Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nicolas Steytler se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Nicolas Steytler se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Elke keer wat ek by my Ouma gaan kuier het, het ek soos wat ek Berghof verlaat het, ligvoetig gevoel, met my gemoedstoestand in ’n beter plek.

Ouma het die vermoë gehad om mens ongelooflik spesiaal te laat voel. Die gevoel dat sy net bly was om vir jou te sien en dat daar niemand anders was met wie sy die tyd liewer sou saam deurbring nie.

Sy sou altyd koekies en tee aanbied en afhangende van hoe laat dit was, whiskey. ’n Aanbod van rugsalf sou gewoonlik volg, want ek en Ouma kon lank gesels oor rugpyn.

Dis maklik om te sê dat Ouma so spesiaal was oor die dinge wat sy gesê het en die dinge wat sy geskryf het, maar wat vir my uitgestaan het, was haar luistervermoë. Niks was oninteressant nie. Sy wou als weet. Sy wou weet wat in jou lewe aangaan. Sy sou luister en sy sou onthou. En so het sy my spesiaal laat voel.

Die jare wat ek vir Ouma geken het, was seker die moeilikste van haar lewe. Sonder Oupa, sonder ’n liggaam wat wil saamwerk en sonder vriende wat haar agterlaat.

Maar sy was nooit bitter nie en sy het die beste van ’n moeilike situasie gemaak.

Ek sou soms skaam kry as ek gaan kuier en ek sien my ouma wat meer produktief is op 97 as wat ek is op 25.

Ek het ’n paar jaar gelede ’n vak gedop van te veel speel en te min werk. Toe ek weer vir Ouma sien, sê sy vir my: “Nicolas, die lewe is nie daar om lekker te wees nie.” Die woorde het op daardie tyd baie krag gehad, maar nie meer nie, want ek glo haar nie. As ek by haar sit en sy knipoog vir my met ’n klein glimlag op haar gesig, dan vergeet mens dat sy jou ouma is en sien jy net ’n mens wat lief is vir die lewe en al die avonture wat dit behels.

Lees ook 

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Ena Jansen se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Henriëtte Latsky se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Hein Willemse se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top