Fay se bekering (Deel 1)

  • 0

Dit was ’n Maandag toe een van die Joons-kindertjies, die een met die oopbekkie, by my huis aankom en sê Ouma het hom gestuur. Ouma wou weet of ek nie net haar hare wil kom rinse nie. Ek het suke los werkies maar gedoen vir ekstra geld, maar in my binneste het ek geweet dat Ouma ’n storie het wat sy wil vertel.

Ek het vinnig klaargemaak en die Jensen Violet in my handsak gedruk. Die tuinhekkie het nog nie eers behoorlik die toegaan-skreeu gelos nie, of sy skreeu dat ek maar kan inkom, die voordeur is oop.

Sy het sommer so by die bad gebuk en ek het met ’n enamel emmertjie begin spoel. Toe ons amper klaar is, sê ek sy moet partykeer so bietjie heuning aan haar hare sit, sodat dit nie so uitdroog nie, en net daar sê ek ’n ding wat haar laat lag. Sien, Ouma het so manier dat haar skouers eers begin wip dan kom die lag later uit.

“En as Ouma nou so aan die wip gaan?” vra ek ewe onskuldig terwyl ek haar hare spoel en met conditioner invryf. En so begin sy vir my die storie vertel van Fay wat oorkant haar bly met die droeë en gekoekte hare.

Dit was weer een van Dominee se kuiers wat nie ’n huisbesoek was nie, maar net ’n heen-en-weertjie. Ouma vertel dat hulle nog so oor die tuinhekkie staan en kuier, toe Fay Botes by haar huis uitgestap kom, ’n paar blaartjies van ’n bossie of ’n ding afpluk en vinnig weer by die huis instap. Fay Botes bly so skuins oorkant Ouma-hulle in die eenvoudige rooibaksteenhuisie. Ouma vertel dat Dominee eers so stadig en versigtig beginne praat as hy iets op die hart het en dis hoe hy toe die ding begin vat van Fay toe hy sê:

 “Tannie Joey, daardie dame wat hier so skuins oor die pad bly is darem ’n vreemde mens. Ek wil so graag daar gaan besoek aflê. Ek voel dit so in my gees.” Ouma vertel vir my dat dit gevoel het asof al die bloed uit haar are loop, toe Dominee oor Fay beginne praat.

“Ja Dominee, ek verstaan dis soos daai wat hulle sê, die gees wil maar die vlees wil nie.”

“’n Mens kan mos nie so eensaam en alleen deur die lewe gaan soos daardie stomme vrou nie,” begin Dominee torring aan die ding en Ouma wil die ding wegpraat.

“Ag, Dominee, los maar. Die vorige Dominee het ook probeer, maar sy het hom gejaag. Glo vreeslike goed toegesnou. Los maar.”

“Tannie Joey, vandag staan ek as 'n vriend voor Tannie. Hoe sal ek nou die hele ding benader as ek wil gaan huisbesoek doen?”

“Dominee, daardie vrou ken net ellende. Kyk hoe trek sy aan. 

Dis nie rokke of klere nie, dis lappe. Sy draai die goed om haar middel, gooi ’n lap oor haar skouers, bind ’n lap om haar kop en dan nog kaalvoet ook nog. Winter en somer. Daardie hakke is al so gebars soos ’n ou houtvloer wat nooit olie of polish kry nie,” was Ouma se woorde. Ek wou nog sê dat sy moet Vaseline en Grandpa meng en dit aan die hakskene sit, maar ek los vir Ouma dat sy die storie vertel, want ek weet hierdie is ’n lekker storie.

“Sy borsel nooit hare nie en as sy die dag dit moet doen, borsel sy net bolangs, maar onderlangs sit die koeke soos ’n vinknes. Daar moet nog net ’n klein voëltjie by haar kop uitloer, dan is dit sowaar ’n vinknes. En dan wil ek sommer in dieselfde asem sê, dat sy nie te skoon is nie, wel, ek sal nie daar tee drink nie, as ek ek dit dan nou so moet stel. Maar die ding wat almal aan die praat het, is dié dat sy so vroeg, nog voor sonop, uit haar huis kom, al is dit spierwit gekapok, om met haar plante te praat. En as jy nou haar voortuin so van naderby bekyk, sal jy sien daar groei nie blomme nie, maar net groente, kruie, uintjies, bossies en al wat 'n ding is waarmee sy toor. Dis ’n aardigheid Dominee, dis ’n aardigheid.” Ouma en Dominee loer straat-af na Fay se kant toe. So skelm loer soos wanneer ’n skoolkind afskryf.

“Niemand wil naby haar kom nie, te bang hulle word getoor. Dis net die diertjies en insekte wat oral in haar huis en tuin rondloop wat gelukkig lyk. Daar is sprake dat sy ekstra krag kry as dit volmaan is en as ek die dinge so bekyk is dit reeds nou volmaan. Maar laat ek nie my ewemens so beswadder en beskinder nie,” het Ouma gesê.

“Nee, Tannie, dis nie beskinder nie, ons moet haar help, sy moet in die kerk kom,” het Dominee gesê. Mens sal nooit weet of Dominee nou regtig wou gaan bekeer het, of net uit nuuskierigheid uit nie.Ek dink tog maar hy was meer nuuskierig.

Ouma kruis haar arms voor haar bors, vryf haar neus en trek haar oë op skrefies, en beginne vertel. Sy is hier in die Vrystaat gebore. Hier net voor een Kersfees het sy net verdwyn. Geen mens het geweet waar sy haar bevind nie. Net ek het agtergekom dat sy nooit meer uit die huis kom nie. Toe gaan kyk ek en dis toe dat almal begin soek het. Die dorp het ’n soekgeselskap bymekaar geroep en so soek hulle. Al wat man, hond en perd is, is ingespan en die veld in, maar Fay is weg.

“Vir wat? Het ek my daai dag vererg,” vertel Ouma, en dit lyk so asof sy haarself van voor af wil vererg. “Niemand traak oor haar nie, maar nou dat sy weg is, wil julle soek,” het Ouma gesê.

“Op ’n dag kry ek ’n brief in die pos en dis van Fay af. Sommer so in ’n vuil koevert op ’n vuil stuk oefeningboek se bladsy. Sy skryf toe dat sy daar iewers in die Moordenaarskaroo is en dat die grootste ellende die wêreld gaan tref. Sy skryf toe verder dat ons onsself moet regmaak, want die einde is in sig, sy sien dit. Sy het dit in die blare gelees, teeblare … maar dis ’n storie vir ’n ander dag, Dominee.”

Toe Ouma van die teeblare sê, was my nuuskierigheid hoog.

“Tannie, maar hoekom het Fay dan vir Tannie geskryf? Is julle goeie vriende?” wou Dominee weet.

“Nee Dominee, nie goeie vriende nie, maar sy is my niggie van Ma se kant af,” vertel Ouma. Mens, ek was so geskok toe ek verneem dat Fay en Ouma familie is. Jy weet, daar waar ek bly, praat die mense baie oor Fay. Ek weet van sommige mense wat al daar was vir die blare-lees, maar ek sukkel nie met bose goed nie.

Fay het intussen weer die huis ingehol soos ’n wilde bok. En ek is nuuskierig. En daar staan Ouma en ’n geskokte Dominee, voor Ouma se tuinhekkie, stom, met geen woorde te spreek en Fay Botes wat hulle beloer deur haar sitkamervenster. Dominee is toe daar weg sonder om by Fay aan te gaan.

Die volgende dag sien Ouma, waar sy in die voorhuis besig is en ’n mooi uitsig op die straat het, dat Dominee by Fay Botes se erf instap. Kiertsregop, hoed op die kop, gewapen met ’n dik Bybel onder die blad en klein vinnige treetjies. Ja, Dis van pure senuwees, dink Ouma en trek die sun filters so effens weg voor die venster. Ouma stut met haar heup teen die vertoonkas, vol gepak van wintervakansies se ornamentjies uit die wildtuin. Haar regterarm voor haar bors gevou en die linkerarm rus dan op haar regterarm sodat sy haar mond kan vashou met die linkerhand. Pure konsentrasie.

So stap Dominee met die sementpaadjie op, tot by die eerste trappies van die stoep, kyk om, stap effens terug, lig sy hoed op en skuif dit so effens terug. Dan stap hy weer agteruit, net so twee tree, kyk links, dan regs en dan weer tot by die trappie. Hy haal die Bybel onder sy blad uit en hou dit voor sy bors vas. Hy stap met die drie trappies op tot by die deur, lig sy hand en net voordat hy kon klop, draai hy om en stap weg.

Siestog, die stomme Dominee moes seker vol van die bang gewees het, dink ek. Die volgende dag weer selfde ding, totdat hy besluit het om die saak met Ouma te bespreek, aangesien dit haar niggie is.

Dis ’n week later toe Ouma haar tuinhekkie se gebek hoor en nogal die tyd van die oggend wanneer dit storietyd op die transistorradiotjie is.

“Wie is so ontydig? Dis storietyd en dan die resep,” praat Ouma met haarself. Sy het daai gewoonte gehad om so met haarself geselskap te maak. Ons almal weet dat as dit storietyd, resepte en oggend oordenking is, mens nie vir Ouma moet pla nie.

Ouma loer deur die venster en sien dat dit Dominee is, nogal in sy leeraarsgewaad. Hy stap met kort vinnige treetjies met die sementpaadjie op, verby die Pride of India-boom en die rankroos. Klim die vier trappies na die rooi stoep vinnig op, amper soos ’n kalkoen wat wil storm. Hy klop aan die deur, soos waneer jy room styf wil klop vir oor poeding gooi. Vinnige, kort kloppies.

Ouma beduie nogal so met haar hand hoe Dominee geklop het. Ouma maak die deur oop en sy sien sommer die kwellinge op sy gesig. Dalk as sy vriendelik en lig groet, gaan die kwellinge bietjie sak.

“Maar my wêreld, wat ’n verrassing, Dominee, dis nog ver van kollekteerdag af, maar kom in.”

“Nee Tannie, ek kom nie kollekteer nie en ek kom ook nie met die Woord na Tannie toe nie, maar met ’n ander ding wat baie swaar op my rus. Ek het nou al vir weke in gebed gevra dat die Groter Hand my moet krag gee, dat die Heiligheid waarheid kom spreek en dat die ewige Satan se Adder moet wyk, maar niks nie,” begin Dominee. Of Dominee daai groot woorde gesê het en of Ouma dit uitgedink het weet ek nie, maar dis hoogwoorde uit die Woord uit.

“Maar my wêreld Dominee, hoe praat Dominee dan so anders vandag. Ek ken mos nie vir Dominee as iemand wat so hoog praat nie. Hoe nou?”

“Nee Tannie, dis Tannie se Niggie, Fay. Ek probeer tog om by haar uit te kom, om haar tot bekering te bring, haar in die kerk te kry, om die Woord te hoor, maar dis asof daar ’n groot hand my wegdruk en ek onthou toe Tannie se woorde van die toordery. Ek het laasweek probeer, dié week probeer en vandag wil ek weer probeer, maar toe meen ek as ek eers met Tannie kom gesels, kan ons die ding dalk saam aanpak. Dis tog familie van Tannie.”

“Dominee, dit gaan nie baat om na haar toe te gaan nie. Ons almal het al probeer om haar in die kerk te kry, maar sy skop vas. Dit is nou al vir jare dat sy so ’n wil van haar eie het. Ouderlinge, wat nou al langbome toe is, het al probeer, diakens wat nou al ouderlinge is, dominees wat gekom en gegaan het, hulle het almal al probeer en al wat sy sê is: 'Wyk fariseër en los my uit,' dan slaan sy die deur toe. Die Ou Apostoliese profeet het selfs traktaatjies by die hope in haar posbus gaan sit. Sy het dit dan in die middel van die nag gevat en weer onder die kerkdeur gaan instoot, sonder skaamte.”

“Maar Tannie kan mos maar gaan probeer, net om die ys te breek, dan kan ek inkom en dit verder vat.  Kry haar maar net eers sag.” Ouma vertel my dat Dominee so knaend was met die storie, dat sy toe maar ingegee het. Ouma se oë trek op klein skrefies en sy vou haar hande voor haar bors, dan druk sy haar bril met die middelvinger op en sy dink.

“En nou Tannie?  Kan ek vir Tannie water kry?” vra Dominee, “want dit lyk so asof Ouma in ’n tipe van ’n trans in gaan.” Ouma het daardie manier van ’n ver kyk in die oog, so asof sy verder dink as wat dink is.

“Nee Dominee, kom sit dan maak ek tee. Sommer hier in die kombuis, as Dominee nie omgee nie,” en Ouma sit die ketel aan.

Genade, noudat ek daaraan dink. Ouma het my nog nooit ingenooi vir ’n koppie tee by haar tafel nie.  Maar ek verstaan dit tog maar op my manier. Anyway, terwyl die ketel kook, begin Dominee aan Ouma verduidelik wat sy plan is.

Lees volgende week Deel 2

 

Lees ook

Die Joons-kinners

Pluk vir my ’n ster

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top