
Marlene le Roux onlangs al dansende met haar beenstut en nuwe regterheup na haar 12de operasie van verlede jaar. (Fotokrediet: Ian Landsberg)
*
Post-poliolyers wêreldwyd erken die baanbrekende navorsing van die Amerikaanse viroloog, Jonas Salk (1914–1995), wat sy lewensveranderende entstof teen hierdie dodelike siekte op 26 Maart 1953 aangekondig het – 72 jaar gelede.
Polio is ’n hoogs aansteeklike siekte wat die senuweestelsel aanval en kan lei tot spinale en respiratoriese verlamming, en in sommige gevalle die dood, wat meestal jong kinders affekteer. In Afrikaans word dit ook kinderverlamming genoem.
Miljoene mense is sedert daardie dag ingeënt. Hulle het dus nooit siek geword nie. Ander, soos ek, is in hul kinderjare toegang tot hierdie lewensveranderende behandeling geweier.
Ek het polio opgedoen in 1967, skaars drie maande oud. My verhaal, soos dié van soveel ander – die meerderheid in Afrika – is ’n bewys van die gebrek aan sorg en empatie teenoor moeders en gesinne wat deur ’n rassistiese politieke stelsel benadeel is.
In my geval het die apartheidstelsel meegebring dat die plaaslike wit dokter nie die polio-druppels aan my toegedien het nie – die poliodruppels was nie beskikbaar by nie-wit-klinieke in veral landelike gebiede nie. So ook het “die Arch”, een van my helde, wyle emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, as kind polio opgedoen wat sy regterhand laat wegkwyn het omdat hy ook, nes duisende ander, deur die apartheidstelsel benadeel was. Die poliodruppels sou my die lewenslange nagevolge kon spaar wat ek tot vandag nog ervaar, ’n daaglikse werklikheid vir polio-oorlewendes: misvormde ledemate wat stutte, krukke of rolstoele nodig het.
Om dinge te vererger, is hierdie hulpmiddels baie duur net om mobiel te kan wees. My beenstut (caliper) kos tussen R30 000 en R40 000 wat mediese fondse nie ten volle dek nie! Ander verwante kostes sluit in aanhoudende spierverkorting en fisioterapie, wat dit byna onmoontlik maak vir baie post-polio-oorlewendes om ’n vol en gesonde lewe te kan lei op ’n gelyke vlak met mense wat nie deur polio geraak is nie.
Aangesien polio ’n mens se spiere en senuweestelsel aantas, is dit selfs erger vir vroue wie se baarmoeder en heupe vernou is omdat hul bene deur die siekte vervorm is, wat dit onmoontlik maak om natuurlik geboorte te gee. Post-poliolyers benodig gereelde fisioterapie om beweeglik en vry van pyn en spasmas te kan wees. As ’n post-poliolyer is jy ook meer geneig om ander aansteeklike siektes op te doen, aangesien jou immuunstelsel verswak is.
Verder, soos jy ouer word, is heupvervangings jou voorland, aangesien jy jou gesonder ledemate voortdurend ooreis. Ek het onlangs ’n uitdagende volledige heupvervanging gehad – my 12de operasie – wat my baie afgetakel het. Ek het ’n artikel hieroor geskryf wat op LitNet gepubliseer is waarin ek al die trauma wat my liggaam oor die jare deurgemaak het, verduidelik, net omdat ek nie toegang tot die polio-druppels as baba gehad het nie.
Ondanks hierdie vreeslike onreg wat ek aangedoen is, bly ek egter positief en is ek ’n passievolle kampvegter vir die regte van en beter behandeling vir post-poliolyers saam met die Rotariërs wat hulle onder meer beywer vir die uitwissing van polio, veral in Afrika en meer spesifiek Angola, waar nuwe polio-gevalle in 2024 aangemeld is. Dit was vir my ’n groot voorreg toe die Arch my destyds vra om die voorsitter van die Desmond en Leah Tutu-stigting te word.
As ’n baie bevoorregte post-poliolyer op die geskiedkundige herdenking van die baanbrekende polio-entstof van Salk, is my dringende pleidooi namens post-poliolyers wat in stilte ly, die volgende:
- Ouers/voogde moet asseblief hul babas laat inent teen polio – die wetenskap is daar om ons te help.
- Post-polio moet as ’n chroniese siekte erken word, sodat mediese fondse vir nodige behandelings kan betaal, met uitgebreide voordele vir fisioterapie, arbeidsterapie en biokinetika.
- Werkgewers moet besef dat post-polio die liggaam vermoei en verswak soos dit verouder; hulle moet dus die werksure vir post-polio-oorlewendes aanpas.
- Regerings regoor die wêreld moet erken dat selfgeldende toestelle belangrik is vir post-polio-oorlewendes, wat meer bystand vir hulle bied namate hulle ouer word.
- Plaaslike klinieke en daghospitale in Suid-Afrika moet van beter hulp wees vir post-poliolyers en ’n doeltreffender diens lewer om te help met bystandtoestelle wat spesiaal vir hulle gemaak behoort te word.
- Ortopediese dokters en ortotiste moet meer bewus gemaak word daarvan dat ’n post-poliolyer totaal anders is as ’n persoon wat ’n protese as ’n hulpmiddel benodig.
- Meer opleiding moet aan ortotiste gegee word om beenstutte (callipers) te maak, aangesien dit ’n vaardigheid is wat skaars word. Ek is eenkeer prontuit aangeraai om eerder my been te laat afsit aangesien dit makliker sou wees om dit met ’n prostese te vervang.
As ’n baie bevoorregte post-polio-oorlewende is my dringende pleidooi dus dat elke post-polio-oorlewende die mediese sorg moet kry waartoe ek gelukkig is om toegang te hê en in staat gestel word om betekenisvol tot die samelewing by te dra deur ’n ordentlike werk te kan bekom. Ek mag nie die enigste een wees nie!
Lees ook:
Die sielkundige trauma van ’n post-poliolyer voor haar 12de operasie

