#feesmustfall: Betogersgids 101

  • 7
izakdevries_feesmustfall

Izak de Vries (foto: Naomi Bruwer)

Read more on universities, language, access, education and current student protest

 

Twee kondome

’n Pakkie tampons

’n Goeie syserp, as jy ’n vrou is; ’n goeie das, as jy ’n man is

’n Netjiese hemp met ’n kraag

’n Hoed

Twee liter water

’n Pak biltong of droëwors

’n Warm baadjie

’n Baie netjiese rugsak

’n Beursie sonder te veel kredietkaarte, maar met genoeg kontant

R50 in jou sokkie

’n Hart vol passie

Oop ore

’n Skerp brein

’n Mooi glimlag

Moet nooit gaan betoog sonder hierdie items nie. Elkeen van hierdie goed kan jou lewe red. Kom ons neem hulle van onder af.

’n Mooi glimlag

Regtig: Dit maak nie saak hoe opgewerk jy raak nie, as jy kan glimlag vir diegene wat vir of teen jou is, dan wen jy.

Glimlag vir die polisie. Hulle is ook mense.

Glimlag vir die pers. Jy het hulle nodig.

Glimlag vir diegene wat nie met jou saamstem nie; hulle sal makliker na jou luister.

Moet nooit ’n boelie wees nie. As jy mense gaan intimideer, of as jy vandalisme gaan pleeg, dan stel jouself en die groep bloot aan hardhandige polisieoptrede.

As ons netnou by die kondome kom, dan word die glimlag nog belangriker, maar onderdruk nou eers daardie een, ons het nou jou brein nodig.

’n Skerp brein

Maak dôners seker jy weet wat jy wil hê.

Jy gaan jou en die ander betogers se naam gat maak as die pers wil weet wat aangaan en jy klink soos ’n Mejuffrou Amerika-wannabe. Nee, maatjie. Kry jou feite reg. Deel die feite. Maak seker jou medebetogers ken die feite. Hóú by die feite.

Dit maak nie saak hoe moeilik jou saak is waarvoor jy veg nie, die pers is mal oor soundbites. As joune goed is, gaan jy positiewe dekking kry. As joune sotlik is, is dit jou eie skuld as die pers dit uitblaker.

As jy nie bereid is om te onderhandel vir die saak waarvoor jy betoog nie, dan moet jy nie in die eerste plek betoog nie. Om te betoog is om mense se aandag te vestig op iets wat skynbaar nie vanself sal verander nie. Jy moet bereid wees om jou standpunt te stel, met goeie feite, maar jy moet ook verstaan dat die ander party waarskynlik meer het om te verloor.

Julle kán universiteite onherroeplik, en ten goede, verander as julle slim dink. Ek het nie die antwoorde nie. Gaan vind die antwoorde.

Onderhandel.

Oop ore

Daar is twee redes vir oop ore. Aan die een kant moet jy bereid wees om na die opposisie te luister. Troef hulle met jou feite, maar lúister.

Die tweede is nóg belangriker: luister na die situasie om jou. As die praatjies moorddadig word, klim uit. Split. Wamoes. Ons het jou brein nodig; ons soek jou nie met ‘n panga of ’n polisiekoeël in die kop nie.

’n Hart vol passie

Glo.

Glo in jou saak.

Glo dat dit moontlik is, hoe onmoontlik dit ook klink.

Apartheid was ’n lang en donker tonnel. Dit was skynbaar onmoontlik om die NP se enorme mag te breek. Die mense wat waaragtig ’n verskil gemaak het in daardie tyd, het bly glo.

Bekostigbare opvoeding? Dit klink byna onmoontlik om te dink ons kan ander maniere kry om opleiding te befonds, nie waar nie?

Bly glo.

Glo met oop ore om ook die opposisie se standpunt te hoor.

As jy twyfel, bly by die huis.

R50 in jou sokkie

As alles, maar alles skeefloop, hardloop.

As jy jou vasloop in skurke, die polisie of ander mense wat nie jou glimlag koop nie, maak seker dat jy kan bel en weer by die huis kan kom, al is jou beursie weg.

’n Beursie sonder te veel kredietkaarte, maar met net genoeg kontant

Kom ons hoop jy het nie die R50 in jou sokkie nodig nie.

Maak seker dat jou beursie genoeg bevat om jou uit die moeilikheid te kry, maar nie soveel dat jou lewe drasties gaan verander as dit verdwyn nie.

’n Protesaksie kan skeefloop.

Mense kan mekaar raaktrap en seermaak as hulle paniekerig word wanneer die polisie begin granate en traangas gooi.

Wat meer is: as jy in hegtenis geneem word, sal kontant help. Ekstra kos, ekstra voorregte, ekstra oproepe … Ons praat hier van die werklike lewe.

’n Baie netjiese rugsak

Wees gemaklik, maar netjies wanneer jy uitgaan om te protesteer.

Jy skep ’n beter indruk as jy netjies is. Die pers sal daarvan hou, jou opponente ook.

Daar is ’n ander rede ook. Kyk wat ek sê oor die hemp en die das, dan sal jy verstaan waarom jou rugsak ook netjies moet wees.

’n Warm baadjie

Glo my. Jy gaan spyt wees as dit koud word en jy gevang word sonder ’n baadjie.

As jy boonop lank moet sit, of besluit om op die sypaadjie te slaap, sal ’n sagte baadjie baie beteken, ook op ’n warm dag.

As jy in hegtenis geneem word, sal ’n warm baadjie baie beteken in die selle.

Daar is ongelukkig ook ’n ander rede: as jou vriend geskiet word, of ernstig beseer word, gaan sy of hy onmiddellik teen skok behandel moet word. Kom ons hoop dit gebeur nooit, maar ás dit gebeur, mag daardie baadjie van jou ’n lewe red.

Gebruik egter jou ore en kom weg voor die geweld uitbreek – as jy kan.

’n Pakkie biltong of droëwors

Maak seker die wors of biltong het baie vet aan.

As jy vasgekeer is en jy word honger, of as jy in hegtenis geneem word, is dit nie bloot vir jóú noodsaaklik om iets vetterig te eet nie, jy gaan ook vriende maak as jy deel.

Twee liter water

Protes maak jou dors. Selfs as jy net staan of sit.

Drink gereeld klein slukkies wanneer jy dors is. Ja, dis moeilik om te gaan piepie terwyl jy betoog, maar daarom moet jy drink wanneer die dors daar is. Jou liggaam is verstommend. ’n Mens leer jouself ken wanneer dit moeilik gaan.

’n Hoed

Son. Ons woon in Afrika. Selfs al is jou vel donker, dra die hoed.

’n Netjiese hemp met ’n kraag

Man of vrou, dra ’n netjiese hemp met ’n kraag. As jy baie graag jou T-hemp met al die nodige woorde op wil dra, goed so, maar hê die hemp reg, of dra dit oopgeknoop oor die T-hemp.

Netjiese betogers word ernstiger opgeneem as diegene wat lyk of hulle ’n rampokkerbende bedryf.

Belangriker nog: Kyk wat sê ek oor die das of die serp hier onder. Jy moet ’n hemp kies wat daarby pas.

’n Goeie syserp, as jy ’n vrou is, en ’n goeie das, as jy ’n man is

Hou jou ore oop.

As jy besef die polisie gaan amok maak, moet jy ’n besluit neem.

Soms moet jy wegkom.

Hardloop. Verdwyn in die naaste winkel in. Knoop die hemp met die kraag toe. Sit die das of serp netjies om jou nek en lyk of jy rustig inkopies doen.

’n Poliesman wat instorm, gaan jou miskyk as jy so netjies lyk.

’n Pakkie tampons

’n Vrou kan nie uitgevang word hiersonder as sy toegesluit word nie, maar mans moet dit ook dra.

Daar is twee redes voor.

Tampons stoep bloed. As een van jou vriende ’n ernstige wond opdoen, pak die wond met tampons. Hulle is steriel en hulle is gemaak om bloed te absorbeer.

Meneer. Daar is min goed wat ’n polisieman se hart so week sal maak as jy, kraaknetjies met jou das aan, vir hom sê: “Oom, ek het gaan kuier, maar dis sulke tyd, Oom …”

Juffrou, daai poliesman gaan totaal verbouereerd wees as jy dit uithaal en sê: “Asseblief. Ek moet regtig nou hier uitkom en by die naaste winkel se toilet ingaan.” Maak dan dat jy wegkom.

Twee kondome

Kondome maak baie goeie toernikette. As ’n vriend bloei en jy moet ’n wond afbind, is dit die ding om te gebruik. Hulle is skoon en steriel.

Kom ons hoop egter jy kan ’n ander gebruik daarvoor kry.

Kom ons wees veel meer optimisties.

As jy met passie in jou betoging ingaan, hou aan glimlag.

’n Passievolle glimlag van ’n medebetoger is sexy.

Soek daardie glimlag, sorg vir mekaar.

Stry, redeneer, gebruik julle koppe om waaragtig aan idees te dink, al stem julle nie saam oor die idees nie.

Wanneer die betoging klaar is, koop ’n bottel wyn. Gaan huis toe. Stry verder.

’n Passievolle hart en ’n slim brein wat omgee, is sexy.

Gee oor aan die passie, maar wees veilig in die bed.

Die lewe is kort. Geniet dit.

Glo.

Betoog.

Hou aan glo.

Hou jou ore oop vir rede, hou jou oë oop vir die mooiste glimlag.

Leef jou passie uit, ook in die bed, maar moenie jou brein afskakel as jy dit doen nie, ook nie in die bed nie.

* * *

Ek het ’n jong vriendin, wat baie soos ’n dogter is, daar op Wits.

Sy is deel van #feesmustfall.

Sy was nie, maar die regering en die polisie se hantering van die beweging het haar bekeer.

Ek is trots op haar.

* * *

Hierdie ou man was al in sy lewe aan verskillende kante van die linies.

As troep in die destydse weermag moes ek kwansuis betogers in toom hou. Daar het ek geleer hoe belangrik ’n glimlag is. Ons het krisisse opgelos deur te glimlag.

Ek was ook, as student, ’n betoger.

Ek was, as akademikus, ’n skild tussen betogers en die polisie.

Ek het as persfotograaf die glimlagte en trane van albei kante afgeneem.

Vandag is ek ’n siniese toeskouer.

Ek steun die beginsel agter #feesmustfall.

#feesmustfall het kragtige alliansies; selfs Salman Rushdie het op sy amptelike twitterrekening steun verleen.

Ek vra egter dat ons omsigtig moet wees.

Die regering is bang.

Die regering gáán korttermynplanne maak wat nie akademiese instellings ter wille gaan wees nie.

Ek voel vreeslik oud nadat ek en ’n groep oumense ’n verklaring uitgereik het oor #feesmustfall. Lees dit asseblief. https://www.litnet.co.za/n-verklaring-deur-pen-afrikaans-rakende-feesmustfall-a-statement-by-pen-afrikaans-regarding-feesmustfall

Ons moet onderhandel.

Almal.

Die akademici in hulle ivoortorings, die diknekpolitici met hulle blouligbendes en die betogende studente.

Almal.

Ons moet praat, maar bowenal: ons moet na mekaar luister.


Fees Must Fall | Klasgelde Moet Daal

2015

 


  • 7

Kommentaar

  • Dankie hiervoor, vriend Izak. Dit voel vir my die afgelope paar dae asof ek alleen baklei. Dis goed om die jongmense op die regte manier te ondersteun.

    Ons moet help om die jong mense educated te kry - dis juis waarvan ons regering nie hou nie. Mense wat kan dink gaan dalk nie vir hulle stem nie.

  • Schalk Cloete

    In die nadraai tot @feesmustfall die volgende:
    As 'n ouer is ek bly vir die uitslag aangesien ek self ook twee kinders grootliks deur universiteit gedra het. As wetenskaplike en studieleier is my gevoelens ietwat anders. Die universiteite se begrotings sal moet klop. Die staat het reeds gesê die universiteite moet self verantwoordelikheid vir die tekort aanvaar. Die maklikste plek om af te skaal is op navorsing. Dit sal nog meer druk op reeds oorbelaaide "principal investigators" plaas om ekstra fondse te in.

    • Izak de Vries

      Schalk, ja. Ek en ander het op 'n ander forum daaroor gepraat. Ons moet langtermynoplossings kry.

  • Nee wat hierdie betogings gaan myns insiens nie ver genoeg nie."Exams must fall' klink baie beter, studeer is in ieder geval tydmors en met die baie 'fake' sertifikate in die omloop is eksamens onnodig.

    Dit pas myns insiens in by die tema 'everything must fall and be free'.

  • Beste Izak

    Dit wys maar weer die gesegde 'great minds think alike' waarop my wiskunde-onderwyser altyd gevat geantwoord het 'fools never differ'.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top