’n Ope brief aan die president

  • 0

Marlene le Roux, moeder van die oorlede Adam George

*

Geagte Meneer die President

Dankie vir u aankondiging van ’n vyfjaarplan vir die regering van nasionale eenheid. Dankie dat u persone met gestremdhede (PMG) genoem het as deel van die toekoms van ’n inklusiewe en transformerende Suid-Afrikaanse samelewing.

Laat my toe om ’n paar punte voor te stel wat daartoe kan bydra dat hierdie lofwaardige inisiatief ’n betekenisvolle, gefokusde aksieplan word:

  1. Sentraal in u toespraak was ’n fokus op werkskepping. Vir die meeste PMG begin en eindig dit met internskappe. Waarom kan die regering nie ’n beleid implementeer om maatskappye, organisasies, owerhede en regeringsadministrasies betekenisvolle en volhoubare werksgeleenthede vir PMG te laat skep nie?
  2. Terwyl die bekamping van armoede ’n tweede belangrike element in u toespraak is, waarom nie die huidige stelsel van maatskaplike toelaes vir huishoudings met persone met ernstige gestremdhede uitbrei om ’n meer inklusiewe benadering te skep wat nie net op die PMG fokus nie, maar ook die huishouding en die breër ondersteuningsnetwerk insluit? Sodoende word ’n minder kwesbare versorgingstruktuur geskep.
  3. Wat sou die ontwikkeling van vaardighede vir jongmense met gestremdhede beteken? Ten eerste, waarom nie ’n hersiening van die huidige stelsel van onderwys aan diegene met spesiale behoeftes oorweeg nie? Dit blyk dikwels ’n ruimte te wees wat persone met gestremdhede isoleer. Daar moet genoegsame aansporing vir die beste respons tot elk van die diverse kategorieë van gestremdhede wees. ’n Bykomende probleem is dat wanneer jong persone met gestremdhede 18 word, alle infrastruktuur-ondersteuning beëindig word. Hier kan beroeps- en tersiêre onderwys ’n instrument wees wat dit vir jong persone met gestremdhede moontlik maak om die nodige vaardighede aan te leer om werk te bekom.
  4. ’n Laaste beleidsvoorstel is om van elke ministerie te vereis om ’n spesifieke aspek van die verbetering van die lewens van PMG in hul planne in te sluit. Of dit nou in die vervoersektor, werkskepping, onderwys, of die toeganklikheid van administratiewe dienste is, dis in álle ministeries nodig.

Meneer die President, laat hierdie historiese 7de administrasie vir persone met gestremdhede werk!

Marlene le Roux

Gestremdheidsaktivis

Marlene le Roux was drie maande oud toe sy in 1967 polio gekry het.

Lees ook:

Nothing about us without us

An open letter to the president

Aanvaardingstoespraak: Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, versoening en geregtigheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top