Elders gesien: "Ek verlang na lockdown"

  • 0

Foto: Canva.com

Johannes de Villiers, skrywer van Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe, skryf op Facebook:

Ek verlang al klaar na lockdown.

Daar is ’n vreeslike ding in omloop, ’n nuwe sielkundige toestand, ’n psigopatologie. Mens noem dit post-lockdown skuldgevoel.

En wat is post-lockdown skuldgevoel?

Dis die deel van jou wat skuldig voel omdat jy meteens besef jy gaan na lockdown verlang.

Dis daai gevoel as jy met die aanvang van level 2 agterkom jy is nie heeltemal lus om na normaal terug te keer nie. Jy besef jy het so half gewoond daaraan geraak om heeldag by die huis rond te skuifel, om jouself met Netflix en boeke geselskap te hou, om jou hond heeldag te sien, om op snaakse tye te kan oefen, om snags in die tuin te piepie. Jou alleenheid en afsondering was ’n winterkombersie waarin jy van die harde wêreld kon wegkruip en jouself versorg.

En nou moet jy weer normaal wees. Nou is daar weer kantore, kliëntedramas, pendelverkeer.

Jy voel bietjie skuldig daaroor. Lockdown was so ’n ramp, dit het soveel mense se lewens verwoes en dit het die land soveel langtermynskade berokken – hoe kan jy na lockdown verlang? Hoe kan jy sê jy gaan iets mis wat so vreeslik was?

Post-lockdown skuldgevoelens is moontlik nie algemeen onder mense wat in plakkershutte of hoëdigtheidsbehuising woon nie. Party mense is seker maar te bly om uit die huis weg te kom.

Maar ek is gelukkig om ’n ruim huis te hê, met ’n stoep waarop ek sedert Maart elke dag rustig kon sit en lees, en twee honde om snags met my lepel te lê.

Ek weet dis goed lockdown is oor – dalk kan ek nog probeer om my besigheid te red. Maar ek gaan lockdown desondanks mis.

Dalk dink jy ek praat twak? Of dalk kan jy met post-lockdown skuldgevoel identifiseer. En as laasgenoemde die geval is, het ek ’n voorstel: Vra jouself wat spesifiek is dit van lockdown wat so lekker was?

Ek onthou die eerste weke van lockdown (laat-Maart en vroeg-April) was aaklig. As tipe A-persoonlikheid ek het meteens nie geweet wat om heeldag by die huis te doen nie. Maar hier teen week drie het ek ’n roetine gevind. Ek het goed begin doen wat ek seker 20 jaar laas gedoen het en wat my baie vreugde gee. Ek het klippies geverf. Ek het Franse stories vertaal. Ek het gemorsprogramme op TV gekyk. Ek het my hond se magie lank en innig gekrap. Ek het my ma elke aand gebel.

Lockdown het my en jou op die skouer kom tik en kom sê: “Hei, onthou wie jy is! Onthou al die goed wat jou gelukkig gemaak het voordat jy so besig geraak het! Onthou hoe dit voel om aan jou siel aandag te gee.”

So my plan is om na lockdown se boodskap te luister.

Ek gaan seker maak lockdown was nie verniet nie.

Ek gaan die dinge waarmee ek my siel tydens lockdown gevoed het aan die gang hou. Die stokperdjies. Die vriende wat belangrik genoeg was vir ’n video call. Die daaglikse oproepe na my ma. Ek gaan voortaan dié goed prioritiseer soos wat ek my werk en my geldsake voor lockdown geprioritiseer het.

Hoekom doen jy nie dieselfde nie? Skryf nou vir jou ’n lys van die dinge wat jou die afgelope weke gelukkig gemaak het toe daar nie drank of sigarette of vakansies of danspartytjies was nie. Bêre dit iewers. Loer soms na daardie lys. Maak dit deel van jou lewe.

Dit het ’n lockdown gevat om jou te herinner wie jy is. Moenie dat dit alles verniet gebeur het nie.

Lees ook 

Blydskap in moeilike tye: ’n onderhoud met Johannes de Villiers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top