Ontmoet Michelle. Sy woon op ’n bediener in Iowa. Sy het ’n hart van silikoon en ’n brein vol rekenaarskryfies. AI se kreatiewe moontlikhede begin die grense tussen werklikheid en verbeelding vervaag.
Kom ons vergeet vir ’n oomblik wat dit vir akteurs, films en televisie gaan beteken. (Disney het pas aangekondig dat hulle $1 miljard gaan spandeer om hul geliefde karakters in AI-weergawe te omskep. Dit kan die einde van ’n hele bedryf beteken.)
Die werklike kommer behoort die veiligheid van AI te wees. Vandag is dit akteurs en aktrises. Môre is dit politici of wêreldleiers. Oormôre jou bankier, of dalk jou dokter. Hoe gaan ons onderskei tussen wat vals en wat eg is? Gaan ons hierdie nuwe, digitale wesens – wat uit stem en beeld bestaan en selfs die vermoë het om ons te WhatsApp-videocall – aanvaar as deel van ons lewens? Gaan ons hulle vertrou?
My gevoel is dat teen 2030 jy nie sal weet, of dalk nie eens sal omgee, dat die “persoon” wat jou help, moontlik nooit ’n mens was nie. Die wêreld het dringend ’n globale standaard nodig vir AI-veiligheid – nie vir wat AI kan doen nie, maar vir wat AI mag doen.
En dan natuurlik die olifant in die vertrek: hoe lank voordat regerings AI bewapen?
Lees ook:
Seen elsewhere: How was (and is) it possible for Afrikaners to believe the lies?


Kommentaar
Dit laat my terugdink:
'Hy vryf ingedagte oor sy wang. "Jy weet, in die verkeerde hande hou kunsmatige intelligensie 'n groot bedreiging vir baie mense in."
Haar wenkbroue lig geïnteresseerd. "Dante, nou praat jy. Wat is jou hipotese?"
Hy frons bekommerd. "KI neem elke denkbare rol oor, behalwe die een van verbruiker. Agter KI sit dikwels 'n kopsmokkelaar, die despoot met 'n AK47. Een genot op aarde lê blykbaar in die vermoë om ander mense na jou pype te laat dans, al blaas KI die pype. Daar is die onuitblusbare strewe om so min mense moontlik te gebruik, vir besparing, om so veel as moontlik ander se sakke te bereik, dus materiële welvaart ― die mens word gereduseer tot 'n blote kommoditeit."
Erika kyk ernstig na hom. "Sterk verwoord," sê sy en druk sy been goedkeurend. "Ja, iemand gaan in die oggend opstaan en sê: Skryf vir my 'n boek waarin ek die ANC ophemel, ontwerp die omslag en bemark die ding aan mense. Dieselfde gaan met musiek gebeur. KI het geen behoefte om iets te doen waarmee hy ander KI kan beïndruk nie, maar enigiemand het, vanweë sy toegang tot tegnologie, die vermoë om mense se harsings met bog te mesmeraais."
Hy knik. "Dit raak my direk as 'n skrywer. Ek is 'n mens en ek skryf vir mense, al lyk dit of ek heeldag onder 'n klip sit." '
https://a.co/d/2dFT6mF