Drie gedigte deur Hanta Henning

  • 0

voet(slaan)pad

weer eens
keer hy terug
na ʼn week weg
van die voetslaanpad

sand en stink
en sweet

stewels en sokkies
neergesmyt
in die slaapkamer

en in die donker
papierbesaaide
boeknes
mufreuk
stofrak
studeerkamer
sonder staanofsitofstapplek
land as ʼn nagedagte
die onuitgepakte
vuilblou rugsak

maande later
een saterdagaand
werk hy aandskof
met sy sagsteak
salmsmeer
sodawater
kosblik

ek en ma
eet pap en toppers
tuis

dan besluit sy
dis tyd
om sy stapspens
uit te pak

geswole blikke gerookte oesters
groen rogbroodsnye
blouer bloukaas
met grys drade
en swetende salami
vet karbonkels suiker
ʼn klein gissende boks wyn
verkrummelde koekies
en ʼn plak bruin
wat ons later vasstel
was eens sjokolade

later
langs die asblik
kou ons stil saam
aan vergete koekiereste
en ʼn versteende cadbury whole nut
terwyl ons een vir een
in die donker
vrot fermenterende eiers
teen die prefabmuur laat spat

 

limbo - vir w

kindersondes
pruimedantpers-pyn
perskeboomlat se hale

geblikte weense worsies
die smaak van jou tong

beeste aanjaag
uit die meent
en innuendo

bloed forseer op bloed
in donker skemerkamers
agter geriffelde ruite
en onder die bougainvillea

bitterblik reuk
van jou mens

***

vergeef
vergete
verduister

***

gapende wonde
soos die donker kwyn
tussen lusernbale

elektriese breinskokke
bloed op jou tong

beeste bulk
by garingbome
loeiende crescendo

bloed sypel oor bloed
en in die sand
oor geskerfde ruite
die rooi van clivia

die wrak die blik gebeend’re
van ʼn wens

 

met my neef se begrafnis

die klein seuntjie
met die blou ballon
het jou oë
jou mond
jou vel gekus deur die son

hy speel eenkant,
ballon helder in die lug;
sy ma kyk toe
haar ronde romp
bultend
met jou
jou vrug

die son bak warm
op die donker klei
en jou seun word stil
soos die motor nader ry

hy glip sy hand in hare
blou ballon vergete
sy arm omsirkel haar maag
en
heesfluisterend vra hy
met jou stem:

“mamma
hoe het hul pappa in die kis gekry?”

Lees ook:

met apologie

by klavieruitvoering deur lukáš vondráček

flagellaat – ’n ope brief aan die akademie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top