Koningin Lear: Tydlose Shakespeare sny diep

  • 0

Antoinette Kellermann, Neels van Jaarsveld in Koningin Lear (Foto: Nardus Engelbrecht)

Koningin Lear, oorspronklik ontwikkel deur die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met ondersteuning van NATi, was ’n dawerende sukses by die KKNK, sowel as by Aardklop vroeër vanjaar.

Die produksie het by die KKNK gedebuteer en is in opdrag van die fees, ter viering van dié fees se 25ste bestaansjaar, vervaardig, en is met agt Kanna-toekennings vereer is. Dit het ook vyf Aardklop-toekennings ontvang. By beide die toekenningsgeleenthede is die produksie as beste produksie, Marthinus Basson as beste regisseur, Antoinette Kellermann as beste aktrise, Anna-Mart van der Merwe as beste vroulike byspeler en Edwin van der Walt as beste manlike byspeler aangewys.

Die persverklaring beskryf dit as volg: “Dis ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur een van België se mees gevierde lewende dramaturge, Tom Lanoye, met vertaling deur Antjie Krog en regie deur Marthinus Basson.

Dit is die tweede samewerking tussen dié drie skeppende legendes. Hulle was ook in 2001 verantwoordelik vir Mamma Medea in hul onderskeie rolle as skrywer, vertaler en regisseur. Die bekende digter, akademikus en skrywer, Antjie Krog, beskryf Koningin Lear as “’n rollercoaster van taal en emosie. Mens snak na jou asem oor die skade wat ouers aan kinders doen en die skouspelagtige verval van rykdom – dit alles terwyl jy in jou taal met Shakespeare skouerskuur.”

Antoinette Kellermann lewer ’n indrukwekkende vertolking in die titelrol en sy word ondersteun deur ’n gesogte rolverdeling wat bestaan uit André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en nuweling Matthew Stuurman.

Antoinette Kellermann, Neels van Jaarsveld, Anna-Mart van der Merwe in Koningin Lear (Foto: Nardus Engelbrecht)

Terwyl jy vir drie ure oopmond sit en staar na die ooglopende rugstekery, verraad en hebsug, kan jy nie anders as om Lanoye se woorde in jou kop te hoor nie: “Ek hoop mense besef dat Antoinette Kellermann ’n ongelooflike grootse aktrise is en sy kry nou die geleentheid om soos Laurence Olivier tot Ian McKellen te toon wat dit [Lear] is; wat dit kan wees.”

Hy gaan voort: “So die toneelstuk is ’n geleentheid vir teaterliefhebbers om ’n groot aktrise en ’n groot regisseur [Marthinus Basson] in aksie te sien. Ek het al internasionaal met so baie mense saamgewerk en glo vir my: Julle het só baie talent.”

Die eerste bedryf spring weg met ’n raadsaal-vergadering. Dis hier waar die eerste krakies in die verhouding tussen die drie broers en hul ma sigbaar word. Wanneer die jongste weier om aan sy ma te vertel hoe lief hy haar nou eintlik het om sy erfporsie in haar koninkryk te kry, skryf sy hom af as seun.

Spieëls wat as agtergrond dien, dra by tot die karikature waartoe die karakters hulself verdoem: óf die lang lywe se koppies is te klein, óf die ronde, komiese lywe het lang, groot koppe. Daar vanuit die 50ste verdieping van hul glastoring glo die ander twee broers en hul vroue dat hul skip uiteindelik gekom het; dat hulle die maatskappy kan oorneem en onder hul kritiese ma se valkoog kan uitkom.

Die jongste, Corné, is haar oogappel en die verraad sny dus diep. Tog is hy die enigste een wat vir sy broers en sy ma se prokureur, Kent, vra om mooi na sy ma te kyk.

Maar geld verteer die seuns en die oudste, Johannes (Neels van Jaarsveld), erken in ’n oomblik van wanhoop aan sy vrou (Anna-Mart van der Merwe) dat hy nie slim genoeg is vir die sluwe sakewêreld nie. “Ek is wel intelligent genoeg om te besef ek is nie opgewasse hiervoor nie.”

Soos Elizabeth al meer haar verstand verloor en haar kinders vervreem, kom die wyse woorde: “Mens kan van voorkoms verander, maar nie van afkoms nie.”

Kent kryt ook die kinders uit dat hul akute hebsug hom walg.

Die stuk bewys die tydloosheid van Shakespeare in ’n moderne omgewing, dat bedorwe kinders die pot goud gaan vermors as hulle nie opgewasse is vir die taak nie en dat verraad maar vlak lê as honger aan die deur klop.

Die bekroonde skrywer en joernalis Deborah Steinmair meen dat woorde soos “majestueus en kragtoer nie eers toereikend [is] nie”.

Dis sekerlik die beste manier om my opinie oor hierdie stuk saam te vat. Om van ons land se beste akteurs op die verhoog byeen te hê terwyl hulle Antjie Krog se Afrikaans praat, is ’n raar voorreg.

En hoewel Antoinette Kellerman uitstaande is en elke prys wat na haar kant toe kom oor en oor verdien, is dit Anna-Mart se vertolking as verontregte skoondogter wat my die meeste laat lag en laat dink het.

Wilhelm van der Walt, Rolanda Marais, Andre Roothman, Antoinette Kellermann, Edwin van der Walt, Anna-Mart van der Merwe, Neels van Jaarsveld (Foto: Nardus Engelbrecht)

Koningin Lear
Met: Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman.
Deur: Tom Lanoye
Vertaling: Antjie Krog
Regie en ontwerp: Marthinus Basson

Die Baxter-teatersentrum
7 tot 16 November

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za en by enige Pick n Pay-tak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top