HemelBesem by die Etienne van Heerden-veldsoirée

  • 1

Lien Botha (foto: Naomi Bruwer), Coenie de Villiers (foto: Elmien de Wet) en Simon Witbooi aka HemelBesem (foto: Izak de Vries)

Darryl David vertel vir Naomi Meyer van die Etienne van Heerden-veldsoirée wat van 22 tot 24 September 2017 in Cradock (by Buffelshoek) plaasvind.

Darryl, ek hoor dat HemelBesem nou ook by die Etienne van Heerden-veldsoirée gaan optree. Wat en wie kan soiréegangers nog verwag? 

Hier volg die voorlopige lys van deelnemers wat aan die eerste Etienne van Heerden-veldsoirée gaan deelneem.

  • Etienne van Heerden
  • HemelBesem
  • Coenie de Villiers
  • Ashwin Desai
  • Lien Botha
  • Clinton du Plessis
  • Tim Huisamen
  • Godfrey Meintjes
  • Luthando Lucas
  • Kirby van der Merwe
  • Thys Human
  • Christa du Plessis
  • Jason Lloyd
  • Helize van Vuuren
  • Bernard Odendaal
  • Barry Pienaar
  • Wilna Adriaanse
  • Darryl David
  • Tom Dreyer
  • Cas Wepener
  • Heather Costaras

Darryl David (foto: Jan van der Merwe)

Tom Dreyer (foto: Darryl David), Helize van Vuuren en Kirby van der Merwe (foto: Naomi Bruwer)

Clinton du Plessis (foto: Menán van Heerden), Ashwin Desai (foto: Darryl David) en Jason Lloyd

Waar presies word die veldsoirée aangebied en hoe kom mens daar? Is daar 'n winkel naby?

Dit gaan by twee verskillende gastehuise plaasvind.

Vrydag 22 September skop ons af by Die Tuishuise in Markstraat in die hartjie van Cradock. Jy kan daai straat nie misloop nie. Beslis een van die mooiste strate in Suid-Afrika.

Hier is nog besonderhede van Die Tuishuise.

23 en 24 September is die veldgedeelte van die fees. Vir hierdie twee dae gaan ons na Dirosie Gastehuis op die plaas Buffelshoek skuif – waar Olive Schreiner, haar baba Nita en haar hondjies al vir amper ’n eeu in vrede rus. Maar die dorp en winkels is nie ver nie. ’n Skamele 12 km. En daar is groot supermarkte, soos Checkers en Spar, op die dorp en welbekende eetplekke soos Kentucky en Steers. Maar die kos is so heerlik by Dirosie en Die Tuishuise, mense sal nie na kitskos verlang nie!

Dirosie Gastehuis is ongeveer 12 km buite Cradock. Hier is nog besonderhede om dit te vind.

Foto's van Buffelshoek Dirosie Lodge (foto's: http://buffelshoekdirosielodge.co.za/gallery.php)

Wat van verblyf?

Cradock is ’n groot dorp met baie gastehuise. Maar ondersteun gerus asseblief ons twee hoofborge – Dirosie Gastehuis (R300 pppn / R50 ontbyt) of Die Tuishuise (R450 pppn / R50 ontbyt). Hierdie pryse is spesiale pryse vir feesgangers. Julle sal nie spyt wees nie. As jy na ’n Karoolandskap-ervaring soek, bespreek by Dirosie. As jy na die Victoriaanse era van ’n eeu gelede smag, gaan jy nie beter as Die Tuishuise kry nie. Glo vir my: ek besoek hierdie gastehuis al vir meer as twee dekades, en dis altyd met die verwondering van ’n kind dat ek hierdie straat inry.

Die hoeveelste skrywersfees is dit wat jy nou organiseer en watter een was tot dusver jou geliefkoosde een?

Hoeveel feeste? Laat ons maar net sê ek is 'n “promiscuous” feesorganiseerder! BookBedonnerd bly my gunstelingfees. Maar die enkele fees wat beter was as BookBedonnerd was, was my tweede (en laaste) Schreiner-fees. Dis die jaar toe ons Buffelshoek geklim het. In daardie dae was dit ’n hele dag se ekspedisie. Dit bly vir my die mees uitsonderlike ervaring van my literêre lewe. Etienne was daardie dag siek. Ek het saam met sy dogter Menán, Toast Coetzer en mense soos Basil Mills van NELM Schreiner se sarkofaag besoek. Hierdie fees was ongetwyfeld die hoogtepunt van my tien jaar as kurator van boekefeeste. Dit was ’n Karoo-ervaring soos min.

Olive Schreiner se sarkofaag (foto's: Menán van Heerden)

En as jy nie feeste organiseer nie, wat doen jy?

As ek nie besig is om feeste te organiseer nie? Ken julle die frase “the university of the open road”? Dis waar ek gestudeer het. Ek het my PhD en tallose postdoktorale grade by hierdie universiteit verwerf. On the road with a camera around my neck – dis my twee passies in die lewe. Hierdie fees gaan al drie aspekte insluit – boeke, reis, fotografie. Laat ons sien of dit Schreiner 2 dit kan oorskadu. (Ek is ook voltyds dosent by die Departement Engels by UKZN.) 

  • 1

Kommentaar

  • Wanneer sal die program beskikbaar wees? Ek wil net vir 'n dag deurgaan maar sal graag wil sien wat wanneer aangebied word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top