
Foto’s van Willa van Schalkwyk: verskaf
Jeani Heyns praat met Naomi Meyer oor die Motorhuis Productions-teatergroep en oor die onlangse produksie, Ek, ouer.
Jeani, jy is aan die hoof van ’n teaterproduksiegroep, getiteld Motorhuis Productions. Hoe het dit ontstaan? Vanuit die garage? Waar het alles begin?
Motorhuis Productions het ontstaan tydens die Covid-19-pandemie in 2020, terwyl ons almal ingeperk was en nie veel teater kon gaan kyk nie. Dit was natuurlik vreeslik vir ’n teatervlooi soos ek. Ek het ’n paar warm ligte in blikke in my huurhuis se motorhuis opgestel. Dit was ’n ou huis in University Estate, met ’n voos sementvloer. Ek het ’n paar swart lappe aangeskaf en vir myself ’n klein teaterboks gebou. Daar het ek my eie praktiese assesserings vir my klasse verfilm. Ek het in daardie tyd by Waterfront Theatre School studeer. Ek dink my dosente was baie verras toe hulle so ’n teatrale selftape ontvang het.
In daardie jaar was ek besig met ’n teks met die naam Pakslae, wat aanvaar is vir Teksmark. Ons het ’n verfilmde weergawe van die toneelstuk gedoen – daar in my motorhuis! Ek hou van die idee om uit jou agtertuin te skep. Motorhuis Productions is ’n broeiplek vir idees, ’n werksbank vir nuwe konsepte, en my doel is ook om werk te skep vir kunstenaars. Om as jong, onafhanklike teatermaker te werk is vir my ’n voorreg.
Hierdie afgelope naweek was daar ’n produksie op die planke waarby baie jong ma’s aanklank sou vind: Ek, ouer. Dit klink vir my die stuk handel enersyds oor alles wat ’n enkelma moet hanteer. Daar is baie enkelouers in hierdie land – is dit waar die idee ontstaan het?
Ek het Ek, ouer begin skryf in 2019. Dit was toe slegs ’n paar tonele, maar die kern van die toneelstuk was reeds daar: ’n ma, ’n persiese mat en haar kleuter, en hierdie diep, diep verlange na haar oorlede man.
Ek is een van daardie skrywers wat sal sê my karakters praat met my – en dit is werklik so. Roné het net begin praat en ek moes luister. In die eerste toneel van die stuk kry ons haar in die middel van ontbyt, besig om wyn uit die mat te skrop. Elgart, haar seuntjie, het hulle laaste bottel trouwyn oor die mat gegooi. Haar eerste huweliksherinnering sonder manlief.
Ek het baie aan my eie ouers gedink terwyl ek geskryf het. Egskeiding is ongelukkig deel van ons familie se storie. Dis interessant, maar in so ’n geval – veral waar co-parenting die uitkoms is – word beide ouers eintlik enkelouers.
Ek doen wat meeste kunstenaars doen wanneer dinge swaar gaan: Ek skryf en verwerk my eie gevoelens van verlies deur my kuns. Uiteindelik het ek besef dat enkelouers soms ’n stille verlies ervaar. Jy verloor gemeenskap, want die ure in jou dag is net soveel. Jy verloor jouself, jou lewensmaat en dikwels selfs konneksie met jou kind, want dit is moeilik om al die potjies gelyktydig aan die kook te hou.
Met ons eerste speelvlak in 2022 het ek die teks klaar geskryf met die hulp van my regisseur, Saskia Bormans, en Elsa Kleynhans het oorsigtelik as dramaturg na die stuk gekyk en ook help skryf.
Met die herskryf van die produksie in 2026 het ek besef dat alleenheid waarskynlik ’n enkelouer se grootste vyand is. Die storielyn is behou, maar ek het met ’n effe meer komiese lens geskryf en ook die einde ietwat verander.
Andersyds handel dit ook oor en lewer dit kommentaar op die cool-mamma-subkultuur. Dis nou weer ’n ander tema! Vertel bietjie daarvan.
Die Durbanville-mamma-subkultuur. Ai, ai. Daar is soveel stemme wat vir mammas skree wat hulle moet en nie moet doen nie. Is jou naels netjies genoeg? Hoe groot was jou laaste fondsinsamelingsgeleentheid?
........
Moderne mammas is uitvoerende hoofde van die huis én vyf ander side hustles. Sommiges kry boonop nog tyd om smaakmakers te wees. Dis soms vir my merkwaardig. Soms angswekkend.
.........
Moderne mammas is uitvoerende hoofde van die huis én vyf ander side hustles. Sommiges kry boonop nog tyd om smaakmakers te wees. Dis soms vir my merkwaardig. Soms angswekkend.
Soos ons spot met die Parenting Prophets en die Ernstige Entrepreneursdag-beleggers, bied Ek, ouer ook vir mammas ’n kans om bietjie vir hulself te lag. Dis oukei as jou huis soms ’n oorlogstoneel is en dis oukei om net ’n oomblik te vat. Alles hoef nie perfek te wees nie.
Roné, ’n sosiale antropoloog, gebruik veldnotas om al die mammafigure te analiseer. Dis eintlik ’n coping mechanism. Sy voel self nie goed genoeg nie. In haar geval was hulle huishouding eintlik baie meer modern: Pappa was ’n predikant en ’n tuisblypa, en sy was (is steeds) die broodwinner – ’n dosent by die universiteit, op pad na ’n professoraat. Maar die lewe het ’n manier om die mat onder jou uit te ruk. En dis waar die gehoor haar vind.
Albei hierdie sake is ernstig én komies. Wat is julle fokus: Hou julle dit lig, of is dit lag met ’n traan? Ondersoek julle ook wat agter hierdie temas lê?
Beslis lag met ’n traan.
.........
Beslis lag met ’n traan.
..........
Iets wat ek veral in die hernude weergawe van Ek, ouer ondersoek, is die vooropgestelde idees wat ons het van “die dominee se vrou”. Die verwagting is dikwels ’n vrou wat self in die bediening is, wat kinderkerk lei en altyd beskikbaar is vir die lidmate.
Roné pas nie in daardie boksie nie. Sy is akademies, analities en waarskynlik meer van ’n introvert. Sy verkies boeke bo mense – en haar idee van mense bo die mense self. Dis ook haar tragiese tekortkoming.
Sy is vreeslik alleen, maar vertel vir haarself dat mense haar met vyandigheid hanteer en daarom onttrek sy haar uit die gemeenskap. Al die temas word deur Roné se lens gefiltreer. Haar kop is vol veldnotas, wat sy amper soos by ’n lesing vanaf ’n kateder aan die kant van die verhoog oor ’n mikrofoon voorlees. Die aktrise speel ook effens karikatuuragtige weergawes van die mammas. Ons gebruik ook “mamma-artefakte” wat met Roné praat – byvoorbeeld ’n string pêrels of ’n handsak vol petrolstrokies, wat deur middel van poppespel uitgebeeld word.
Wat is die volgende produksies waarmee julle besig is? Hoe gaan julle te werk om ’n stuk op die planke te bring? Wat is volgende aan die beurt?
Ek, ouer is beskikbaar om te toer na verskeie venues. Mense kan my gerus kontak vir meer inligting oor die produksie. Ek is baie oop vir samewerking met teaters, funksies en speelvakke!
Gehoorreaksie op Ek, ouer (Quicket reviews)
Ek, ouer het ’n diep indruk op die gehoor gemaak, met baie wat dit beskryf as ’n eerlike en opregte uitbeelding van moederskap. ’n Ouer vrou het met my kom praat en gesê dat die uitbeelding van die karakter se smart presies is hoe sy gevoel het nadat haar man oorlede is. Dit het vir my as skrywer baie beteken! Mense was beïndruk met die teks.
Gehore noem dat die stuk hulle tegelykertyd laat lag en huil, en dat dit nog lank ná die tyd by hulle bly.
Die intieme teateromgewing dra ook by tot die ervaring en skep ’n warm, toeganklike ruimte wat die verbintenis tussen kunstenaar en gehoor versterk. (Ek kan dit beaam – Collective Arts Theatre laat my baie dink aan die Klein Lib van ouds.)
Lees ook:
Persverklaring: Ek, ouer – ’n nuwe eenvrouvertoning aangebied deur Motorhuis Productions

