
by klavieruitvoering deur lukáš vondráček
I.
mag ek dalk my vingers rus
op die klawers waar joune was:
dalk vashou aan die passie
op die ivoor ontbrand
die spasies tussen note
in die holte van jou hand?
kan dit weer in my ontwaak
wat so lank al sluimer –
kan dit my weer
mens
en heel kom maak?
mag ek met my vingers
op die warm klawers talm –
terwyl die brandpyn van die note
deur my weefsel
beend’re
senus
galm?
II.
mag hul vrykom
hierdie note
uit die requiem van my siel:
in die skadu van jou grootsheid
bly hul in die donker kniel.
III.
die donker lied het weer kom sing:
donker note in sy donker kring.
dis hy wat met sy donker woorde
onrus in die stilte bring.
die donker lied het weer gekom
– hy steel my woorde, laat my stom.


Kommentaar
Pragtig Elegante woordstringe - nes die snare van 'n klavier.