Engels nou amptelik UP se enigste taal van onderrig

  • 17

Bron: Wikipedia

Vir die eerste keer sedert die Universiteit van Pretoria (UP) se ontstaan is Engels vanjaar die enigste taal van onderrig en leer vir alle eerstejaarprogramme aan die UP. Die enigste uitsondering is waar studente ander tale studeer en in programme met beroepspesifieke taaluitkomste. Selfs dit is onderhewig aan goedkeuring deur die senaat.

Engels is van vanjaar af ook op alle kampusse by UP en in koshuise die enigste taal van amptelike kommunikasie en administrasie. En as die voorspellings waar is, het Afrikaans net vyf jaar oor voordat dieselfde lot hom tref by die by drie oorblywende universiteite in die land waar Afrikaans nog min of meer asemhaal.

’n Woordvoerder van die UP, Rikus Delport, het aan LitNet gesê slegs waar dit aangevra word en haalbaar is, bestaan die moontlikheid dat administratiewe dienste by UP in ander Suid-Afrikaanse tale as Engels gelewer sal word.

Die verengelsing aan UP volg na ’n uitgerekte taalstryd om Afrikaans as onderrigtaal aan dié universiteit te behou. Die stryd vir Afrikaans by UP moes uiteindelik die onderspit delf na ’n uitgerekte hofgeding om Afrikaans op die kampus te probeer red.

Die UP se raad het in Junie 2016 ’n taalbeleid aanvaar met Engels as amptelike taal. Voor dit is gesê twee amptelike tale, naamlik Afrikaans en Engels, sou gebruik word met Sepedi as ’n derde kommunikasietaal.

Die besluit om Engels as enigste amptelike taal te gebruik kon egter nie vroeër geïmplementeer word nie weens verskeie hofsake waarby AfriForum betrokke was.

AfriForum en Solidariteit het ’n aansoek by die hof ingedien dat die besluit oor Engels as voertaal hersien word op grond daarvan dat die instelling van ’n nuwe taalbeleid ongrondwetlik is ingevolge die Grondwet.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Desember 2016 Solidariteit en AfriForum se aansoek om die taalbeleidbesluite van die UP-raad en -senaat tersyde te stel van die hand gewys. Die volbank regters het bevind dat die nuwe taalbeleid met die Grondwet strook en die UP se verbintenis toon om die universiteit “op die voorgrond te plaas in die bevordering van maatskaplike eenheid”.

AfriForum en Solidariteit het steeds gemeen die universiteit se nuwe taalbeleid kom op ’n growwe skending van Afrikaanse studente se grondwetlik erkende taalregte neer en het appèl aangeteken. Hulle het aangevoer dit druis in teen gesonde opvoedkundige beginsels, soos toegang tot moedertaalonderrig.

Die hof se finale beslissing was in 2017 en AfriForum en Solidariteit moes die onderspit delf, waarna besluit is om dit vanaf 1 Januarie vanjaar te implementeer.

Vanaf 1 Januarie is Engels gevolglik die enigste taal van onderrig en leer vir alle eerstejaarprogramme. Studente wat voor 2019 geregistreer het, sal lesings, tutoriale, studiegidse en assesseringsmateriaal (vraestelle, werkopdragte ens) in Afrikaans ontvang vir slegs daardie programme wat ten tye van registrasie in Afrikaans aangebied was, mits die grootte van die klas “prakties haalbaar” bly en dat dit akademies regverdigbaar is.

Waar assessering en vraestelle in Afrikaans aangebied word, sal studente wat tans geregistreer is, ook toegelaat word om in Afrikaans te antwoord.

In 2016 het die destydse UP-rektor, Cheryl de la Rey, gesê die vraag na onderrig in Afrikaans was ’n sleutelfaktor met die universiteit se besluit om Engels die hoofonderrigtaal te maak.

Dit het skerp gedaal van ongeveer 88% in 1990 tot net onder 18% in 2016. Die rektor het egter die versekering gegee dat Afrikaans as akademiese taal behou sal word. Daar is gesê die universiteit gaan voort om Afrikaans as ’n taal van onderrig te ondersteun.

In 2010 het die UP volgens sy raadsdokumente nog onderneem om die tale waarin onderrig gegee sal word, Afrikaans en Engels, te ontwikkel en te gebruik as waardevolle instrumente van die wetenskap.

Destyds (2010) het die UP erken dat daar 11 amptelike tale is, dat alle amptelike tale gelyke status het en dat alle tale gelykmatig hanteer moet word.

Die UP het toe ook nog die reg van elke individu erken om onderrig aan ’n tersiêre instelling te ontvang via die medium van die amptelike taal of tale van sy/haar keuse, in dié mate dat dit regverdig en uitvoerbaar is vir die spesifieke instelling om onderrig deur die amptelike of betrokke tale te verskaf.

Die beginsel is aanvaar dat ’n taalbeleid nie daartoe aanleiding mag gee dat enige persoon billike toegang tot hoër onderwys geweier word nie. Alle tale sou bevorder en ontwikkel word; nie alleen die amptelike tale nie, maar ook ander tale wat in die Suid-Afrikaanse gemeenskap gebruik word.

In die bedryf van sy kernfunksies sou die UP twee amptelike tale gebruik, naamlik Afrikaans en Engels met Sepedi as ’n derde kommunikasietaal. Onderrigprogramme kon óf in Afrikaans óf in Engels aangebied word, of in beide hierdie tale indien daar ’n aanvraag is na onderrig in die betrokke taal/tale en sodanige programme akademies en ekonomies lewensvatbaar is.

Afrikaans en Engels sou ook as akademiese tale gebruik en ontwikkel word om sodoende uitnemendheid in akademiese kommunikasie te bewerkstellig

Met betrekking tot administratiewe en ander dienste het studente die reg gehad om ’n keuse uit te oefen oor die taal (Afrikaans of Engels) waarin hulle kommunikasie vanaf die universiteit wil ontvang. “Daar mag geen diskriminasie wees teenoor enige personeellid of student wat slegs Afrikaans of Engels magtig is, of wat slegs hierdie twee tale magtig is nie,” is gesê.

Hierdie riglyne, waarvan daar feitlik niks oorgebly het nie, is op 13 Mei 2010 deur die senaat goedgekeur en op 27 Junie 2010 deur die hoofbestuur bekragtig. Alle studente sou daarop geregtig wees om toetse en eksamens in óf Afrikaans óf Engels af te lê.

Hierdie voornemens was van korte duur.

In 2017 het die voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), Theuns Eloff, reeds voorspel die langste wat Afrikaans nog as onderrigtaal by universiteite sal bestaan, is agt jaar.

Volgens Eloff se "baie persoonlike siening en voorspelling" van destyds sou dit ook net by die NWU se Potchefstroom-kampus wees waar Afrikaans nog vir vyf tot agt jaar sal bestaan, afhangende van wie die rektor se opvolger gaan wees. Hy het voorspel dat die Universiteit Stellenbosch (US) Afrikaans oor ongeveer vier jaar sou uitwerk en dat Afrikaans by die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) nog net ongeveer een tot twee jaar oor het. Sy voorspelling ten opsigte van UV en UP blyk vandag in die kol te wees.

Indien Eloff se voorspellings reg is, het Afrikaans skaars vyf jaar oor om by NWU te oorleef en slegs sowat twee jaar by US. Die transformasierigting is geruime tyd reeds op al die land se kampusse nie vír Afrikaans nie. Dis weg van Afrikaans.

Lees ook

Ope brief aan die rektor van die Universiteit van Pretoria

The future of Stellenbosch and Pretoria universities

  • 17

Kommentaar

  • Die antwoord en sleutel tot sukses: Akademia (privaat inisiatief) , en ek beveel aan ons suidelike (Kaapse) Afrikaanse broers en susters begin DRINGEND in dieselfde rigting dink as ons noordelike volkie.
    Afrikaans sal derhalwe aanhou floreer in die Privaat tersiêre sfeer, net nie meer by die staatsuniversiteite nie, wat in elk geval tans 'n jammerlike spulletjie uitmaak, en na die hele sage kan ek net sê: "good riddance! " en dankie vir die geleentheid om die verstikkende onverdraagsaamheid, "multi-kulturele" atmosfeer, politiese indoktrinasie en polities korrekte "groepdink" te kan ontglip en afskud, en hoera vir die daarstelling van 'n EIE universiteit wat weereens die ware strewe na VRYE DENKE en die oorspronklike strewe van die Trivium en Kwadrivium, ter bevestiging en stawing van ons Westers gefundeerde erfenis, vier, uitleef en vindikeer!
    Hoera vir Akademia, die toekoms en evolusie van Afrikaans! 'n Nuwe tydgleuf het aangebreek vir ons dierbare taal, vele ontwikkeling en nuwe blootstellings is op pad, ons is reg en HET die paradigmaskuif gemaak; en ons is reg vir die nuwe UITDAGINGS!

  • Nie eers 'n taalverandering sal sekere mense laat slaag nie. Jy het dit of jy het dit nie! Ons almal weet wie het dit!

  • Ja nee bou maar vir Akademia uit ons ons sal help waar ons kan. Los maar die universiteite met hul tweedeklas Engels. As die gehalte van die universiteite wat so Engels word verbeter is dit goed, maar ek hou nie asem op nie. Hulle word maar nog Afrika-kolleges wat deur niemand in die wêreld hoog geag word nie.

  • Avatar
    Milton Webber

    Onberekenbare verlies. Jammer dat vandag se studente dit nie besef nie - aan albei kante van die spektrum.

  • In 1964 sing Bob Dylan sy bekende liedjie, The times they are a-Changin'.

    Come gather 'round people
    Wherever you roam
    And admit that the waters
    Around you have grown
    And accept it that soon
    You'll be drenched to the bone.
    If your time to you
    Is worth savin'
    Then you better start swimmin'
    Or you'll sink like a stone
    For the times they are a-changin'.
    Ek stem saam met Theuns Eloff dat Afrikaans se doppie geklink is op ons kampusse.

  • Avatar
    Andries GH van der WALT

    Ek het by Pretoria gestudeer en my graad daar klaargemaak. Dit was aan die begin van die sestigerjare van die vorige eeu. Lank terug. Na my laaste trek kan ek nie onthou wat ek met my graadsertifikaat gedoen het nie. Maar as ek hom kry, skeur ek hom op. Gelukkig leer mens nie Afrikaans op Universiteit praat nie. So UP wat met sy politieke besluit Afrikaans van die tafel vee, gaan die verloorder wees, want hoe meer Afrikaners en hul taal onderdruk word hoe harder sal ons terugveg.

  • Avatar
    Pietie Toerien

    Beste Jean
    Dankie vir jou artikel. Maar jou vertrekpunt is verkeerd. Tukkies het as 'n Engelse universiteit begin!

  • Avatar
    Realis Vrydenker Vlakvark

    'n Eindlose debat vir die volgende miljoene jare!

    Wat gebeur in multikulturele lande soos die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland om aan taalgroepe se universitêre behoeftes te probeer voorsien?

    Wat is die drywers wat die uitslag uiteindlik gaan bepaal?

    Leierskap? Regverdigheid? Verskuilde politieke motiewe? Interpretasie van die Grondwet? Meerderheidsregering? Fondse? Regeringsubsidies? Borgskappe? Bevolkingsamestelling? Die British Empire se taalnalatenskap? Chinees? Liefde vir die eie taal? Internasionale handel? Die tegnologie? Praktiese haalbaarheid? Toegeeflikheid? Naasteliefde?

    Laat ons beskeie bly in die soeke na regverdige haalbare oplossings.

  • Avatar
    Andre de Villiers (professor emeritus)

    Is dit vooruitgang?
    André, Centurion
    Ek sien op Kanaal 144 hoe 'n verteenwoordiger van die Universiteit van Pretoria aankondig dat Afrikaans aan die Universiteit nou vinnig uitgefaseer word.
    Tito Mboweni sê dat die universiteit oor 30 jaar spyt daaroor gaan wees. Om Afrikaans nou vir sy verlede te straf, is nie wys nie. (Beeld 26/1/2019). Baie swart mense reageer hewig negatief op Mboweni se uitlating.
    Ek dink met nostalgie terug aan heelwat van my ervarings by Tukkies:
    • In 1961 is ek 'n eerstejaar BSc student. Name soos dié van Proff Manie van der Schyff (Plantkunde) en H Verleger (Fisika) kom by my op. Laasgenoemde het met 'n swaar Duitse aksent in Afrikaans klas gegee en het ook sy eie Afrikaanse handboek voorgeskryf
    • In die sewentigerjare doen ek MBA en prof Hennie Reynders, die eerste akademikus wat in Amerika in bestuurswese gaan studeer het, is my dosent en ook departementshoof van Bedryfsekonomie. Baie sal sy boek, Die taak van die bedryfsleier onthou
    • Dr Anton Rupert lewer jaarliks as buitengewone professor 'n lesing oor aktuele onderwerpe soos entrepreneurskap, industrialisasie, bewaring van ons erfenis, redes vir Japan se industriële sukses en mededeelsaamheid met ander landsburgers (Sien: Dr Anton Rupert - Pro Munere Grates, Redakteur: S Marx)
    • In die vroeë 1980s doen ek ‘n DBA en my proefskrif is in Afrikaans. Uiteraard is meeste nywerheidsdeelnemers aan die navorsing, asook die bronne, Engels
    • Later sluit ek by die Universiteit as dosent aan. Alle voorgraadse kursusse is in Afrikaans, maar honneurskursusse is in Engels
    • In die 1990s word voorgraads in aparte Afrikaanse en Engelse klasse aangebied. Ek gee in Engels klas
    • Iewers langs die pad lees ek die boek The Closing of the American Mind deur Alan Bloom. Ek begin daaroor nadink of 'n universiteit slegs 'n omgewing is waarin studente se strewe na toekomstige sukses bevredig word. Is die skep van kritiese en eerlike denke glad nie meer belangrik nie? Dit lyk al meer of universiteite bloot elite instellings is wat die ego’s en professionele opleiding van studente bevorder. Dis 'n plek wat kitsoplossings bied en 'n inkomste in 'n latere werksloopbaan moet verseker
    • Ek tree in 2001 met 'n klein ekstra pakket op ouderdom 58 af. Ouerige professore kan deur heelwat goedkoper dosente as deel van regstellende aksie vervang word
    • In 2008 lewer Johann Rupert Tukkies se Eeufeesgedenklesing in Engels (weens die teenwoordigheid van diplomate). Hy lê klem op misdaad, plaasmoorde en die feit dat BEE, waar swart mense bevorder word ten koste van 'n verlies aan kundigheid, nadelig vir die land is. Ook beklemtoon hy samewerking tussen die regering en die privaatsektor.
    Ek verwag nie dat die besluit om Afrikaans af te skaf veel rimpels op die akademiese water sal veroorsaak nie. Trouens ons weet almal dat akademiese vryheid in Suid-Afrika lankal daarmee heen is. Die ideoloë binne die regering moet ten alle koste gelukkig gehou word.
    Mens wonder net of die afskaffing van Afrikaans nie dalk 'n verdere stap in the closing of the South African mind is nie. Die ANC word gelukkig gehou, maar die land is slegter daaraan toe.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Prosesmatige Verafrikaanisering met die kolonialistiese taal die een van onderrig. Dis doelbewuste uitsluiting en heel dikwels Afrikaanses self wat die leiding neem en die maghebbers ter wille wil wees.
    Mens dink aan die Taalbeweging en stryders daarvan en jy wonder waar het alles dan so verkeerd gegaan ...

  • Avatar
    Jan van Duyker

    Afrikaans is groot. Dit sal privaat oorleef in kuns, musiek en boeke. In die "Kaapse Grendel" is dit die taal van die meerderheid. Onafhanklikheid daar is wenslik, maar sal Afrikaanses daarvoor wil veg?

  • Geen wonder Langenhoven het die meeste "professore" se goeie oordeel betwyfel nie.
    Hy het ook die volgende kwytgeraak:
    "Hoe weelderiger woord, hoe skraler die gedagte."
    Dit is ook van toepassing op al die slimjanne( ouens wat vroeër agter togas geskuil het).
    Afrikaans sal groei en bly voortleef onder sy gewone sprekers ten spyte van die geradbraakte en "amazing" aanbieders op TV. Talle kunstenaars, sangers en regisseurs is blykbaar van mening dat almal soos hulle praat (of klink).
    'n Verleentheid vir die kunste.

  • Avatar
    Christa van Staden

    Ek stem saam met een van die vorige kommentators. Het ook my graad gekry toe Tukkies nog 'n Afrikaanse universiteit was. Sal dit maklik opskeur omdat daardie universiteit nie meer betsaan nie. Kan mens nie 'n petisie begin dat die universiteit se naam verander word nie?

  • Mense , ons moes al ENGELS gewees het in 1902. Dankie tog dat my kinders van voorskool in Engelse onderrig was. Afrikaans het geen plek in die samelweing nie. Maak jou kinders Engels groot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top