...
Toe vat hulle hom weg uit sy Bo-Kaap uit. Paarl toe. En hy groei tot ’n taal van professore en van kansels.
...
Jurie Taljaard skryf op Facebook:
Die verhaal van ’n taal
Hy is gebore in die Bo-Kaap, hierdie taal. Sy voorsate het met die wind gekom – koloniesoekers uit die Weste, slawe uit die Ooste. En hier het hy die mondstuk van die verknegtes geword: van hulle liefdes, van hulle verlangens, van hulle woedes, van hulle verontregting, van hulle vreugdes. En hy het die naam gedra van die kontinent waar hy gebore is.
Toe vat hulle hom weg uit sy Bo-Kaap uit. Paarl toe. En hy groei tot ’n taal van professore en van kansels. Nog later bind hulle hom aan ’n stoel vas met ’n tou en verf hom wit. Hulle misken sy herkoms, maak hom die mondstuk van verdrukking en bou vir hom ’n monument om hom tevrede te hou.
Soos alles in hierdie groot, vry land word hy verneder tot ’n besitting. Soos met hulle vrouens, hulle kinders, hulle God. Nou ook hulle taal. Want hulle besef nie dat iets so universeel en magies soos ’n taal kan, of mag, besit word nie. Nie deur individu of groep nie. Dis die oseaan waar jou drome en diepste geheime vry kan rondswem.
Toe skielik word hy vry! En soos die land en sy strande behoort hy weer aan almal wat hom liefhet. Hy is vry om terug te trek Bo-Kaap toe, vry om in die Paarl aan te bly, vry om deur almal en deur alle nominasies in gebid te word.
Maar verbeelde besittings word nie maklik afgestaan nie. En hulle maak van hom ’n prostituut van ’n groep se drome van ossewalaers. Die forum en sy vakbond en sy voorsanger maak asof hulle omgee vir hom. Hulle stuur woordvoerders na skole, wys vir reënbooggehore video’s van hulle visie – met net wit gesigte op. Hulle vertel mooi stories van ’n kultuur wat terugverlang na die dae van die ou Stellenbosch en die ou Potch. Hulle vertel van landboufakulteite gebaseer op die Orania-model, hulle hou optogte in oranje geklee.
En soos vir Izak de Vries, pak ’n hartseer vrees my beet. ’n Vrees vir die welstand van hierdie vry kind van Afrika. En ’n woede teenoor die pimps wat hom misbruik.