Elders gesien: Die 1933-Bybelvertaling is 90 jaar oud

  • 0

Barend van der Merwe skryf op Facebook:

Die Bybel in Afrikaans is 90 jaar oud.* Voor die verskyning van die Afrikaanse Bybel, moes Moses en Abraham Nederlandse Bybels gebruik. Wat moeilik lees. In die lig van dié herdenking het ek myself vandag toe in ’n kerk bevind. Die moedergemeente van Stellenbosch. Ek kom bitter selde in dié tempels van Baäl. Het wel ’n waardering vir hierdie geboue se argitektoniese skoonheid. Daarby is Calviniste mos maar so bietjie vol van hulleself, en ook gans te versot op hulle eie redenasies om waarlik ontvanklik vir die Gees te wees. Ek weet dit, want ek was ook eens een. Onder sulke omstandighede had ek geen onrealistiese verwagtinge nie. Daar was dus nie enige vrugte van die gees soos die spreek in tale nie. Slegs Afrikaans was gepraat. Ook is geen demone uitgedryf nie. Maar, dit was alles in ag genome ’n aangename ervaring met die gedeelde belangstelling die van die Bybel in Afrikaans. Die gemeente het ook ’n “fymis” orrelis in Zurada Temmingh, wat so besoek verder regverdig. ’n Interessante praatjie het gevolg na die diens, wat grotendeels op die geskiedkundige feite gefokus het, en wat die eintlike lokaas vir my besoek was. Dit was waarlik nogal leersaam, soos wat sulke geleenthede geneig is om te wees. Ek verneem die gemeente het voltydse toergidse, wat gratis besoeke fasiliteer elke weeksdag. Dit is weens die voortdurende belangstelling in die argitektuur en geskiedenis. Nuuskierige besoekers sak glo vanuit elke uithoek van die aarde toe op dié gebou.

Na afloop van die geskiedkundige praatjie is daar toe ’n ruiker op die graf van Bennie Keet gaan plaas. Keet was een van die groot brasse van die NG Kerk-denominasie. Sy regte name was eintlik Barend Bartholomeus. Ek kan onthou ek het ook jare gelede iets oor hom geskryf toe ek student was. Hy het ’n boekie geskryf om die kerk te waarsku teen die teologiese dwaalleer van apartheid. Maar vandag is hy skynbaar in herinnering geroep vir sy werk as vertaler van die Bybel in Afrikaans. Ek het egter nie aan dié kransleggingseremonie meegedoen nie. Die skrif is baie duidelik dat die dooies hul eie dooies moet begrawe (Luk 9:60) en mens wonder wat mense soos die geagte professor sou sê oor die gees van mensgesentreerde humanisme waaraan kerke so gekenmerk word in hierdie tye.

Nietemin, dié interessante “iewent” is gereël deur die FAK, en daar was ’n hele klompie mense in hulle Voortrekkerdrag. Ek was nooit ’n Voortrekker nie. (Dink van my sibbe was wel.)

Miskien word die Bybel in Afrikaans 100 jaar oud oor tien jaar. Miskien lewe ek nog dan. En miskien bestaan die NG Kerk nog dan. Miskien sal ek dan weer probeer. Dis wel baie miskiene. Die odds lyk nie buitengewoon wonderlik nie. Maar, ’n glinstering hoop bestaan wel. Daar was juis ’n oes van 10 jongelinge wat tydens die diens blinkoog die belydenis van die geloof in die Calvinisme afgelê het. Met sulke mooi jongelinge, lyk die toekoms wel tot ’n mate belowend vir dié gemeente.

*Die eerste Afrikaanse Bybel is 27 Augustus 1933 amptelik in diens geneem.

Lees ook:

Is ’n Bybelvertaling in Kaaps dalk tog nie vêrgesog nie? ’n Perspektief op taalontwikkeling binne die Afrikaanse variëteitebundel

Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling

Die Bybel in Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top