel” het. Dié persepsie sou later kernfasette van sy lewe beïnvloed, soos sy beskouing oor onderwys: “[E]k het ’n hegter band met die Afrikaanse en meer plattelandse bruin onderwysers gehad” (30).

Ook sy Christelike oortuigings wat hy aan moedersknie geleer het, moes hy stel teen dié van Engelssprekende ateïstiese onderwysers. Sy uitgesproke Christelike oortuigings het hy lewenslank volgehou. Sy WhatsApp-boodskappe soos dié een op 23 November 2024 het feitlik daagliks dié verbintenis uitgedra: “Dank God dat Hy my begenadig om Sy hoogste gesag met diepe respek te ag en nederig te aanvaar ... Ook dat Hy my nie beskore het om net ten dele te verstaan sodat EK KAN GLO. Ek verkies nederige aanvaarding met ’n gevoel van uitverkorenheid en begenadiging ... God werk in mistieke manier ver bo ons begrip. Vir my persoonlik ... so het my oupas en oumas ... my ooms en tannies geglo. So het moeder en vader geleef en geglo. [...] So probeer ons ook lewe en dink ...

Sonn het in sy latere jare geleef met ’n bewustheid dat die meetsnoere vir hom op lieflike plekke geval het. Hy was vrygewig en gulhartig met diegene na aan sy familie. In die gemeenskap waar hy en sy vrou afgetree het, was daar talle blyke van hul bydrae tot die algemene welstand van hul omgewing.

In die Suid-Afrikaanse kulturele en politieke lewe het ’n groot man sy finale buiging gemaak.

Hein Willemse


Eindnota

1 Die aanhalings uit Sonn se WhatsApp-boodskappe is ten opsigte van punktuasie en spelling gekorrigeer en gestandaardiseer. Hy het die geneigdheid gehad om sy boodskappe gedeeltelik en selfs algeheel in hoofletters te skryf en in ander gevalle slegs sekere woorde. In die geval van eersgenoemde word dié boodskappe ter wille van leesbaarheid in normale formaat weergegee. In gevalle waar hy ter beklemtoning bepaalde woorde in hoofletters geskryf het, word dit so behou.

Lees ook:

Karooseun van Vosburg deur Franklin Sonn: ’n resensie

Franklin Sonn op 80 oor Oos-Kaapse menslikheid en waardigheid

Invloedryke bruin intellektuele

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Wat ‘n voorreg was dit nie om vir Franklin Sonn te ken nie. Hy het feitlik almal se lewens aangeraak wat met hom in aanraking gekom het. Suid-Afrika is veel meer aan hom verskuldig as wat die meeste mense besef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top