
flagellaat
– ’n ope brief aan die akademie
ek kniel voor die altaar
op growwe sout
en
onverkwik
laat ek die rieme
neerhaal oor my rug:
o bron van wysheid
voed my siel
alma mater
vergeef my
mea culpa
abba
pater
mag ek in u oë
ook leef
en werd wees
van u groot gesag
en leer my
van die weë
waaroor u beskik
plat lê ek voor u grootsheid
my mond nat teen die koue teëls
my brandoffer van ure
woorde
bring ek
tog breek dit nie die sewe seëls
wees my genadig
abba
pater
neem my bloed
verfyn my vlees
dat ek tog
in u groot ontferming
waardig
van u trots mag wees


Kommentaar
Skalkse sarkasme; gekunstelde spykers - in die tradisie van Wilde. Mal hieroor.
Hanta die akademie verdien nie die verering nie - sien meer daarvan in die kelders van die mensdom.