Duiwelsduo in die tyd van die koronavirus

  • 3

LitNet publiseer gereeld e-posgesprekke tussen vuurwarm boekduiwels Deborah Steinmair en Jonathan Amid. Hulle sal mekaar aanvat oor boek- en skryfsake. Skerp, slim, voor op die wa, insigryk en belese, onstigtelik en ondermynend.

Lees hul eerste paar gesprekke hier:

Duiwelsduo: die eerste boekeoorlog

Duiwelsduo: die tweede boekeoorlog

Duiwelsduo ná die Toyota US Woordfees: Maart 2020

Hier is die vierde salvo.

Deborah Steinmair en Jonathan Amid (foto: verskaf)

Duiwelsduo vier: e-pos nommer een

Jonathan Amid

Hi Deborah

Ek weerstaan die (amper onweerstaanbare) versoeking om hierdie stuk te begin met ’n gevatte “Dear diary”. Hahahaha. Die sosiale media maak van ieder en elk ’n skrywer, ’n digter, filosoof, weerkundige, mediese deskundige, militêre strateeg, kenner van die menseregte en politieke ekonomie en siener. Hashtag blessed. Slot en grendel is nie genoeg om die verwoede dagboekskrywers terug te hou nie. Darem het ek heelwat skrywers en digters op my Facebook, en hou ek nogal van wat ek lees. Sommige is natuurlik beter as ander – Anne Frank is almal nie.

Ek gryp sommer gou Diary of a bad year van die rak af. Waar is daai boek?! Ek wens ek kon Coetzee se Age of iron, Waiting for the barbarians en In the heart of the country nou by elke geletterde huis in die land aflaai.

Gaan ons in die volgende siklus ’n uptick in die briefroman begin sien? (Sardoniese laggie.) Ja jong, hierdie staat van inperking gaan ons op allerlei wyses toets en touwys maak. In Suid-Afrika is jy nooit genoeg gebrei nie – en ek sê dit met alle respek vir elkeen wat tans swaarkry of aan die kortste end trek. Dis dalk tog belangrik om gereeld terug te keer na die idee van oorlog hier met ons skrywes. Dalk veral die koue oorlog soos dit hier uitspeel.

Nie een van ons wil soos ’n nool lyk soos ons die skote hier in sarsies afvuur nie. Wat dit lekker opwindend maak, ten minste vir ons twee, is die feit dat dit redelik moeilik is om te voorspel waar die gesprek heen op pad is. So die vuur is iets tussen skiet van die heup en handgranate gooi. Rantsoene is daar darem genoeg van.

Ek moet hemelsbreed van jou verskil oor die stelling dat oorloë geen wenners of verloorders het nie. Au contraire! Oorlog is tog by uitstek ’n spel van mag en strategie, en liefdadigheid suig gewoonlik maar aan die agterspeen. Daar is altyd, altyd wenners en verloorders. Ook, dink ek, is dit nie net mans wat oorlog maak nie. Ek dink nie ek besit ’n wit vlag nie, en jy? So die robuuste gesprek ... verskillende standpunte, stryery, grotesk-oordrewe bloed wat spat soos in Tarantino is presies hoe dit is, maar daar is beslis ’n wenner en ’n verloorder van elke veldslag. Stu voort, of retireer? Dis die vraag ... Maar die stryd duur voort.

Ek hou daarvan dat jy Tarantino inbring. Ek moet myself konstant herinner om nie heeltyd oor films en reekse te wil praat wanneer ons eintlik met boeke te maak het nie. Ek voer ’n oorlog in die kleine met myself! En ek verloor sleg.

Ek is baie bly jy raak die saak van “futlose antwoorde” aan. Ek dink dit skep of bevorder ’n bepaalde dinamika om een persoon te hê wat ’n bietjie van ’n langer asem het, en ’n ander wat korter of bondiger antwoord. Soms is een sin genoeg om ’n vraag te beantwoord, ander kere nie. Wie ook al hierdie woordewisselings lees, moet maar besluit of die antwoorde vir hulle voldoende is. Vereenvoudiging het sy plek, sure, maar nie ten koste van nuanse en diepgang nie.

Dit maak my seker ’n bietjie van ’n Mr Plod (😊) maar wat is die punt as jy nie by iets van waarde kan uitkom nie. Jammer Lucebert. Nie te veel eeue gelede nie het iemand my baie raad gegee: Pasop vir voortvarendheid.

Sedertdien is ek nogal op my pasoppens vir vereenvoudiging en goed wat lees soos sweeping statements of cherry-picking. Mens kry dit nie altyd reg nie – dan is die kersie op die koek nie glansend en soet nie, maar van was. Sies! Ga!

Joan Hambidge wat vir jou sê jou Vrye Weekblad-gehoor is nie gesofistikeerd genoeg om die verskil tussen pastiche en plagiaat te kop nie ... Hmmm. Tough one. Ek dink heelwat van hulle is, en is ook ouer, gesoute lesers. Jy kry ook dié wat niks van meer as twee bladsye lank wil lees in ’n bespreking of ’n essay nie. Dit gaan my verstand te bowe. Jy is bereid om ’n boek van honderde bladsye te lees, no sweat, maar dan is ’n stuk wat die New Yorker of Times Literary Supplement as kort sou ag vir jou een te veel? Word groot. So gepraat van die TLS – daar het nog ’n artikel oorsee deur George Berridge, in The Guardian, verskyn aan die begin van Maart.

Kyk, ek dink in alle eerlikheid Anker se kans om op die kortlys te verskyn is nou geheel en al moer toe, maar ek dink ook nie daar gaan enigsins ooreenstemming wees oor die saak van plagiaat en/of pastiche nie. Ek weet in my hart Anker die akademikus het geen pyne om die verskille tussen plagiaat en pastiche te vereenvoudig of om ’n essay daaroor te skryf nie. When you break it down gaan dit letterlik oor een paragraaf in ’n monumentele teks, ’n teks wat in wese gaan oor vorme van geweld, ook (beslis) tekstueel.

Die fout kom in by die feit dat die oorspronklike en die vertaling nie ’n ooreenstemmende bronnelys/erkennings het nie. Dit moes nie gebeur het nie, en was ’n klein deeltjie van die geheel wat nou die geheel self besmet. Dis vir my verskriklik. Ek dink aan die skrywer en hoe hierdie storie hom persoonlik moes geraak het – daar is geen manier dat dit hom nie diep sou gekwes het nie. Ek het wel ’n voëltjie hoor fluit dat hy dié jaar nog ’n nuwe roman die lig sal laat sien. Ek hoop en glo – nee, eintlik weet ek sommer – dit gaan absoluut befok wees.

In my vel was vir my ’n besonder interessante leeservaring, om verskeie redes. Ek en Azille het saam klasgeloop, en ons het ’n fantastiese derdejaarseminaar saam geniet, aangebied deur die wonderlike emeritus professor Annie Gagiano. Ek onthou spesifiek, die tema van die seminaar was “War and civil life” soos uitgebeeld in verskillende kontekste – een klas waar ons Yvonne Vera se The stone virgins bespreek het. Ons moes elk ons indrukke gee om die gesprek af te skop, en uiteindelik was dit my beurt, na feitlik almal reeds iets gesê het.

Ons het pas klaargemaak met The English patient voor The stone virgins, en ek haak af met ’n kort en kragtige “I’d call this one The Zimbabwean patient.” Toe volg een die beste oomblikke in my voorgraadse studie. Azille sit skuins oorkant my. Die res van die klas is tjoepstil, en Azille begin lag. En lag. Al hoe harder. Naderhand is die klas histeries, ons dosent is in trane van die lag, en Azille herhaal en herhaal: “The Zimbabwean patient”. En ons twee kyk vir mekaar, ’n goeie vyf minute later, en ons begin weer lag. Needless to say was die atmosfeer van die seminaar daarna absoluut fantasties, en dit was die groepie se in joke vir die verloop van die seminare.

Daar is beslis iets van daardie uitbundigheid en lust for life van Azille die mens in haar skryfwerk te bespeur. Dis ’n ryk stuk skryfwerk, met baie pitkos, maar ek vermoed dit sal meer vir lesers beteken wat nog nie Jonny Steinberg, Breyten en veral Antjie Krog indringend gelees het nie. Ook Judith Butler. Dis seker te veel gevra, maar vir elke lieflike sinsnede en aforisme of anekdote het ek gesmag na iets wat werklik nuut was. Die boek was gereeld as “grensverskuiwend” opgehemel. Miskien is dit ek omdat ek al so lank reeds self oor hierdie kwessies wonder, of omdat ek meer lees as baie ander. Ek weet nie. Maar ek sal wag vir Boek Twee.

Ek dink dis baie goed geskryf, don’t get me wrong, en die uiterse leesbaarheid en relevansie daarvan maak dit vir my ’n belangrike boek, maar ek is bra skrikkerig vir die gewoonte om enigiemand wat uitstaan as die “stem van ’n generasie” te bestempel. Benewens die totaal onredelike verwagtinge wat dit op daardie persoon se skouers plaas, veral ’n jongmens van skaars 30, is dit nie vir my wenslik om een stem noodwendig bo ander te verhef nie. Implisiet wil ek seker sê dat ek nog vele ander Azille Coetzees se stemme wil hoor.

As an aside: Daar is redelik klem wat geplaas word op die trysts en liefdesverhoudings in die boek. Gestel nou ek, ’n wit, Afrikaanssprekende man van amper 34 sou ’n boek skryf en die presiese storie vertel wat sy skryf. Sou lesers werklik van my liefdeslewe wou lees? En hoe sou my posisie in die samelewing die “kern” van my verhaal, en die resepsie daarvan, verander? Ek dink nogal soms aan hierdie goed; ek het nie perfek-gevormde antwoorde daarop nie. En dis dalk ook beter so. Ek sal seker een of ander tyd ’n boek moet skryf, maar waaroor weet ek nog nie.

Herhaal jy nie die skep van ’n strooipop om die kwessie van die bestaan van die laer eenvoudig te herlei na jou “doodonskuldige” ondersoek na die “kaal keiser” Willem Anker se sondes nie? (Ek het eers per ongeluk “doosonskuldige” getik, en toe in my vrugtesappie gestik van die lag. Miskien was dit glad nie per ongeluk nie. Hear me out for a second. Is dit dalk die twee kategorieë waarin ons nou “ouer, wit , manlike skrywers” plaas? “Onskuldig”, dit wil sê aanvaarbaar, of “Doos”, dit wil sê problematies, oortollig, in die pad, ongewens, nie bo verdenking?)

Vir my gaan dit, eerstens, daaroor om te sê hokaai, rustig eers, wanneer iemand die uiters gelade term “laer” wil gebruik om oor iets so veelduidig, so divers, so universeel, as die lettere te praat. Ek gaan nie die argumente van iemand soos Daniel Hugo hier herhaal nie, maar my fok, die term “laer” is so polities gelade soos enigiets anders, en bring ons tot op die voorstoep van die identiteitspolitiek, en sy menigte slaggate. Ek dink dis onverantwoordelik, tot ’n mate, en onproduktief, tot ’n groot mate, om sonder ’n sweempie ironie voor te gee die letterkunde moet (uitsluitlik) daaroor gaan om jouself in die teks wat jy lees te kan herken.

Dan moet ek ’n goeie derde van my boeke dadelik op die ashoop gaan smyt. Ja, stories gaan oor herken. Maar dalk, net dalk, meer oor verken.

Identiteitspolitiek bring ’n skril stemmetjie te berde op die woord. Dis voorskriftelik, naïef, kinderagtig, en ongewens. En dit misken die subversiewe aard van baie goeie letterkunde. Mens moenie die baba met die badwater uitgooi nie. Ek dink niemand met ’n halwe breinsel kan kyk na wat uitgewers uitgee – met die hulp van sensitiwiteitslesers, en snelgroeiende diversiteit in terme van wie in diens staan van uitgewers, en wie redigeer en ontwikkel – en dan verkondig die Afrikaanse letterkunde het ’n laermentaliteit nie. Jammer, Chase Rhys, jammer Olivia M Williams, julle is net spokies. Nee wat. Dis ’n klap in die gesig vir ’n magdom mense.

Ek dink ons moet elke soort verhaal onder die son skryf in 2020, en beyond. Ek begin dink al hoe meer hoe die een groot leemte in ons letterkunde, soos dit voortstu, is boeke soos Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk. Boeke wat jou tref soos bliksemstrale en jou van balans af dwing, deur ruwe krag, deur ’n sheer force of will. Woorde wat nie lees asof hulle eers deur 50 pare oë is om te check of dit iemand gaan ontstig of ontstel nie. En ek praat nou nie hier van boeke wat vieslik seksisties, rassisties of bloot kru is nie. Ek praat van die soort boek wat jou wese binnedring en jou anderkant uitspoeg. Die soort wat die Sestigers geskryf het. Wat ’n Koos Prinsloo of ’n John Miles of ’n Eben Venter op sy beste vir ons bied.

Gaan die Afrikaanse establishment in die volgende dekades ons eie Philip Roth of Anthony Burgess of Amos Oz of James Ellroy oplewer? Laat die sisteem dit toe?

Ek stem saam met jou dat ons oë oopgegaan het. Kan enigeen nog ontken dat hulle vasklou aan “lelike apartheidsonskuld”? Ek dink dis ’n besliste minderheid. Jy’t altyd iewers ’n poephol aan tafel of ’n ou wat jou meisie probeer afvry, maar daai siele word nie sommer ’n platform gegun nie.

Het iemand soos Dainfern-Dan enige werklike currency? Noem vir my drie skrywers wat jy ken wat hom ernstig opneem. So gedink. Steve Hofmeyr – ongeag sy regse politiek – is ’n bedonnerde romanskrywer. Sy Sluiper-boeke is oordrewe, en bloeddorstig, maar hy skryf uitstekend. Ek skat hom nie gering as stilis en storieverteller nie.

Ek hou daarvan dat jy kwaliteit uitlig as die uiteindelike rigtingwyser of hekwagter vir ’n skrywer se bydrae. Dis presies hoe dit moet wees, en die profiel van die skrywer moet getemper word met wat die skrywer se werk sê, hoe dit betekenis skep, en ook wat help doen, of nie help doen nie.

Jy haal Azille Coetzee aan: “Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde vereis jeugdige bravade en ongehoorsaamheid.” Ek kan regtig nie anders as om die ironie in hierdie stelling raak te sien as mens gaan kyk na wat alles net die afgelope jaar gepubliseer is nie. Volgens die laermetafoor is dit (implisiet en eksplisiet) hoofsaaklik ouer, wit manlike skrywers wat die septer swaai.

Maar, hoor my lied, gaan tel Biblioteek aan die einde van wêreld en Hond se gedagte, as net twee voorbeelde, op. Jy gaan bitter min boeke deur enige skrywer van enige ras of ouderdom wat in Afrikaans skryf vind wat so ’n diversiteit van stemme, karakters, ervarings en uitgangspunte vir bespreking vir jou daarstel as leser. Ontlaer? Watse laer?

Daar was so ’n ruk terug ’n gesprek op Facebook, en ook ’n Boekevat deur Jo Prins, oor ouer wit mans wat die vertalings van prosa en poësie in ons land oorheers. Wat behoort swaarder te weeg? Ervaring en kundigheid, of die vraag of die verteller ’n man of vrou is?

Ek dink dis te maklik om die vrede te bewaar, stil te bly, en “kunstenaars wat die hand wat hul voed, byt” net te los en te sê so gemaak en so gelaat staan. Kom ek gee vir jou ’n voorbeeld, en dis iets waarvan ek bitter baie hou in die resensies plaaslik van digbundels.

As jy ’n digter is wat debuteer, en jy skryf verse waar dit duidelik is dat jy nog nie jou “huiswerk” gedoen het en die groot name gelees het nie, dan word jy uitgehaal. Dan word jou kortpaaie voor jou voete gelê. Dan word jy betig, nie altyd op ’n mooi manier nie. Maar die idee is dat daar ’n respek vir die kunsvorm moet wees, voooooooor jy iets gaan staan en pleeg wat jy op die wêreld loslaat.

Daniel Hugo het onlangs ’n belangrike stuk geskryf na aanleiding van Nini Bennett se resensie van Francis Grobler se bundel Nagblind, waar hy met reg tekere gaan oor sosiale-media-digters wat almal deur ’n hoofstroomuitgewer gepubliseer wil word, maar nie volgens die spelreëls van die gevestigde literatuursisteem behandel wil word nie. Hul eis die radikale demokratisering van die kunste.

Wat dit prakties op neerkom, is dat elke Jan Rap en sy maat, elke gruweldigter onder die son, nou sy kans gegun moet word om die res van ons se sig aan te val met die allerverskriklikste “poësie”. Soos ek heel aan die begin gesê het: Almal is nou ’n skrywer en ’n digter. My eyes! My eyes!

Ek voel nogal om met jou te verskil dat ons “jolige, menslike boeke vol samesyn” gaan raaklees. Behalwe die misdaadfiksie wat nog sterk staan, volg ’n sterk opwaartse kurwe in die trajek van drie genres in ons midde plaaslik, in Afrikaans: die distopiese/spekulatiewe roman, die Bildungsroman, en lettere oor die Grens. Dikwels vermeng die Bildung en die Grens ook. En wat hierdie genres saambind, is die ondersoek na identiteit, op die vlak van die groep en die individu, en ’n implisiete vergelyking met die huidige bestel.

Ek ervaar hierdie boeke glad nie as jolig nie, en dink nie die volgende sarsie gaan jolig wees nie. Die “menslikheid” en die “samesyn” wat wel deurskemer, en sal deurskemer, sal wees in antwoord op die solidariteit wat voortspruit uit die stryd teen ’n duidelike vyand. En of daai vyand net die staat is, of ’n oorkoepelende idee, soos die bedreiging van tegnologie en hiperkapitalisme of “surveillance capitalism” of klimaatsverandering en skaars hulpbronne, of iets soos identiteitspolitiek, sal ons moet sien.

Soos Fredric Jameson sê: “It’s easier to imagine the end of the world, than the end of capitalism.” Bingo. “Skrywers verbeel wêrelde anders as hul eie.” Soms, soms nie! Die Nordic noir-skrywer ja, gewis. Nathan en Ronelda? Not so much. Vereenvoudiging is soms ’n bliksem.

Laaste, maar nie die minste nie. Die kortlyste vir die twee UJ-prosa-pryse is uit. Waar sit jy jou geld? Ek reken Johan Jack Smith se Zola vir die debuutprys en Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld vir die prosaprys gaan die gongs vat. Ons praat volgende keer meer hieroor, asseblief.

Duiwelsduo vier: e-pos nommer twee

Deborah Steinmair reageer

Beste kameraad J

Vanoggend lê daar ’n doodsheid in my. ’n Eerste Wêreld-depressie ry my; ek beleef die sinlose lyding van die bevoorregtes. Ek dink hierdie inkerkering gaan veel langer as drie weke duur en daarom voel alles opeens so sinloos, so vergeefs al die gewoeker en geprakseer. Wat is die mens en soos gras is sy dae. Is dit alles ’n gejaag na wind en is daar iets nuut onder die son?

My woorde is min en my stem krakerig vandag.

Wat ek wou sê is: Oorloë het nét verloorders. Dis maar ’n geldmaakoefening. Dis asof die orde elke nou en dan versteur moet word, sisteme afgebreek moet word sodat hulle weer uit die as kan opstaan. Die valuta is ongelukkig jong seuns. Die laaste woord oor oorlog is myns insiens gesê in Kurt Vonnegut se Slaughterhouse Five. Tog is dit nodig dat daar nog veel oopgeskryf word. Ek sien ’n mens kan die fliek Moffie nou stream. Ek het baie van die boek gehou en wil graag kyk. Ja, die oplewing in Bildungs- en Grensromans is interessant: Mans wat amper ’n leeftyd lank gemuilband is, deur ’n onmenslike sisteem en hul eie onverwerkte trauma (en die vroue wat daaronder moes ly) het skielik begin praat.

Miskien is virusse en pandemies dieselfde. Miskien moet die orde elke 100 jaar of so versteur word, die sisteem vernietig word. Watter nuwigheid daaruit gaan voortspruit, sal ons moet sien. Daar is die grappie: Apocalyptic fiction has been moved to the Current affairs shelf.

Ek sien reikhalsend uit na Anker se nuwe roman. Ek sien ook uit na joune. Daar sal nooit genoeg boeke wees nie. As die drukkers en boekwinkels net weer wil oopmaak!

Ek is dankbaar dat jy Mr Plod is en my boek drie maal gelees het en soveel daaroor te sê gehad het. Oor my boek is ek ook depressief: ’n Mens leef lank in afsondering om jou idee te laat ontkiem. Dan skenk jy geboorte. Jy staan terug en sê: Kyk, wêreld, kyk wat het ek gemaak! En skielik word die gordyn toegetrek en minstens ’n maand word van die almanak afgeklap. Jou boeke is in kwarantyn en lesers kan nie by jou teks uitkom nie, of ten minste nie die rugkant terugkraak, die ink inasem en die bladsye omblaai nie.

Ons stem saam dat stories oor verken eerder as oor herken moet gaan. Natuurlik is daar altyd herkenning van die universeel menslike moment wat alles geloofwaardig maak, selfs fantasie en apokaliptiese lektuur. As jy egter in ’n oorloggeteisterde gebied bly, soos in Iran of Mitchells Plein, sal die gebeure rondom jou waarskynlik jou uitgangspunt wees. Wat jy daarmee doen, hang van jou talent en vaardigheid af.

Vandag stem ons oor heeltemal te veel kwessies saam. Ek stem saam dat Steve Hofmeyr weet hoe om ’n storie te vertel. Hy moet hom by fiksie bepaal. Dainfern Dan moet liefs oor kristalglase as oor seks skryf. Jammer, ek cherry-pick. Klap na strooipoppe. As ek net nie so moeg was nie.

Jy vra: “Gaan die Afrikaanse establishment in die volgende dekades ons eie Philip Roth of Anthony Burgess of Amos Oz of James Ellroy oplewer? Laat die sisteem dit toe?” Ironies verwoord, sou ek sê. Die sisteem wil niks toelaat nie en laat daarom veel ruimte vir aanskoulike misdadigheid. Die sisteem in sy sistematiese aard maak anti-establishment-verbreking moontlik, maak beeldebestorming, teenspraak en godslastering moontlik. Dis vir my ironies dat jy onder die wegbrekers Ruan Kemp ag, oor wie se oorspronklikheid daar vraagtekens hang. Ook Anker. Wie is oorspronklik? Ek glo nie ons sit ouer wit mans in bokse nie. Dis hul eie verantwoordelikheid om dose vry te spring en sommiges doen dit ligvoets, soos (wyle) Leonard Cohen, Breyten Breytenbach, oudregter Buys, Etienne van Heerden en vele meer.

Persoonlik dink ek dié wat waarlik oorspronklik is, soos Jeanne Goosen, Ryk Hattingh, David Bishop, Koos Prinsloo, Wopko Jensma, kan nie die lewe handhaaf nie. Dis maar die vasbyters, diegene wat na hul gesondheid omsien, minder fles vat, belasting betaal en hul medikasie sluk wat agterbly om die stories te vertel.

In my vel van Azille Coetzee is nie blinknuut nie, sy is bloot die stem van ’n generasie wat redelik traak-my-nie-agtig en apolities is en betreklik min lees. Jy vra oor die liefdesverhouding aan die kern van die boek: Lesers wil altyd oor liefde en seks lees, veral as dit goed verwoord is en dieper kwessies raakslaan. Kyk maar na Kleinboer se boeke.

Oor die laer sal ons nooit saamstem nie. Uitgewers doen hul bes om te ontlaer, maar die ouerwordende patriargie klou verbete vas aan hul mag, ook in die lettere. Vra vir Olivia M Coetzee en Nathan Trantraal of daar ’n laer is. ’n Mens sien dit soms nie raak wanneer jy daarbinne is nie. Ek was mal oor jou Influencer-T-hemp.

Oor die leërmag amateurdigters: Ja, kwaliteit moet die hekwag wees wat die dabblers buite hou. En ook keurverslae. Laat hulle selfpubliseer en sosiale media volskryf. Oor een ding stem ons saam: Om die reëls te verbreek, moet jy die reëls eers ken en baasraak.

Weet jy Jono, ek het nie vandag krag hiervoor nie en vermoed ek sal, solank die grendelstaat voortduur, geen krag hê nie. Ek is ’n liefhebber van woorde en stories, nie soseer van gesprekke nie. Ek is aandagafleibaar en onvergenoeg. Ek het ernstige kajuitstuipe vandag, selfs al is ek omring deur boeke. My drankvoorraad gaan nie hou nie. Gaan ek nog ’n werk hê?

Kom ek probeer jou laaste vraag oor die UJ-pryse beantwoord: Biblioteek aan die einde van die wêreld bars deur alle laers en verdien om te wen, hy het geen teenstanders nie. Hond se gedagte is eiesoortig en tong-in-die-kies en beslis nis. Dalk te veel binnepret wat vervreemdend is vir lesers? Vir die debuutprys voorspel ek Klikbek.

Hiermee hys ek die wit vlag. Jy wen. Ek is moeg. Die vliegtuig is nog nie oor nie, maar nou gaan ek lees.

Groete van loopgraaf tot loopgraaf. 

  • 3

Kommentaar

  • Robert van Staden

    Tog darem plesierig as maatjies mekaar se boeke resenseer. Amid bespreek nie net Steinmair se boek op Netwerk24 en in Beeld, Volksblad en Die Burger nie, maar ook Vrye Weekblad. Regtig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top