Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Isabeau Steytler se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Isabeau Steytler se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Elsa Joubert

………….

In 2017 was daar ’n manuskrip vir Spertyd, maar nog werk het voorgelê. Dit was ’n baie spesiale ervaring om te sien hoe haar kop werk, en om die inhoud en struktuur te bespreek.”

………….

My ouma se dood laat ’n groot leemte in my lewe. Sy was my hele lewe lank ’n anker van liefde, ondersteuning en vreugdevolle interaksie.

As kind sou ek by die huis in Belvederelaan aankom, in my ouma se arms val, en weet Ouma is reg om te speel. Sy het ’n ongelooflike vermoë gehad om ’n kind se binnewêreld binne te gaan. My gunsteling was strand toe gaan. Ons sou ’n mandjie pak, in die ou Toyota Cressida in die garage gaan sit, en ons verbeel dat ons strand toe ry. Daar was nie ’n dag dat sy nie heelhartig deelgeneem het in my en my broer Nicolas se speletjies nie.

Foto: Ena Jansen

Toe ek ouer word, het ons verhouding in iets anders ontwikkel. Die oop arms het nog vir my gewag, maar in plaas van speel was sy reg om met my te gesels. Oor boeke, mense, en alledaagse dinge. Dit was maar eintlik ’n ander tipe speel. Ons kon ook argumenteer. Sy het nie weggeskroom van ’n teenstrydige opinie nie, en sou my aanvat. Al het ek my vererg, moes ek terugstaan in verwondering vir my ouma wat met sulke hartstog debatteer.

In haar laaste jare was ek bevoorreg om haar te met haar werk begin help. In 2017 was daar ’n manuskrip vir Spertyd, maar nog werk het voorgelê. Sy kon nie meer tik nie en ons het ure by die rekenaar gesit terwyl ek tik en sy met volmaakte sinne vir my dikteer. Dit was ’n baie spesiale ervaring om te sien hoe haar kop werk, en om die inhoud en struktuur te bespreek. Sy het eindelose tyd gehad vir haar hardkoppige kleindogter se opinies.

Ek mis haar so baie. Tot net voor haar dood kon ons gesels en saam werk. Aan die begin van hierdie jaar, na ’n dag op kampus, sou ek by haar aanklop en ’n koppie tee drink terwyl ek ’n bietjie ontspan. Maar ek kon sien sy is ongeduldig, en toe my tee klaar gedrink is, sê sy: “Kan ons nou aan die werk spring?” Sy was nog altyd aan die skryf. Hierdie keer aan gedigte. Ek sou my rekenaar uithaal en begin tik en met ’n bietjie angs antwoord as sy vra: “Wat is jou interpretasie van hierdie gedig?”

Sy het tydens die grendeltyd aanhou dig. Ek sou buite die hekke van Berghof gaan staan en een van haar versorgers sou vir my ’n pakkie van haar handgeskrewe gedigte deur die tralies aangee. Om af te sluit wil ek een van daardie gedigte voorlees. Dit is ’n interpretasie van ’n gedig deur die Persiese digter Omar Chajjam:

Jy hoef glad nie te dink dat vrees vir die wêreld my pla nie            
Of vrees vir die dood en die siel se vlug uit die klei                
Niks vrees ek wanneer ek in die graf moet neersak              
Niks! Behalwe om nie te weet: my lewe was die moeite werd,                   
ek het die waarheid bely.

Lees ook 

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Ena Jansen se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Henriëtte Latsky se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Hein Willemse se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top