
Die 11de Silwerskermfees is verlede week weer in Kampsbaai gehou. Met wuiwende palmbome, wit sand, kobaltblou seewater en die room van die Suid-Afrikaanse filmbedryf was daar vele hoogtepunte.
Maar daar was ook ’n tikkie hartseer met die afsterwe van verskeie bekendes die afgelope paar maande, van wie Bradley Olivier, wat bekend is as Danny Jantjies in die sepie Binnelanders en wat in die nuwe speelfilm Frankie en Felipé te sien was, sekerlik nog die rouste was.
Vir dié rolprent het Bradley en Solomon Cupido die toutjies voor én agter die kamera getrek. Hulle het die fliek vervaardig, die draaiboek saam met Brett Michael Innes (Sink en Fiela se kind) geskryf én die hoofrolle gespeel. Bradley is Frankie, en Solomon is Felipé, twee broers wie se lewens heeltemal verskillende paadjies geloop het nadat hulle as kinders van mekaar geskei is. Wanneer hulle net voor Frankie se troue herenig, lei dit tot ’n warboel van misverstande. Marvin-Lee Beukes is die regisseur en onder die ander spelers tel Ilse Klink, Zane Meas, Kim Syster en Bouwer Bosch.

Die sterre van Old Righteous Blues, wat op Robertson verfilm is.
Met Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale, se verwelkoming het hy vertel: “Die heel eerste Silwerskermfees is in 2011 in Prins Albert gehou. Sedertdien is daar 60 vollengte-speelfilms en 170 kortfilms geproduseer. Baie kreatiewe mense werk in beide televisie en film en die name op die plakkate is baie dupliserend. Daarom die besluit om vanjaar die toekennings vir albei bedrywe by een geleentheid uit te deel.”
Voor die première van elke speelfilm het akteurs, regisseurs en die tegniese spanne op die blou tapyt verskyn, onderhoude toegestaan en vir foto’s poseer.

Die span voor en agter die kameras van die riller Blindelings.
Die speelfilms het vanjaar uiteenlopende temas gehad. Daar is Old Righteous Blues, wat op Robertson verfilm is en die trauma van ’n verskeurde gemeenskap oor lojaliteit en die posisie van ’n trommemajoor uitbeeld. Dan ook die riller Blindelings, waar ’n blinde pianis tydens ’n angswekkende nag om haar lewe veg. Die trane het geloop van die lag in die verwerking van Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor. Pierre van Pletzen het die rol van Hans vertolk en sy ouetehuisrevolusie was tegelyk skreeusnaaks en hartseer.
Die kortfilms het weer eens getoon waartoe teksskrywers, regisseurs en akteurs in staat is binne die beperkinge van ’n kort tydjie. Dit het ook bewys dat Suid-Afrikaanse speelfilms van sulke uitstaande gehalte is omdat die fondamente met die vervaardiging van baie kortfilms reg gelê word.
Dokumentêre kortfilms het diep gekyk na die sosiale kwessies van die lewe in Suid-Afrika: van leeus wat deur stropers vermink word, tot die stryd van blinde atlete en langafstandatlete wat uit haglike omstandighede kom en steeds veg om heel bo uit te kom.

Ebrahim en Abidah Dixon Mohammed en Noel Oostendorp van Arendsvlei gaan kyk films.
Die boodskap dat die filmfees aan bruin mense ’n stem gee en vir die eerste maal waarlik na hul stories luister, het ook in verskeie besprekings uitgekom. Daar is onder meer gesê dat bruin mense tevore altyd óf as versukkeld, dom en agterlik óf as kriminele of bendehoofde uitgebeeld is. Met verskeie films op vanjaar se fees is hierdie beeld die nekslag toegedien.
Teater na die mense vertel die merkwaardige verhaal van die Cape Flats Players-geselskap wat teater ingespan het om die apartheidstelsel uit te daag en gehore aangemoedig het om teen onderdrukking op te staan. Daarin gesels die stigterslid Peter Braaf met sy dogter, Genevieve Muller, oor die begindae van die geselskap toe hulle veral op die Kaapse platteland gespeel het in gemeenskappe waar daar geen teatergeriewe was nie.

Die paneelbespreking na afloop van Teater na die mense en Langafstand
Die film was baie insiggewend en het in die paneelbespreking na afloop van die vertoning baie interessante insette uit die gehoor en paneel gelok.
’n Jong vrou laat hoor: “Die woorde van die teatergeselskap, ‘Ons is mense’, vang die gees van die dokumentêr so goed vas. Ek het soveel emosies ervaar. Ek het ’n gevoel van kultuur, hoop en geskiedenis ervaar.”
Sy vra aan Peter watter boodskap hy wou oordra met die film. Hy antwoord dat hierdie film ’n geskiedenis vasgevang het waarvan mense nie geweet het nie. Hy moedig ander filmmakers aan om mense wat swaargekry het, se stories vas te vang. Om stories vas te vang wat lank nadat ons nie meer bestaan nie, nog ’n doel sal hê.

Langafstand vertel die storie van Deon-Lee Hendricks (middel) van Cloetesville, Stellenbosch, wat voorberei vir die landloopproewe waar die Suid-Afrikaanse span gekies word. By hom staan sy eerste afrigter, Tanya Carstens, en sy huidige afrigter, Jacques Jansen van Rensburg.
In Langafstand volg die kameras die reis van “Die hoop van Cloetesville”, Stellenbosch – die landloopatleet Deon-Lee Hendricks wat met die hulp van sy afrigter en die atletieklegendes Elana van Zyl en Zola Budd voorberei op die landlooproewe wat tussen hom en sy groot droom staan: om die Suid-Afrikaanse span te haal wat in Australië gaan meeding. Hy sê ook na afloop van die film dat die fees en sy geleentheid vir kort dokumentêre aan bruin en swart mense ’n boodskap van hoop bring, dat jy bo jou arm en haglike omstandighede kan uitstyg en iets van jou lewe kan maak.
Uit die gehoor kom dit: “As jongmense hierdie fliek kyk, kan hulle dink dat as hierdie ou wat soos ek lyk, of van dieselfde agtergrond kom, sulke sukses kon bereik, kan ek ook.”
Solomon Cupido het na afloop van die vertoning van Frankie en Felipé in die paneelbespreking gesê: “Daar is soveel stories daar buite oor bruin mense; stories wat vertel moet word. Maar van ander bruin mense, van die anderkant van die rivier; wat geld het, wat rykdom vermag het; intellektuele mense wat professionele loopbane het. Ons wou net graag ’n storie vertel van die ander kant.”
Uit die gehoor kom dit van ’n vriend van Bradley: “Bradley is in hierdie film soos hy was: ‘Moenie vir my sê wie ek is nie.’ Ons is te lank gesê wie ons is.”

Aktrises Trix Vivier, Lika Berning en Lea Vivier voor die aanvang van die volgende film.
Tussen filmvertonings deur is werkswinkels aangebied om voornemende filmmakers aan te moedig en raad te gee oor goeie voorleggings en spelleiding voor die kamera. Nico Scheepers van Donkerbos- en Nêrens, Noord-Kaap-faam het saam met akteurs en ’n kameraman gewys hoe hy te werk gaan om op stel onder druk die beste spel uit akteurs te tower. In die meesterklas om gemeenskappe te bemagtig het Nadine Cloete (Teater na die mense, Action Kommandant) en Muneesa Sallies (Old Righteous Blues, Twisted Christmas) gefokus op narratiewe stories wat in gemeenskappe verfilm word en die gemeenskappe se outentieke verhale in fiksie vas te vang.
Die vierdagfees het ten einde geloop met die toekennings vir film en televisie, wat by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum gehou is.
Alle foto’s is deur Clifford Roberts verskaf.

Rudie van Rensburg, skrywer van Hans steek die Rubicon oor saam met die hoofspeler in die film van dieselfde naam, Pierre van Pletzen.

Sterre van Frankie en Felipé, van links: Bianca Flaenders en Zane Meas, by Vinette Ebrahim.

Terence Bridgett speel die rol van die kleremaker in Frankie en Felipé.

Shimmy Isaacs speel die rol van die boef, Benna, in Frankie en Felipé.

Diaan Lawrenson speel die rol van Hans se dogter in Hans steek die Rubicon oor.

Tobie Cronje speel Fasie en Nicola Hanekom die matrone in Hans steek die Rubicon oor.

Ivan Botha is die vervaardiger, en sy vrou, DonnaLee Roberts, speel die rol van die blinde pianis wat een nag om haar lewe veg in die film Blindelings.
Sien ook:

