Elders gesien: “Wees goed vir die naaste”

  • 1
...
Suid-Afrika is kompleks, en eenvoudig. Dis vaal en groen, bar en welig. Interessant en eentonig.
...

Wilna Adriaanse skryf op Facebook:

Gedurende die byna nege jaar wat ons in Botswana woon, vlieg ons gewoonlik Kaap toe wanneer ons kom kuier. Dis geriefliker en uiteraard baie vinniger. Saterdagoggend het ons egter per motor in die pad geval en gistermiddag in die Kaap aangekom. Bly om die Kaap te sien, bietjie lyfseer en moeg, maar vol gedagtes.

Wanneer ’n mens vlieg is daar twee plekke betrokke. Die waarvandaan en die waarheen. Die waarvandaan is ’n storie op sy eie, die waarheen is die Kaap. Geliefd en tot so ’n mate bekend dat ’n mens eintlik nooit met ander oë kyk nie. Jy sien wat jy verwag om te sien.

Per motor word die land laag vir laag geskil.

Suid-Afrika is kompleks, en eenvoudig. Dis vaal en groen, bar en welig. Interessant en eentonig.

Daar is paaie in Noordwes wat basies vergaan het. Dorpe waar die infrastrukture aan drade hang. Jy op die uitkyk moet wees vir diere langs en op die pad.

Die Noord-Kaap het reën gekry en die gras staan geilgroen. Die paaie in ’n goeie toestand.

Petroljoggies begin met jou Afrikaans praat. Die taal ryk op hul tonge. Hulle lag gul en maak grappies.

Tussen Kenhardt en Calvinia is die troppe skape klein en skaars. Die grond vaal en klipperig. Ek kyk na die plaashuise en wonder hoeveel moed dit verg om daar te boer.

In die winkel by die vulstasie op Van Rhynsdorp verkoop hulle ’n boek wat saamgestel is deur die verhale van ’n klompie boervroue wat die droogte moet trotseer. Ek lees hoe een van hulle grootste uitdagings is om hulle mans moed in te praat, al is hulle eie wanhoop groot.

Die skool op Calvinia lyk verwaarloos, maar verder in die dorp is geboue vars geverf. ’n Vrou met ’n masker op stap haastig straataf. Ek wonder of die kerke nog Sondae oop is.

Die pad teen die Olifantsrivier af is nuut en breed en vragmotors ry gemaklik die kronkelroete.

En toe lê Tafelberg deinserig in die verte. Hier en daar op ’n koringland verby Malmesbury ploeg boere. Ons ry verby ’n begrafnisstoet. Al die motors se ligte is aan. Die ander motors trek egter nie meer van die pad af soos in my kinderdae nie. Daar is nie meer tyd om stil te staan nie, nie eers vir die dood nie.

Ons luister na Nic se goed op RSG. Hy speel onder andere ’n vioolkonsert en ’n wals, en vertel stories en staaltjies oor alles en nog wat. Hy tap uit ’n wyd geleefde, wyd belese lewe. Selfspottend, skalks.

’n Wolk oor Tafelberg raak al groter. Die nuusberig sê die restaurant by die Rhodes Memorial het afgebrand. Die vuur versprei egter.

Later begin sien ons die eerste foto's van die brand op die Universiteit van Kaapstad se kampus. Die biblioteek brand. Die verskrikking. Ek onthou my besoeke aan die biblioteek toe ek ’n student daar was. My verwondering vir en oor die kennis wat daar bewaar word.

Nog later begin die opmerkings op sosiale media. Koeie word opgegrawe, oues en minder oues. Die vlamme kry ’n politieke kleur.

Dis Maandagoggend. ’n Nuwe dag breek aan. Êrens sukkel ’n ma om haar kinders deur rioolwater by die skool te kry, ’n boervrou praat haar man moed in, iemand koop ’n blik verf om ’n ou gebou nuut te laat lyk, ’n petroljoggie lag in volronde Afrikaans, iemand word begrawe, die Moederstad stik, kennis gaan in vlamme op.

“Wees goed vir die naaste,” het Nic gegroet.

Lees ook:

Heritage to ashes, dust to dust

Universiteit Kaapstad-brand

Vlammesee saai verwoesting om Tafelberg

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top