Enkelma’s en transrasgesinne: riglyne in ’n dikwels onsimpatieke wêreld

  • 1

Enkelma’s wat kinders van ’n ander ras aanneem, staar aansienlike uitdagings in die gesig. Elsabé Brits het vir Awie Greeff en Marita Oosthuizen, wat navorsing hieroor in LitNet Akademies gepubliseer het, uitgevra oor die manier waarop veerkragtigheid ’n rol speel om tipiese uitdagings te hanteer. Greeff en Oosthuizen se artikel, “Veerkragtigheid in die enkelma-transrasgesin”, het in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn.

................

LitNet Akademies-navorsers: Marita Oosthuizen en Awie Greeff (Foto’s: verskaf)

Hoe hanteer die ma’s, en kinders, moontlike negatiewe opmerkings van ander mense wanneer hulle in die openbaar is? En hoe ’n groot invloed het dit op die veerkragtigheid van die betrokke gesin?

Awie: Dit hang af. Is dit die eerste keer wat dit gebeur? Word die opmerking tuis bespreek? Het hulle al meganismes ontwikkel om dit te hanteer en wat was die aard van die opmerking?

Ek sou sê die gesin se veerkragtigheid word weerspieël deur die wyse waarop hulle daarop reageer – in die situasie en tuis wanneer dit bespreek en toekomstige hantering van soortgelyke situasies beplan word. Géén besinning oor so ’n gebeurtenis nie sal sekerlik nie die gesin se veerkragtigheid verbeter nie.

Hoe maklik of moeilik is dit vir die ma’s om hulle kind bloot te stel aan hulle eie kultuur?

Awie: Dit sal afhang van die spesifieke omstandighede van die gesin, die gesin se kontak met gesinne van dieselfde kultuur as die van die kind, en die ma se oortuiging of blootstelling in belang van die kind is, al dan nie.

Marita: Tydens onderhoude met die ma’s was dit duidelik dat daar moeite gedoen word om die kind bloot te stel aan sy/haar biologiese kultuur. Die lees van kultuurgerigte stories, die keuse van skole, kontak deur spesifieke ondersteuningsgroepe en blootstelling aan spesifieke geografiese omgewings tydens vakansies word dikwels doelbewus deur ouers gebruik ten einde die kinders bloot te stel aan hulle biologiese kultuur.

Hoe doen hulle dit sonder dat dit geforseerd voel?

Awie: Dit sal ongeforseerd voel as die ma oortuig is dat dit in beste belang van die kind is en dat sy dit ter wille van die kind wil doen.

Brei ’n bietjie uit oor die “krisis”, indien enige, toe die kinders bewus geword het van die verskil tussen velkleur, en hoe die ma’s dit ten beste hanteer het?

Marita: Eerlikheid met die kind vanaf ’n baie jong ouderdom is deur alle ma’s gesien as uiters belangrik ten einde veerkragtigheid in die gesin te verseker. Ma’s fokus deurentyd op die unieke voorkoms van elke individu en hul onvoorwaardelike liefde vir hul kind.

Hoe sien julle die belangrikheid, of nie, van die aanleer van ʼn Afrikataal in ’n kind se identiteit in die geval van ’n swart kind?

Awie: Gegewe enkele opmerkings van ouers, en die Suid-Afrikaanse konteks, reken ek dat ouers moet probeer dat hul (Afrikaan-) kind ten minste ʼn Afrikataal verstaan. Vaardigheid in ʼn Afrikataal behoort die kort- en langtermynaanpassing van die kind te vergemaklik.

ʼn Positiewe rolmodel vir kinders van die teenoorgestelde geslag – hoe belangrik is dit werklik?

Awie: Dit sal bepaal word deur die belangrikheid wat geslagsrolgedrag vir die ouer het. Ons almal identifiseer voortdurend met verskillende rolmodelle – nie net met geslagsrolle nie. Indien geslagsrolle vir jou belangrik is en jy as ouer wil hê jou kind moet sekere tipes rolgedrag internaliseer, is dit sekerlik wenslik om jou kind daaraan bloot te stel.

Hoe ’n groot verskil maak dit uiteindelik aan ʼn kind, of is die aandag en liefde van een toegewyde persoon nie genoeg nie?

Awie: Aandag en liefde is nodig, maar nie voldoende nie. Daar is kulturele en/of omgewingswaardes waaraan ʼn kind blootgestel word, vanaf ’n jong tot ʼn hoër ouderdom, wat ook bydra tot hoe die kind ontwikkel, ʼn identiteit vorm en inpas in die omgewing waarin hy/sy leef.

Wat sou julle sê is goeie veerkragtigheid in só in gesin?

Awie: Gegewe dat gesinsveerkragtigheid verstaan word as die gesin se vermoë om verstellings te maak en aan te pas by krisisse en verandering, verwys die navorsing na verskeie veerkragtigheidskenmerke. Dit is: (1) Die toerus van die transrasaangenome kind om uitdagings rakende sy transrasaanneemstatus te oorkom, byvoorbeeld deur blootstelling aan ’n diversiteit van mense; verwoording van emosies; bewustheid en begrip van velkleur; begrip van apartheidsgeskiedenis; hantering van rassisme; rolmodelle; en die aanleer van ʼn Afrikataal indien ʼn Afrikaan aangeneem word. (2) Die vestiging van duidelike gesinspatrone wat veerkragtigheid by gesinne skep, byvoorbeeld oop kommunikasie tussen ma en kind; die skep van roetines; kwaliteit- huishoudelike hulp; spiritualiteit wat help om krisisse en uitdagings van die lewe te hanteer en te oorkom; gedragspatrone wat op sekere tye deur gesinslede gevolg word en wat ook as die tradisies van ʼn spesifieke gesin gesien kan word; skep van eietyd vir die ma; en gebruik van humor om bepaalde situasies te ontlont. (3) Die belangrikheid daarvan om aanneming ʼn werklikheid te maak, byvoorbeeld deur eerlike en respekvolle kommunikasie oor die biologiese ma; eerlikheid teenoor die aangenome kind rakende die transrasaanneming; openlikheid oor aanneming. (4) Sosiale skakeling en benutting van die ondersteuning van die uitgebreide familie. (5) Die gesin se benutting van eksterne hulpbronne.

Wat moet ander mense, doen, en nie doen nie, om dit makliker te maak vir ʼn so ʼn gesin?

Awie: Ander mense speel ’n belangrike rol in die aanpassing van die transrasgesin. Doen: Aanvaar die gesin soos enige ander gesin; toon begrip vir unieke sowel as gewone uitdagings wat ’n enkelouergesin beleef; bied praktiese hulp aan; luister en hanteer die gesin op dieselfde manier as enige ander een. Nie doen nie: Moet nie die velkleurverskille beklemtoon nie.

En wat is julle raad vir enkelma’s wat kinders met ʼn ander velkleur wil aanneem?

Awie: Die effektiewe voorbereiding van die aanneemma voor aanneming behels die volgende: (1) Die voorbereiding van haar eie familie vir die transrasaanneming. (2) Dat sy sterk en onafhanklik moet kan funksioneer, met onder meer selfvertroue, positiwiteit, deursettingsvermoë, geloof en die vermoë om uitdrukking aan haar emosies te gee, is belangrike persoonlikheidseienskappe van die enkelouer in die veerkragtige gesin. (3) Sy moet haarself emosioneel voorberei voordat sy die fase van ouerskap betree. (4) Samel soveel as moontlik inligting met betrekking tot transrasaanneming in. Dit is baie belangrik vir die effektiewe aanpassing van die ma, en die gesin, ná aanneming.

 

Lees Awie Greeff en Marita Oosthuizen se LitNet Akademies-artikel hier:

Veerkragtigheid in die enkelma-transrasgesin 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top