Faust – die tragedie se eerste deel deur Johann Wolfgang Goethe, vertaal deur Robert Schall: ’n bespreking

  • 0

Faust deur Goethe, vertaal deur Robert Schall (Naledi, 2023)

Faust
Johann Wolfgang von Goethe
, in Afrikaans vertaal deur Robert Schall
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 9781991256522

Faust, die magnum opus van die groot Duitse skrywer Johann Goethe, vind in Afrikaans digterlike gestalte. Die Duits-gebore vertaler en wiskundige Robert Schall se interpretasie van deel 1 van dié 19de-eeuse tragediedrama kyk liries en redelik voor die hand liggend na die mens se alewige soeke na sielsvervulling – hoewel “sielsoorversadiging” die situasie meer akkuraat beskryf. 

Die waarde en verganklikheid van moraliteit en die “grote kuns” in daardie soeke word ook indringend beskou – hoe ver hierdie faktore tot die mens se voor- of agteruitgang strek. 

Die drama handel oor die hoofkarakter, Faust, ’n geleerde in die filosofie, geneeskunde, juristery én teologie, se begeerte na onbeperkte kennis, mag en aardse genot. Faust is ’n Middeljarige man met titel en rang: magister en selfs doktor. Maar hy wil die skaduwee van sy vader ontwyk – sy pa wat die “massas se koors kom breek het”. Faust soek na selfbelang, na adelstandstatus, en erkenning van sy gemeenskap vir wie hy laat in die aande in hul krankheid versorg. Hy soek na aardse sukses, vreugde, genot en natuurskoonheid, want dít is waar hy “mens voel, en een kán wees”. Daarvoor verruil hy ironies aan die duiwel sy siel, met geen kommer kwelling oor wat dié daarmee maak in sy hiernamaalse wee nie. 

........
Faust soek na selfbelang, na adelstandstatus, en erkenning van sy gemeenskap vir wie hy laat in die aande in hul krankheid versorg. Hy soek na aardse sukses, vreugde, genot en natuurskoonheid, want dít is waar hy “mens voel, en een kán wees”.
........

Die bemoeienis met die kuns word in die didascalia (buiteteks) reeds op die voorgrond geplaas, nog voor die verhaal begin – in “Voorspel op die verhoog”, waar drie metakarakters, naamlik die Teaterbestuurder, Digter en Nar, meningsgetrou oor hul ideale vir die grote kuns debatteer soos wat dit hul onderskeie dog oorvleulende velde betref. En dan weef dit ’n goue draad deur die hoofverhaallyn, waar dit uiteindelik uitkring tot meer as net die kuns van die kunstenaar, die woordsmid en die vermaakster. Die grote kuns kan dus by nadenke omarmend, soos die rymskema in die teks, van alle vakgeleerdheid en arbeidslui gelees word: die kunste, geneeskunde, teologie, filosofie, wetenskap en handearbeid.

Die Teaterbestuurder benadruk die belang, bydrae en begrip van die allemanteaterganger, wat waarskynlik hul skeppings begryp en hulle – die kunstenaars en die kunste – láát leef. Maar sy dubbele standaarde skyn deur met neerhalende verwysings na die alledaagse mens, soos “Jan Rap”. Tog bly die vryheid van uitdrukking wat die verhoog bied, vir hom ’n byna nieverhandelbare prioriteit. 

Die uitwerking van die teks, veral op dié digter-leser, is om met ’n sogenaamde “natuurlike talent onbemoeisaam” om te gaan. “Want waarvoor droog jou pen, as jou teenstand teen kunstelike vryheid, en speelsheid, onbenulligheid, pret, jou tog luidkeels digterlik opwen?” om die Nar aan die Digter indirek aan te haal. 

Die duiwel word ook vroeg in die buiteteks bekendgestel met die naam Mefistofeles, en staan aan die karakters in die boek (God, die Engele, sy laksmanne of aanbidders, en dié aan wie hy as “kneg” dien) by verskeie mitologiese en godsdienstige name bekend: Beëlsebar, Satan en Baphomet. 

Hy maak die weddenskap aan God dat hy sy kneg, Faust, na sy “dwaalweg” kan verlei. Maar God daag hom uit, want “’n goeie mens, selfs met sy donker drang, is vir die regte pad bestem.” 

In Faust se krete na God en die Engele om hom uit sy sielsverlamming te red, verskyn Mefistofeles op ’n dag en bied aan hom die belofte dat hy hom hier op aarde sal dien soos hy vra, in ruil vir Faust se siel wanneer hulle aan die “oorkant” (die doderyk/hel) mekaar weer sal ontmoet. Na teenstand weens sy groot geloof stem Faust in, want in sy siel ná die dood stel hy min belang. 

Die twee vertrek van land na land – van Duitsland tot in Spanje en terug – en verkul van kroegvlieg tot heks en “begeerlike jong” minnaars vir Faust se genotlike gewin. Maar self onbewus is duiwel, wat hom vererg vir elk van hulle twee se struikelings, van die krag wat sy dwaalpad-verleiding sou dra.

........
Die storie tref, op ritmiese maat, met woorde slim en dubbelseggend geplaas, en stel deurdringende vrae oor hoe ons ons eie waardes prysgee aan baatsugtigheid, of dít ons enigsins pla, en of ons maar net min gespin met die nagevolge voortgaan. 
........

Goethe self was ’n vakman in onder meer teologie en filosofie, en hoewel mens nie noodwendig ’n vergelyk met Faust wil tref nie, is die karakter ’n spieëlbeeld van menige mens vandag. Die storie tref, op ritmiese maat, met woorde slim en dubbelseggend geplaas, en stel deurdringende vrae oor hoe ons ons eie waardes prysgee aan baatsugtigheid, of dít ons enigsins pla, en of ons maar net min gespin met die nagevolge voortgaan. 

Goethe se Faust beslaan twee dele, waarvan hy die eerste in 1790 uitgegee het, hoewel dit alreeds tussen 1772 en 1775 ontwikkel is. Goethe het Faust in 1837 klaar geskryf, en dit sou sy bekendste werk word, en dit word tot vandag as een van die grootste literêre werke in die Westerse kanon beskou – insluitend die grootste Duitse literêre werke. Hoewel Faust weinig in die geheel opgevoer/vertoon word, lok dit steeds die grootste teatergehore in Duitsland. Dit voel dus nie vreemd dat Schall slegs die eerste deel vertaal het nie. Inteendeel, dit voel na ’n geheel, met die slot wat vra vir vrye, verbeeldingryke inkleding – ’n voorreg en talent waarna Faust teruggehunker het. 

In die oorspronklike eerste deel, asook aan die begin van Schall s’n, is die fokus Faust se gees – wat dit verlang en waarmee hy dit wil vul. In deel twee is die afwesigheid van verwysings na die siel opvallend. Schall se vertaling voorspel daardie oorgang doeltreffend met aansienlik minder verwysing na Faust se siel in die latere deel van die vertelling.

Deel 1 van die oorspronklike drama is byna heeltemal in rym, asook die meerderheid van deel 2. Schall, bekend om vertalings soos Die Sterne sind glühende Kohlen und Asche, Buschmann-Erzählungen en Wat ek van klippe weet, bly met sy vertaling getrou aan daardie formaat met digkuns van formaat. Jy as leser-digter kan nie anders as om jouself daarin te verlustig nie, en dan kry jy skielik net ’n greintjie begrip vir die Digter wat hom met sy woordetse, -sketse, en selfs -gal eerder by sy veldgenote wil skaar. Ons is bekend met die begrip Hochdeutsch. Schall demonstreer ’n diep begrip van die Afrikaanse grammatika, woordargief en rymbuigsaamheid, met innoverende woordplasing wat beklemtoning en rym op ’n samehangende wyse verhef. 

........
Van onlangse dramateksverwerkings herinner Schall se Faust veral aan Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Koningin Lear – ’n eietydse herverbeelding van Shakespeare se King Lear. Die parallelle is eintlik opvallend.
........

In teenstelling met die rymende teks is die gesange kenmerkend sonder ritme, asof om andersom die verskil tussen teks en liriek uit te wys. 

Van onlangse dramateksverwerkings herinner Schall se Faust veral aan Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Koningin Lear – ’n eietydse herverbeelding van Shakespeare se King Lear. Die parallelle is eintlik opvallend. Koningin Lear is ewe liries, maar oortref in een van die afdelings waarin Faust tekortskiet – spanning en konflik word op die voorgrond geplaas deur verhoogde ritme wat dikwels ’n klimaks en oorborreling bereik. Terwyl die matriarg Elizabeth Lear nie noodwendig haar siel aan die duiwel verkoop nie, haak sy uit en gee sy ten gunste van haar korporatiewe strewes die dinge prys wat háár siel vervul – haar kinders. En dít besef sy eers wanneer haar hele lewe uitmekaar val. Maar nes Faust aan die einde van deel een, blyk dit nie die oorsaak van daardie ontrafeling dring deur tot haar nie. Albei verhale bekyk die mens, die afdwaalpaaie waarop ons met ambisie klim, ons feilbaarheid by tye en met temas waarmee ons kan vereenselwig. Dit is kenmerkend van die tragedie-genre waarvoor sowel Goethe as Shakespeare, sy literêre rolmodel, onder meer bekend is.

Faust is ’n liriese fees om te lees, en in sy uitwys van menslike feilbaarheid bied dit terselfdertyd troos daarvoor. Dit sal interessant wees om ’n teaterproduksie van Schall se Faust te vergelyk met die intriges waarmee die teaterskepper Marthinus Basson sy bekroonde produksie van Koningin Lear, wat ook verfilm en op TV uitgesaai is, op die planke gebring het met die meesterlike Antoinette Kellermann se vurige vertolking van Lear.

Lees ook:

Die inslag van die Gotiese in die Afrikaanse literatuur: ’n ondersoek na ’n eiesoortige Afrikaanse Gotiek aan die hand van die Faust-motief

Resensie: Koningin Lear deur Tom Lanoye

Koningin Lear: Tydlose Shakespeare sny diep

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: Candice Jantjies se resensie van Boesak (finale weergawe)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top